Jesaja 25 – Erediens: God bring vreugde deur oordeel – 13 Februarie 2011

Ek sou nie graag deel wou wees van die nageslag van Moab nie.

  1. Gebore uit bloedskande.  Na die ramp van Sodom en Gomorra, met Lot se vrou wat in ‘n soutpilaar verander, het Lot en sy twee dogters in ‘n grot in die berg gaan woon.  Omdat die twee dogters se verloofdes ook gesterf het in Sodom en Gomorra – hulle wou nie vlug nie; gedink dit alles was net ‘n grap – besluit Lot se dogters om hulle pa dronk te maak en kinders by hom te verwek.  Die oudste dogter het die voorbeeld gestel, en die jongste dogter het haar voorbeeld gevolg.  En  die Moabiete is die nageslag van Lot en sy oudste doger – soos Gen 19 ons vertel (die Ammoniete was die nageslag van Lot en sy jongste dogter).
  2. ‘n Volk van ongasvry vervloekers – ‘n Volk met leiers wat geen gevoel het vir mense in nood nie.  Toe Israel – en onthou hulle was bloed-familie, Lot se nageslag, die broerskind van Abraham – toe Israel op pad was deur die woestyn na Kanaän toe om die Beloofde Land in te neem, wou hulle nie eers vir die Israeliete brood en water gee nie.  Let op hulle was nie ‘n bedreiging nie, net maar honger en dors, maar Oosterse gasvryheid gee die leiers van Moab nie vir hierdie swerwers deur die woestyn nie.  Om die waarheid te sê, hulle voel so min vir Israel, dat hulle ‘n profeet huur, Bileam, om die volk in die naam van die Here te vervloek.  Praat van arrogansie, ‘n God wat hulle nie dien nie, word ingeroep om hulle vuilwerk vir hulle te doen – soos Numeri 22-24 ons vertel.
  3. En op die koop toe was hulle ‘n volk van verleiers, soos hulle oermoeder.  Numeri 25 vertel die gru verhaal van Moabitiese vrouens wat die Israeliete verlei het met seks om vir Baäl-Peor te dien, wat ‘n ramp oor die Israeliete gebring het.

Geen wonder die Here het die reël gemaak, geen Moabiet se kind, of sy kleinkind, of dié se kind en dié se kleinkind, of dié se kind, en dié se kleinkind, 10 geslagte ver, mag in Sy teenwoordigheid verskyn nie.  Dit beteken eenvoudig – NOOIT!  Bloedskandelik, Ongasvry, Verleiers – nie welkom in die geloofsgemeenskap van Israel nie (Deut 23).

Soos ek sê, ek sou nie deel van die nageslag van Moab wil wees nie.

Continue ReadingJesaja 25 – Erediens: God bring vreugde deur oordeel – 13 Februarie 2011

Jesaja 6 – Erediens: God heilig jou vir jou roeping – 30 Januarie 2011

Dit is die jaar 740 v C.  Jesaja is nog jonk in die bediening.

Dan sterf sy oom Ussia, ’n baie suksesvolle koning wat ’n baie lang regeringstyd gehad het.

Maar Ussia het ook voete van klei gehad.  Hy neem op ’n keer op arrogante wyse – soos Saul lank tevore (1 Sam 13) – priesterlike verpligtinge op homself (2 Kon 15; 2 Kron 26) en word met melaatsheid gestraf.  Sy jong seun Jotam volg hom op, maar kom nie die mas op nie, en sterf baie jonk.

In die sterfjaar van Ussia, val die mantel op sy kleinseun Agas, terwyl daar groot internasionale bedreiginge is.  Peka van die buurvolk Israel, en Resin van die Arameërs probeer Juda oorreed om teen Assirië, die wêreldmoondheid, ’n alliansie te sluit.  Alles is in flux en ’n bietjie in chaos.

En dan gebeur daar iets dramaties met Jesaja.

Continue ReadingJesaja 6 – Erediens: God heilig jou vir jou roeping – 30 Januarie 2011

Jesaja 2:1-5 – Erediens: God gee lig vir die lewe deur sy mense – 23 Januarie 2011

Voorbereiding vir ‘n besoek

My suster bel middel Desember en sê, hulle bring my ma en pa met die trein vir ‘n kort kuier.  Ons sê ja, maar moet toe ons vakansieplanne met 2 dae uitstel, omdat ons eintlik op pad is Kaap toe.  ‘n Dag voor die tyd bel my broer en sê hulle reën uit op Nature’s Valley, het ons plek vir hulle?

En skielik is ons 17 mense wat geslaap en geëet moet kom.  In ons familie dink ons eerste aan hoe ons saam gaan eet – so 3 kg fillet en ‘n paar lekker bottels wyn en 60 eiers en hope spek en 4 brode vind hulle plek in ons kombuis.  Dit is net vir een dag en nag!

