Verwelkoming
Jaco Barnard praat vandag oor dissipelskap en indeling van nuwe groepe.
Toetrede
Liedboek 170 Heilig, heilig, heilig – koor x1, gemeente x1 – sit
Votum en Seëngroet
Lofsang
Psalm 146:1,5 Prys die Here, loof en prys Hom – staan
Lied 280 Here, Redder, groot en magtig – staan
Verootmoediging
Riglyne vir die lewe – Eksodus 20 bly die basis, soos opgesom deur die Here Jesus in die dubbele liefdesgebod. Ons hoor egter soms die liefde vir die naaste, net met die kwalifikasie, “soos jouself”. Dit is nie al wat Jesus oor die liefde vir die naaste gesê het nie. Met Sy voetewas van die dissipels het Hy die liefde vir die naaste verder gekwalifiseer, “soos Ek julle liefhet” (Joh. 13).
Dit is vandag die Sondag van Verheerliking. Dit pas ons om na te dink oor die liefde wat Hy vir ons gehad het en dan met daardie liefde te gaan leef.
Geloofsbelydenis
Artikel 1: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
Artikel 2: en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
Artikel 3: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
Artikel 4: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
Artikel 5: wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
Artikel 6: wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
Artikel 7: van waar Hy sal kom om te oordeel, die wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Artikel 8: Ek glo in die Heilige Gees;
Artikel 9: ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
Artikel 10: die vergewing van sondes;
Artikel 11: die opstanding van die vlees
Artikel 12: en ’n ewige lewe.
Kindertyd
Ons het dié week die storie van Moses gelees. Ons het geleer dat God ‘n groot plan met sy lewe gehad het. Reg van sy geboorte af het sy ma, Jogabed, en sy suster, Miriam, na hom gekyk. Sy ma het vir hom ’n biesiemandjie gemaak waarmee sy hom in die riete van die Nylrivier weggesteek het, toe die farao, die koning van Egipte, al die klein seuntjies wou doodmaak. En sy suster het na hom gekyk. Die Here het in die hart van farao se dogter gewerk dat sy hom as haar eie kind aangeneem het en hy in die paleis van die farao kon grootword.
Maar toe kom daar fout. Moses het jammer gevoel vir sy mense en hulle probeer help, maar in die proses ’n Egiptenaar doodgeslaan. En Moses moes vlug. Alleen in die woestyn het hy gaan bly.
Toe eendag, terwyl hy vee oppas, sien hy iets baie vreemd.
Kan julle onthou wat dit was?
’n Bos wat nie uitbrand nie.
Toe Moses nadergaan, het die Here met hom gepraat en vir hom gesê, Ek het gesien dat jou mense swaar kry en baie hard moet werk. Ek wil hulle red dat hulle in hulle eie land kan gaan bly.
En ek wil jou stuur om hulle te help.
Was Moses baie opgewonde?
Nee, hy was bang vir die farao. Hy was bang hulle sit hom in die tronk omdat hy iemand doodgemaak het. En hy was bang vir sy eie mense. Sal hulle luister vir hom? En hy was bang, want hy het moeilik gepraat.
Wat doen die Here toe?
God sê, Hy sal vir Moses sorg dat die farao hom nie kwaad aandoen nie en dat sy mense vir hom sal luister, en dat Hy vir hom iemand sal gee wat namens hom kan praat, sy broer Aäron. En dit was ook so.
God het vir alles gesorg en uiteindelik was sy mense vry en kon hulle in hulle eie land gaan woon.
Wat leer die verhaal ons?
- God sien raak as ons swaarkry. En Hy stuur mense om te gaan help. Baie keer stuur Hy vir ons.
- Baie keer is mense bang, selfs grootmense, om te doen wat God wil hê dat hulle moet doen. Maar ons leer ook dat God selfs vir bang mense kan help om te doen wat Hy wil hê.
Ons kan die Here vertrou.
Epiklese
Laat my mense gaan – koor (n.a.v. Eksodus 3-5)
Skriflesing
Eksodus 1-17 in Die Storie – ons lees Eksodus 2:23-3:15.
Terloops: Moses se skoonpa se naam was Reüel (Eks 2:18), maar hy is aan ons beter bekend met die naam Jetro (Eks 3:1; 18:1). Omdat die naam Jetro telkens gebruik word wanneer van hom as priester van Midian gepraat word, vermoed ons dat Jetro sy ampsnaam was. Hy word interessant genoeg ook nog Gobab genoem (Rigt 4:11). Wat vir my nogal wonderlik is, is dat die naam Reüel beteken “metgesel van God”. En dit wil regtig voorkom asof Jetro besondere insig in geestelike dinge gehad het, soos ons kan aflei uit die raad wat hy vir Moses gee in hoofstuk 18 om nie alle werk self te doen nie, maar ook ander in te trek in die geestelike begeleiding van die volk.
