Lectio Divina
Ek wil eers ‘n bietjie meer sê oor Lectio, die lees of luister gedeelte van Lectio Divina.
Omdat ons reeds op soveel maniere geskool is in die wetenskaplike lees van die Bybel, konsentreer ek in hierdie Pinkster meer op die Bybel as die Woord van God aan ons, sonder om die ander maniere van Bybellees – eksegese, teologiese nadenke, literêre perspektiewe – heeltemal te ignoreer. Die fokus is nie op wat jy met die Bybel doen nie, maar op wat God deur die Bybel met jou doen … en deur jou met die wêreld wil doen.
Soos Peterson sê, Lectio fokus op: “receiving the words in such a way that they become interior to our lives, the rhythms and images becoming practices of prayer, acts of obedience, ways of love” (Eat this Book, 10).
‘n Bietjie agtergrond
Ek wil twee stukkies inligting gee wat jou gaan help om die Woord te lees.
1. Ons lees van ses boeke in Openbaring
Ons lees in Openbaring van ses boeke gepraat (een keer word boekrol ook as metafoor gebruik – 6:14).
- Die eerste boek (biblion) bevat die sewe “briewe” aan die sewe gemeentes in Klein-Asië, wat ons vandag as Turkye ken – Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelphia, Laodisea (1:11).
- Die tweede boek (biblos) is die boek van die lewe, of die boek van die Lam, waarin gelowiges se name opgeskryf word (3:5 – in die “brief” aan Sardis; 13:8; 17:8; 20:12; 21:27).
- Die derde boek (biblion), ‘n boekrol waarop aan beide kante geskryf is, omdat daar so baie inligting op is, bevat ’n openbaring van die plan van God met die geskiedenis (5:1). Maar, belangrik, dit is ’n geslote boek, met 7 sewe seëls verseël, wat net Jesus, die Lam, kan oopmaak. En ons lees in hfst 6-9 hoe dié sewe seëls oopgemaak word, en alles wat daar gebeur, maar die omvang daarvan is net vir Jesus se oë bedoel.
- Die vierde boek is ’n klein boekie (biblaridion, ’n dubbel verkleinwoord, soos drie keer in hfst 10 gebruik word: 10:2, 9, 10) wat, belangrik, oop is in die engel se hand. Die inhoud is dus bedoel vir bekendmaking. Wat daardie inhoud is, kom in hoofstuk 11 en verder aan die lig, dit het te make met die evangelie wat aan alle mense verkondig word.
- Die vyfde verwysing is eintlik na ‘n stel boeke (biblia, meervoud van biblion) wat ‘n joernaal van alle mense se doen en late bevat (20:12).
- Die sesde boek (biblion) is natuurlik die boek Openbaring self (22:9,10,18,19).
Die boekie waarvan julle gaan lees hier is die oop boek van die evangelie wat aan alle mense verkondig moet word.
2. Johannes moet die boek gaan haal en eet.
Die stem uit die hemel beveel Johannes om die oop boek by die engel te gaan haal en te eet (vgl Eseg 2:8; 3:1–3; Jer 15:16).
Let op die fokus op wat Johannes moet doen met die boek, die boodskap van die evangelie. Hy moet dit gaan haal – hy moet hom inspan, dit vir hom toe-eien, en hy moet dit eet. Die boodskap moet deel van sy lewe word. Dit moet eers deel van sy lewe word, voor hy dit aan ander kan verkondig en hy die woord van die lewe vir hulle kan wees.
Dit beteken dat die Woord eers deur jou eie geestelike gestel moet gaan, voor jy dit vir ander aanbied.
En die effek daarvan is tweërlei:
- Dit is soet (γλυκύς) soos heuning in sy mond (vers 10). Jy kan ook gaan kyk na Ps 19:10 en 119:100–103 waar dieselfde van God se woorde en in Spr 16:24 dieselfde van ons woorde geskryf word.
- Maar dit raak bitter (πικρός) in sy maag (vers 9). Om die waarheid te sê, dit krap sy maag om (ἐπικράνθη – “irritated” in vers 10).
Dit sê iets van die bitter-soet karakter van die evangelie boodskap. Die evangelieboodskap hou hoogtepunte in sowel as laagtepunte, vir die een wat die boodskap bring (dit is sy maag wat bitter word), sowel as vir dié wat daarna luister (soos die res van Openbaring illustreer). Dit is soos Jeremia en Esegiël dit ook ervaar het, en elke ander profeet en dienskneg van die Here!
