Verwelkoming
- Orrel en trompette: Die Heilige stad (Adams) – Baie dankie aan Albert saam met Jan Coetzer en Mark en Marcell Muller (trompette) en Frances Coetzer (Franse Horing)
- Ons kort nog NET een kategeet vir Gr 1. Maar dis dringend.
- Ouers wat help met die Toepassing vir voorskoolse kinders moet in die konsistorie bymekaar kom. Oud en nuut baie welkom! Veral ter wille van dié wat ook skoolgaande kinders het.
Graad 7’s kom gou vorentoe en kom staan hier by my. Ons wil vir julle ietsie gee vir die jaar wat kom en vir julle bid.
Toetrede
VONKK 40 – Kom en vul ons met vrede – sit
Lofsang
VONKK 39 – Lank, lank terug in Bethlehem – sit
VONKK 124 – Jesus bring vreugde, redding en vreugde – staan
Doop
Arnold en Michelle Pienaar se seun Robert
Liedboek 293:1,3 – Jesus neem ons kleine kinders – sit
Kindertyd
- Ursula Kilian – graad 1’s spesiaal verwelkom.
Ons gaan hierdie jaar die hele storie van die Bybel deurlees hier in die erediens. Elke week gaan ons almal een hoofstuk lees in die boek Die Storie waarin al die verhale van die Bybel vertel word. Daar is ook ‘n eenvoudige boek vir al die kleiner kinders, Die Bybelstorie vir klein hartjies.
Hierdie week het ons almal gelees van die Skepping en van Adam en Eva en nog ‘n paar ander mense.
Ek wil vir julle in my eie woorde ietsie vertel daarvan.
Lank, lank gelede was daar niks op die aarde nie. Om die waarheid te sê daar was nie ‘n aarde nie, ook nie ‘n hemel nie. Moeilik om te glo, nê!?
Wie was daar? God, ja.
Toe besluit God om die hemel en die aarde te maak. Hy maak die sterre, die son en die maan, en die aarde. Hy maak die see en die land, en Hy gee vir al die diere ‘n plekkie om te bly. Vir sommige gee Hy die see: al die visse en die walvisse en die seeperdjies, en die krappe, en die krewe. Vir sommige gee Hy die land: die leeus, die olifante, die miere, die sprinkane en die katte en die honde.
En vir wie gee Hy die lug om in te vlieg? Die voëls, ja. Al die duiwe en mossies, die loeries en die valke, selfs die kraaie!
Vir almal van hulle gee Hy ook kos om te eet. Sommige eet blare, ander eet vrugte. Almal het genoeg, want daar is volop kos.
Maar, daar was niemand met wie God kon praat nie, wat na Hom kon luister en wat met Hom kon gesels nie.
Wat doen God toe? Hy maak die mense. En Hy gee vir hulle ‘n plekkie om te bly, die tuin van Eden. Dit was ‘n wonderlike plek met baie water en bome en vrugte. En God was baie bly. Die Bybel vertel vir ons, elke aand het Hy in die tuin van Eden met hulle kom gesels. God het die man Adam genoem, en Adam het sy vrou Eva genoem.
Die wonderlike ding is dat dieselfde God ook vir jou en my gemaak het. En Hy is net so bly oor jou en my as wat Hy oor Adam en Eva was.
Ek gaan nou ‘n bietjie meer daaroor sê en ook gesels oor die groot probleem wat Adam en Eva gehad het. Maar, kom ons sê vir die Here eers dankie dat Hy ons gemaak het. En dat Hy bly is oor elkeen van ons.
Gebed
Skriflesing
Ons het dié week gelees van drie sleutelgebeure: Skepping, Sondeval, Sondvloed (Noag). Daar is natuurlik eintlik vier sleutelgebeure, maar die vierde is weggelaat in die deel wat ons in Die Storie lees. Dit is die verhaal van die Nasies en die toring van Babel.
Ek gaan uiteraard nie al 11 hoofstukke vanoggend lees nie, maar net ‘n paar dele daarvan lees soos ek die verhaal van die Skepping: die begin van lewe soos ons dit ken, vertel en interpreteer.
Woordverkondiging
Gen 1:1-2 – “In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. 3Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.”
