Prediker 12:9-14 – Lewe met oorleg en vreugde
Wysheid is ’n gawe
Die wysheid is ’n wonderlike gawe – só sluit die boek Prediker af.
- Die wysheid is soos die skerp stokke wat die beeste aanjaag in die regte rigting (12:11a). Die spreuke en voorbeeld-verhale is bedoel om jou op die regte pad te hou, sodat jy nie die verkeerde pad vat en afdwaal nie.
“The words of the wise prod us to live well,” soos Peterson dit vertaal. Die bedoeling is nie om die lewe vir jou swaar te maak nie. Dit is om jou te help om met oorleg en met vreugde te lewe. Dit is bedoel om jou moeite te spaar, om te keer dat jy nie dinge doen waarvan jy uiteindelik sal moet sê, dit kom tot niks nie, dit is sinloos, dit is hebel. Dit help jou om jou self te verwesentlik, sonder om selfvoldaan te word, en sonder om oorgerus te raak met wat jou lewe vir jouself, vir ander en vir God beteken nie.
Maar dit dui nie net rigting aan nie.
- Die wysheid is ook soos spykers wat ingeslaan is om alles, gemeenskappe en hulle wêrelde, bymekaar te hou (12:11b). Spreuke hou jou nie net op die regte pad nie. Dit is ook soos ankers, soos vaste oriënteringspunte, wat jou help om die belangrike goed in die lewe raak te sien, en te waardeer.
“They’re like nails hammered home, holding life together” (Peterson). Die woorde van wysheid help jou onderskei tussen die belangrike dinge in die lewe, en dié wat minder belangrik is. Dit help jou fokus, dit help jou die vloei van die lewe agterkom, sodat jy in ritme daarmee kan leef.
Geen wonder die wysheid word so hoog aangeslaan in die Bybel nie. Want nie net gee dit rigting nie. Nie net hou dit dinge bymekaar nie. Die woorde en spreuke van die wyses is die woorde van God self, die een Herder, wat ons daarmee in die regte rigting stuur (skerp stokke) en beskerm van verydeling en verstrooiing (spykers).