1 Johannes 3 – Die Gees begelei ons om reg te doen en lief te hê

Twee gebeure in die nuus staan vir my uit dié week.

Die een is die regering se flagrante ignorering van die hofbevel wat hulle opdrag gee om president Omar al-Bashir van Soedan in hegtenis te neem.  Daarmee het die regering sy eie aanvaarde wetgewing oortree, sowel as die grondwet en die internasionale verbintenisse wat die regering tevore aangegaan het.

Die ander is die tragiese moord van nege swart Christene deur die 21-jarige Dylann Roof in Charleston, South Carolina.  Volgens die polisie was Dylann se motivering om ‘n rasse-oorlog te ontketen.  Daarmee het hy die mees fundamentele beginsel van die liefde, spesifiek die gebod tot naasteliefde oortree.

Nou, ek weet, dinge is op politieke vlak nie so eenvoudig nie, en daar is ‘n konflik van belange tussen diplomatieke immuniteit vir staatshoofde en die handhawing van die reg, maar die feit bly dat die grondwet oortree is.  Die uitsprake van ‘n hof is doelbewus geïgnoreer.  En die impak daarvan kan ‘n groot invloed uitoefen op die pad wat met ‘n hele paar ander sake in ons land gevolg sal word.

Daar is alreeds groot moeilikheid met ons kragvoorsiening, met die verskaffing van basiese dienste, met onderwys, met grondsake.  Lees maar net RW Johnson se How long wil South Africa survive? The looming crisis, om te weet hoe beroerd sake werklik is.  Hy skryf oor die rasgebaseerde nuwe klassifikasie van mense wat juis die nie-rassigheid van die nuwe Suid-Afrika bedreig.  Hy skryf oor die effek van regstellende aksie wat ‘n oorlog van kulture op alle terreine van die samelewing veroorsaak en ons terugdwing in die loopgrawe van ons eie kulture.  Hy skryf oor die groeiende ekonomiese ongelykheid wat eintlik net ‘n klein elite groepie bevoordeel en nie die onregte van die verlede regstel nie.

Waar die reg nie meer gehandhaaf word nie, is ons uitgelewer aan die grypsug en selfsug van dié wat die mag in die hand het.  En dit kan die dood in die pot wees vir harmonie in ons land.

Hier volg die hele erediens: (more…)

Continue Reading1 Johannes 3 – Die Gees begelei ons om reg te doen en lief te hê

Johannes 20:1-18 – Paasfees – Ontmoet die opgestane Here Jesus – 31 Maart

Die leë graf

Ons teks begin waar Maria Magdalena, Petrus en die ander dissipel (Johannes) by die graf aankom.  Hulle sien die klip is van die graf weggerol.  Vir Maria beteken dit net een ding: Hulle het die Here Jesus uit die graf weggevat, en sy weet nie waar Hy nou begrawe is nie.

Petrus en Johannes bekyk die leë graf, maar dit maak nie vir hulle sin nie.  Duidelik het die dissipels nie rekening gehou met die moontlikheid dat God Jesus uit die dood sou opwek nie.  Vir hulle is die graf, nou die leë graf, nog onverstaanbaar.

Daarom huil Maria.  Eers was daar darem nog die liggaam van die Here, wat sy volgens Joodse gebruik sou kon versorg.  Maar nou is daar niks.  Ook die stoflike oorskot van Jesus is weggeneem en iewers anders begrawe.

Die dissipels, Petrus en Johannes, sien die leë graf.  Dan draai hulle om en gaan huis toe.  "Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie." (vers 9).

Continue ReadingJohannes 20:1-18 – Paasfees – Ontmoet die opgestane Here Jesus – 31 Maart

Johannes 18:1-19:42 – Goeie Vrydag – Jesus het self sy kruis gedra – 29 Maart

Hoofstuk 18-20 is die verhaal van:

  1. Jesus se inhegtenisneming  en verhoor,
  2. Jesus se kruisiging,
  3. Jesus se opstanding en
  4. Jesus se verskyning aan sy dissipels.

Hoofstuk 21 sluit die evangelie af met die herstel van Petrus se verhouding met Jesus.