God hoor die Israeliete se geroep om hulp
23Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. 24God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. 25Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.
God openbaar Hom aan Moses
3 Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ’n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.
2Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vlam binne-in ’n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 3En Moses sê vir homself: “Ek wil tog ’n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?”
4Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!”
En hy antwoord: “Hier is ek.”
5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” 6Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”
Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.
7Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 9Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. 10Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”
11Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”
12God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”
13Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”
14Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”
15Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.
Woordverkondiging
God hoor, onthou en neem ter harte
Wat my getref het dié week in Die Storie is die woorde aan die einde van Eksodus hoofstuk 2: “God het gehoor hoe hulle roep.” Die NAV sê: “Hy het hulle gekerm gehoor”. Nog dieper: “Hy het gedink (NAV) of onthou (Die Storie) dat Hy ’n verbond … gesluit het.” En God het hulle nood, “ter harte geneem”.
Toe ek dit gelees het, het ek net geweet dit is die woord wat die Here vanoggend vir ons het. Die eenvoudige boodskap – God hoor; God onthou; God neem ter harte – dit is waarmee die Here ons moed wil gee vir die roeping wat Hy vir ons het.
Dit is die basis van ons vertroue op God – dat Hy hoor, dat Hy ons onthou, dat Hy ons nood ter harte neem. Dit is hoe God is. Dit is waarop ons vertrou. Dit is wat ons na God toe neem as ons in die nood is. Dit is waarop ons staatmaak.
En vanoggend wil ek jou maar net weer daarvan verseker. God hoor; God onthou; God neem ter harte.
Ons kan baie dinge in die Bybel lees. Daar is ongelooflike interessante kante van die geloof. En ek het net weer met die Psalms die week verwonderd gestaan oor die ontwikkeling van ons geloof oor die eeue en watter rol digters en leiers gespeel het en wat ons kan leer van God en van hoe geloof werk.
Maar, belangriker as dit en dieper as dit, is die eenvoudige fundamentele waarheid: God hoor; God onthou; God neem ter harte.
Hierdie verhaal van Moses en die volk is dus opgeteken om jou hierop te laat vertrou. Want alles wat ons in Eksodus 3 en verder gaan lees, vloei voort uit hierdie waarheid oor God.
Wat doen hierdie God?
En wat doen hierdie horende, onthouende en ter-harte-nemende God volgens Eksodus 3? Drie goed:
- Hy maak Homself bekend aan Moses – “Ek is”, die altyd-teenwoordige, presies die wyse waarop Jesus Homself in Johannes 8 aan die volk bekend stel.
- Hy maak ’n plan waarvoor Hy Moses inspan. God doen alles wat nodig is, selfs al vererg Hy hom vir Moses se verskonings, om Moses in staat te stel om te doen wat God van hom vra.
- Hy begelei hulle elke deel van die pad tot hulle bevry is. Dit is die verstommende van die verhaal, hoe vêr God bereid is om in die gewoel en gewerskaf van die lewe betrokke te raak en die volk uit die nood waarin hulle is, te verlos.
Kom ons dink na oor hierdie 3 aspekte van God se manier van doen as getuienis vir ons eie lewe.
God maak Homself bekend aan Moses
God maak Homself aan Moses in die eerste plek bekend met ‘n werkwoord, haja – “Ek is”. Dit is een van die mees diepgaande openbarings van God wat daar is. God is nie net beperk tot een interpretasie, ‘n naamwoord nie, of ‘n beskrywing, ‘n byvoeglike naamwoord nie. God is ‘n werkwoord, ‘n aktiewe dinamiese ewige handelende teenwoordigheid.
Trouens, Hebreërs 11:6 sê dat dit die belangrikste ding is wat ons van God moet glo, dat Hy bestaan, dat Hy teenwoordig is, dat Hy is wat Hy is.
Dit is wat ek dink die ewigheid ook is, ’n toestand waar verlede en toekoms altyd teenwoordig is, en tyd ‘n vreemde konsep is (maar dit is bietjie bo my begrip- of uitdrukkingsvermoë!).
In die tweede plek maak Hy Homself ook bekend aan Moses met ‘n verwante naamwoord, Jahwe, wat beteken “Hy is”, die perfekte naam om só ‘n altyd-teenwoordige wese mee te beskryf. En van dié punt af aan was dit die naam waarmee God se persoonlike teenwoordigheid by ons uitgedruk is – Jahwe.
God is dus die teenwoordige. Hy is nie afwesig nie. Hy is aanwesig.
Geen wonder dat Jesus Homself met dieselfde openbaring bekend gestel het aan ons nie, want dít is die fundamentele van God. Hy is teenwoordig.
