Simson – God werk met randfigure – Rigters 13

  • Nommer een – hy is bang en kruip in die veld weg waar niemand hom kan bykom nie, hy is sarkasties as die Engel van die Here aan hom verskyn: “Ekskuus meneer …” sê hy as die engel vir hom sê die Here is by hom, en jy kom agter dat agter die beleefdheid ernstige wantroue sit.  Of wat van hierdie antwoord: “As U so vriendelik wil wees, doen tog vir my ‘n wonder …”waarmee jy duidelik sien hy dink net mooi niks gaan gebeur nie.  En as die wonder gebeur, en hy moet optree, dan bly hy wantrouig, agteraf, gaan bv. in die nag en breek die Baäl altaar af, en skuil dan agter sy pa as die mense vir hom kwaad is.  Die ergste is, dat as hy die oorwinning behaal raak hy arrogant en wreed, en op die koop toe geldgierig.  As hulle hom wil koning maak, vra hy net geld!  En sy seun is nog erger, dié maak 69 van sy broers dood (een het weggekom) omdat hy geen kompetisie vir sy koningskap wil hê nie. ‘n Vrou moes ‘n maalklip op sy kop gooi om Israel van hom ontslae te laat raak.
    • Wie is dit? Gideon en sy seun Abimelek.
  • Nommer twee – hy is ‘n onderhandelaar by uitnemendheid, selfs met God, ‘n aartsmanipuleerder, wat sy brood aan alle kante gebotter wil hê, en ‘n grusame versekeringspolis uitneem, die oorsaak dat sy dogter haar lewe verloor as gevolg van sy dwaasheid, omdat sy toe die een is wat eerste uit sy huis vir hom kom verwelkom na die oorwinning.  Hy het miskien gedink een van sy honde sou hom tegemoetkom, dié dat hy belowe het dat die eerste een wat hom by die huis verwelkom, sal hy offer aan die Here.  Praat van dwaas en deurmekaar!
    • Wie is dit? Jefta.

Maar dit is gelukkig nie al wat in die boek Rigters staan oor hulle en die ander rigters nie!  Oor al twee van hulle skryf die Bybel dat die Gees van die Here op hulle was, hulle gelei het, hulle omvou het met Sy krag en hulle gebruik het om die volk van Israel te verlos van hulle vyande.

Kom ons lees die verhaal van Manoag, sy vrou, die eintlike kontakpunt met God, en die geboorte van hulle seun, Simson, om agter te kom hoe God werk – Rigters 13.

Skriflesing

Simson

13 Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle veertig jaar lank oorgegee in die mag van die Filistyne.

2Daar was ’n man uit Sora uit die stam van Dan. Sy naam was Manoag. Sy vrou was kinderloos. 3Die Engel van die Here het aan haar verskyn en vir haar gesê: “Jy is nou kinderloos, maar jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring. 4Jy moet jouself goed oppas en nie wyn of bier drink nie en ook nie iets onreins eet nie. 5Trouens, jy is reeds swanger en jy sal ’n seun in die wêreld bring. Sy hare mag nie geskeer word nie, want die kind sal van sy geboorte af aan God gewy wees. Hy sal die Israeliete begin red uit die mag van die Filistyne.”

6Die vrou het toe vir haar man gaan sê: “Daar het ’n man van God by my gekom. Hy het gelyk soos ’n engel van God, ’n man met gesag. Ek het hom nie gevra waarvandaan hy kom nie, en hy het my nie gesê wat sy naam is nie. 7Hy het vir my gesê: Kyk, jy is swanger en sal ’n seun in die wêreld bring. Jy mag voortaan nie wyn of bier drink nie en ook nie enigiets onreins eet nie, want die kind sal van sy geboorte af tot met sy dood aan God gewy wees.”

8Toe het Manoag tot die Here gebid: “Here, laat die man van God vir wie U gestuur het, asseblief weer na ons toe kom dat hy ons kan leer wat ons moet doen met die kind wat gebore sal word.”

9God het Manoag se gebed verhoor, en die Engel van God het weer na die vrou toe gekom. Sy het in die veld gesit, en haar man Manoag was nie by haar nie. 10Toe hardloop sy gou en sê vir haar man: “Die man wat nou die dag na my toe gekom het, het weer aan my verskyn.”

11Manoag is toe dadelik agter sy vrou aan. Hy het by die man gekom en vir hom gevra: “Is u die man wat met my vrou gepraat het?”

