Numeri-Deuteronomium – Omswerwinge
God lei die volk
Op ’n dag in die middel van die lente het die wolk bo die tabernakel gelig. Dit was twee jaar na die volk uit Egipte weg is. Op bevel van die Here het hulle na Kanaän begin trek.
Onder leiding van die Here het hulle die pad aangedurf, met die wolkkolom in die dag en die vuurkolom in die nag. En elke keer wanneer hulle opgekyk het, het hulle geweet: HY is daar! Die grootste geskenk moontlik – God se voortdurende teenwoordigheid.
’n Mens sou dink, dít is die lewe. Dít is waarna Dawid vanuit die Judawoestyn in Psalm 63 verlang: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ’n dor en droë land, ’n land sonder water. Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind. U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my ’n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.”
Die volk kla oor alles
Maar, dít is nie hoe die volk dit ervaar het nie. Die volk kla oor alles. Ons lees van vier hoofsake waaroor hulle kla. Hulle kla oor hulle swaarkry, sommerso in die algemeen en hulle kla oor die kos. Soos Die Storie skryf: “’n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry.”! Dit was mense van ander nasies wat saamgetrek het en wat nie baie gehou het van die ontberinge in die woestyn nie. Die ander leiers, Mirjam en Aäron, kla ook oor die hoof leier, Moses. Hulle hou nie van die feit dat hy met ’n Kussitiese vrou, waarskynlik ’n swart vrou, ook een van die ander mense wat saamgetrek het, getrou het nie. En les bes, die volk kla oor die vooruitsig om in Kanaän in te trek. Hulle het net nie kans gesien vir die reuse wat daar op hulle wag nie.
Hoe reageer die Here daarop?