Ons ken waarskynlik die 7 naamwoorde waarmee Jesus Homself bekend gestel het,
- “Ek is die brood wat lewe gee” – Joh. 6:35,48 (vgl Eks 16:4, waar God deur die manna voorsien het);
- “Ek is die lig vir die wêreld” – Joh. 8:12 (vgl Jes 49:6 waar dit van die dienaar van die Here voorspel word);
- “Ek is die ingang vir die skape” – Joh. 10:7, 9 – (vgl Eseg 41 waar die ingang na die hemelse tempel en God se ewige teenwoordigheid beskrywe word);
- “Ek is die goeie herder” – Joh. 10:11,14 (vgl Eseg 34 waar God self as herder optree en sy dienaar Dawid daarvoor aanstel);
- “Ek is die opstanding en die lewe” – Joh. 11:25 (vgl Jes 53:7-12 waar die dienaar van die Here se dood en opstanding beskrywe word wat lewe vir baie sal gee);
- “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” – Joh. 14:6 (vgl Jes 30:20-21 waar God as die Een beskryf word wat sy volk leer en op die regte koers hou);
- “Ek is die wingerdstok” – Joh. 15:5 (vgl Jes 5 waar Israel die wingerd van die Here is, maar in hulle roeping gefaal het).
Maar die belangrikste manier bly Jesus se aanspraak daarop dat Hyself ook is: “Ek is wat Ek is” – Joh. 8:24,58 – presies dieselfde uitspraak as wat God van Homself sê in Eks 3:14.
Jesus tree in die NT immers op as die Jahwe van die OT. Trouens Hy kry ook die naam Immanuel, God met ons, wat presies dié eienskap van God uitdruk, Sy teenwoordigheid. En dít is wat God vir ons is – die teenwoordige.
God maak ‘n plan waarvoor Hy Moses inspan
God roep mense
In Eksodus 3 ontmoet ons dus hierdie teenwoordige God in gesprek met Moses. En wat doen dié God in die tweede plek? God maak ’n plan waarvoor Hy Moses gaan inspan.
Merkwaardig genoeg werk God deur mense. Ons kan so bewus wees van menslike swakheid en tekortkoming dat jy kan wonder of God Homself nie in die voet skiet deur mense te gebruik nie.
Dit is egter die patroon reg deur die Bybel. God skakel Noag in by sy planne om ʼn nuwe begin met die wêreld te maak. God wil die nasies seën en roep Abraham. In die hoeveelste roepingsverhaal in die Ou Testament, hierdie verhaal van Moses se roeping, blyk opnuut weer hoe helder God se keuse is om deur mense te werk.
God se roeping staan daarom sentraal in ons selfverstaan en ons identiteit. Dit is wie ons is: geroepenes en gestuurdes van God. Ons roeping definieer wie ons is.
Só was dit met Moses. Hoewel hy hier reeds ʼn ou man is, blyk duidelik dat sy hele lewensverhaal enersyds voorbereiding vir hierdie roeping was, en andersyds (na Eksodus 3) die uitspeel van hierdie roeping is.
Só is dit ook met elkeen van ons. Ons lewens word gestempel deur die feit dat God ons roep en stuur.
- Enersyds om ʼn goeie lewensmaat, ouer, werkgewer of werknemer ensomeer te wees.
- Andersyds gee God se roeping ook ʼn bykomende fokus aan ons lewe. Daarom wy sommige hul lewe aan die verligting van armes se swaarkry, ander wy hulle aan die verspreiding van die evangelie oor allerlei grense, nog ander lê hulle toe op die geestelike vorming van jongmense. Ons doen hierdie dinge op verskeie plekke en tye, by die kerk, huis, werkplek, sportveld, oral waar ons ons voete sit.
Roeping bring die fokus en die sin in ons lewe. Dit stempel ons. Dit bewaar ons van die betekenislose ronddobber in die lewe.
Waarom roep God mense?
Waarom roep God mense as medewerkers? Ons teks gee die aangrypende motivering:
Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” (Eks 3:7-10)
Ons teks, en in ’n sin die hele Bybel, ken die belangrikste rede waarom God mense roep. God sien die nood en behoefte van ander mense (verse 7 en 9). God sien en weet dat mense swaarkry en seerkry. God neem die nood van mense ter harte. Dit raak Hom diep om mense in ellende en lyding te sien.
Derhalwe roep God mense ter wille van ander mense. God word telkens deur die nood en gesukkel van mense gemotiveer om ander mense te roep as sy helpers en medewerkers om hierdie nood aan te spreek en mense vry te maak.
Juis om hierdie rede gee roeping soveel sin aan ʼn mens se lewe. Dit mag jou met vrees vervul, maar dit is altyd ʼn geleentheid om deel te neem aan die genesing wat God in die wêreld bewerk.
Waarom deins geroepenes terug?