Volgende aan die beurt is slaapplek, en dis matrasse en rondskuif en regmaak.  En toe skoonmaak, badkamers, kombuis, kamers, sorg vir beddegoed, en handdoeke en parkering om te sorg dat alles reg is, sodat ons darem almal kan saamkuier, en ons mekaar se teenwoordigheid kan geniet.

Ken julle dit?

Dit is wat ‘n mens doen as jy uitsien na die koms van mense na aan jou.  En dit was ‘n fees.  Natuurlik hopeloos te veel eiers gewees, maar die fillet het heerlik gesmaak en dit was ‘n onthou-fees, een wat ons lank sal onthou, al was dit so ’n kort kuier.

En dit is uit dié hoek wat ek ons teks wil ontsluit.

 

Continue ReadingJesaja 2:1-5 – Erediens: God gee lig vir die lewe deur sy mense – 23 Januarie 2011

Josua 1:1-9 – God praat deur sy Woord

Preek vir 16 Januarie 2011 18:30 by Klema in Somerstrand

Terwyl ek Maandag stil geraak het en dink oor wat die Here vir ons almal wil sê vanaand, het die verhaal van Josua by my opgekom.  Ek vermoed dit het iets te doene gehad met my gesprek met Jaco net daarvoor, toe hy vertel het hoe hy en Karlien gesels het oor die verhaal van Barnabas, waaroor ek verlede week gepreek het. In ons gesprek het ek toe die verhaal van Josua aangeroer, omdat daar nogal baie ooreenkomste is in die mentor verhoudinge van Barnabas met Johannes Markus en Moses met Josua ... en dit het my bygebly toe ek in die kantoor langsaan voor die Here stil geraak het.

Dit het natuurlik óók te make met die ongelooflike waarheid wat ek in die lewe van Josua raakgesien het toe ek besig was in die Bybelskool met die Pentateug, die eerste 5 boeke van die Bybel.  En dit is dat daar ‘n baie besondere verskuiwing in die manier waarop God met mense werk in die lewe van Josua gekom het.

Kom ons lees Josua 1:1-9


Continue ReadingJosua 1:1-9 – God praat deur sy Woord

1 Korintiërs 1:1-9 – Erediens: God laat ons enduit vasstaan – 16 Januarie 2011

’n Aangrypende inleiding

Mens sou kon verstaan as Paulus die brief met ’n heftige uittrapsessie begin het.  Dalk sou ons dit so gedoen het.  Die gemeente moes kortgevat word, wil mens sê.  Hulle het opgesnork en moes reggesien word.

Maar Paulus doen dit nie, ten minste nie aanvanklik nie.

Hy begin deur hulle ter herinner aan hulle roeping.  Die gemeente van Korinte is geroep om aan Jesus Christus te behoort (1:2).  Te midde van al die gevegte, partyskappe, botsings, etiese kwessies ensomeer moet hulle hul roeping onthou en daarna strewe om te wees wat God hulle alreeds in Jesus Christus gemaak het.

Tweedens is die gemeente geroepe geheiligdes – klétois hagiois – 1:2.  Hulle is die gemeente van God (1:2) wat aan God behoort as sy eie, spesiale mense, toegewy aan Hom.  Omdat hulle geroep en heilig gemaak is, kan hulle nou vir God lewe en heilig wees.

Derdens beklemtoon Paulus die ryke gawes wat die gemeente van God ontvang het.  Hulle is ryklik geseën, dit ontbreek hulle nie aan ’n enkele gawe nie, en – wat my besonder getref het – Christus sal hulle help om vas te bly staan tot die einde toe (1:4-9).

Christus staan dus sentraal.  In ses verse verwys Paulus nie minder nie as vyf keer na Jesus Christus.  Christus is die Korintiërs se lewe.  Dit is Hom wat hulle verwag om aan die einde van die tyd weer te kom.  En dit is HY wat hulle enduit sal laat vasstaan.

 

Continue Reading1 Korintiërs 1:1-9 – Erediens: God laat ons enduit vasstaan – 16 Januarie 2011

Jesaja 42:1-9 – Erediens – God bring genesing – 9 Jan 2011

Verwelkoming

Epifanie beteken “verskyning”. Dit word veral verbind aan die koms van Jesus na die aarde, waarin God sy verskyning maak in die gestalte van Jesus onder mense.

Dit is ook my gebed vir elkeen van ons – dat ons hierdie jaar ’n “Epifanie” sal hê, verskeie “Epifanieë”, Godsverskynings – en dat ons self ook ‘n “Epifanie” vir ander sal wees, dat mense God in ons sal raaksien, en hulle in Hom sal verheug.

Kom ons groet mekaar met dit in gedagte.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Die tema van ons diens is God bring genesing – Jesaja 42:3: “’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.”

God nooi ons vanoggend uit om by Hom tot rus te kom.

