04 – Om te ONTVANG

1 Konings 3:2-15 – Dinsdagaand 22 Mei 18:30 – meditatio

Lofprysing en aanbidding

  • Liedboek 436 – Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – sit
  • Vonkk 146 – My gees, my siel, my liggaam wy ek aan U, o Heer – sit
  • Liedboek 434 – O Heilige Gees, o heilige God – staan
  • Vonkk 174 – Strome van seën uit die hemel gee God aan ons deur sy Gees – staan
  • Liedboek 170 – Heilig, heilig, heilig – my hart, o Heer, aanbid U (x2) – sit

Verwelkoming

Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei.

Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand weer op die middelste beweging, om te HOOR.  Ons gaan meer aandag gee aan hoe ons MEDITEER. 

So het Nico Simpson meditasie uitgebeeld – dit is om die Woord ter harte te neem in die teenwoordigheid van God.

meditatio

Continue Reading04 – Om te ONTVANG

03 – Om te LUISTER

Openbaring 10 – Maandagaand 21 Mei 18:30 – lectio

Verwelkoming

Ons is besig om Lectio Divina in te oefen, ’n geestelike lees van die Bybel.  Die oorhoofse tema is IN GESPREK MET GOD.  My hoop en verwagting is dat elkeen van julle in julle Godservaring sal groei.

Daarom werk ons elke aand deur die bekende siklus van RUS, HOOR, en LEEF.  Ons fokus vanaand op die middelste beweging, om te HOOR.  Ons gaan meer aandag gee aan hoe ons LUISTER.  Blaai na by p 8-9 in die boekie.

RUS

Kom ons kom eers tot rus.

Ek gaan dit weer op twee maniere doen.  Met ’n prentjie en dan met ’n begeleide gebed.

silencio1

  • Stel jou voor dat jy in ‘n hangmat lê.  Voel die mat onder jou.  Voel die son op jou vel.  En voel hoe jy ontspan. Haal ‘n bietjie dieper asem en fokus veral op die uitasem.  Dit moet vir jou voel asof jy bietjie vir bietjie afblaas – 2 minute.
  • Dit is hoe ons tot rus in God kom.   Let nou op hoe daar ‘n tweeledigheid in jou kop is.  Daar is jou gedagtes wat beweeg van die een ding na die ander.  Daar is ook ‘n waarnemer, ook jy, wat sien hoe die gedagtes beweeg.  Die waarnemer is jou hulp om jou stadig, een vir een, van die gedagtes los te maak, sodat jy ‘n ruimte in jou kry waarin jy God se woorde kan ontvang.  Soos die gedagtes deur jou beweeg, goed en sleg, sien dit raak en gee dit in ‘n eenvoudige stilgebed vir die Here – 2 minute.
  • Dink nou daaraan dat jy in Jesus se teenwoordigheid is.  In die stilte saam met Hom sal jy vanaand krag en moed kry vir die lewe – 1 minuut.
  • Skryf nou neer wat met jou gebeur het, en wat vir jou duidelik geword het van jouself of van God of van jou lewe.

HOOR

Ons skuif na die tweede beweging – HOOR.

lectio

Lectio Divina is soos ‘n spiraal waarin ons telkens dieselfde elemente herhaal: lees, mediteer, bid, geniet (sommige, Willem Nicol, gebruik die woord rus).  Dié prentjie van Nico Simpson beeld iets hiervan uit.

Só word die Woord deel van jou lewe.  Dit raak ‘n manier om te leef.  Soos Guigo, die 2de, in die 12de eeu gesê het: “Reading puts the solid food into our mouths,  meditation chews it and breaks it down, prayer obtain the flavour of it, and contemplation is the very sweetness which makes us glad and refreshes us.” (aangehaal in Peterson, Eat this Book, 91). 

Giugo, ‘n Kartuisiese monnik, staan in die tradisie van Origines (3de eeu), Augustinus (4de eeu), Benedikt (6de eeu) en het die proses van Lectio Divina geformaliseer in 4 stappe, soos dit in julle boekies is, of soos dit met die Latynse benaminge bekend geword het: lectio, meditatio, oratio, contemplatio.  Ek sit twee stappe, silencio en incarnatio, by op voetspoor van Alice Fryling, The Art of Spiritual Listening – Responding to God’s voice amid the noise of life. Dit is om net beter te kommunikeer dat ‘n mens eers moet stilword voor jy kan luister, en dat jou luister gemik is op die lewe, om te gaan doen of wees wat die Here van jou vra.

