Numeri-Deuteronomium – Omswerwinge

Orrelvoorspel

Lied 381 Hy is verneder en deurboor en Lied 391 Ons herdenk die diepte van u lyding

Verwelkoming

Toetrede

Flam 22 Ek soek U, o God, my God (Ps. 63) CD

“Ek soek U, o God, my God, ek dors na U, God.  Soos ’n land sonder water wil ek tot U nader om by U te wees.  Wanneer ek saans aan u dink , my God, oor u peins in die nag, dan weet ek U help my, U hand ondersteun my.  Ek wil naby U bly.  Want U liefde is meer werd as die lewe, daarom sal ek U vir altyd prys; my hande ophef om U naam te eer, want U is die Heer vir wie ons lewe.” – Rhe Janse (soos uitgevoer deur Louis Brittz).

Votum en seëngroet

“U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys.  Ek sal U my lewe lank loof.” (Ps 63:4-5)

Lofsang

Lied 492 In U is vreugde, vrede en vreugde (staan)

Psalm 56 Wees my genadig, Heer – v1 en 6 almal v2 dames v3 koor v5 mans (sit)

Kindertyd

Was julle al in ’n woestyn?

Hoe is dit daar?  Baie warm, ja.  En ’n mens raak dors.  En daar is nie baie om te eet nie.

Die Israeliete was baie bly om uit Egipte te kon kom.  Hulle het baie swaar gehad daar.  Hulle moes hard werk.  En hulle is baie sleg behandel.  Daar is nie meer slegte mense wat hulle slaan as hulle nie hard genoeg werk nie.  Die Here het vir hulle gesorg en gered van Egipte.  Hy het hulle deur die Rietsee gebring en baie wonderwerke gedoen.

Hy het selfs vir hulle ’n spesiale kos gegee, manna.  Weet julle wat is manna?  Dit was ‘n klein wit saadjie wat soos koljandersaad lyk en het soos heuningkoek gesmaak. Hulle kon dit kook of bak.  Elke dag het hulle dié manna opgetel, genoeg vir elke dag en daarvan plaatkoekies gemaak.  Ken julle dit?  Crumpets of plaatkoekies.  En dit het seker so bietjie soos dit gesmaak as ‘n mens heuning daaroor sou gooi.

Wat so wonderlik was, was dat hulle dit nie hoef saam te dra nie.  Dit was net elke dag daar.  En hulle kon genoeg eet, sonder om swaar te dra aan ’n klomp ekstra kos.  Het julle al kos vir julle ma en pa uit die motor uitgedra na die huis toe?  Dink nou net as ‘n mens vir 2 jaar kos moes inpak en saamdra!  Die Here het regtig vir hulle die beste gegee.

Maar, nou is dit warm en en hulle is so bietjie moeg al vir plaatkoekies.  En die pad is lank.

So wat doen hulle?  Vra vir die Here ietsie ekstra?

Nee, hulle kla.  Hoekom is ons hier?  Ons moes in Egipte gebly het?  Dit was swaar daar, maar ons kon darem genoeg eet en daar was genoeg water.

Hier gaan ons doodgaan!  Hulle is ontevrede.

Wat doen die Here toe?  Hy gee vir hulle vleis, ‘n klomp kwartels wat daar aangevlieg gekom het, en verdwaald daar rondgespartel het.  Maar daar was só baie dat hulle naar geword het daarvan.  Die Bybel sê elkeen het ‘n ton vleis gehad – hopeloos te veel.

Hoekom doen die Here dit?  Want Hy wou hulle leer dat hulle tevrede moet wees met wat hulle het.  Hy gee vir hulle die beste vir die woestyn.  As hulle in die land Kanaän sou kom, waarheen die Here met hulle op pad is, sal daar weer vleis en waatlemoene en druiwe en al die ander lekker eetgoed wees.  Maar nou is daardie dinge nie die beste nie, want dit sal vrot word, en dit is te veel om saam te dra.

Die Here wil dus hê hulle moet Hom net vertrou!  Hy gee vir hulle die beste.

Ons is ook baie keer soos die Israeliete.  Ons raak ongeduldig. Ons raak ontevrede. Ons is ongelukkig omdat ons nie altyd kry wat ons wil hê nie.

Die Here wil ook hê dat óns Hom sal vertrou dat Hy vir ons sal gee wat ons nodig het.

En een van die beste dinge wat ons kan doen om vir God te sê dat ons Hom vertrou, dat ons tevrede is met wat Hy vir ons gee, is om dankie te sê vir wat ons het.  Dan is ons sommer minder bekommerd oor wat ons nie het nie.

Dit is soos dié glas.  Is hy half leeg of is hy half vol?  As jy sê hy is half vol, voel jy sommer beter.