  • Raak ’n paar oomblikke stil en bring jou kommer en jou onrus na Hom toe.
  • Gee dit vir Hom en vra vir ’n aanraking van Sy Gees, ‘n Epifanie van Homself.

Kom ons bely dat Hy in staat is om ons selfs van die dood te red:

  • Liedboek 222 – sing dit 3 keer sittend, Afr-Eng-Afr.

Continue ReadingJesaja 42:1-9 – Erediens – God bring genesing – 9 Jan 2011

Lukas 10:38-42 – Erediens: Leef luisterend – 14 November 2010

Woordverkondiging

Jesus is vasbeslote op reis na Jerusalem.  Hy weet dat sy lyding die kruis sal insluit.  Hy het dus ‘n behoefte aan gasvryheid.

Die eerste plek op sy reis waarvan Lukas ons vertel is as Hy deur ‘n dorp van die Samaritane gaan, en hulle weier om Hom te ontvang en Hom verblyf te gee (Luk 9:51-56).  Sy dissipels is woedend daaroor en wil sommer ‘n oordeel oor hulle uitspreek.  Jesus keer hulle egter en in ‘n gesprek met hulle verwoord Hy sy pyn, maar sonder verwyt: “Die Seun van die mens het nie eers ‘n rusplek vir sy kop nie,” sê Jesus (9:58).

Die tweede gebeure waarvan Lukas ons vertel, is as Hy 72 van sy dissipels stuur na ander dorpe om die evangelie te verkondig.  Hy spel spesifiek uit dat hulle hul op die gasvryheid van die mense moet verlaat (10:1-15).  In die mense se gasvryheid en luister, al dan nie, word hulle gehoorsaamheid aan God sigbaar: “Wie na julle luister, luister na My; Wie julle verwerp, verwerp My” (10:16).

En dit het ‘n groot effek – sommige mense ontvang hulle met gasvryheid en hoor só die evangelie.  Die dissipels verbly hulle daaroor en in hulle terugrapport kom ‘n mens agter dat dit Jesus intense plesier gee.

Dan is daar in die derde plek kort hierna ‘n wetsgeleerde wat met Jesus aan die gesels raak oor die koninkryk van God en vra: “wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”   Jesus antwoord hom met ‘n samevatting van die wet, dat jy God en jou naaste moet liefhê (10:25-28).  En vertel dan die verhaal van die Gasvrye Samaritaan, om die wetsgeleerde te leer dat gasvryheid vir die vreemdeling naasteliefde is.  Hy betoon immers gasvryheid aan die man wat onder rowers deurgeloop het deur hom in die herberg te laat versorg, in sy barmhartigheid (10:29-37).

En dan kan ‘n mens nie anders om die volgende verhaal, die verhaal van Marta en Maria met ‘n gans ander bril te lees nie (hele erediens volg).

Continue ReadingLukas 10:38-42 – Erediens: Leef luisterend – 14 November 2010

Lukas 19:1-10: Erediens – Leef inklusief – Son 31 Oktober 2010

In Lukas 19 is Jesus teen die einde van sy reis van Galilea na Jerusalem, waar Hy sou sterf.  Saggeus, die kort, skatryk mannetjie, tollenaar en hoofskurk van Jerigo, word die laaste dissipel wat Jesus op sy reis na Jerusalem werf.

Tollenaars het nie net hulleself verryk met belastings nie, hulle was ook die loan sharks van die tyd.  Deur die toedoen van Saggeus het mense verarm,  en het hy waarskynlik nie die einde van sy skatte geken nie.

Wat doen God met Saggeus? Jesus sien vir Saggeus raak in die boom en begin ’n gesprek, en dring daarop aan dat Hy by hom wil gaan eet.  God reik dus uit en dring Saggeus se ruimte in om die gemeenskap tussen hulle te herstel.

Hoekom?  Want God is ’n inklusiewe God.  En uiteraard vra Hy van ons om op dieselfde manier te leef.

Volledige erediens:

 

Continue ReadingLukas 19:1-10: Erediens – Leef inklusief – Son 31 Oktober 2010

Lukas 24:13-35: Erediens – Leef met kantlyne – Son 17 Oktober 2010

Hierdie kwartaal fokus ons op gasvryheid.  Dit is hoe gestuurde gemeentes leef!  En ons wil spesifiek gasvry wees oor ouderdoms- en generasie-grense.

Vanoggend se tema is: Leef met kantlyne.

Ons gebruik die verhaal van Abraham en sy 3 besoekers in Gen 18 vir die familietyd, en Jesus en die Emmaus-gangers in Lukas 24 vir die Woordverkondiging.  Die punt wat die preek maak, is dat God ons roep om ruimte te maak in ons lewens vir ander, deur onsself te beperk en ander te bederf.

Continue ReadingLukas 24:13-35: Erediens – Leef met kantlyne – Son 17 Oktober 2010