Die man het geantwoord: “Ja, ek is.”

12Manoag het vir hom gevra: “Wanneer u belofte waar word, hoe moet die kind hom dan gedra en wat moet hy doen?”

13Die Engel van die Here het vir Manoag geantwoord: “Jou vrou moet alles doen wat Ek vir haar gesê het. 14Sy mag nie die opbrengs van ’n wingerdstok eet nie, en sy mag nie wyn of bier drink nie. Sy mag ook nie iets onreins eet nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.”

15Toe sê Manoag vir die Engel van die Here: “Wag tog ’n rukkie, dan maak ons vir u ’n bokkie gaar.”

16Die Engel van die Here sê toe vir Manoag: “Al laat jy My ’n rukkie wag, sal Ek nie jou kos eet nie. Maar as jy ’n brand-offer wil bring, moet jy dit vir die Here bring.”

Manoag het nie besef dat dit die Engel van die Here is nie, 17en toe sê Manoag vir die Engel: “Wat is u naam? Wanneer u belofte waar word, wil ons aan u eer betoon.”

18Hy het vir Manoag geantwoord: “Waarom vra jy my Naam? Dit is te wonderlik om uit te spreek.”

19Toe vat Manoag die bokkie, en hy sit dit saam met ’n graanoffer op ’n klip as offer vir die Here. Terwyl Manoag en sy vrou staan en kyk, het die Here ’n wonder laat gebeur. 20Die vlam het van die altaar af opgegaan hemel toe en die Engel van die Here het in die altaarvlam opgestyg. Manoag en sy vrou het dit gesien en hulle het platgeval op die grond.

21Die Engel van die Here het nie weer aan Manoag en sy vrou verskyn nie, maar Manoag het besef dat dit die Engel van die Here was. 22Toe sê Manoag vir sy vrou: “Ons gaan beslis sterf, want ons het God gesien,” 23maar sy sê vir haar man: “As die Here ons wou doodmaak, sou Hy nie die brandoffer en graanoffer van ons aangeneem het nie. Hy sou ons ook nie hierdie wonderlike ding laat sien het en ons vandag hierdie nuus meegedeel het nie.”

24Die vrou het ’n seun in die wêreld gebring en sy het hom Simson genoem. Die kind het groot geword en die Here het hom geseën: 25die Gees van die Here het hom in Magane-Dan, tussen Sora en Estaol, begin lei.

Woordverkondiging

Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.  Die Here gee hierdie keer Israel vir ’n baie langer tyd as vantevore in die hand van hulle vyande oor – 40 jaar lank.  Die vyand kom nie hierdie keer uit die ooste, soos by Jefta nie, maar uit die weste.  Die Filistyne het wes van Kanaän, in die kusstrook by die Middellandse See, gewoon, dit wat ons vandag as die Gasa strook ken. 

Dan word die verhaal van Manoag en sy vrou vertel, wat gebly het in Sora en uit die stam Dan was.  Sy naam word genoem, maar dié van sy vrou nie, hoewel dit gou blyk dat sy die eintlike kontakpunt met die Here gaan wees.

Dié vrou is kinderloos.  Die Engel van die Here verskyn dan aan haar, nie aan haar man nie, en belowe vir haar ‘n kind.  Sy, die kinderlose, sal swanger word en haar skande sal weggeneem word.  Interessant is dat sy in fyn detail opdrag kry hoe sy moet lewe en hoe die kind moet lewe – totaal toegewy aan die Here.

Sy vertel dié gebeure in detail vir haar man, wat onmiddellik bid dat die man van God weer sal verskyn aan hulle sodat hulle kan weet wat hulle moet doen met die kind.  Sy vrou het hom vertel, maar hy wil dit self hoor.  Sy versoek word verhoor, maar die Engel verskyn weer aanvanklik net aan die vrou.  En as die vrou hom gaan haal, en Manoag die Engel vra hoe die kind moet lewe, dan verwys hy Manoag net na alles wat hy reeds vir die vrou gesê, en beklemtoon haar rol, eerder as dié van die kind.

Wonderlik om te sien met hoeveel teenwoordigheid van gees en doodgewone praktiese wysheid die vrou optree as hulle agterkom dat dit eintlik die Here self was wat aan hulle verskyn het.  Op haar man se angstige voorspelling dat hulle nou sal doodgaan, omdat hulle die Here gesien het, sê sy net: die Here sou dan nie ons offer aanvaar het nie, die engel laat sien het, en boonop die wonderlike nuus van ‘n seun gegee het nie.