Alles is deur God gemaak en behoort aan Hom
Reg van die eerste verse van Genesis af, word die grondoortuiging gestel wat ons wêreldbeeld vorm: die aarde is God se skepping. Hy het dit gemaak reg in die begin van alles. Alles wat bestaan kom van God af. Alles. Wat beteken, die aarde behoort aan God en alles daarop en daarin. Dit is fundamenteel. Maak nie saak waaroor ons dink, of wat ons doen nie – ons doen dit op God se aarde, in Sy heelal, in die ruimte wat Hy vir alles en almal geskep het.
Hy is die hoofkarakter van die Skeppingsverhaal. Alles draai om Hom, want alles is deur Hom en vir Hom gemaak.
- God het die lig gemaak – Dag 1 (die dae word natuurlik digterlik en metafories bedoel). Die versoeking is groot om dit met die Big Bang te verbind. Ek het juis die week weer gelees oor die boson wat Peter Higgs voorspel het, en nou met Cern se eksperimente waargeneem is. Hierdie Higgs boson was die deeltjie wat direk na die eerste millisekonde van die eerste ontploffing van materie sy werk begin doen het om aan alles massa te gee. Maar dit is nie wat die skrywer hier probeer doen nie, naamlik om ‘n wetenskaplike prentjie te gee van hoe dit gebeur het nie. Hy wil doodgewoon sê, die feit dat daar iets is en nie niks nie, is aan God te danke. Dat daar lig is in die donker, is aan God te danke.
- God het die aarde waterryk gemaak – Dag 2. Sonder water sou ons nie kon bestaan nie. Ons liggame bestaan vir 75% uit water, en die omgewing waarin ons leef, moes waterryk wees.
- God het die land en die see geskei – Dag 3 – en die plante en bome laat uitspruit om kos te verskaf, die lewensmiddele wat alle lewende wesens nodig het om van die te lewe.
- God het die seisoene gemaak sodat daar ‘n ritme van lewe kan wees – Dag 4 – wat verbind word met die hemelliggame se bewegings.
- God het die seediere en die voëls gemaak – Dag 5 – vir wie Hy ‘n ruimte in die see en in die lug en op land gegee het.
- God het die diere en die mens gemaak – Dag 6 – vir wie Hy ‘n ruimte op land gegee het om vrugbaar te wees en te vermenigvuldig om te geniet wat God hulle gegee het.
Die eerste drie dae het God dus ‘n ruimte gemaak waarin alles hulle plek kan vind. Die volgende drie dae het God alles wat lewe gemaak, plante, diere en die mens. Ruimte en Lewe – dit alles is die werk van God.
God se bedoeling met die ruimte van hemel en aarde was dus dat alles wat lewe ‘n plek daarop sal vind, ‘n habitat, ‘n tuiste – vir mens, dier en plant. Ons kan dié bedoeling selfs sien in die manier waarop die Bybel diere en plante klassifiseer. As jy Genesis 1 deeglik lees, sien jy dat die diere nie volgens hulle anatomie en morfologie geklassifiseer word nie, maar volgens hulle ekologie, hulle habitat, die plek waar hulle bly, die voëls in die lug, die visse in die see, die diere op die aarde. Dit is selfs waar van die mens in die tuin, en later in die onderskeie streke van die aarde waar hulle gaan woon het (Gen 2-11). Dit wys hoe fundamenteel alles wat leef, verbind is aan waar hulle leef.
God het die mens gemaak om by hulle te kom woon
Gen 1:26-28 – “26Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.’ 27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. 28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.’”
Die punt van die mens se skepping is dat ons in só ‘n nou verhouding met God bestaan, dat Hy by ons Sy plek kan vind. Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën, sodat Hy by hulle tuis kan kom.
God se groot passie is dus nie die uitsonderlike grootsheid van die heelal nie. Hy is nie tevrede met die unieke verskeidenheid van die fauna en flora van die aarde nie, al is dit ook hoe aantreklik en interessant. Nee, God se doel met dit alles is om in verhouding te tree met die mens en Sy tuiste te vind by ons. Die God wat alles gemaak het, wat vir alles ‘n plek gevind het, wil by ons kom woon. Sy plek is by ons.
