God praat publiek en privaat

Verwelkoming

Toetrede

Lied 224 – Kom prys Hom alle nasies – gemeente/koor/gemeente – sit

Votum en Seëngroet

Lied 476:1-2 – ’n Vaste burg is onse God, ons skuil in Hom die sterke (Maarten Luther) – staan

Psalm 117 – Sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie (kortste Psalm) – koor (Johan van Eck se musiek)

Lied 169 – Heilig, heilig, heilig, Heer, God almagtig, groot is u troon, U is steeds met lof omring – sit

Kindertyd

Ek wil julle vandag vertel van die Chinese dogtertjie wat graag met haar ouma oor die Here wou praat.  Dié wou egter niks daarvan weet nie.  Eendag toe sy by haar ouma kuier, sien sy dat haar ouma besig was om haar mure met papier te plak.  Toe sy daarna kyk, sien sy dat dit Bybel bladsye is.  Toe sy vra waar haar ouma dié papiere gekry het, was haar ouma se antwoord, “in ’n dosie wat seker langs die pad uit iemand se sak geval het”.  Haar ouma kon egter nie lees nie, en het dus nie geweet dat dit Bybel bladsye was nie.

Die dogtertjie het stil gebly en haar ouma gehelp om haar mure verder te versier met die bladsye.  Die volgende dag toe sy by haar ouma kom kuier, sê sy vir haar ouma: “Ouma, die mure praat met my.” Verbaas het haar ouma gevra: “Wat sê die mure vir jou, my kind?” Die dogtertjie het toe begin om die Bybelverhale wat teen die mure opgeplak is met haar ouma te deel.  Kort voor lank het haar ouma in die Here begin glo, vanweë die Bybelse verhale wat sy by haar kleinkind gehoor het.

Ons is vandag bly dat ons ons eie Bybels het en dat ons die Bybel kan lees.  Baie jare gelede was daar ’n tyd dat mense nie hulle eie Bybels gehad het nie.  Die Bybel was net beskikbaar in tale wat gewone mense nie geken het nie: Grieks/Hebreeus en Latyn.  Mense het nie Bybels in hul huise gehad nie.  Die Bybel was weggesteek in universiteite en kerke. 

Die man wat dit verander het, was Maarten Luther.  Hy is in 1483 gebore, baie lank gelede, nog vóór ons families in SA kom bly het!  Hy het ’n priester geword toe hy so 24 jaar oud was, en vir die eerste keer in sy lewe ‘n Bybel gesien!  En deur die Bybel het God met hom gepraat en het hy vir God liefgekry.

Hy het só lief geword vir die Bybel dat hy dit vertaal het in die taal wat sy mense kon verstaan.  En mense het sélf so lief geword vir die Bybel, dat hulle ook begin het om die Bybel in die tale van hulle mense te vertaal.  En só het ons vandag ’n Afrikaanse Bybel wat ons kan lees en verstaan.

Gebed

Skriflesing

Handelinge 2:43-47; 5:41-42; 20:17-21

Die eerste gemeente

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Die vervolging van die apostels

41Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. 42En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe

17Van Milete af het Paulus ’n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te laat roep. 18Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet hoe ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, onder julle geleef het; 19hoe ek die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid weens die vervolginge wat ek deur die komplotte van die Jode moes verduur. 20Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek en julle in julle huis onderrig het. 21Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo.

Woordverkondiging

God praat met my

Ek onthou nog glashelder die huisgodsdiens in 1969 toe my ma uit Romeine 8:15-16 gelees het: “julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep ‘Abba!’  Dit beteken Vader.  Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”

Sonder dat ek voorbereid was daarop, as jong standerd vyf kind, het die trane by my wange begin afloop.  Sonder dat ek eers regtig verstaan het wat met my gebeur en selfs wat die teks nou eintlik beteken, het ek ’n ervaring van God se teenwoordigheid gehad wat my nooit weer sou los nie.

Die Woord, net die blote aanhoor van die Woord, het ’n kragtige uitwerking.  Hoekom?  Want God praat daardeur.

Ek onthou die aand op ’n CSV kamp in 1974 in my standerd nege jaar toe Gawie Eksteen ons klomp kringleiers toegespreek het en ons herinner het daaraan, dat ons nie vir iemand anders iets kan gaan vertel wat ons self nie ervaar nie.  En hoe ek onder die indruk gekom het daarvan dat dit die Here self is wat met my praat in die saal waar baie ander gelowiges bymekaar was en ek eenkant in ’n tent in ’n eenvoudige gebed my lewe vir die Here gegee het.

En ek onthou nog glashelder die oggend in die erediens in 1986 toe prof. Bernard Combrinck uit Psalm 37 gepreek het en hoe die teks in vers 4-5 my aangespreek het en ek net geweet het die Here gaan my stuur.  En by die huis die oggend het ds. Dave Marais my gebel om my van die beroep na dié gemeente, Somerstrand, te vertel.

En ek onthou dié afgelope week, hoe die Here twee besondere dinge vir my gesê het, een wat te make het met die breër prosesse waarby ek in die kerk betrokke is, die Seisoen van Luister, en die ander ’n baie persoonlike woord waarmee die Here my bemoedig het in my eie lewe.

