Jesaja 43:1-13 – In die smeltkroes van die lewe – 13 Jan 2013
Om God op sy woord te neem
Baie gelowiges is in vasgevalde situasies. Dit word dan baie moeilik om God op sy beloftes te neem en gehoorsaam die treë te gee wat God van ons verwag.
Jesaja 43 is 'n belofte vir sulke mense. God se goedheid verdwerg ons onbesonne optrede. God se goedheid maak van ons dwaasheid en doodsheid 'n smeltkroes waaruit herstelde, geneesde, gehoorsame mense na vore kom.
Ons word geroep om God op sy woord te neem. God begelei ons op die pad van gehoorsaamheid. God versorg en bemagtig ons. Ons kan dit met God waag.
Dan word ons situasie ‘n smeltkroes, nie ‘n vullishoop nie. Dan word die krisisse uitdagings, die rampe geleenthede vir groei, die frustrasies uitnodigings vir fokus op God en sy plan vir jou lewe.
Want, as die volk se sonde was dat hulle nie na God geluister het nie, en nie in sy weë wou wandel nie, dan is die volk se herstel geleë in ‘n nuwe luister na God en ‘n nougesette wandel met Hom.
En dit is presies dieselfde vir ons, vir almal wat onder druk is.
- Erken dat Hy God is, en dat jy drooggemaak het;
- Vertrou Hom om jou deur die smeltkroes te suiwer, soos goud gesuiwer word, en
- soek Hom dag vir dag om na Hom te luister en met Hom jou pad te loop.
God is daar, Hy dra ons en ons laste dag vir dag (Ps 68:20), en Hy beloon dié wat na Hom soek (Hebr 11:6). Of soos Die Boodskap dié vers vertaal: Hy sal jou “met oop arms ontvang.” “He cares enough to respond” (The Message).
Só ervaar jy nie net God se seën nie, maar gebruik Hy jou ook tot seën vir ander mense.