01 – Om God te BELEEF

RUS

Kom ons kom tot rus.  Daar is baie maniere. 

Ek gaan twee maniere gebruik – ’n prentjie en ’n koorlied.

  • Fokus op die prentjie van Alida oor Jesus en die Emmausgangers.  Leef jouself in die prentjie in, deur bv jou te verbeel dat jy een van hulle is.  En fokus dan op jou ervaring as jy agterkom dat Jesus hier by jou is.
  • Na so 2 minute, gaan die koor vir ons ’n Pinksterlied sing wat oor God se onsigbare teenwoordigheid by ons handel.  Jy kan met toe oë daarna luister.

Toetrede

Lied 443 – Wind kan jy nie sien nie – koor

Votum

“Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn!” Sag 2:13

Seëngroet

Ek groet julle in die Naam van die Here wat hier is, Vader, Seun en Heilige Gees.

Lofsang

Die Here wil nie net hê dat ons stil sal wees nie, maar dat ons ook sal juig en sing tot sy eer.  “My tong sal nie stil word oor u trou nie, dag vir dag sal ek U loof”, sê Psalm 35:2.

  • Lied 444 – Kom kyk – koor x1, gemeente x2
  • Lied 436 – Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – staan

Gebed

Lied 442 – Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my – sit

HOOR

Die Bybel moet ons lewe VORM.  Dit is ‘n belangrike deel van God se gesprek met ons.

Daarom is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees.  Alleen só kan ons die stem van God in die Bybel hoor, kan ons leer hoe om Jesus prakties te volg, en kan die Gees ons in God se verhaal met die wêreld inskryf. 

Kom ons kyk weer na ‘n prentjie wat dit illustreer (Nico Simpson):

beleef 

Dit is hoe ons God beleef deurdat ons die Bybel lees sodat ons Sy hart kan leer ken en met mekaar as lede van dieselfde familie vir Hom kan LEEF.

Hierdie Pinkster gaan ons leer hoe om dit prakties in te oefen.

Een van die maniere wat gelowiges deur die eeue gebruik het om die Bybel só te lees, dat dit jou lewe beïnvloed, jou transformeer, is Lectio Divina, geestelike of goddelike lees.

Ons gaan elke keer dieselfde proses volg. 

  • Ons gaan saam ‘n Bybelteks lees wat ‘n aspek van Lectio Divina uitlig.  Ek gaan ietsie korts daaroor sê om jou te begeester. 
  • Dan gaan ons Lectio Divina beoefen – Rus, Hoor, Leef.  Ek gaan jou begelei, en dit is ‘n baie persoonlike proses, so jy gaan dit nie met iemand bespreek nie.  Jy skryf in jou boekie, en die inhoud is net vir jouself bedoel.
  • Dan gaan ons die proses bespreek, en dié wat wil kan deel wat met hulle gebeur het, vrae vra, en ek gaan my insette laat inzoom daarop.  Ek het baie te sê, maar ek gaan my beperk tot wat nodig is, wat gevra word, want ek wil hê dat jy in Gesprek met God kom, en as dít gebeur, is ek tevrede!

Skriflesing

Ons het nou reeds tot rus gekom, so ons gaan oor tot die lees van die teks self.

Net om die konteks van die verhaal te skets:

  • Die ontmande Etiopiër, ‘n minister van finansies, was so pas in Jerusalem.  Hy is ‘n belangrike man met ‘n groot invloedsfeer.
  • Maar, hy het familie nie, geen vrou of kinders nie.
  • Daarby is hy swart, en ‘n Jood, in Afrika – groot kulturele uitdagings.
  • Hy weet van die kruisgebeure – daarom dat hy lees in die boek Jesaja om sin te probeer maak van die gebeure rondom Jesus.
  • Hy was so pas waarskynlik ‘n getuie van wat met Pinksterdag gebeur het
  • Maar wat hy lees in die Bybel maak nie sin nie.  Hy verstaan dit nie.

Dink nou eers oor jou eie lewe:

  • Waar is jy nou in jou eie lewe?
  • Wat beleef jy op die oomblik van God?
  • Wat wil jy graag beleef?

Kom ons keer terug na die verhaal – ek gaan dit lees en julle begelei in die proses.  Jy kan jou ervarings en gedagtes neerskryf in die boekie.

Skriflesing

Lees Handelinge 8:26-40

Luister nou na wat die Here vir jou sê (die proses gaan 10 minute neem):

  • Lees die gedeelte miskien weer deur – ek gee 2 minute daarvoor.
  • Mediteer oor een gedagte wat jou getref het – ek gee 5 minute daarvoor.  Jy kan jou oë toemaak, maar dit is nie nodig nie.
  • Bid – ek gee 2 minute daarvoor.
  • Spandeer ’n minuut om nie soseer te praat nie, maar net bewus te wees van God en sy teenwoordigheid te geniet.

Bespreking

Die gehoor is te groot om hier terugvoer en bespreking te doen, maar ek wil dit graag vanaand en die res van die week probeer.  Daarom gaan ek self ’n paar goed sê wat ek dink julle sal help in die groei van julle eie Gesprek met God.