Óf jy nou alleen is in jou stiltetyd, of by die huis is saam met jou mense in huisgodsdiens, óf jy nou in ’n groter groep gelowiges in ’n kleingroep of in ’n kamp-situasie is en of jy nou hier in die erediens sit – God praat.  Daarvan kan jy seker wees.

God praat in Handelinge

Daarom was dit vir my so heerlik om die teksgedeeltes vir vanoggend deur te werk en net weer die kern van die eerste gemeente se ervarings voor oë te kry.  Want dit is presies waarvan hulle ervarings ons vertel.  Hulle het geleef met hierdie verwagting dat God sal praat in hulle huise en ook in die tempel, dat Hy van Hom sal laat hoor wanneer hulle in die intieme kring van hulle huisgesin sou wees en in die openbare byeenkomste van die tempel en die sinagoges.

Ons lees in Handelinge 2 dat die eerste gemeente met verwagting elke dag getrou in die tempel bymekaargekom het.  Dat hulle van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou het, waartydens hulle ook die nagmaal gebruik het, en terwyl hulle hul kos met blydskap en in alle eenvoud geëet het, God geprys het. Hulle hele lewe het gedraai om hulle verhouding met God, die lewende Here, dié een wat elke dag mense wat gered word by die gemeente gevoeg het. 

En let op dat dit die Here was wat mense by die gemeente gevoeg het, Jesus, die Here, was intiem betrokke waar hulle besig was om na God te luister en met God ’n pad te stap.

Selfs wanneer hulle onder druk van die gemeenskap gekom het, het hulle hiermee volhard.  Laat ons nooit vergeet dat die eerste gemeente dit nie net maklik gehad het nie.  Dit was nie net ’n wonderlike geseënde tyd van ongebreidelde uitbreiding en vrede nie.  Hulle het baie gou ernstige teenstand ervaar van die Joodse Raad wat hulle in hulle spore wou stuit.  Die eerste martelaar, Stefanus, sou gou hierna vermoor word en ’n tydperk van vervolging en leed inlei. 

Maar,  lees ons in Handelinge 5, selfs toe hulle gedreig word om op te hou met hulle getuienis, het hulle voortgegaan om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.

Let op: elke dag … in die tempel, d.w.s. in die publiek … in die huise, d.w.s. meer privaat.  Want hulle het hierdie wonderlike ervaring gehad dat God hulle aan die hand gevat het en begelei het deur sy Woord en hulle kon dit net nie mis nie.  Selfs nie al het hul erge teenstand ervaar.

En wanneer Paulus op sy derde sendingreis afskeid neem van die ouderlinge van Efese, soos ons in Handelinge 20 lees, dan bemoedig hy hulle en herinner hulle aan die 3 jaar wat hy onophoudelik met hulle in die openbaar – beide aanvanklik in die sinagoge in Efese en later in die saal van Tirannus – sowel as in hulle huise die evangelie aan hulle verkondig het.  Trouens, hy het nie net met die gelowiges gepraat nie, ook met die ongelowiges – in die openbaar en in die huise.

Dis hoe die eerste gemeentes geleef het – in die openbaar en in die huise, in ’n uitgesproke vennootskap, privaat en publiek.  Want die werklikheid van God wat deur die Woord met mense praat en hulle van Sy teenwoordigheid en Goddelikheid oortuig, dié het hulle gedring om elke moontlike geleentheid te gebruik.

God praat van die begin af

Trouens, dit was eintlik nog altyd so.  Dit is die fundamentele vertrekpunt van geloof: God praat.

Die eerste woorde van die Bybel vertel reeds vir ons dat God praat.  “Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.” (Gen. 1:2).  Hy praat die skepping die werklikheid in.  Hy skep ’n ruimte waarin lewe kan floreer … deur dit te sê, deur dit te praat.  Lank voor die sosiale wetenskaplikes oor die skeppingsvermoë van taal gefilosofeer het, sê die Bybel dit al vir ons: die werklikheid is ’n taal-werklikheid. Soos ons woon in die huise wat ons met ons taal skep (Gadamer en Wittgenstein), só woon ons in die wêreld wat God met sy taal geskep het.

En dié God praat met mense, so vertel die ervarings van die eerste mense ons: Adam en Eva en die hele reeks van mense waarvan Genesis 1-11 ons vertel, Abel, Kain, Henog, Noag. 

  • Soms is dié praat ’n vertroostende gemeenskap skeppende gesprek, soos ons van die eerste mense lees. 
  • Soms is dit ’n ontsagwekkende ervaring van God se toorn, soos ons van hulle ongehoorsame nageslag lees. 
  • Ander kere is die praat ’n rigtinggewende opdrag of roeping, soos ons van talle gelowiges regdeur die OT en die NT lees. 

So lees ons dit in die verhale van Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses, Josua, Samuel, Dawid, Elia, Jesaja, Jeremia, Esegiël, Paulus … ag en só kan ’n mens aangaan.  Daar is net te veel mense om op te noem.

God praat.

