Johannes 13:31-14:14 – Erediens: Ek is die weg, die waarheid en die lewe – 22 Mei 2011

Ek het dié week regtig gesukkel om die woord van die Here te onderskei.  Daar is so baie wat oor hierdie gedeelte gesê kan word.  Ek het daaroor geskrywe vir die Bybelskool, ek het so drie keer ’n halwe preek geskryf, en dan weer vasgehaak.  Ek het gebid en gewag, en ons het by die sel hieroor gesels en ’n hele klompie wonderlike insigte gedeel.

Maar ek kon net nie hoor wat die Here vir ons as gemeente wil sê nie.

Ons Vader neem ons hande en maak ons één

Gelukkig moes ek die week ’n lied se woorde leer, een wat Cantatori nou-nou gaan sing.  Lied 532 in die Liedboek: So nimm denn meine Hände van Friedrich Silcher, waarvan ons die weergawe van Hans du Plessis in ons Liedboek het: Ons Vader neem ons hande en maak ons één.

En toe ek die lied oor en oor lees, so tussen die preekmaak deur, het ek skielik besef, maar dié lied gee vir my die invalshoek wat ek nodig het.  En het ek uiteindelik rigting gekry, omdat dit so presies is wat die tipe reaksie is wat Jesus van ons vra in hierdie gedeelte.  Want sien, ek kan sê wat hier staan, ek kan dit in konteks plaas, maar my probleem was om te weet wat ons reaksie daarop moet wees en die woord van die Here daar rondom te verkondig.

En dit is wat die lied my mee gehelp het.  Dit voel vir my asof Silcher Johannes 13-14 gelees het toe hy dié lied gekomponeer het – het nie ’n manier gehad om dit uit te vind nie.  Maar u kan self beoordeel, uit die aanhoor van die lied.  Luister na 2 van die verse:


Ons Vader, neem ons hande en maak ons één.
Versterk U self die bande – gee ons u seën.
Bind ons in u genade aan U, o Heer,
en leer ons om met dade u Naam te eer.

Leer ons mekaar vergewe, mekaar vertrou.
Laat ons die hele lewe op liefde bou.
Laat heers oor ons u vrede, en bind ons saam.
Verhoor tog ons gebede in Jesus Naam.

Continue ReadingJohannes 13:31-14:14 – Erediens: Ek is die weg, die waarheid en die lewe – 22 Mei 2011

Kolossense 3:1-17 – Erediens: Paassondag – 24 April 2011

Dit is ongelooflik hoe een enkel gebeurtenis die wêreld kan verander.

1994 was ’n jaar van 2 sulke gebeurtenisse:

  • Dit was die jaar van die eerste volle demokratiese verkiesing wat in Suid-Afrika gehou is, wat die wyse waarop mense in hierdie land met mekaar saamleef, vir altyd verander het.  Baie sal sê dit was goed, sommige sal sê dit was sleg, maar niemand sal kan sê, dit het nie dinge verander nie.
  • En dit is die jaar wat selfone ons land getref het, en vir altyd die wyse waarop mense met mekaar kommunikeer verander het.  Die eerste voorspellings was natuurlik dat daar na 10 jaar net 250 000 gebruikers sou wees.  In die eerste maand, Julie, het Vodacom reeds 50 000 gebruikers gehad, en teen die einde van daardie jaar, 140 000.  En dan tel ’n mens nie eers MTN se gebruikers nie.  Vandag is daar omtrent ’n selfoon vir elke inwoner van Suid-Afrika, meer as 45 miljoen!

’n Enkel gebeurtenis kan ’n land en ’n wêreld verander!

Christus is opgewek uit die dood

So ’n gebeurtenis is ook die opstanding van Jesus Christus uit die dood.  Op Paassondag amper 2000 jaar gelede is Jesus Christus opgewek uit die dood (ongeveer 27 vC van ons jaartelling).  En dit het ons lewe totaal verander.  Nie net die lewe van 45 miljoen mense nie, maar inderdaad biljoene, selfs nie net dié wat vandag lewe nie, maar dié wat voor Hom gelewe het, en dié wat nog kom.  Voorwaar ’n verandering wat die wêreld verander het.

