2 Korintiërs 4:16-5:10 – Ons het ‘n vaste gebou in die hemel

Roudiens vir Rinette Dickinson

Die lewe is ‘n reis in ‘n tentwoning

Paulus vertel die verhaal van ons lewe as ‘n reis in ‘n wêreld waar daar lyding en swaarkry is.  Ons intense verleentheid, selfs as gelowiges, is die tydelikheid en verganklikheid van alles.  Niks wat ons hier opbou, is blywend nie – alles gaan verby.  Ons beleef die afwesigheid van heerlikheid, ons beleef verlange.  Ons leef onder die swaard van verganklikheid.  Tyd kalwe selfs ons beste en ons hoogtepunte weg.

Paulus praat daarom van ons lewe as ‘n tentwoning (vers 2), ‘n woning wat nie blywend is nie, ‘n tentwoning wat uitgelewer is aan die elemente van die weer en die omgewing, ‘n tentwoning wat eintlik verbasend gou verweer en verval.

Julle het hierdie proses moes waarneem in Rinette se lewe.  Die agter uitgang, die afbreek van menswaardigheid, die frustrasie, die verlange dat dit anders kon wees.  Dit is moeilik om die swaarkry te sien en die droom te laat vaar van ‘n oudag saam, en te moet weet dat Rinette nou by sekere mylpale waardeur julle as ‘n familie sal gaan, nie gaan wees nie.  En dit is nie net iets wat ‘n mens eenmaal oor hartseer is en dan is dit verby nie. Elke keer wanneer daar ‘n mylpaal kom, sal die verlange na Rinette en na die deel van die oomblikke van verwondering en gemeenskap by julle weer opvlam.

Dié ervarings kan ‘n mens sonder moed laat en jou laat wanhoop aan die lewe.  Dit is ‘n proses en ‘n ervaring wat ons laat sug en laat verlang na iets meer blywends, iets meer standvastig, iets wat nie tydelik sal wees nie, maar ewig, iets wat nie gou sal vergaan nie, maar vastigheid en blywende krag sal hê, ‘n vaste gebou, ‘n permanente struktuur, een wat bestand sal wees teen die aanslae van die weer en van die omgewing, wat nie verweer nie en nie verval nie.

Ons het ‘n vaste gebou in die hemel

En dit is presies die hoop wat Paulus in hierdie gedeelte vir ons gee met die prentjie wat hy teken van die vaste gebou wat ons in die hemel het (vers 1).  En ek wil dit as troos vir julle gee vir die afskeid-neem en die verdere reis met mekaar.

Paulus sê, ons weet tog dat ons swaarkry in hierdie lewe verby gaan.  Ons het nie illusies oor die pyn en die verydeling van ons lyding nie, maar ons weet ook dat dit nie vir altyd is nie, dat selfs dié swaarkry verbygaan. En ons weet dat hierdie lewe vir gelowiges uitloop op ‘n heerlikheid wat nie net alles sal oortref nie, maar vir ewig sal bly (vers 17).  Ons oog is daarom op daardie onsigbare, ewige dinge gemik.

En om ons te help om ons fokus op die onsigbare ewige dinge te hou, gebruik Paulus die beeld van die vaste gebou wat ons in die hemel het (vers 1).

Die “vaste gebou by God” (5:1) is ‘n belangrike sleutel om Paulus se boodskap, maar ook sy lewe, sy diensbaarheid en sy selfprysgawe te verstaan.  Hy weet – wat ook al gebeur – God berei vir hom ‘n oorgang voor van die tydelike, sugtende, gebroke lewe – die tentwoning – na die heerlike, ewige bestemming in God se teenwoordigheid – die vaste gebou.

Die Heilige Gees is ons waarborg

Hoe weet ons dit?  Watter getuienis het ons om dít te glo?

Paulus verwys nie hier na ‘n teks in die Bybel om as getuienis daarvan te dien nie, hoewel hy ‘n hele paar Skrifverwysings sou kon aangee.  Nee, hy verwys na iets baie meer intiem, iets baie nader aan ons hart.  Hy verwys daarna dat God: “As waarborg hiervan ons sy Gees gegee het.” (vers 5)  God het reeds die deposito op die vaste gebou betaal.  Die waarborg daarvan is die wonderlike werklikheid dat Hy vir ons sy Gees gegee het.  Die Heilige Gees is die getuie in ons harte en lewens wat ons oortuig van die vaste gebou wat God vir ons voorberei.  En diep binne ons hart doen Hy die oortuigingswerk dat dié belofte van God betroubaar is.