Ons gaan dit nou vir die Here sê met ‘n lied en ook bid.

Kom ek hoor eers, waarvoor wil julle dankie sê?

Lied 552 Liewe Vader, ek sê dankie (sit)

Doopviering

Ons bid vir elkeen wat gedoop is, dat die Here hulle sal seën en vir hulle sal gee net wat hulle nodig het.  Al die name is in die aankondigings.

Gebed

Skriflesing

Numeri en Deuteronomium (Numeri 20)

Water uit die rots

20 Die hele volk Israel het in die eerste maand in die Sinwoestyn aangekom en toe by Kades oorgebly. Mirjam is daar oorlede en is ook daar begrawe.

2–3Omdat die volk geen drinkwater gehad het nie, het hulle saam teen Moses en Aäron rusie gemaak en gesê: “As ons maar liewer ook omgekom het toe ons volksgenote deur die Here om die lewe gebring is! 4Waarom het julle die volk van die Here na hierdie woestyn toe gebring, dat ons en ons vee hier moet sterwe? 5Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek en ons na hierdie ellendige plek toe gebring? Hierdie plek deug nie vir graan of vye, vir wingerde of granate nie, en daar is geen drinkwater nie.”

6Moses en Aäron het weggedraai van die volk af, en toe hulle by die ingang van die tent van ontmoeting kom, het hulle op hulle knieë geval terwyl die magtige teenwoordigheid van die Here vir hulle sigbaar word. 7Die Here sê toe vir Moses: 8“Vat Aäron se kierie en roep jy en jou broer Aäron die volk bymekaar. Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom, sodat die volk en hulle vee kan drink.”

9Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here hom beveel het 10en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Moses het vir hulle gesê: “Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?”

11Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink.

12Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.”

13Dit het gebeur by die Meribawaters e waar die Israeliete met die Here rusie gemaak het, en waar Hy Hom as die Heilige aan hulle bekend gemaak het.

Preek – Omswerwinge

God lei die volk

Op ’n dag in die middel van die lente het die wolk bo die tabernakel gelig.  Dit was twee jaar na die volk uit Egipte weg is.  Op bevel van die Here het hulle na Kanaän begin trek.

Onder leiding van die Here het hulle die pad aangedurf, met die wolkkolom in die dag en die vuurkolom in die nag.  En elke keer wanneer hulle opgekyk het, het hulle geweet: HY is daar!  Die grootste geskenk moontlik – God se voortdurende teenwoordigheid.

’n Mens sou dink, dít is die lewe.  Dít is waarna Dawid vanuit die Judawoestyn in Psalm 63 verlang: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ’n dor en droë land, ’n land sonder water. Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind. U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my ’n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.”

Die volk kla oor alles

Maar, dít is nie hoe die volk dit ervaar het nie.  Die volk kla oor alles.  Ons lees van vier hoofsake waaroor hulle kla.  Hulle kla oor hulle swaarkry, sommerso in die algemeen en hulle kla oor die kos.  Soos Die Storie skryf: “’n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry.”!  Dit was mense van ander nasies wat saamgetrek het en wat nie baie gehou het van die ontberinge in die woestyn nie.  Die ander leiers, Mirjam en Aäron, kla ook oor die hoof leier, Moses.  Hulle hou nie van die feit dat hy met ’n Kussitiese vrou, waarskynlik ’n swart vrou, ook een van die ander mense wat saamgetrek het, getrou het nie.  En les bes, die volk kla oor die vooruitsig om in Kanaän in te trek.  Hulle het net nie kans gesien vir die reuse wat daar op hulle wag nie.

Hoe reageer die Here daarop?

God reageer met vuur

Op die eerste klagte oor hulle swaarkry reageer die Here met vuur.  Dit het tot op die kant van die kamp gebrand, maar toe hulle om hulp roep, het die vuur bedaar, as teken daarvan dat die Here in beheer is en dat hulle Hom kan vertrou.  Maar helaas nie. 

God reageer met vleis

Op die tweede klagte oor die manna met die onbedaarlike lus vir vleis wat dit aangevuur het, reageer die Here met ’n oordadige voorsiening van vleis: “Julle sal elke dag vir ‘n hele maand lank vleis eet totdat dit by julle ore uitkom en julle daarvan begin naar word.”

“Dink jy die Here kan nie?  Jy sal nou sien of Ek kan doen wat Ek sê of nie,”  sê die Here vir Moses.  En daar was baie vleis – die minste wat enigiemand bymekaargemaak het, was 50 houers vol (Die Storie), ’n ton vleis (NAV).  Dit was egter te veel en die Here het hulle nog boonop gestraf ook, maar, wat die Here wou illustreer, is dat Hy KAN doen wat Hy sê.  Hy wou sy mag ten toon stel sodat hulle hom sou vertrou.  Maar selfs dié wonderwerk het hulle nie oortuig nie.