Dink daaroor na. God skep die heelal en alles daarin met die visie om by ons te kom woon. Ons is die punt van Sy storie. Jy is die punt van God se storie.
Twee goed bedreig God se bedoeling
Nou belangrik: hierdie bedoeling van God is deur twee goed bedreig.
- Die eerste bedreiging was deur ongehoorsaamheid aan God (Adam en Eva – Gen 3) wat in die eerste plek die verhouding tussen Adam-Eva en God verbreek het en God se bedoeling met hulle in die wiele geryNatuurlik het dit ook die verhouding tussen Adam en Eva vertroebel asook vir hulle in konflik met hulle omgewing gebring – “die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit” (Gen 3:18). Maar die belangrikste was dat die verhouding met God deurbreek is. En dit was nie net vir Adam en Eva katastrofaal nie. Ook vir God. Julle sal raaksien ek hanteer hulle bestaan as metafore vir die ontstaan van die mens in terme van ’n persoonlike verhouding met God. Wie Adam en Eva was en presies hoe dit gewerk het, is ’n onderwerp vir ’n ander dag.
- Die tweede bedreiging was deur geweld teenoor medemense (Kain wat Abel doodmaak – Gen 4). Natuurlik sny geweld teenoor medemense jou verbintenis met hulleWanneer Kain tot swerwer verdoem word, dan kla hy juis dat sy verbintenis met sy medemense en ook met die ruimte wat God hulle gegee het, afgesny word. Hoe ontstellend klink Kain se uitroep nie na hy Abel van kant gemaak nie: “My straf is te swaar om te dra. U verdryf my nou van my grond af” (Gen 4:13-14). Maar die belangrikste gevolg van hierdie geweld was dat dit vir Kain verder van God vervreem het. Hy kies selfs wanneer God hom aanspreek en ‘n opsie gee om die regte ding te begin doen, om eerder die verhouding met God te versaak en nie te soek na wat God wil hê nie. En só verloor Kain homself en sy verbintenis met sy medemense en die ruimtes waar ware lewe moontlik is.
Geen wonder dat Jesus se opsomming van die wet baie eeue later sou wees: om God lief te hê en jou naaste soos jouself, presies die oplossing vir die twee goed wat die verhouding met God bedreig.
God wil steeds by ons kom woon
Maar God se passie vir ‘n verhouding met mense is groter as sy afgryse van die ongehoorsaamheid van Adam en Eva en die geweld van Kain teenoor Abel. Hy wil by ons kom woon. En die res van die storie van die Bybel vertel die verhaal vir ons van God se onvermoeide pogings om die verhouding met ons te herstel, om ons terug te wen in ‘n verhouding met Hom, sodat Hy ons kan liefhê en ons vir Hom.
Die verhaal van Noag is God se eerste poging om met sy familie oor te begin. En let op dat God nie met individue in isolasie werk nie. Hy werk met families. Maar dit slaag nie volledig nie, soos ons reeds lees in die dronkenskap van Noag en die ongemaklike storie van Gam. Dit kon natuurlik ook nie, want die sonde het saam opgeklim op die ark, want dit was deel van hulle geestelike DNA.
En toe dít nie werk nie, kies Hy vir Abraham, en Isak, en Jakob, en Josef … totdat Hy sy eie Seun na ons toe stuur om in Hom ‘n weg oop te maak na ‘n herstelde verhouding met God.
Dit bly vir my een van die mees treffende leringe van Jesus, waar Hy in Johannes 14:23 vir die “goeie” Judas-dissipel (wat waarskynlik ook die naam Taddeus gehad het en dus nie met Judas Iskariot verwar moet word nie) sê:
“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”
En dit is wat God ook met jou hierdie jaar wil doen. In jou lees van Die Storie wil God sy teenwoordigheid só ‘n werklikheid vir jou laat word, dat jy inderdaad die ervaring sal hê dat God by jou sal kom woon.
Dit is my gebed vir jou, en vir my.
Watter voorreg en watter avontuur om saam hierdie jaar te onderneem.
Gebed
Dankoffers
Slotlied
VONKK 92 – Als so mooi en wonderlik – staan
Seën
Respons
Liedboek 313 – Amen