Continue Reading03 – Om te LUISTER

02 – Om tot RUS te kom

Jesaja 30:8-18 – Sondagaand 20 Mei 18:30 – silencio

Verwelkoming

Ek wil weer begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).

 jesus-emmausgangers web

My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie Pinkster.

Niks van belang kan in ’n mens se geestelike lewe gebeur, as jy nie hierdie lewensveranderende ervaring het nie, as jy nie God BELEEF in jou lewe nie, en nie net een keer in jou lewe ervaar nie, maar deurlopend, selfs daagliks.

Want ons lewe gebeur in GESPREK MET GOD.  Ons ore en oë gaan oop vir Sy stem wanneer ons tyd maak vir God, by wyse van spreke, brood breek saam met Hom.  Dit is wanneer ons oë oopgaan.

Een van die maniere wat gelowiges deur die eeue gebruik het om die Bybel só te lees, dat dit jou lewe beïnvloed, jou transformeer, is Lectio Divina, geestelike of goddelike lees.

Ons gaan die bekende manier van RUS, HOOR, LEEF gebruik, met ’n bietjie meer opsies gegee by die hoor gedeelte – lees, mediteer, bid, geniet.  Julle het plek langs elke teks in die boekie waar julle jul ervarings en gedagtes kan neerskryf.  Ons is by p 6-7 in die boekie.

Kom dus saam met my op reis in ’n dieper wordende GESPREK MET GOD.

RUS

’n Oostenrykse sielkundige, Satura, het gewerk met drie basiese menslike behoeftes:

  • Ons het behoefte aan prestasie, ons wil dinge regkry, dinge bereik, dinge doen in die lewe –  ons studies, ons werk, ons sport;
  • Ons het ook ’n behoefte aan ekstase, aan opwinding, aan belewing, ons wil meegevoer word deur saamwees, deur musiek, deur vriende, deur verhoudings;
  • Maar, dan het ons ook ’n behoefte aan enstase, ’n behoefte wat baie keer afgeskeep word; ons wil tot stilstand kom en tuis kom by onsself, as’t ware by jouself kuier, met jouself vriende maak, tot rus kom in jouself.

satura

Maar, dit is juis waarmee ons sukkel.  Ons kom moeilik tot stilstand.  Ons kom moeilik tot rus.  Ons kom moeilik tuis in onsself.  En dit beteken dat ons God se stem ook moeilik hoor.

Die filosoof Marthinus Versfeld het in sy boek Klip en Klei gesê: “Niemand is met ander mense, of in enige plek of enige tydperk, tuis as hy nie met homself tuis is nie” – (kortverhaal Huise).

Daarom het ons hulp nodig met tot rus kom, voor ons regtig met aandag kan lees en kan luister na wat die Here vir ons deur Sy Woord wil sê.

Continue Reading02 – Om tot RUS te kom

01 – Om God te BELEEF

Handelinge 8:26-40 – Sondagoggend 20 Mei 09:00 – lectio divina

Verwelkoming

Ek wil begin met ’n prentjie – een van Alida Bothma, in julle boekies op die binneblad – waarin sy die lewensveranderende gesprek van Jesus met die Emmaus-gangers illustreer, Kleopas en waarskynlik Maria (Joh 19:25).

jesus-emmausgangers web

My gebed is dat hierdie moment vir elkeen van ons sal aanbreek hierdie Pinkster.

Niks van belang kan in ’n mens se geestelike lewe gebeur, as jy nie hierdie lewensveranderende ervaring het nie, as jy nie God BELEEF in jou lewe nie, en nie net een keer in jou lewe ervaar nie, maar deurlopend, selfs daagliks.

Want ons lewe gebeur in GESPREK MET GOD.  Ons ore en oë gaan oop vir Sy stem wanneer ons tyd maak vir God, by wyse van spreke, brood breek saam met Hom.  Dit is wanneer ons oë oopgaan.

Ons gaan die bekende manier van RUS, HOOR, LEEF gebruik, met ’n bietjie meer opsies gegee by die hoor gedeelte.  Julle het plek langs elke teks in die boekie waar julle jul ervarings en gedagtes kan neerskryf.

Continue Reading01 – Om God te BELEEF

Psalm 93 – Hemelvaart

Inleiding

Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping.

Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit dat Hy Here is, dat Hy heers oor die lewe en die wêreld.  En ek wil dan na die hemelvaart van Jesus kyk uit daardie hoek.

carine anderson hemelvaart

Continue ReadingPsalm 93 – Hemelvaart

Prediker 12:9-14 – Lewe met oorleg en vreugde

Wysheid is ’n gawe

Die wysheid is ’n wonderlike gawe – só sluit die boek Prediker af. 

  • Die wysheid is soos die skerp stokke wat die beeste aanjaag in die regte rigting (12:11a).  Die spreuke en voorbeeld-verhale is bedoel om jou op die regte pad te hou, sodat jy nie die verkeerde pad vat en afdwaal nie. 

“The words of the wise prod us to live well,” soos Peterson dit vertaal.  Die bedoeling is nie om die lewe vir jou swaar te maak nie.  Dit is om jou te help om met oorleg en met vreugde te lewe.  Dit is bedoel om jou moeite te spaar, om te keer dat jy nie dinge doen waarvan jy uiteindelik sal moet sê, dit kom tot niks nie, dit is sinloos, dit is hebel.  Dit help jou om jou self te verwesentlik, sonder om selfvoldaan te word, en sonder om oorgerus te raak met wat jou lewe vir jouself, vir ander en vir God beteken nie.

Maar dit dui nie net rigting aan nie. 

  • Die wysheid is ook soos spykers wat ingeslaan is om alles, gemeenskappe en hulle wêrelde, bymekaar te hou (12:11b).  Spreuke hou jou nie net op die regte pad nie.  Dit is ook soos ankers, soos vaste oriënteringspunte, wat jou help om die belangrike goed in die lewe raak te sien, en te waardeer. 

“They’re like nails hammered home, holding life together” (Peterson).  Die woorde van wysheid help jou onderskei tussen die belangrike dinge in die lewe, en dié wat minder belangrik is.  Dit help jou fokus, dit help jou die vloei van die lewe agterkom, sodat jy in ritme daarmee kan leef.

Geen wonder die wysheid word so hoog aangeslaan in die Bybel nie.  Want nie net gee dit rigting nie.  Nie net hou dit dinge bymekaar nie.  Die woorde en spreuke van die wyses is die woorde van God self, die een Herder, wat ons daarmee in die regte rigting stuur (skerp stokke) en beskerm van verydeling en verstrooiing (spykers). 

Continue ReadingPrediker 12:9-14 – Lewe met oorleg en vreugde

Prediker 9:1-12 – Die gevaar van selfvoldaanheid en oorgerustheid

Ons het van tyd tot tyd nodig om bestek op te neem van ons vermoë om dinge te laat gebeur.  Ons kan só maklik dink dat ons prestasies aan ons eie talente en vermoëns te danke is, hetsy fisies (vinnigste, sterkste) of intellektueel (wyses, verstandiges, kennisvrate).

Die Prediker herinner ons dat dit nie die vinnigstes wat die reisies wen nie.  Dit is asof ’n mens die verhaal van skilpad en hasie hoor in sy waarskuwing.  Spoed is goed, maar uithouvermoë nog beter.  Oor kort afstande kan spoed jou nog uithelp, maar as die afstand langer is, help spoed jou baie minder.

Continue ReadingPrediker 9:1-12 – Die gevaar van selfvoldaanheid en oorgerustheid

Prediker 3:1-15 – Op soek na sin en betekenis

Die Prediker sluit aan by die diep soeke in ons na meer, na beter, na die buitengewone. Hy oorweeg ons soeke daarna in besit, plesier, mag, avontuur, wysheid, kennis, selfs dwaasheid.  Hy neem waar dat ons meer wil hê, meer wil voel, meer wil doen, meer wil bereik … of juis nie bereik nie, as ons die dwaasheid ondersoek, of die werklikheid deur dwelms of drank of degradering ontvlug om ons eie werklikheid te skep.

Maar hy wys uit, in sy eie ervaring daarvan, dat die probleem met die soektog na meer, na die buitengewone, is dat dit uiteindelik vrugteloos is. Dit kom tot niks.  Dit is hebel – niks, nietigheid, ’n rookwalmpie, ’n miswolkie, ’n wasempie (‘n woord wat hy 37 keer gebruik in die boek!) – ’n metafoor vir die wese van die menslike toestand. 

Continue ReadingPrediker 3:1-15 – Op soek na sin en betekenis