God reageer met melaatsheid

Die derde klagte kom toe van die ander leiers af.  Moses trou met ’n Kussitiese vrou,’n swart vrou, een van die vreemdelinge, die ander mense, en dit het sy familie, Aäron en Mirjam, nie aangestaan nie.  Sy was waarskynlik ’n Ethiopiër, want Kus was die seun van Gam wie se nasate met Ethiopië geassosieer word.  Ook hierop reageer die Here baie direk.  Ironies genoeg maak die Here vir Mirjam spierwit van die melaatsheid om haar te straf!  Dat net sy gestraf is en nie Aäron nie, kan moontlik as onregverdig gesien word, maar dit wil lyk asof sý die voorbok was in die mini-opstand, omdat haar naam deur die skrywer eerste genoem word, voor Aäron s’n.  Maar, belangrik, God bevestig die geestelike leierskap van Moses op ’n ongelooflike manier.  Anders as met ander leiers, wat met gesigte en drome tevrede moet wees, praat God direk met Moses, “van aangesig tot aangesig.”

Later sou ons nog meer leer hieroor, waar Josua die wetboek kry as die primêre manier waarop God praat en die hele OT en NT is uit hierdie beweging gebore, maar dít is vir ’n ander dag.

God reageer met vernietigende woede

Op die vierde klagte van die volk, dat hulle nie kans sien om die Beloofde land in te trek nie, reageer die Here met absolute weersin en woede.  Hy wil hulle vernietig.  Hy kan net nie dit langer uithou met dié mense wat veiliger voel met die onderdrukking van Egipte, as met die toekoms wat Hy vir hulle in die Beloofde Land oopsluit. Net Josua van Efraim en Kaleb van Juda sien kans vir die uitdaging.  Die res van die volk bewe soos riete in die wind.

Terloops: die woede van die Here is nogal ’n uitstaande kenmerk van die verhaal.  Hy is kwaad as hulle kla oor hulle swaarkry.  Hy is kwaad as hulle kla oor die manna.  Hy is kwaad vir Aäron en Mirjam as hulle oor Moses kla. 

Maar, toe die volk hier terugdeins van die uitdaging om die land in te trek, omdat hulle sy Almag onderskat, is dit die laaste strooi vir die Here: “Ek gaan hulle uitroei.” En die Here wil ’n nuwe begin maak met Moses.

Moses herinner God aan Sy plan en Sy wese

Dit kos uiteindelik vir Moses om God te herinner aan twee goed. 

  • Een, aan Sy plan.  Wat sal die nasies sê van God as Hy die volk nou in die woestyn verlaat.  Bad PR, is wat Moses in ’n sekere sin sê.  Maar dit is net as ’n mens oppervlakkig daarna kyk.  Eintlik herinner Moses God aan sy doel en sy plan met die volk en dit is om die nasies jaloers te maak op die verhouding wat die volk van God met Hom het.  God wil sy volk seën sodat hulle tot ’n seën kan wees.  En niemand gaan dié storie glo as dit rugbaar word dat God hulle in die woestyn tot niet laat gaan het nie, al is dit in elke opsig waar.
  • En twee, Moses herinner God aan Wie God in sy wese is: Die Here word nie gou kwaad nie (“Ek is lankmoedig en vol liefde– NAV).  Sy liefde kan sonde en oortreding verdra (“Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding – NAV).  Dit is die dieptepunt van die gesprek van Moses met God.  En dat God hierna luister, is die evangelie vir elkeen van ons.  God is ook lankmoedig met jou.  Hy is ook vol liefde vir jou.  Hy vergewe ook jou ongeregtigheid.  Hy vergewe ook jou oortredings.

Moses erken ook dat God sonde nie ongestraf laat nie (“Ek spreek niemand sonder meer vry nie”), die straf wat Jesus natuurlik eeue later aan die kruis finaal sou dra namens ons – soos die verhaal van die bronsslang illustreer,wat verhoog is om genesing te bring vir almal wat daarna kyk – maar vergifnis word met hierdie gesprek van Moses onderstreep as ’n sleutel eienskap van God.  Dit is op grond van Wie God is, dat Moses vir God kan vra: “Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het.” (Num. 14:19).

En die Here sê: “Ek vergewe hulle, soos jy gevra het.” Watter wonderlike nalatenskap, dié gesprek van Moses met God.  Want, agter die kwaad word en agter die verontwaardiging dat die volk God se almag nie kan of wil raaksien nie, is daar ’n hart van liefde wat eintlik nie anders kan as om te vergewe as daarvoor gevra word nie.  Dít is wie God is!