Continue ReadingKolossense 3:1-17 – Erediens: Paassondag – 24 April 2011

Jesus sê … EK IS – Lydens- en Paassangdiens – 17 April 2011

EK IS uitsprake oor Jesus:

  1. Ek is die Goeie Herder
  2. Ek is die brood wat lewe gee
  3. Ek is die weg, die waarheid en die lewe
  4. Ek is die opstanding en die lewe

Gesprekke met 5 rolspelers in die kruisigings- en opstandingsgebeure:

  • Petrus – Jurie Jurgens
  • Pilatus – Frik Buys
  • Moordenaar – Jaco Barnard
  • Maria Magdalena – Alida Stewart
  • Thomas – Thomas Stewart

16 liedere – 11 koorstukke (2 solos deur Elsje Nelson) en 5 gemeenteliedere

 

Continue ReadingJesus sê … EK IS – Lydens- en Paassangdiens – 17 April 2011

Johannes 11:1-45 – Erediens: Jesus is die opstanding en die lewe

Die evangelie van Johannes is met die eerste oogopslag eenvoudig geskryf, maar verras jou met ’n ryk en geskakeerde teologiese betekenis soos jy dieper daarin delf.  Dit is tegelyk ’n evangelie wat ’n mens se intellek uitdaag en stimuleer, maar ook jou hart roer en meevoer.  Niemand kan onaangeraak bly met die lees van die goeie nuus van die vleeswording van die Woord van God nie.  Dit prikkel jou verbeelding, stimuleer jou gedagtes, en slaan tegelykertyd jou asem weg.

Die kerkvaders het graag die arend as simbool vir die evangelie van Johannes gebruik, nie net omdat die arend die hoogste van alle voëls kon vlieg nie, maar ook omdat mense gereken het dat die arend die langste in die son kan kyk.  Die evangelie van Johannes was dus vir die vroeë kerk nie net die hoogtepunt van die beskrywing van die goeie nuus oor Jesus nie, maar ook een van die diepste openbarings van die wese en bedoelinge van God self.

En hoofstuk 11 is ’n besondere kykie in dié openbaring van die wese van God.  En wat dit besonders maak, is dat dit nie vanuit die hoogtepunte van die lewe daarna kyk nie, maar vanuit die laagtepunte, vanuit die hartseer van ’n Marta en Maria oor hulle broer Lasarus se dood.

Want sien, dit is een ding om oor God te praat wanneer alles goed gaan, wanneer alles vlot verloop, wanneer dinge uitwerk.  Maar waar is God en hoe is God wanneer dinge skeef loop, en dinge nie uitwerk nie?  Dit is wat die verhaal van Lasarus vir ons wil vertel.

Continue ReadingJohannes 11:1-45 – Erediens: Jesus is die opstanding en die lewe

Johannes 9 – Erediens: Jesus help ons sien – 3 April 2011

Ons het hulp nodig om te kan sien

Vergelyk hierdie 3 prente, almal werk met optiese illusies (aangeheg aan hierdie artikel).  Normaalweg het ons hulp nodig om te kan onderskei wat aangaan.  As ek dit nie verduidelik nie, sal jy moeite hê om dit raak te sien.

Armes help ons sien

Dit is ook waar van die lewe.  Ons het hulp nodig om dit wat regtig aangaan, raak te sien. Weer ’n verhaal uit Indië, wat tans in die nuus is met die krieket finaal gister in Moembaai.  Shane Claiborne (The Irresistible Revolution 2006) spandeer sy lewe daaraan om die evangelie na armes te neem.  Hy het onder andere in die krotbuurte van Kalkutta gewerk, in die oorlogsgebiede van Irak, en ook intens gewerk aan die versorging van armes in die VSA.  Hy vertel hoe ons oë vir die lewe oopgemaak word deur die armes en die straatlopers:

  • Hy het ’n vrou sien veg om sop by ’n sopkombuis te kry, wat toegesak is deur ’n groot skare.  Toe hy haar vra of die sop regtig die geveg werd is, het sy gesê: “O ja, maar ek eet dit nie myself nie.  Ek neem dit na ’n ander ontredderde dame, ’n bejaarde hier om die hoek wat nie self kan veg vir ’n bietjie kos nie.”
  • Hy het ’n straatmusikant ontmoet wat wreed deur jong mans geterroriseer is.  Hulle het met haar gespot, haar gevloek, en selfs deodorant in haar oë gespuit as ’n grappie.  Toe ons haar daardie aand vashou en troos, sê iemand: “Daar is darem baie slegte mense in die wêreld, nè?”  Waarop sy sê: “Ja, maar daar is baie goeie mense ook.  En die slegtes laat die goeies sommer dadelik nog beter lyk.”
  • Hy het ’n klein meisietjie op straat raakgeloop, sonder ’n huis, ’n straatkind, en haar gevra wat sy wil doen as sy groot is.  “Ek wil ’n winkel met kruideniersware besit,” het sy gesê.  “Waarom?”  “Sodat ek kos vir al die honger mense kan uitdeel.”