Ons gaan vandag die hele kruisigingsverhaal lees soos Johannes dit in hoofstuk 18-19 vertel en Sondag fokus op die 1ste opstandingsverhaal in hoofstuk 20.  Ons gaan dit voorlees en onderbreek met liedere en tyd vir stilgebed.

Ek wil egter ‘n paar opmerkings maak voor ons lees.  Daarna gaan ons nagmaal vier.

Continue ReadingJohannes 18:1-19:42 – Goeie Vrydag – Jesus het self sy kruis gedra – 29 Maart

Simson – God werk met randfigure – Rigters 13

Inleiding

Ons kan ons moeilik indink in die chaos wat in Israel geheers het in die 12de en 11de eeu v.C.  Die boek Rigters vertel vir ons ‘n hele paar keer dat “elkeen gedoen het wat reg is in sy eie oë” (17:6; 21:25).  Daar was min mense wat die moed gehad het om die regte goed te doen. 

Selfs die Rigters wat in die naam van God optree, het ernstige karakterfoute gehad.  Kom ek skets vir jou twee van hulle:

Continue ReadingSimson – God werk met randfigure – Rigters 13

Numeri-Deuteronomium – Omswerwinge

God lei die volk

Op ’n dag in die middel van die lente het die wolk bo die tabernakel gelig.  Dit was twee jaar na die volk uit Egipte weg is.  Op bevel van die Here het hulle na Kanaän begin trek.

Onder leiding van die Here het hulle die pad aangedurf, met die wolkkolom in die dag en die vuurkolom in die nag.  En elke keer wanneer hulle opgekyk het, het hulle geweet: HY is daar!  Die grootste geskenk moontlik – God se voortdurende teenwoordigheid.

’n Mens sou dink, dít is die lewe.  Dít is waarna Dawid vanuit die Judawoestyn in Psalm 63 verlang: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ’n dor en droë land, ’n land sonder water. Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind. U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my ’n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.”

Die volk kla oor alles

Maar, dít is nie hoe die volk dit ervaar het nie.  Die volk kla oor alles.  Ons lees van vier hoofsake waaroor hulle kla.  Hulle kla oor hulle swaarkry, sommerso in die algemeen en hulle kla oor die kos.  Soos Die Storie skryf: “’n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry.”!  Dit was mense van ander nasies wat saamgetrek het en wat nie baie gehou het van die ontberinge in die woestyn nie.  Die ander leiers, Mirjam en Aäron, kla ook oor die hoof leier, Moses.  Hulle hou nie van die feit dat hy met ’n Kussitiese vrou, waarskynlik ’n swart vrou, ook een van die ander mense wat saamgetrek het, getrou het nie.  En les bes, die volk kla oor die vooruitsig om in Kanaän in te trek.  Hulle het net nie kans gesien vir die reuse wat daar op hulle wag nie.

Hoe reageer die Here daarop?

Continue ReadingNumeri-Deuteronomium – Omswerwinge

God kan vertrou word. God sal voorsien (Genesis 22).

Genesis 22:1-19 – Klema 10 Februarie 2013

Ons is besig met Die Storie en lees vandeesweek die 2de hoofstuk, die verhaal: God bou ’n nasie.  Ek het so twee weke terug in die oggenddiens die breë verhaal hiervan vertel en gefokus op die feit dat God Abraham geseën het met ’n kind om tot ’n seën vir ander nasies te wees.  Dit is immers hoe God werk.  Hy seën ons om tot ’n seën te wees.

Vanaand wil ek op die toetsing van Abraham fokus, soos ons dit lees in Genesis 22.

Lees Genesis 22:1-19.

’n Skrikwekkende verhaal

Die verhaal is vir ons so bekend dat ons die afgryslikheid daarvan nie meer so maklik  raaklees nie.  Daarom help dit om te luister na twee Joodse legendes wat die erns van hierdie verhaal vir ons onderstreep.  Want dit is ‘n skrikwekkende verhaal.

Continue ReadingGod kan vertrou word. God sal voorsien (Genesis 22).

Eksodus 1-17 – Bevryding – 10 Februarie 2013

God hoor, onthou en neem ter harte

Wat my getref het dié week in Die Storie is die woorde aan die einde van Eksodus hoofstuk 2: “God het gehoor hoe hulle roep.” Die NAV sê: “Hy het hulle gekerm gehoor”.  Nog dieper: “Hy het gedink (NAV) of onthou (Die Storie) dat Hy ’n verbond ... gesluit het.”  En God het hulle nood, “ter harte geneem”.