Kom ons lees nou die teksgedeelte
Ek gaan dit lees en julle begelei in die proses. Jy kan jou ervarings en gedagtes neerskryf in die boekie.
Luister nou na wat die Here vir jou sê (die proses gaan so 15 minute neem):
- Lees – Lees die gedeelte weer deur, of fokus op die hart daarvan, vers 9-10 – die gaan haal en/of die eet, of die soet en/of die bitter – en kyk waar jou gedagtes vashaak – ek gee 3 minute daarvoor.
- Mediteer – Kies een gedagte uit wat jou bybly. Mediteer nou oor die praktiese impak daarvan op jou lewe. Die woorde moet jou binneste volmaak, sodat jy kan onderskei wat belangrik is, kan hoor wat God vir jou sê. Dink aan jou roeping, dink aan die uitdagings in jou lewe, dink aan die keuses wat jy moet maak, en dink na oor wat dié gedeelte/gedagte prakties vir jou beteken – ek gee 3 minute daarvoor. Jy kan jou oë toemaak, maar dit is nie nodig nie.
- Bid – Antwoord die Here en maak miskien ’n nota van wat Hy vra, sê, belowe – ek gee 2 minute daarvoor.
- Geniet – Spandeer ’n minuut om nie soseer te praat nie, maar net bewus te wees van God en sy teenwoordigheid te geniet. Rus in Hom.
- Wat het met jou gebeur?
- Watter vrae het jy?
Bespreek
Opmerkings oor Lectio Divina
Sola Scriptura
Die Bybel is die primêre geestelike bronteks vir Christene regdeur die eeue. Dit word onder andere uitgedruk deur die term Sola Scriptura van die Reformasie, die Woord alleen.
Regdeur die eeue het Christene geëksperimenteer met aanvullende maniere om God te ken, te volg en te ervaar – deur ekstase en visioene, deur prestasies en lewensreëls, en deur askese en opoffering – en telkens het die geloofsgemeenskap teruggekeer na die primêre bron, die Bybel.
Om die Bybel te lees
Daar is egter ook verskillende maniere om die Bybel te hanteer.
Aan die een kant kan ‘n mens die Bybel soos enige ander boek lees. Jy kan dit wetenskaplik lees, bv deur dit vergelyk met ander tekste en klem te lê op die vertaling en woordbetekenisse. Jy kan dit dogmaties lees, bv deur dit te sistematiseer om ‘n teologiese raamwerk daaruit te haal. Jy kan dit esteties lees, bv deur die wonder van die poësie en beelde daarin te probeer waardeer. En dít het groot waarde. Dit bou ons kennis en waardering van die teks. Die gevaar hiervan is natuurlik dat ‘n mens kan dink dat jy in beheer kom van die teks, dat jy die teks bemeester. Daarom kan ons die teks nie net so lees nie.
Aan die ander kant kan ‘n mens die Bybel as die Woord van God lees. Dan lees jy dit nie soseer om dit wetenskaplik, of teologies of esteties te beoordeel nie, maar om die Woord van God daarin te hoor. Dan word die Bybel ‘n poort na God se wêreld, waarin Hy met jou deur die Bybel besig raak. Dit bou nie aan ons kennis en waardering van die teks in die eerste plek nie. Dit verander ons menswees. Ons word op ‘n manier deur die teks gelees, getransformeer, en gevorm. Die gevaar hiervan is natuurlik dat ‘n mens die teks só subjektief lees dat jy buite die betekenis van die taal en beelde van die Bybel begin beweeg, en jou eie interpretasie daarvan as die teks begin beskou. Daarom kan ons natuurlik ook nie die teks net so lees nie.
Daarom moet ons telkens probeer om beide te doen. Ons moet die Bybel wetenskaplik lees, sodat ons nie teksmoord pleeg nie. En ons moet God toelaat om deur die Bybel met ons te praat, sodat ons God se teenwoordigheid deur die teks kan beleef.
LEEF
Jy het reeds in jou gebed iets ervaar van wat God vir jou belowe of watter opdrag Hy vir jou gee. Gaan leef dit nou. Dit is waarvoor die Bybel bedoel is, om dit te LEEF.
Openbaring roep ons op om só te luister na wat God sê vir hierdie wêreld dat dit nie net jouself transformeer nie, maar deur jou die goeie nuus aan almal kan word.
Meditatio – om te ontvang
Môreaand fokus ons op Meditasie as sodanig, die nadenke oor God se Woord, en doen dit aan hand van die gebed van Salomo vir ‘n luisterende hart, soos 1 Konings 3 dit vir ons vertel.