Verwelkoming
Toetrede
Liedboek 577:1,5 – Die Heer, my herder, sorg vir my – sit
Votum
Seëngroet
Lofsang
Liedboek 510 – Genade, onbeskryflik groot – staan
Liedboek 512 – Nader, my God, by U, nog naderby – sit
Kindertyd
Episode 2 van Omdat ek jou liefhet van Max Lucado
Terugflits
Lank, lank gelede in ‘n ver land het ‘n wyse man met die naam Shaddai gewoon. Shaddai was ‘n groot man wat lief was vir kinders. Hy het ’n pragtige dorpie vir die kinders gebou. En die beste van alles was dat Shaddai vir al die kinders ewe lief was.
Dit is hoekom hy die muur gebou het reg rondom die kinders se dorpie. Want, buite hierdie dorpie was daar ‘n gevaarlike bos. Hy het vir die kinders gesê: “Daar is gevaar buitekant die muur. Julle is gemaak vir hierdie dorpie binne die muur. Bly by my. Dit is veilig hier.”
Shaddai by sy werksbank
Die dag toe hy die laaste klip op die muur pak, gaan hy terug na sy werksplek, sit voor sy werkbank en sny ‘n kierie uit ‘n lang boomtak. Shaddai sit die kierie toe in ‘n hoek neer en sê vir homself: “Ek sal gereed wees.”
‘n Rukkie later hardloop ‘n seuntjie met rooierige hare Shaddai se werksplek binne. Die kind met die soekende oë en rustelose energie maak die skepper bly én bekommerd.
“Shaddai.”
In ‘n oogwink het die skepper sy hamer laat val en omgedraai. “Wat is dit, Palladin?”
Palladin ontdek die gat in die muur
Die seun het met rukke en stote gepraat terwyl hy na asem hyg: “Die muur … ek het … ‘n gat ontdek. Dit is ‘n groot gat!” Die seun het sy hande gerek om te wys hoe groot die gat is. “Iemand kan dalk daar deurkruip.”
Shaddai het ‘n stoel nader getrek en daarop gaan sit. “Ek het geweet dit sal jy wees, Palladin, my kind. Sê vir my, hoe het jy dit gekry?”
“Ek het al langs die muur geloop op soek na – “
“Gate?”
Palladin aarsel, verras dat Shaddai geweet het.
“Ja, ek het na gate gesoek. “
“Sodat jy die bos kan sien?”
“Ek was nuuskierig, Shaddai. Ek wou weet hoekom jy nie wil hê ons moet soontoe gaan nie. Hoekom is dit so gevaarlik?”
Shaddai praat ernstig met Palladin
Shaddai beduie toe vir die seun om na hom toe te kom. Toe Palladin nader kom, vat die skepper die klein gesiggie in al twee sy hande en lig dit op sodat die seun reguit in sy oë kon. kyk. Shaddai se ernstige gesig het Palladin se maak sommer so hol laat voel.
“Palladin, luister na my. Die wêreld daar buite is nie die plek vir jou nie; ook nie vir my nie. As jy na die bos toe gaan, sal jy seerkry. Jy is nie gemaak vir daardie plek nie. Laat jou voete jou dra na al die plekke waarnatoe jy mag gaan, nie na die een plek waarheen jy nie mag gaan nie. As jy hier weggaan, sal jy nie die pad terug kry nie.”
Palladin wonder hoekom die gat nie toegemaak word nie
Palladin het saggies gevra: “Sal jy dan die gat toemaak?”
“Nee, Palladin, ek het juis die gat gemaak omdat ek julle so liefhet.”
“Maar jy het dan gesê jy wil nie hê ons moet weggaan nie.”
“Ek wil nie hê julle moet weggaan nie. Ek wil hê julle moet hier by my bly, maar ek het die opening gemaak toe ek die muur gebou het.”
“Maar as jy dit nie toemaak nie,” sê Palladin, “sal die kinders dalk weggaan, Shaddai.”
“Ek weet, Palladin. Maar ek wil hê die kinders moet hier bly omdat hulle wíl, nie omdat hulle móét nie.”
Palladin verstaan nie mooi nie
Palladin kon dit nie verstaan nie. Hy het ongemaklik gevoel en omgedraai om te loop. Hy moes gaan dink oor wat Shaddai gesê het. Toe hy uitstap in die sonlig, kyk hy om na die werkswinkel. Shaddai het nog steeds op sy stoel gesit en na Palladin gekyk.
Kom luister volgende week verder …
Gebed
Skriflesing
Spreuke het drie belangrike boodskappe:
- Begin met God,
- Soek na wysheid
- Loop die regte pad – wat natuurlik insluit om die drie hoof afdraaipaaie te vermy – “easy sex, easy money, easy power”.[1]
In tien lewenslesse leer ‘n pa sy seun hoe dit werk.
