Jesaja 25 – Erediens: God bring vreugde deur oordeel – 13 Februarie 2011
Ek sou nie graag deel wou wees van die nageslag van Moab nie.
- Gebore uit bloedskande. Na die ramp van Sodom en Gomorra, met Lot se vrou wat in ‘n soutpilaar verander, het Lot en sy twee dogters in ‘n grot in die berg gaan woon. Omdat die twee dogters se verloofdes ook gesterf het in Sodom en Gomorra – hulle wou nie vlug nie; gedink dit alles was net ‘n grap – besluit Lot se dogters om hulle pa dronk te maak en kinders by hom te verwek. Die oudste dogter het die voorbeeld gestel, en die jongste dogter het haar voorbeeld gevolg. En die Moabiete is die nageslag van Lot en sy oudste doger – soos Gen 19 ons vertel (die Ammoniete was die nageslag van Lot en sy jongste dogter).
- ‘n Volk van ongasvry vervloekers – ‘n Volk met leiers wat geen gevoel het vir mense in nood nie. Toe Israel – en onthou hulle was bloed-familie, Lot se nageslag, die broerskind van Abraham – toe Israel op pad was deur die woestyn na Kanaän toe om die Beloofde Land in te neem, wou hulle nie eers vir die Israeliete brood en water gee nie. Let op hulle was nie ‘n bedreiging nie, net maar honger en dors, maar Oosterse gasvryheid gee die leiers van Moab nie vir hierdie swerwers deur die woestyn nie. Om die waarheid te sê, hulle voel so min vir Israel, dat hulle ‘n profeet huur, Bileam, om die volk in die naam van die Here te vervloek. Praat van arrogansie, ‘n God wat hulle nie dien nie, word ingeroep om hulle vuilwerk vir hulle te doen – soos Numeri 22-24 ons vertel.
- En op die koop toe was hulle ‘n volk van verleiers, soos hulle oermoeder. Numeri 25 vertel die gru verhaal van Moabitiese vrouens wat die Israeliete verlei het met seks om vir Baäl-Peor te dien, wat ‘n ramp oor die Israeliete gebring het.
Geen wonder die Here het die reël gemaak, geen Moabiet se kind, of sy kleinkind, of dié se kind en dié se kleinkind, of dié se kind, en dié se kleinkind, 10 geslagte ver, mag in Sy teenwoordigheid verskyn nie. Dit beteken eenvoudig – NOOIT! Bloedskandelik, Ongasvry, Verleiers – nie welkom in die geloofsgemeenskap van Israel nie (Deut 23).
Soos ek sê, ek sou nie deel van die nageslag van Moab wil wees nie.