Die hele Bybel gaan oor sien

Dit is ook waar van die Bybel en van die verhale wat ons daarin lees.  Dit help ons sien wat ons anders heeltemal sou mis.  Let op hoe hierdie hele gedeelte sinspeel op die vermoë om te sien, asook die afwesigheid van sien – om blind te wees.

  • Diegene wat kan sien, sien nie, want hulle kan Jesus nie herken as die Messias nie.  Daar is verskeie faktore wat hulle totaal blind maak.
  • Die arm man, wat nie kan sien nie, word genees en kan sien.  Wanneer hy kan sien, leer hy algaande om ook geestelik te kan sien.  Op hierdie manier leer hy Jesus herken as die Seun van die Mens, die Een wat waarlik van God kom.

Geen wonder nie, want Jesus noem Homself die Lig vir die wêreld (9:5).  In Johannes 8:12 net hiervoor sê Jesus: “Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Continue ReadingJohannes 9 – Erediens: Jesus help ons sien – 3 April 2011

Jesaja 56:1-8 – Erediens: God trek ander mense by ons in – 20 Maart 2011

Die Christelike lewe kan op verskillende maniere beskryf word.  ‘n Mens kan sê dat dit oor God gaan wat hierdie wêreld met sy liefde en genade wil oorrompel – die sogenaamde Missio Dei.  ‘n Mens kan sê dat dit gaan oor die koninkryk van God gaan waaraan ons as gemeente meewerk.

Maar, in die praktyk van elke dag gaan dit doodgewoon oor ‘n Christelike lewenstyl.  Dit is wat mense van ons raaksien.  Dit is die cutting edge van die Christelike lewe, nie wat ons sê oor God of oor die kerk of oor die koninkryk nie, maar wat ons leef.

Paulus sê op ‘n kol: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees” (Fil 1:27).

Een van die maniere waarop die kerk deur die eeue hierdie Christelike lewenstyl aangeleer en gekoester het, was deur praktiese geestelike gewoontes.

En dit is met dié bril wat ek na hierdie perikoop in Jesaja wil kyk, om agter te kom, wat se lewenstyl verwag God van ons?  Hoe wil Hy hê moet ons lewe?  Of anders gestel, wat wil God hê moet ander in my lewe raaksien?

En daar is drie dinge wat vir my hier uitstaan van die tipe lewenstyl wat God van ons vra, drie geestelike gewoontes wat ons moet beoefen – dit het met die onderhouding van die sabbat te make, met die insluiting van anderse mense, en met gebed.

 

Continue ReadingJesaja 56:1-8 – Erediens: God trek ander mense by ons in – 20 Maart 2011

Jesaja 40:1-11 – Erediens: God versorg sy volk soos ‘n herder – 6 Maart 2011

Die uitkoms is hier

Die tweede hoofdeel van Jesaja begin met die uitroep: “Die uitkoms is hier!”  Twee maal word dit herhaal, “Die uitkoms is hier!  Die uitkoms is hier!  Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê” (vers 1).

Dit is ’n ongelooflike goeie tyding om in ballingskap te hoor.  Om te hoor dat jou swaarkry verby is, dat jy geboet het vir jou sonde, dat die pyn en lyding verby is, en jy weer vry kan asemhaal.

En onthou, die vorige 39 hoofstukke van Jesaja het ’n donker prentjie geteken van hierdie volk – dat hulle God nie ken nie; dat hulle hul roeping om ’n lig vir die nasies te wees, versaak het; dat hulle leiers hopeloos was, en hulle van die wal in die sloot gehelp het.

’n Mens kan amper die sug van verligting hoor by die volk.  Na al die jare is daar weer verligting, ’n uitkoms.

Nie almal was opgewonde daaroor nie

 

Continue ReadingJesaja 40:1-11 – Erediens: God versorg sy volk soos ‘n herder – 6 Maart 2011