- Verlede week het ons gekyk na watter rol God in die seun se lewe moet
- Vandag kyk ons na die rol wat die soeke na wysheid in die seun, en natuurlik in elkeen van ons, se lewe moetDie kern-boodskap is in Spreuke 2:2: “Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.”
Woordverkondiging
Luister in die diereryk
Dit is verstommend hoe goed sommige diere kan hoor.
- Olifante het nie net baie groot ore nie. Hulle kan geluid hoor wat 20 keer dieper is as wat ons ore kan optel. En hulle gerommel kan 6 kilometer ver opgetel word deur ander olifante. Dit is een van die maniere waarop hulle aangepas is om te kan oorleef en met mekaar te kan kommunikeer oor lang afstande.
- Uile het van die skerpste ore wat bestaan. Interessant is dat hulle ore nie op dieselfde vlak sit nie – een is net bo die ooglyn, en die ander net daaronder – sodat hulle met absolute presisie die rigting van ’n geluid kan bepaal. Maar uile kan nie net goed hoor nie. Hulle reaksietyd is ook verstommend. Binne ’n 100ste van ’n sekonde kan hulle reageer op die geritsel van ’n muis in die bos. Dit is waarom uile in die donkerste donker – hulle het natuurlik goeie oë ook – hulle prooi kan vang en só kan oorleef.
- Vlermuise se gehoor is miskien nog beter ontwikkel, hoewel hulle ’n tipe sonar gebruik om te kan hoor. As jy ’n muskiet is, en só 15-20 voet van ’n vlermuis af, al is dit stikdonker, en jy piepklein, is jy geskiedenis. Interessant, vlermuise beskerm hulle ore deur dit toe te maak met elke vlerkklap, sodat hulle gehoor nie verminder met die geraas van hulle eie vlerke nie. Hulle is eintlik totaal afhanklik van hulle gehoor om te kan oorleef.
- Dolfyne, wat ook sonar gebruik, kan tot op 70 meter ’n voorwerp opspoor al is dit net so groot soos ’n vyfrand muntstuk. En soos walvisse kan hulle geluide oor groot afstande onder water optel.
Hoekom? Want al hierdie diere is afhanklik van hulle ore om te kan oorleef. Hetsy of dit is om te kan kommunikeer, of om hulle kos op te spoor of om gevaar te kan ontwyk – ore is lewensbelangrik.
Die tweede lewensles
Dié voorbeelde gee ons ’n bietjie dieper begrip vir die tweede lewensles wat die pa in Spreuke 2 aan sy seun gee.
Die pa weet dat die belangrikste ding in die lewe is om met God te begin. Sonder om God te ken en te erken in alles wat jy doen, loop jy die gevaar om sy sorg en voorsiening te mis.
Maar, hy weet ook die seun kan dink dat hy dan maar agteroor kan sit, en bid, en wag vir God, en dan verder niks doen nie. En die lewe werk nou eenmaal ook nou weer nie só nie.
Maar, let op, hy probeer hom nie in die tweede plek net ’n klomp reëls of kennis inprop nie. Hy gee nie net vir hom ’n handboek wat hy moet lees nie. Hy raai hom selfs nie aan om sekere goed sommer net te begin doen omdat dit goed vir hom sal wees nie. “Doen soos ek sê en daarmee basta.”
Nie dat hy niks gaan sê vir die seun oor wat hy moet weet nie. Nie dat boeke nie belangrik is in die pa se oë nie. En nie dat die pa nie tog vir hom gaan aanraai om op sekere paaie te loop en te waarsku om op ’n paar ander nie te loop nie. Kennis is belangrik, en die regte pad is belangrik. En die pa gaan vir sy seun ’n hele klompie dinge daaroor in die res van die boek sê.
Maar, hy begin by ’n ander plek. Hy raai sy seun in die tweede plek aan om sy ore te gebruik, om sy ore te spits, en te luister.
Gebruik jou ore
En waarvoor moet hy sy ore gebruik?
Hy moet as’t ware met gespitste ore soek en luister vir wysheid (2:1-4), nie net vir kennis nie, nie net vir dinge om te weet nie, maar vir wysheid, vir toegepaste kennis, vir kennis wat vir jou werk, vir kennis wat iets beteken. Want sonder dié tipe wysheid, vir kennis in aksie, kan jy moeilik die uitdagings van hierdie lewe hanteer, sal jy moeilik oorleef.