Wat my getref het in die gedeelte is die volgende:

  • Hoe God optree in die gedeelte
  • Hy stuur ’n Engel, Hy stuur Filippus, Hy werk deur die Gees.
  • Bring begrip – verstaan jy wat jy lees?
  • Bring belewenis – wat verhinder dat ek gedoop word?
  • Bring blydskap – sit reis voort met blydskap.
  • Dit is wat God vir my wil doen
  • Dit is waaroor Lectio Divina gaan

Lectio Divina is ‘n geestelike lees

Lectio Divina beteken letterlik goddelike lees of geestelike lees.  Dit is om God toe te laat om deur die Bybel jou lewe te infiltreer, jou lewe op te eis, jou lewe deur die lees van Sy Woord te verander.  Dit is iets anders as om die Bybel krities te lees, of om ‘n tesis daaroor te skryf.  Die fokus is nie op wat jy met die Bybel doen nie, maar op wat God deur die Bybel met jou doen … en deur jou met die wêreld wil doen.

Met Lectio Divina lees jy die Bybel soos ‘n jong leeu oor sy prooi grom (Jes 31:4).  Die Hebreeuse woord hagah wat hier vir grom gebruik word, word in die meeste ander kontekste vir  nadenke of mediteer gebruik!  Dit gee ‘n mens ‘n idee van wat dit kan beteken om die Bybel te hagah, nadenkend te lees of daaroor te mediteer.  Dit beteken dat jy deur die Bybel in beslag geneem moet word, soos ‘n leeu by sy prooi.  Dit beteken dat jy in vervoering moet raak oor die Bybel, dat alles anders moet vervaag en jou hele wese gefokus moet raak op wat die Here daarin vir jou wil sê.  Só maak die Bybel jou hele menswees vol met sy krag.

Lectio Divina is ‘n deelnemende lees

Lectio Divina is daarom deelnemende leeswerk.  Dit is om oorrompel te word deur die krag van die woorde van die teks, om daardeur in God se teenwoordigheid te kom, en die ewigheid te proe in die nuanses en perspektiewe daarvan.  Dit is om van die krag van die impak daarvan op jou hele lewe bewus te raak, om God se gedagtes daarin te hoor en te vertroetel, om Sy wil daarin te hoor, sodat jou hele lewe daardeur verander word.  Soos Peterson sê, Lectio Divina se uitwerking is: “receiving the words in such a way that they become interior to our lives, the rhythms and images becoming practices of prayer, acts of obedience, ways of love” (Eat this Book, 10).

Dit is immers wat taal aan ons doen.  Dit sluit vir ons wêrelde oop.  Dit steek ons verbeelding aan.  Dit bring ons in beroering.  Dit bring ons in beweging.  Dit stuur ons oor grense.  Dit neem ons oor ons bestaande horisonne.  Die Bybelse taal vervul ons dus met die asem van God self, die vuur van die Gees wat Hy in ons deur sy Woord aansteek.

LEEF

Lectio Divina is ‘n lewenswyse

Lectio Divina is soos ‘n spiraal waarin ons telkens dieselfde elemente herhaal: lees, mediteer, bid, geniet.  Só word dit  ‘n lewenswyse.  Soos Guigo, die 2de, in die 12de eeu gesê het: “Reading puts the solid food into our mouths,  meditation chews it and breaks it down, prayer obtain the flavour of it, and contemplation is the very sweetness which makes us glad and refreshes us.” (aangehaal in Peterson, Eat this Book, 91).

Die gesprek met God is baie persoonlik

Jy kan God nie hoor praat met iemand anders nie.  Jy kan Hom net hoor as Hy MET JOU praat (Wittgenstein). 

  • God se stem is persoonlik.  Dit is iets wat jy in verhouding met Hom hoor.  Ek kan nie namens jou luister na God nie.  Ek kan jou nie voorsê wat jy moet hoor nie.  Ek kan wel deel hoe God met my werk, en ek kan deel wat ek by God hoor, en hoe dit my lewe verander.  Maar ek kan nie vir jou luister nie.  Daarom is dit so belangrik dat jy dié Pinkster moeite doen om self na God te begin luister, om jou luister- en lees-vaardighede op te skerp.

Dit is nie net belangrik wat jy lees en hoe gereeld nie, maar veral ook HOE jy lees.

  • Wanneer Jesus praat met die skrifgeleerde in Lukas 10:26, vra Hy nie vir hom: WAT lees jy nie, maar HOE lees jy (ongelukkig sleg vertaal in die NAV)?  Die skrifgeleerde was heeltemal in staat om korrek die Bybel aan te haal, en hy doen dit ook perfek.  Maar, sy probleem was dat hy die Bybel gelees het om homself te regverdig.  Hy wou self bepaal wie sy naaste is, vir wie hy van hulp sou wees.  Dit is waarom Jesus vir hom die verhaal van die Barmhartige of Gasvrye Samaritaan vertel, omdat dit illustreer HOE Jesus wil hê ‘n mens die Bybel moet lees.  Jy moet dit lees om dit te leef, om dit te doen.  Jy moet ‘n naaste word, vir wie ook al oor jou pad kom.  Dit is hoe ‘n mens God se stem hoor, as jy jou leeswerk begin leef, en as jou lewe jou leeswerk begin beïnvloed.

Gebed

Dankoffers

Vonkk – Heilige Gees, U die Trooster – koor

Slotsang

Lied 439 – O Heil’ge Gees, o God in ons – staan

Seën

Amen

Respons

Lied 439 – laaste 2 reëls van vers 1

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.