Toe ek dit gelees het, het ek net geweet dit is die woord wat die Here vanoggend vir ons het.  Die eenvoudige boodskap – God hoor; God onthou; God neem ter harte – dit is waarmee die Here ons moed wil gee vir die roeping wat Hy vir ons het.

Dit is die basis van ons vertroue op God – dat Hy hoor, dat Hy ons onthou, dat Hy ons nood ter harte neem.  Dit is hoe God is.  Dit is waarop ons vertrou.  Dit is wat ons na God toe neem as ons in die nood is.  Dit is waarop ons staatmaak.

En vanoggend wil ek jou maar net weer daarvan verseker.  God hoor;  God onthou; God neem ter harte.

Ons kan baie dinge in die Bybel lees.  Daar is ongelooflike interessante kante van die geloof.  En ek het net weer met die Psalms die week verwonderd gestaan oor die ontwikkeling van ons geloof oor die eeue en watter rol digters en leiers gespeel het en wat ons kan leer van God en van hoe geloof werk.

Maar, belangriker as dit en dieper as dit, is die eenvoudige fundamentele waarheid: God hoor; God onthou; God neem ter harte.

Hierdie verhaal van Moses en die volk is dus opgeteken om jou hierop te laat vertrou.  Want alles wat ons in Eksodus 3 en verder gaan lees, vloei voort uit hierdie waarheid oor God.

Continue ReadingEksodus 1-17 – Bevryding – 10 Februarie 2013

Genesis 12-36 – God bou ‘n nasie – 27 Januarie 2013

God gee ’n ruimte en ’n roeping

Ons het verlede week gefokus op God se plan met hierdie wêreld.  Hy het ’n ruimte vir alles geskep, ’n woonplek, sodat alles hulle plek kon vind, plant, mens en dier.  Hy het alles met ’n doel geskep, wat in die mens se geval die roeping was om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.

God wou op ’n spesiale manier ’n pad stap met mense.  Hy wou by hulle Sy eie woonplek vind.  Twee gevare het egter dié bedoeling van God bedreig:

  1. Adam en Eva was ongehoorsaam aan God en
  2. Kain het vir Abel doodgemaak, sodat dié droom van God nie verwesenlik kon word nie.

God het egter nie sy bedoelings laat vaar nie.  Eers het hy vir Noag gekies uit al die mense om met hom ’n nuwe begin te maak.  En toe dit nie uitwerk soos God dit wou hê nie, weens die uiteindelik bou van die toring van Babel, het God besluit om ’n nog beter plan te maak.

God bou ’n nasie

Hy kies om ’n nasie te bou waaruit uiteindelik die Verlosser van die wêreld gebore sou word.

Continue ReadingGenesis 12-36 – God bou ‘n nasie – 27 Januarie 2013

Genesis 1-11 – Die Skepping: Die begin van lewe soos ons dit ken – 20 Jan 2013

God se passie vir ‘n verhouding met mense is groter as sy afgryse van hulle ongehoorsaamheid, soos Genesis vir ons reg van die begin af vertel in die verhaal van Adam en Eva en God se reaksie op die geweld wat Kain teenoor Abel pleeg.  God wil by ons kom woon.  Die storie van die Bybel is daarom die verhaal van God se onvermoeide pogings om die verhouding met mense te herstel, om ons terug te wen in ‘n verhouding met Hom, sodat Hy ons kan liefhê en ons vir Hom.

Dit bly vir my een van die mees treffende leringe van Jesus, waar Hy in Johannes 14:23 vir die “goeie” Judas-dissipel sê:

“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”

Dit is wat God ook met jou hierdie jaar wil doen.  In jou lees van Die Storie wil God sy teenwoordigheid só ‘n werklikheid vir jou laat word, dat jy inderdaad die ervaring sal hê dat God by jou sal kom woon.

Dit is my gebed vir jou, en vir my.

Watter voorreg en watter avontuur om saam hierdie jaar te onderneem.

Continue ReadingGenesis 1-11 – Die Skepping: Die begin van lewe soos ons dit ken – 20 Jan 2013