Dit is natuurlik presies wat Jesus eenmaal vir die dissipels vertel het in sy laaste gesprekke met hulle, net voor hy gevange geneem is in Getsemane, een van die Skrifverwysings wat Paulus sou kon aanhaal:  “Glo in God; glo ook in My.  In die huis van my Vader is daar baie woonplek … As Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh 14:1-2).

En hier herhaal Paulus dié diep bemoedigende boodskap van Jesus en verbind dit aan die getuienis van die Heilige Gees in ons harte.

Daarmee spel Paulus die hoop en verwagting uit wat ons in ons omdra.  Die swaarkry van hierdie lewe – ons tentwoning – gaan verby, en ons wag vir dít wat God gaan bring en wat vir ewig sal staan – ons vaste gebou in die hemel.

Dáárom kan ons roekeloos doen wat God vra.  Ons kan ons lewe gee in diens van ander.  Ons kan ons lewe in gevaar stel vir ander.  Ons kan slae verduur ter wille van die evangelie, en ter wille van ander.  Want ons sien die vaste gebou en ons verheug ons daaroor, die eindpunt van ons geloof en die einddoel van ons lewe.

Ons is vry om te lewe soos God wil

Ons uitsig op die vaste gebou maak ons dus vry.  Dit gee ons die moed om te lewe:

  1. Ons mag sug dat ons die oorgang na die hemelse werklikheid kan beleef (vers 2).  God is immers besig om ons vir hierdie oorgang voor te berei, in karakter, in insig, in ervaring van Hom, in gemeenskap met mekaar (vers 5).  Ons mag vra daarvoor, ons mag selfs kla daaroor, en God se beloftes vashou dat Hy dit sal vervul – dat ons tentwoning nie die laaste sê oor ons lewe sal hê nie.
  2. Ons kan die Gees vertrou wat ons moed gee om te wag op God se tyd (vers 5).  Hy werk in ons harte om geduldig te wag, om met oorgawe te leef op pad na die allesoortreffende heerlikheid wat ons deel in die Vaderhuis sal wees – die vaste gebou in die hemel.
  3. Ons kan ons lewens fokus op die een begeerte, om te lewe soos Hy dit wil (vers 9).    Ons wil sien dat die goeie seëvier, dat die kwade oorwin word, dat die koninkryk van God gevestig sal word oor elke duimbreedte van hierdieEn ons gee onsself dus daarvoor, resloos, sonder om iets terug te hou.

Ons het ‘n belofte van ‘n tuiskoms

Ons is verseker waar die geskiedenis gaan eindig: voor God se regterstoel.  En daaroor kan ons ons verheug en daarna kan ons uitsien.

Maar die geskiedenis het nog nie geëindig nie.  Nie die wêreld se geskiedenis nie, en ook nie ons eie persoonlike geskiedenisse nie.  Rinette is in die vaste gebou, maar ons is nog in die tussentyd, êrens op die tydlyn tussen hier en daar in ons tentwoning.

Wat ons moed gee is dat ons hierdie belofte van ‘n tuiskoms het, in die vaste gebou wat God ons gaan gee.  Daarom kan ons moed skep uit Paulus se woorde:

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (vers 17).

Dit gee ons die moed (vers 6) wat ons laat aanhou en uithou en leef midde in die verganklikheid.  Want, is dit nie ook iets wat ons in Rinette se lewe kon sien nie?!  Sy het gelewe met hierdie verwagting en gesterwe met hierdie verwagting.  Sy het inderdaad nou die oorgang belewe waarvan hierdie teks praat.  En sy getuig nou met haar hele lewe van begin tot einde dat hierdie boodskap die moeite werd is om aan te gryp en te glo.

Egte moed kom altyd van buite af.  Vir Paulus kom dit van God af.  God is in hierdie lewe aan die werk.  God is in Rinette se lewe aan die werk.  God is in ons lewens aan die werk.  God is besig om ons innerlik te vernuwe, soos hy dit vir haar gedoen het.  God is besig om ons almal te lei na die vaste gebou, die onomstootlike heerlike bestemming wat God vir ons weggelê het.  Soos hy dit vir Rinette gedoen het.

Dit is die egte bron van moed vir die lewe.  Daarop kan ons vertrou.  Daaraan kan ons vashou.  Daarmee kan ons volhou, enduit, tot ons self die oorgang beleef na die vaste gebou in die hemel.

Liedboek 602

Bedankings

Seëngroet

 

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.