Kyk, jy kan al die kennis hê wat bestaan, jy kan weet hoe alles werk in die lewe, en dit met baie kundigheid kan beskryf, maar as jy nie weet wat jy daarmee moet maak nie, wat die beste manier is om jou kennis toe te pas nie, hoe jy dit kan inspan ter wille van oorlewing of ter wille van sukses nie, dan baat dit jou nog maar min.
Jy het wysheid nodig, jy het toepassings nodig, jy moet weet wat dinge beteken, jy moet dit verstaan, jy moet dit begryp, sodat jy dit tot jou eie en ander se voordeel kan inspan. Eers dan sal kennis vir jou die moeite werd wees. Dit is benewens die feit dat ’n mens eintlik eers regtig die wysheid het, as jy begin het om daarvolgens op te tree, maar dit is vir die res van die Preekreeks …
Ek wonder baie keer of dit nie die probleem is vandag met die kennis-ontploffing nie. Ons weet só baie, sommige van ons dínk natuurlik ons weet so baie (glimlag), maar ons is eintlik in ons kinderskoene in die toepassing van dié kennis, in die wysheid wat nodig is om dit vir mense en die omgewing te laat werk.
Daarom, sê die pa vir sy seun, moet jy luister vir die wysheid, nie net vir die kennis nie, maar vir die wysheid, vir die maniere hoe om kennis toe te pas, sodat jy kan weet wat kennis vir jou en vir ander kan beteken.
Soek wysheid met gespitste ore
Nou, daar is twee maniere waarop die Bybel oor die verkryging van hierdie tipe kennis, hierdie wysheid, praat.
- In die eerste plek: God gee wysheid vir dié wat Hom vertrou. God werk vir hulle selfs wanneer hulle slaap (Ps 127:2 – ’n Psalm van Salomo!). Uiteraard is dit ’n belangrike klem, en is dit iets waarop ’n mens ook kan staatmaak.
- Maar, belangrik, in die tweede plek: God gee wysheid in die doelgerigte soeke na wysheid, ‘n verantwoordelikheid wat ons nie kan ontwyk nie. Om die waarheid te sê, dit is meermale hoe dit werk.
Dit is van hierdie doelgerigte soektog na wysheid, na toegepaste kennis, wat Spreuke praat. Daarom sê die pa vir sy seun: hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in, roep en vra, soek … en jy sal dit opspoor.
God gee wysheid vir dié wat daarna soek
Want sien, wysheid ís ’n gawe van God. Hý is wysheid. En Hy wil gráág wysheid vir ons gee. Maar, God weet ook dat wysheid wat sommer net so uitgedeel word, te maklik op dowe ore kan val, onwerksaam in ons lewe kan lê, en dan tot niks kom nie.
Daarom het Hy ingebou dat vir die wysheid gesoek moet word. Dit is in die soektog self wat ’n mens agterkom dat wysheid ’n gawe is van God, dat jy waardering kry vir hoe ragfyn God goed beplan, jy begrip kry vir hoe goed werk, en hoekom dit so is, te same met die sukses en beskerming wat met die wysheid saamgaan. Wanneer die seun só soek, dit is dan wanneer hy ook op die regte pad sal bly en kán bly.
Dit is iets wat Jesus ook later sterk sou beklemtoon in sy bediening en onderrig, soos pragtig geïllustreer in die bekende uitspraak in die Bergrede: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt 7:7-8).
God wíl gee, maar Hy wil ook hê dat die gawe iets vir ons beteken, dat dit ons help om te kan lewe, en daarom dat Hy gee vir dié wat daarna vra, vir dié wat daarna soek, vir dié wat klop aan die deur.
Interessant is dat Jesus hierdie gawe van wysheid ook met die gawe van die Heilige Gees verbind, die goeie gawe van God (Luk 11:13). En Jakobus sê dat ’n mens wysheid van God kan afbid (Jak 1:5). Watter belofte!
Jy sal met vreugde en oordeel kan lewe
Liewe gemeente, dit is ook hoe God se beskerming werk. Dit is nie net iets wat God gee sonder jou medewerking nie. Beskerming kom ook deur die manier waarop jy lewe. Dit is nie net ’n gevolg van God se wonder ingrype nie – hoewel Hy Goddank dit ook soms doen.
God gee beskerming deur toegepaste kennis, deur wysheid waar met insig op die verloop en beloop van die lewe gereageer word. Wanneer kennis op só ’n manier, met wysheid, in die toepassing daarvan, begin om jou lewe te vorm en te verryk, dit is dan wanneer oordeelkundigheid en verstandigheid begin om jou lewe te beskerm en begelei. Dit is dan wat God jou in staat stel om die verkeerde dinge en mense te vermy en Hy jou lei na die goeie, regverdige, opregte en onberispelike paaie wat volhoubare en vreugdevolle lewe moontlik maak. Dít is hoe God beskerming en begeleiding gee – deur die wysheid waarvoor jý jou ore spits en waarop jý jou luister fokus.
