Reën – 1 Konings 17-18
God bring reën
Daar is ‘n ryk tradisie in die Bybel dat God die aarde seën. Dat Hy vrugbaarheid gee. Dat Hy dit laat reën: “Sing ’n danklied tot eer van die Here,” sê Psalm 147:7-8. “Psalmsing tot eer van onse God met die siter; wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit.”
God bring droogte
Dit is egter onteenseglik óók so dat hierdie seën nie outomaties was nie. Dit was afhanklik van ‘n gesonde verhouding met die Here. Só het Moses die volk geleer: “As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel.” (Deut 11:13-14).
Die Here het hulle gewaarsku dat hulle nie van Hom moet afwyk en ander gode dien nie, want dan sou sy toorn oor hulle ontvlam. Hy sou die hemel toesluit: “sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie.” (Deut 11:17).
Die verhaal van Elia illustreer hierdie twee tradisies op geen onseker manier nie. God bring die reën. God bring die droogte. Alles om die volk nie net van sy bestaan te oortuig nie, maar om hulle op te roep om in Hom te glo.