God soek vertroue

Wat ons laat vra, maar wat is op die spel hier in die woestyn?  Hoekom maak die Here dit nie vir hulle makliker nie?  Omdat die punt van die woestyn is dat die volk moes groei in hulle vertroue op die Here, iets wat hulle natuurlik nodig het in die woestyn om te kan oorleef, maar ook iets wat hulle nodig het in die groter uitdaging van die inname van die land en die vestiging van ’n volk waarbinne God Sy teenwoordigheid vir die hele wêreld kan wys.

En Hy soek vertroue nie net by sy volk nie.  Hy soek dit ook by sy bobaas leier.  ’n Roerende en ook tragiese aspek van die verhaal is die ongehoorsaamheid van Moses deur die rots te slaan en nie net te praat daarmee nie.  “Julle het my nie genoeg vertrou nie!”  is die reaksie van God.  God wil hê dat die volk: “kan besef dat die Here God is en niemand anders nie!” Daarom straf Hy vir Moses, die vriend van God, die een met wie Hy persoonlik direk gepraat het.

Tog sluit die verhaal met deernis af, in die beskrywing in Die Storie van Aäron en Moses se dood.  Die teks lees: “Hulle is versamel by hulle vaders … Hulle is met hulle vaders verenig.”  Pragtig (al staan dit nou nie presies so in die grondteks nie)!  God staan uiteindelik vir hulle in, ten spyte van hulle foute en tekortkominge.  Al is ons ontrou, God bly getrou, soos Paulus eeue later vir ons sou leer.

Wat beteken dat ons dít ook van God kan verwag, dat Hy met ons deernis sal hê, dat Hy ons sal aanvaar net soos wat ons is.

Hoe kan ons reageer?

  1. Die eerste ding wat ons kan doen, is om dankie te sê vir wat ons het.  Dit moet die eerste ding op ons lippe wees in die oggend, die laaste ding voor ons gaan slaap.  Ons moet dit in skietgebedjies doen by die rooi robotte in die stad. Ons moet dit saam met ons mense doen by die werk en by die huis.  Dankie-sê moet ons lewens stempel.
  2. Die tweede ding wat ons kan doen, is om nie net te bid vir uitkoms nie, maar ook op die uitkyk te wees vir wat die Here doen.  Ek het onlangs ’n ervaring gehad dat ek die Here se stem gehoor het oor iets, maar nie geweet het hoe ek daarop moet reageer nie.  Ek onthou ek het op die bed gesit en vir Lynette gesê, nou hoé gaan die Here vir ons in dié situasie voorsien?  En ’n paar uur later het iemand – sonder dat ons dit gereël het óf daarvoor gevra het – in ons behoefte voorsien.  Dit was asof ek die Here se oë op my gevoel het – “Dink jy die Here kan nie?” – soos Hy hier vir Moses gevra het.
  3. Die derde ding is om aan te hou om te doen waarvan jy oortuig is dat die Here wil hê dat jy dit doen.  Soms is dit so dat ons getoets word, om agter te kom, wat gaan regtig aan in ons hart.  Want die Here is besig om ons voor te berei en af te rig en in karakter te bou, en soos ons groei in ons geloofsvertroue, kan die Here ons telkens vir iets groters inspan, of vir iets gebruik wat ander nie kan of wil doen nie.  Maar dan moet ons aanhou doen wat die Here vir ons gegee het, totdat ons weet om aan te beweeg of daar duidelikheid kom oor een of ander verandering.

Dit is waarvoor woestyn tye daar is, om jou te brei, om jou te stroop van dít wat onnodig is, om jou geloofsvertroue te bou, sodat jy al hoe meer kan werk met die God wat die dinge kan doen wat ons dink onmoontlik is.  Dit is die doel van ons lewe, om te spesialiseer in die onmoontlike, dié dinge wat net God kan doen, maar wat Hy kies om deur ons te doen.

En dit is ’n uitdaging, maak geen fout nie.  Die reuse in Kanaän raak nie menslik gesproke kleiner nie.  Maar wanneer jy met God begin rekening hou en al hoe meer op Hom begin vertrou, sal jy die reuse in die lig van God se Almag begin raaksien en dit verander alles.

Gebed

Dankoffer

Koor: Vonkk 154 Toe ek gedink het my voete gly, het u liefde my omvou (Ps 94) en

Vonkk 189 Ek wil die Here loof! (Ps 107)

Slotlied

Lied 500 Gods dade is volmaak en goed (staan)

Seën

Amen

Lied 269 v1 God bly met ons, waar ons ook mag gaan

Orrelnaspel Lied 393 U skenk nuwe inspirasie


e Meriba verwys na “rusie”.

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.