Moses deins terug vir sy roeping. Hy maak allerlei verskonings. Baie gelowige mense doen dit ook. Waarom is dit moeilik om positief te reageer wanneer die Here ons roep? Waarom ignoreer mense hul roeping, stuur daarvan weg, of sukkel om sovêr te kom om die roeping te begin leef en dit uit te voer?
Eerstens weet mens gehoorsaamheid aan jou roeping gaan nie maklik wees nie. Soos Moses later sou ondervind, weet mens dinge gaan moeilik en taai wees. Jy gaan teenstand ervaar. ʼn Roeping verg opoffering, toewyding, en persoonlike ontbering. Dietrich Bonnhoeffer, wat self vir sy roeping in ʼn Duitse tronk gesterf het (hy het Hitler se bewind teengestaan), het geskryf: “Wanneer Christus mense roep, roep Hy hulle om te kom en aan hulleself te sterf” (The cost of discipleship).
Tweedens is ons geneig om te veel van onsself – en veral ons eie gebreke – bewus te wees. Soos Moses wonder mens wie jy nou eintlik is, of jy oor die nodige talente beskik, en hoe jy nou eintlik iets sal kan regkry. Sal die Here my kan gebruik? Mens dink daar is baie beter en bekwamer mense as jy beskikbaar. Daarmee hoop ons om los te kom van ons roeping en los te kom van die Here se aanspraak op ons lewens.
Derdens word ons gewoonlik nie maklik geraak en geroer deur die nood en deur die swaarkry van ander nie. Soms kan ander se lyding vir jou so normaal voorkom – jy kan so gewoond raak daaraan – dat jy dit nie meer raaksien nie. Soms kan jy mense selfs jammer kry, sonder om werklik ʼn diepe deernis te hê wat jou tot aksie laat oorgaan. Ons het ʼn gebrek aan liefde wat tot goeie dade oorgaan. Ons is traag om ons roeping in die nood van ander te erken. Dis soos Moses wat rustig kon skape oppas nadat hy uit Egipte gevlug het, wetende hoe swaar dit met die Israeliete gaan.
God bemoedig en versterk
Hoe reageer God op ons onwilligheid? Kyk na verse 11 en 12:
Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”
Die Here gee aan die mense wat Hy roep die belofte en versekering van sy teenwoordigheid en sy bystand. God se teenwoordigheid gee die moed en bekwaamheid wat ons nodig het. God se teenwoordigheid bestaan daaruit dat Hy saam met ons gaan, voor ons uit, met ons, en ook agter ons.
In Matteus 28:18-20 word hierdie teenwoordigheid in die groot opdrag op onvergelyklike wyse uitgespel. Jesus gee die opdrag om na die nasies te gaan, en raam die opdrag met die mededeling dat alle mag op aarde en in die hemel aan Hom gegee is, en dat Hy by ons is tot aan die einde.
Die Here is in beheer van ons roeping, Hy gebruik ons, maar ons is God se medewerkers. Ons roeping is altyd ʼn vennootskap waar God direk teenwoordig is. Soms mag ons moedeloos en terneergedruk raak, maar die Here sê sy teenwoordigheid aan ons toe. Dit troos ons.
Uiteindelik gee die Here ook Aäron as menslike vennoot vir Moses. Ook dit kenmerk dikwels die manier waarop God ons op die pad van roepingsvervulling begelei. Elke geroepene kan daarom weet dat God ons nooit alleen stuur nie. Dit troos ons ook.
God begelei die volk elke deel van die pad
Die res van die verhaal van Eksodus is die verhaal van God wat saamgaan op elke deel van die pad wat Moses en Aäron, die leiers en die volk, moet stap om uiteindelik as bevryde volk van God deur die woestyn na die beloofde land te trek.
In elke gesprek om God se wil te onderskei, met elke gebed waar om God se ingrype vir kos en water en veiligheid gevra word, ervaar die volk die lewensveranderende teenwoordigheid van die Here. Elke wonderwerk wat God se krag ten toon stel, elke geskenk wat op die pad gegee word, elke ingrype van die Here bewys dat Hy daar is vir hulle en dat Hy dié beloon wat in Hom glo, wat rekening hou met Sy teenwoordigheid.
Slot
Waarop kan jy dus vertrou? Wat sal die horende, onthouende en ter-harte-nemende God ook vir jou doen?
- God sal Homself ook aan jou bekend maak.
- Hy sal vir jou ’n plan gee waarby jy ingetrek word.
- Hy sal jou elke deel van die pad begelei tot Sy doelwit met jou en jou lewe bereikDit geld elkeen van ons. Dit geld ook vir ons as ’n gemeente en ’n land.
Gebed
Dankoffer
Vonkk 159 Heer, ons dink aan Afrika – koor
Slotsang
Liedboek 531 Ons Here, God van alvermoë – staan
Seën
Respons
Liedboek 269:1 God bly met u waar u ook mag gaan