04 – Om te ONTVANG

Blaai na p 10-11 in die boekie.

RUS

Kom ons kom eers tot rus.

Ek gaan dit vanaand doen met ‘n begeleide gebed.

  • Dink na: Waarmee kom jy nou na God toe? Dit kan ’n vraag, ’n behoefte, ’n seer, of ’n stuk dankbaarheid wees.
  • God nooi ons uit om by Hom tot rus te kom.
  • Maak jou oë toe, sit gemaklik en ontspan.
  • Raak bewus van watter gevoelens daar in jou hart is. Erken dit.
  • Gee dit aan die Here (draai simbolies jou handpalms onder toe) sodat jy volledig hiér kan wees.
  • Kyk na jouself deur die oë van God (draai simbolies jou handpalms na bo).
  • Dink daaroor dat God bly is oor jou. Geniet die ervaring van God se rus en vrede.
  • Maak Psalm 37:3-4 die gebed van jou hart: ”Vertrou liewer op die Here … Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.”

HOOR

Die HOOR deel beslaan Lectio, Meditatio, Oratio en Contemplatio – lees, mediteer, bid en geniet/rus.

Lees – Lectio

Ek gaan eers die teks lees, dan ‘n paar opmerkings maak oor die teks, en dan iets sê oor Meditasie, waarna ek dit teks weer gaan lees sodat jy ‘n gedagte kan uitkies om oor te mediteer.

Ons lees 1 Konings 3:2-15

P 10 – plek vir aantekeninge op p 11.

‘n Paar opmerkings oor 1 Konings 3:2-15

Ons het ‘n paar dinge nodig om van hierdie die verhaal van Salomo te verstaan om dit in konteks te plaas.

  • Salomo is die derde koning van Israel.  Sy naam beteken vrede. Sy tyd was dan ook ‘n tyd van vrede met ‘n stabiele ryk, en tyd vir baie bouwerk (tempel) en literêre arbeid (Spreuke).
  • Iets wat in sy guns getel het, was dat dit bekend was dat die Here hom liefgehad het en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem het, wat beteken: “die Here het hom lief” (2 Sam 12:25).
  • Daarby was hy was ‘n Jerusalemiet, gebore in die Dawidstad.  Hy kon dus aanspraak maak op Jerusalem as sy tuiste, sy stad.
  • Sy pad na die troon was egter nie maanskyn en rose nie.  Hy moes ‘n groot interne bedreiging trotseer.  Sy broer Adonia sweer teen hom saam met gedugte hulp van die weermagleier Joab en die invloedryke priester Abjatar.
  • Salomo het gelukkig ook ‘n paar gedugte mense aan sy kant, onder andere Benaja, wat sy oog het op die aanvoerdersrol, en Sadok, wat uiteindelik hoëpriester word.  Hulle mondstuk is die profeet Natan, ‘n gedugte man van God, wat ook ‘n vertroueling van Dawid en Batseba is.  Salomo het dus hulp van die weermag, die priesters en van die profete en sy ma Batseba.
  • Op vernuftige wyse hanteer Salomo die uitdagings deur ontslae te raak van al drie, Joab, Adonia en Abjatar.  Die koningmoeder speel ‘n belangrike rol deur vir Salomo by Dawid in te tree en saam met Natan te sorg dat Salomo die koning word.
  • In die eerste vers van hoofstuk 3 kom ‘n mens agter dat Salomo begin om aandag te gee aan sy internasionale betrekkinge. Ons hoor dat hy ‘n vennootskap met Egipte sluit, en trou met farao se dogter.  Dit was ‘n eerste vir Israel, ook die enigste keer wat dit gebeur het, waarvan ons vertel word.

Wat sien ons in hierdie teks?

