02 – Om tot RUS te kom

Kom ons kom tot rus, ’n rus in God.  Daar is baie maniere.

Ek gaan twee maniere gebruik, omdat ons vanaand ook meer spesifiek fokus op stilword – ’n prentjie en ’n aanhaling.

silencio

  • Fokus op die prentjie van Nico Simpson wat stilword illustreer.  Leef jouself in die prentjie in, deur bv jou te verbeel dat jy gewigloos in die water hang – 2 minute.
  • Fokus nou op jou asemhaling en haal ’n bietjie dieper as normaalweg asem, sodat jy ’n bietjie kan afskakel van die dinge wat op die oomblik deur jou gedagtes maal.  Laat dit vir jou voel asof jy afblaas.  Fokus op die aangename gevoel van rus wat dit jou gee.  Met elke uitasem is dit asof jy stukkie vir stukkie van die spanning in jou ontsnap.  Dit kan voel of jy stukkie vir stukkie in jouself afsak, in jouself tot rus kom – 2 minute.
  • Dit is natuurlik ook hoe ons in God tot rus kom.  Dink nou daaroor dat jy só in Jesus se teenwoordigheid tot rus kom.  Hier is vir jou hulp van Moeder Theresa wat gesê het:

Jesus wag altyd vir ons in die stilte. In daardie stilte luister Hy na ons, daar praat Hy met ons siel en daar sal ons Sy stem hoor. In stilte vind ons nuwe krag en ware eenheid. Die krag van God om alles goed te doen, word ons s’n. Die eenheid van ons gedagtes met Sy gedagtes, van ons gebede met Sy gebede, ons dade met Sy dade, ons lewe met Sy lewe.” – 2 minute.

HOOR

Jesaja 30:8-18

In die tweede fase van ons GESPREK MET GOD fokus ons op Sy Woord aan ons.  Ons gaan Jesaja 30:8-18 lees en fokus op vers 15: “Julle krag lê in stil wees en vertroue hê”.

‘n Bietjie agtergrond

In die eerste deel van die boek, hoofstuk 1-39, fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies (vgl Jes 2:1-4).  Hulle kies om eerder ooreenkomste te sluit met die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7).  Dit lei onvermydelik tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C ), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C), beide koninkryke min of meer waar Irak vandag is.

Juda se mislukking was veral te wyte aan hulle gebrek aan vertroue op Jahwe (Jes 30:15) wat hulle verlei het na afgodery (Jes 2:6) en politieke vennootskappe (Jes 7), sowel as hulle gebrek aan sosiale deernis met behoeftiges soos die wese en weduwees: “Die stad wat die tuiste van die reg was … is nou vol moordenaars.” (Jes 1:21-23).

Die visie wat God vir sy volk gehad het, was om ’n blywende ontmoetingsplek vir die nasies met God te wees – iets wat alreeds aan Abraham beloof is (Gen 12:1-3), en iets wat steeds vandag sy droom vir ons is: dat ons as Christene en as gemeente ’n plek sal wees waar mense God kan ontmoet.

Dit is teen dié agtergrond wat ons Jesaja 30-31 moet lees.  Jesaja vat hier die leiers aan wat teen die Here se wil ‘n vennootskap met Egipte wil sluit teen die Assiriërs, die twee groot moondhede van sy dag, en en bied ‘n uitweg aan: 1) God sal hulle red; 2) hulle krag lê in stille vertroue en gebed.

Dink aan jou eie lewe

Voordat ons lees, wil ek hê dat jy nog verder stilword en dink aan jou eie lewe.

  • God het ook vir jou ‘n roeping.  Hy wil jou lewe gebruik as ‘n manier om mense in hierdie wêreld te bereik.  Daarvoor het Hy jou gawes gegee.  Hy het jou toegerus, en is besig om jou toe te rus.
  • Maar, dit kan wees dat daar uitdagings is.  Dit kan wees dat jy tans keuses moet maak.  En dat jy verskillende opsies moet oorweeg.
  • Dink daaroor na en skryf dit neer – 3 minute.

Kom ons lees nou Jesaja 30:8-18.

Ek gaan dit lees en julle begelei in die proses.  Jy kan jou ervarings en gedagtes neerskryf in die boekie.

Luister nou na wat die Here vir jou sê (die proses gaan so 15 minute neem):

  • Lees – Lees die gedeelte miskien weer deur, of fokus miskien op die hart daarvan, vers 15 – ek gee 3 minute daarvoor.
  • Mediteer – Kies een gedagte uit wat jou bybly.  Mediteer nou oor die praktiese impak daarvan op jou lewe.  Dink aan jou roeping, dink aan die uitdagings in jou lewe, dink aan die keuses wat jy moet maak, en dink na oor wat dié gedeelte/gedagte prakties vir jou beteken – ek gee 5 minute daarvoor.  Jy kan jou oë toemaak, maar dit is nie nodig nie.
  • Bid – Antwoord die Here en maak miskien ’n nota van wat Hy vra, sê, belowe  – ek gee 2 minute daarvoor.
  • Geniet – Spandeer ’n minuut om nie soseer te praat nie, maar net bewus te wees van God en sy teenwoordigheid te geniet.  Rus in Hom.

LEEF

Bespreek

Wat was julle ervaring?

Watter vrae het jy?

