Matteus 2:1-12 – Verwag om verras te word
Een van die stories wat telkens gelees word in die Epifanie tyd is die verhaal van die magi, die sterrekykers, wat met Jesus se geboorte in Jerusalem aangekom het om aan die nuwe koning van die Jode hulde te bring. Sommige noem hulle ook konings op voetspoor van Jes 60:3 “Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.”
Dit is 'n besondere verhaal, wat net deur Matteus vertel word.
En dit is veral besonders, omdat dit 3 groepe mense se reaksies op God se menswording kontrasteer: 1) dié van Herodus en Jerusalem, 2) dié van die priesterhoofde en skrifgeleerdes en 3) dié van die sterrekykers.
En omdat ons vandag die eerste treë van 2012 gee, is dit goed om aan die hand van dié drie groepe mense se reaksies op Jesus, ons eie verhaal vir hierdie jaar te beoordeel, en na te dink oor wat ons reaksie op Jesus dié jaar gaan wees, dws hoe ons graag die nuwe jaar sou wou binnegaan.