  • Vers 2: Let op dat Salomo steeds op die hoogtes offer, hier by die vernaamste een in Gibeon.  Die hoogtes is nie baie positief beoordeel deur die profete en priesters nie, omdat daar baie keer afgode aanbid is.  Dit was een van die probleme van daardie tyd, dat mense nie NET die Here wou aanbid nie, maar ook ander afgode.  En die konings het baie keer daarmee saamgegaan, selfs soms voorgegaan.  En dit is een van die dinge wat uiteindelik die oordeel van die Here oor Israel laat afkom.
  • Vers 3: Salomo wys sy liefde vir die Here deur gehoorsaam te wees aan die opdragte van sy pa.  Let op hoe hy Dawid ook in sy droomgesprek met die Here erken en respekteer.  Hy respekteer dus nie net die ontmoetings met God in die verlede nie, maar ook die mense wat met God ‘n verhouding gehad het, sy pa.
  • Vers 4: Die skrywer wys ons egter daarop dat hierdie hoogte ‘n bietjie anders was.  Die hoogte by Gibeon was die vernaamste een, want dit was die plek waar die tent van ontmoeting was (2 Kronieke 1:2-13).  Hy soek dus die Here op die plek waar God Homself al geopenbaar het in die verlede.  Hy respekteer dus met sy offers nie net die mense wat God aanbid het in die verlede nie, maar ook die tent van ontmoeting, die simbool van God se teenwoordigheid by hulle as volk.
  • Vers 5:  Nou skuif die inisiatief na God toe.  Hy verskyn aan Salomo in ‘n droom en vra vir hom ‘n diep vraag: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” Onthou, Salomo het nou al die stryd gewen met sy broers om die troon.  Hy het ‘n baie belangrike internasionale vennoot  in Egipte gekry met sy huwelik met die farao se dogter.  En hy offer by die vernaamste hoogte, waarmee hy waarskynlik probeer om die hart van die volk en dié van die priesters te wen.  En hy is gehoorsaam aan sy pa, wat sy liefde vir die Here toon.  Maar – nou vra die Here ‘n vraag wat illustreer dat dit uiteindelik God se guns is wat ‘n troon bevestig.  Dat die verhouding met God bo-oor alles belangrik is.
  • Vers 6-9: Salomo verwys na die verlede, sy pa, sy geboorte, sy koningskap, maar dat hy nog jonk en onervare is.  En dan vra hy die ding wat God se hart bly maak: Hy vra vir gehoorsaamheid aan God dat hy reg sal regeer en in alles insig sal hê.  Gehoorsaamheid in die oorspronklike beteken eintlik ’n “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal “discerning heart”.  Hy wil in alles insig hê, sodat hy wyse keuses kan maak.
  • Vers 10-14: God is uiters tevrede met wat Salomo vra, en belowe op die koop toe vir hom ‘n paar ander goed ook, dinge wat hy nie gevra het nie: rykdom, aansien, ‘n lang lewe.
  • Vers 15: Salomo keer met hierdie belofte van God terug na Jerusalem toe en bring sy offers daar, die plek wat die Here uitgekies het, en waar hy nou die tempel vir die Here sou bou.  Hy skuif dus weg van die hoogtes af na die plek wat die Here self uitgekies het om sy teenwoordigheid aan hulle te openbaar.
  • Vers 16-28: En die wysheid wat God gee, is onmiddellik sigbaar met die uitspraak wat hy gee in die geval van die seuntjie wat doodgelê is in die saak tussen die twee prostitute.  Dit verleen hom hoë agting in die oë van die volk as ’n man wat Goddelike wysheid het.  Hy raak bekend vir sy spreuke, liedere en gedigte in die hele Midde-Ooste (vgl 4:29-34).
  • Talle ander volksliteratuur uit dié tyd eer hom as ‘n wyse.  Daar is Joodse, Arabiese en Ethiopiese verhale van Salomo waar sy intellek en ander vermoëns verheerlik word.
  • In die Arabiese en Ethiopiese tradisies word ook vertel dat hy ‘n kind by die koningin van Skeba gehad het, Menelik I, die stigter van die Ethiopiese dinastie.

Meditasie inset

Ons gaan nou mediteer oor die teks.

Wanneer jy mediteer, lees jy die Bybel soos ‘n jong leeu oor sy prooi grom (Jes 31:4).  Die Hebreeuse woord hagah wat in Jesaja vir grom gebruik word, word in die meeste ander kontekste vir  nadenke of mediteer gebruik!  Dit gee ‘n mens ‘n idee van wat dit kan beteken om die Bybel te hagah, nadenkend te lees of daaroor te mediteer.

Dit beteken dat jy deur die Bybel in beslag geneem moet word, soos ‘n leeu by sy prooi.  Dit beteken dat jy in vervoering moet raak oor die Bybel, dat alles anders moet vervaag en jou hele wese gefokus moet raak op wat die Here daarin vir jou wil sê.  Só maak die Bybel jou hele menswees vol met sy krag.

Lees weer 1 Konings 3:2-15

Mediteer oor ‘n teks

Kies ‘n teks, frase, woord – miskien die tema van vanaand: luisterryke hart – en mediteer daaroor.

meditatio

  • Ek gee so 7 minute daarvoor dat jy regtig goed kan nadink.
  • Daarna sal ek julle in ‘n kort gebed en geniet moment begelei.