Opmerkings oor Jesaja

Jesaja word opdrag gegee om die boodskap vir Juda op te teken as getuienis in die toekoms, al maak hulle dié stil wat God se wil vir hulle wil uitlê.  Dit is dus ook ‘n getuienis vir ons!

Darem ontstellend dat iemand kan sê: “laat die Heilige van Israel uit ons teenwoordigheid verdwyn!” (vers 11).  En dit is net genade dat God uiteindelik sulke weerbarstigheid kan straf … terwyl Hy steeds ‘n genade-aanbod maak wat mense kan aanvaar as hulle tot inkeer sou kom:

“Julle krag lê in stil wees en vertroue hê” – vers 15.

Dit bly vir my verstommend hoe gretig die Here is om hulle genadig te wees (vers 18). Dit tref my hoe werklik hierdie aanbod ook na my toe kom – waar dinge ook my eie bestaan bedreig – om te bedaar met my eie onafhanklike planne, en eerder my krag in God en in die vertroue in Hom te soek (vers 15).

“Dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou” (vers 18).

As ‘n mens nog verder gaan lees, is vers 21 ‘n ongelooflike belofte van praktiese leiding:

“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: Hier is die pad, loop hierlangs.”

Let op dat dit nie ‘n bloudruk is wat jy ontvang en dan nougeset volg nie.  Eerder ‘n dinamiese in-die-moment leiding, wat veral in werking kom as jy die pad verlaat wat God wil hê dat jy moet loop.

En die boodskap van die laaste perikoop in hoofstuk 30 is doodgewoon: God sal hulle van die bedreiging van Assirië verlos (wat in hfst 37 beskrywe sal word).

Jesaja gee dus ‘n kragtige belofte aan ons: in stil wees en vertroue lê ons krag opgesluit.

Opmerkings oor Lectio Divina
  • Met Lectio Divina word ‘n komplekse netwerk van verbintenisse met God in jou geskep, sodat jou menswees ingetrek, verander en vernuwe word deur die impak van Sy Woord in en deur jou.  Jou geestelike binnekant word deur Lectio Divina gevoed en getransformeer soos wat kos met jou liggaamlike binnekant doen.   God werk immers deur taal, soos Genesis 1 al onomwonde op die tafel sit.  Dit is ook een van die primêre maniere waarop Jesus beskryf word, as die Logos, die Woord, die Stem van God.  As ek in die Bybel rondblaai, is daar ‘n netwerk van verbintenisse met God – my roepingsteks in 1 Kor 9; die teks wat my na Somerstrand gebring het, en later hier laat bly het in Ps 37; Spreuke 9 wat my onlangs herinner het aan die belang van tafelgemeenskap, ‘n fesie elke dag, die genot van my huwelik, die passie waarmee ek lewe.  Elkeen van dié tekste bind my aan God, is ‘n netwerk van betekenisse wat sin aan my lewe gee.
  • Jy lees die Bybel nie om God in jou lewe in te trek nie.  Jy lees die Bybel sodat God jou in Sy lewe intrek (Peterson, Eat this Book, 6), sodat jy Sy stem kan hoor.  Die Bybel roer jou, beweeg jou, stuur jou in God se rigting.  Natuurlik is dit jou eie lewe waarvan ons praat, maar op ‘n manier word jou lewe deel van wat God probeer regkry in die wêreld, en hoe meer ‘n mens die pad met God stap, hoe meer besef jy dat jou lewe deel is van iets groters.  Dat as jy op dié punt ja sê vir wat duidelik word vir jou, jy oor ‘n 6 maande kan terugkyk en met verwondering dankbaar is vir die reis wat dit jou laat meemaak het – die Bybelskool in die gemeente is vir my so iets op die oomblik, ‘n baie groter wêreld van mense waarby ek betrokke kan raak op ‘n baie persoonlike en intieme vlak.
  • Dit is ‘n manier van lees waar jou leeswerk jou lewe word: “Readers become what they read” (Peterson, Eat this Book, 20).  Alles wat jy inneem, musiek, koerante, fiksie, TV, flieks, gesprekke vorm jou, bepaal jou lewe.  Jy word wat jy lees, waaraan jy jou blootstel.  As die Bybel nie sy regmatige rol in jou lewe speel nie, sal jou lewe deur ander dinge bepaal word.  As die Bybel jou lewe word, as jy jou fokus daarop stel om God se stem daarin te hoor, sal jou lewe deur God bepaal word.
  • Daarom is ons leeswerk intens persoonlik.  Dit raak jou hele menswees.  Die Woord raak vir jou ‘n huis om in te woon, ‘n pad om op te loop, ‘n bron om uit te leef.  Dit raak deel van die manier waarop jy dink.  Jou bewussyn van God groei, en ander mense kom in jou iets agter wat van Hom praat.  Hy raak teenwoordig deur jou manier van lewe.
  • Ons leeswerk is ook intens relasioneel.  Dit vind plaas in ‘n verhouding, waarin ons God die Vader as die Voorsiener ervaar, Jesus, die Seun, en die Christus, as die Verlosser midde in die werklikheid van elke dag ervaar, en die Heilige Gees as die Vertrooster, die Een wat ons Vernuwe, ervaar.

Môre fokus ons meer op die Lees deel van Lectio Divina.  Dit is nie net belangrik WAT jy lees nie, maar veral ook HOE jy lees.  En daarop fokus ek môreaand.

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.