Dit is die onomwonde getuienis van die geloofsgemeenskap deur die eeue.  Gelowige op gelowige op gelowige getuig hiervan. 

En wat ons hier in Handelinge ook sien, is dat dié God praat op die groot verhoë – in die skepping, in die tempel, in die kerkgebou – sowel as in die kleiner ruimtes – die huis en die binnekamer of êrens alleen by ’n rivier of in die woestyn.  God se stem weerklink oor alles en deur alles en God se stem dring deur tot in die binneste binnekant van ons menswees, daar waar ons nie kan ontken dat Hy bestaan en dat Hy Homself aan ons openbaar nie.

En laat ons dit reguit vir mekaar sê.  Ons is nie vanoggend hier in die openbaar bymekaar net om ’n paar rituele na te kom nie, om ’n paar liedere te sing, soms nagmaal te vier of ’n paar kinders te doop of ’n geldjie in die bordjie te gooi nie, hoe sinvol of betekenisvol dit ook al mag wees.  Ons kom bymekaar omdat ons God hoor praat in ons lewens.  Ons kom bymekaar om God ook hier te hoor praat.  En van hier weer terug in ons persoonlike lewens God te hoor praat.

Want, God praat.

Ons het albei maniere nodig

Wat ons vandag weer helder moet besef, is dat ons albei plekke nodig het. Ons het ’n balans nodig tussen die bediening wat van hierdie kerkgebou af uitgaan, én die bediening wat vanuit elke huis waar ons bly, uitgaan.  Ons is in ineengestrengelde vennootskap, elke huis in hierdie gemeente het hierdie vennootskap met die res van ons, om met die werklikheid van God wat praat rekening te hou, dit te verwag, daarvan te getuig. 

Die gemeente byeenkoms vanoggend help ons om ons oog op die breër wêreld te vestig, dié wêreld wat God se lief het.  Hier hoor ons van die breër dinge wat gebeur, soos ons ook in die afkondigings weergee.

Dit keer dat ons nie net ons eie persoonlike gedagtes dink nie, ook nie oor die Bybel nie, sodat ons nie so maklik sektaries word nie.  Sektaries beteken eintlik maar net dat jou eie idee en interpretasie van die Bybel belangriker raak as ander s’n en jy jou uiteindelik afskei van ander omdat jy anders dink.  In plaas daarvan dat ’n proses van geestelike onderskeiding gebeur waar ons almal saam die Here se stem hoor vir hoe ons in die openbaar met mekaar die pad moet loop.

Maar, van die ander kant afgesien, die fokus by ons huise om na God te luister, as familie, as kleingroep en natuurlik ook persoonlik, help elkeen van ons weer om real te bly, om self die pad met die Here te loop, ons eie gesprekke met God te hê en Hom sélf te hoor praat. 

Ons het albei nodig – die publieke openbare byeenkomste, én die private, meer intieme ruimtes van die huis en die binnekamer. (Lees meer by David Anderson en Paul Hill – Frogs without legs can’t hear.)

Ons kan met God praat

Daarom is daar ook Psalms en ander liedere geskrywe vir die samekoms van gelowiges waarmee gelowiges ook met God kan praat, want dit is mos ’n gesprek.  God praat nie alleen nie.  Ons praat ook met Hom.  Dit is hoekom ons dit ook saam sing, soos die koor vanoggend Psalm 117 gesing het:

  • Ps. 117: “Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke, want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie!  Prys die Here!

Én daarom is daar ook Psalms opgeteken vir jou persoonlike gebruik, talle van hulle in die Bybel, soos ook van die gebede in die Bybel:

  • Soos Ps. 56 wat my dié week besonderlik getref het: “Wees my genadig, o God, want daar is mense wat my jaag, vyande wat my vervolg van die môre tot die aand …” wat vervolg in die versekering wat my persoonlik dié week getref het: “My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet.  In u boek staan hulle opgeteken.”

God is nie stil nie.  Hy praat.  Hy antwoord.  Hy begelei.  Hy vertroos.  Hy bemoedig.  Hy laat Homself nie onbetuig in jou lewe nie!

Leef met die verwagting dat God praat

Daarom wil ek jou aanmoedig om dié week moeite te doen met die Woord en met gebed.  Want, God praat.

Doen dit alleen én in jou familie én in ’n kleingroep. 

Leef met die verwagting dat God praat … en jy sal dit ervaar.  Die interessante is, wanneer jy God in die private ruimte hoor, begin jy Hom hier ook hoor.  Wanneer jy God in die openbare ruimte hoor, begin jy Hom in jou persoonlike ruimte ook hoor.

  • Dit kan wees dat iets jou net skielik tref en jou hart aanraak.
  • Dit kan wees dat jy skielik insig kry en ’n lig vir jou opgaan.
  • Dit kan wees dat jy doodgewoon net tot rus kom in die wete dat die Here jou lief het en jou trane in sy boek opgeskryf is.

Leef in daardie verwagting en jy sal nie teleurgestel word nie.

Amen.

Gebed

Dankoffers

Slotlied

Lied 475 – Allerhoogste Hemelvader, lofgesange prys u Naam – staan

Seën

Respons

Lied 228 – Halleluja – staan 

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.