Pinkster 1 – 6 Mei 2016
Verwelkoming
Pinkster in die NG Kerk familie
Die 10 dae tussen Hemelvaart en Pinksterdag was nog altyd ’n baie besondere tyd in die NG Kerk familie. Vir meer as 150 jaar al word die tyd aan Pinksterbidure afgestaan. Die fokus is op die werk van die Heilige Gees, die nuwe lewe wat Hy bring, en die krag wat Hy gee, veral in gebed, sodat ons by God se werk in die lewe kan aansluit.
Die stimulus daarvoor begin interessant genoeg in ’n North Dutch Reformed kerk in Fulton straat, New York in Amerika, en ironies genoeg in 1857, presies in dieselfde jaar van die gewraakte besluit “ten gevolge van de zwakheid van sommige” wat hier by ons tot aparte kerkvorming gelei het.
Amerika was in ‘n toestand van sosiale, morele, politieke, geestelike en ekonomiese verval. Op 14 Oktober dié jaar het die bankstelsel van die VSA ineengestort. Die spoorweë het bankrot gespeel. Fabrieke het toegemaak. Die onrus oor die nagevolge slawerny was aan die oplaai. Burgeroorlog het gedreig. Mense was radeloos en sonder hoop. Die toekoms was donker.
Jeremiah Lanphier, ‘n stadsendeling van die gemeente in Fultonstraat, was baie bekommerd oor die impak van die landsituasie op die geestelike toestand van die mense van New York. Hy besluit toe om elke week ‘n middaguur-gebedsbyeenkoms tussen 12:00 en 13:00 te hou. Hy het pamflette laat druk om mense uit te nooi vir die eerste byeenkoms op 23 September 1857. Dit sou plaasvind in die konsistorie van die kerk in Fultonstraat.
Slegs 6 mense het die eerste week se byeenkoms bygewoon. Die tweede week het die bidders verdriedubbel. 20 mense het kom bid. Die derde week was daar 40. Die vierde week was daar 100. Binne enkele weke was die kerkgebou vol en het mense van toe af daagliks bymekaargekom om tydens middagete te bid. Mettertyd is daar nog en nog gebedsbyeenkomste gereël. By sommige was daar tot 5000 teenwoordig. Voor die einde van 1857 was daar honderde gebedsbyeenkomste in verskillende areas en het dit daagliks gegroei. Dit is beleef as ‘n herlewende werk van God. (more…)