Bespreek

  • Wat het met jou gebeur?
  • Watter vrae het jy?

LEEF

Opmerkings oor Lectio Divina

Gevaar van subjektiwiteit

Daar is natuurlik die gevaar dat jy die Bybel vanuit jou Westerse wêreldbeeld in terme van jou eie behoeftes, jou eie begeertes en jou eie gevoelens kan lees.  Peterson noem dit die Replacement Trinity, “my Holy Wants, my Holy Needs, and my Holy Feelings.” (Eat this Book, 31).

Dit is waarom ‘n mens die Bybel nie net alleen lees nie, maar ook saam met ander gelowiges.  Ook nie net saam met gelowiges wat net soos jy dink nie, maar saam met gelowiges uit verskillende tradisies.  Ook nie net op die Lectio Divina manier nie, maar ook as teks saam met wetenskaplikes, wat aandag gee aan die vertaling, die literêre beelde, die historiese konteks, die eksegese van wat regtig daar staan, sowel as ‘n groei in die bewussyn van die ideologieë wat ‘n invloed het op jou lees van die teks, asook die sosiologiese konteks vanwaar af jy die teks lees.

Eksegese en interpretasie van die teks raak dus al hoe belangriker hoe dieper ‘n mens met die teks besig is.  En die konteks van die perikoop, die hoofstuk, die Bybelboek, en die hele Bybel speel die hele tyd in op ons verstaan van ‘n spesifieke woord, frase, verhaal of idee in die teks.  Dit help ons om die impak van ons eie verstaan, ons eie subjektiwiteit, ons eie behoeftes, begeertes, en gevoelens in die lees van die Bybel aan te pas, en in te pas by die groter storie van die Byebl.

Maar, die gevaar van subjektiwiteit kan ons nie keer om die Bybel deelnemend, persoonlik, en in verhouding met God en mekaar te lees nie.  Dit teks moet nie geëksegetiseer word om daaruit betekenis en bedoelings te haal nie.  Ons lewens moet ook deur die teks geëksegetiseer word, sodat ons die betekenis en bedoeling van ons lewe kan agterkom.

  • Die Bybel moet uiteindelik ons vorm sodat ons die intensie en bedoeling daarvan vir die lewe kan snap.  Ons moet as’t ware daarin begin leef.  Dit moet ons storie word.  Ons moet onsself vind binne die storie wat die Bybel vir ons vertel van wie God is en wat Hy in hierdie wêreld doen.
  • Die Bybel moet uiteindelik ook vir ons ‘n draaiboek word, waardeur ons die invloed en betekenis daarvan op allerlei praktiese wyses in hierdie wêreld navolg en uitvoer.  God praat deur die teks.  Die Gees roer ons binnekant deur die teks, sodat ons in beweging kom agter God aan die wêreld in.

Ekstra opmerkings oor Salomo

  • Salomo staan bekend as ‘n ysterman, ‘n regeerder wat baie sterk leiding geneem en ‘n uitstekende staatsmasjien geskep het.  Hy het gewerk met 12 administratiewe distrikte wat aan hom belasting betaal het.  En hy het dwangarbeid ingestel, wat aanvanklik uit vreemdelinge bestaan het, maar later ook Israeliete ingesluit het.  Dit was alles ter wille van sy groot bouprojekte.
  • In die proses het hy van sy mense vervreem, bv. deur 20 dorpe in Galilea vir Hiram van Tirus te gee (1 Kon 9:11).  Nie dat Hiram baie tevrede daarmee was nie.  Dit wil ook voorkom asof hy dit later teruggegee het (2 Kron 8:1-2).
  • Hy was ‘n ondernemende handelaar wat die strategiese posisie van Israel ten opsigte van die karavaanroetes baie goed benut het.  Sy verbintenis met Hiram het vir hom die hawens verseker.  Hy dryf in alles handel, onder andere in perde met die Hetiete en die Arameërs (1 Kon 10:28-29).
  • Maar wat polities gewerk het, het geestelik nie gewerk nie.  In sy latere jare word hy teengestaan deur Hadad, die Edomiet en Reson van die Arameërs.  En sy huwelike stel hom bloot aan afgodediens wat hy mettertyd begin navolg.  En dit lui die doodsklokke vir sy regering wat die ryk laat skeur.

Om met God te PRAAT – oratio

oratio2

Môreaand

Slotlied

Liedboek 440 – Die Here salf ons met sy Gees – staan

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.