En maak geen fout nie. Dit is iets wat jou eie verantwoordelikheid is. Dit is nie iets wat iemand anders vir jou kan doen nie. Dit is selfs nie iets wat God sommer sonder jou medewerking kan doen nie, hoewel daar natuurlik ook ’n genade-kant van Sy betrokkenheid by ons is. Die Bybel sê mos in Psalm 25:8 dat hy selfs vir sondaars die pad aanwys. Dit is waar, maar ook net een kant van die saak. God gee vir dié wat soek, vir dié wat nood het, vir dié wat heel wil word.
Wysheid is dus aan die een kant ‘n gawe van God wat jy uit Sy hand ontvang en ontgin in al sy fasette, maar ook iets aan die ander kant wat jy persoonlik moet toepas en ontplooi in jou praktiese lewe. Dit is in die ontvangs en in die ontplooiing, die vertroue op God en die persoonlike verantwoordelikheid neem, wat die beskerming en begeleiding gebeur.
Jy sal die pad van slegte mense kan vermy
Dit het aan die een kant te make met die tipe mense na wie jy moet luister, veral na gesagsfigure en rolmodelle in jou lewe wat goeie mense is, regverdig, opreg en onberispelik (2:1,9,20,21). Sulke mense moet jy uitkies, na hulle luister, en hulle navolg.
Natuurlik sluit dit ook mense in na wie jy nie moet luister nie: mense wat verkeerde dinge verkondig (2:12), mense wat die regte paaie verlaat (2:13), mense wat slegte dinge doen, en wie se paaie krom is (2:14-15), sowel as die “slegte vrou” wat ’n simbool van enige buite-egtelike verhouding is, en natuurlik ook op ’n “slegte man” van toepassing is (2:16-20).
Aan die ander kant sluit dit ook dinge in waarna jy moet luister, die inhoud wat Spreuke aanbeveel.
En let op, hoewel tyd my ontbreek om meer hieroor te sê, hoe Spreuke nie net ’n eenmalige luister na die wysheid aanbeveel nie, maar ’n onderskeidende proses, om jou in te span om te verstaan (2:2), om insig en gesonde begrip (common sense) te soek (2:2). En dit saam met mense wat saam met jou na die wysheid soek.
Maar Spreuke wil ook hê dat die lewenstyl van mense wat hierdie inhoud uitleef, nagevolg moet word (eerlikheid – 2:7; onberispelikheid – 2:7,21, getrouheid – 2:8; regverdigheid en billikheid – 2:9,20; oordeelkundigheid en verstandigheid – 2:11; goedheid – 2:20; opregtheid – 2:21). Dit is die inhoud van die tipe wysheid wat nagevolg moet word. Só word jyself natuurlik ’n voorbeeld wat ander kan navolg.
Ons sal leer om met mekaar saam te kan lewe
Ek sluit af. Ons kan leer by die uile van die diereryk, ook van die olifante, vlermuise en dolfyne, veral in hoe hulle staatmaak op hulle ore om te oorleef in die lewe.
Maar ons moet vir meer luister as die diere. Ons moet luister vir die wysheid, vir dié toepassings van kennis wat nie net nodig is om te oorleef nie, nie net vir ons kos in ons mae sit nie, maar vir dít wat ons gaan help om mekaar te kan verdra, om mekaar te kan akkommodeer, om met mekaar te kan saamleef, om mekaar te help om by selfverwesenliking uit te kom.
Dit is miskien die grootste wysheid wat ons nodig het, hoe om dit te kan regkry om met mekaar te kan saamlewe, hoe om te sorg dat mense die ervaring het om te behoort, om tuis te kom, om tot hulle reg te kom, om iemand te voel, en iemand te wees, vir ander, vir jou, vir my, vir God.
Hou jou ore dus oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan, en begin om dit met ander te deel, begin om dit uit te leef. Ons almal het dit nodig. Ons almal moet daarop fokus. Dit is hoe ons dit gaan regkry om mekaar nie uit te wis nie, maar die beste in mekaar na vore te bring.
Gebed
Verootmoediging
Liedboek 299:1 – Laat ons, Heer, u dood verkondig – sit
Nagmaal
Dankoffers
Slotsang
Liedboek 529 – Dank, dank die Heer. Ons dank die Heer – staan
Seën
Amen
Respons
Liedboek 228 – Halleluja! Halleluja! – staan