En uit hierdie relatiewe eenvoudige gesin, ‘n man wat versigtig glo, en ‘n vrou wat, hoewel ons nie haar naam verneem nie, ‘n ongelooflike vertroue openbaar (sy vra geen vrae nie, aanvaar net wat die Here sê, presies soos Maria veel later) en op die koop toe uiters prakties kan dink, kom die seun Simson wat vir20 jaar leier van sy volk sou wees.

Let op – God kies nie ‘n vooraanstaande gesin nie.  Hy kies randfigure, soos ‘n mens in die unieke alleenloper Terminator van ‘n man, Simson sien.  En Terminator was hy – so sterk soos ‘n bees. 

  • Op ‘n keer het hy ’n leeu doodgemaak. 
  • Op ’n ander keer het hy 30 ouens doodgeslaan om hulle klere vir sy teenstanders te gee, toe hulle sy raaisel se antwoord uitgevis het by sy meisie in Timna. 
  • Op nog ’n ander keer het hy 300 jakkalse se sterte aan mekaar gebind en fakkels tussen hulle sterte aan die brand gesteek en ’n klomp landerye uitgewis. 
  • Op nog ’n ander keer het hy ’n duisend Filistyne doodgemaak met ’n donkie kakebeen.
  • Op nog ’n ander keer die stadspoort van Gasa uitgeruk en gedra tot op ’n berg, waarskynlik daar naby (die teks sê tot by “die berg wat voor Hebron is”).

Maar wat die teks wil beklemtoon, is nie net dat hy sterk was nie, maar dat sy eintlike bron van krag God was: “Simson het groot geword en die Here het hom geseën: die Gees van die Here het hom … begin lei.”  Daar staan letterlik: God het sy treë begin bepaal.  En regdeur kom hierdie leiding van God na vore. 

Hoewel Simson se optrede dus heel uitsonderlik bly: hy is ‘n alleenloper, sonder ’n leër, ’n Terminator, word daar meer as met die ander rigters gesê: die Gees van die Here het hom sterk gemaak (“kragtig op hom gekom” – sê die oorspronklike). God kies dus wie Hy wil, mense in wie Hy Sy heerlikheid en krag kan ten toon stel en gebruik hulle om wonderlike dinge te doen.

‘n Mens sien dit ook in die vreemde verhale van sy liefde en ontberinge met vroue.  Kyk, hoewel Simson sy lewe lank ’n nasireër was, d.w.s. hy het nie wyn gedrink nie, en hy nie sy hare geskeer nie, behalwe die een keer aan die einde van die verhaal, weet ons dat hy nie juis ‘n sedelike reus was nie. Hy het die vermoë gehad om, heel naïef wil dit voorkom, in sy liefde vir vroue deurgaans vernietigende verhoudings aan te knoop.

Maar, en dit is só diepsinnig, die skrywer van Rigters verseker ons, dat op ‘n manier die Here juis met sy swakheid ‘n plan gehad het.  Hy verklaar selfs in 14:4 dat die Here hierdie insidente beskik het: “Sy ouers het nie besef dat dit alles van die Here kom nie, want Hy wou ‘n geleentheid skep om die Filistyne te straf”.

Wat beteken ons moet versigtig oordeel.  Telkens is dit weens die strik wat ‘n vrou vir hom stel, dat hy ‘n hele boel Filistyne kon vernietig.  En dit is waarvoor God hom geroep het.  Die Here het dus in en deur Simson se menswees die verlossing van Israel beplan.

En op ‘n manier verrig hy sy grootste verlossingsdaad toe hy op sy swakste is, oë uitgesteek, in die tempel van Dagon in Gasa (die strook aan die kuslyn wat vandag nog in die nuus is in die konflik tussen die Israeli’s en die Palestyne), en in sy laaste doodskreet die hele tempel op die Filistyne aftrek.  In sy dood raak hy dus eintlik ‘n Christusfiguur, Christus wat ook deur sy dood die oorwinning behaal het.

Wat wil die Here hiermee vir ons sê?

God gebruik randfigure.  Hy gebruik hulle in sy koninkryk, selfs mense wat ons vandag net sou afskryf.  Gideon, Jefta en Simson.

As dit die aard is van God, as dit is hoe Hy werk, kan ons nie eintlik anders werk nie.  Ons sal moet leer om sagter te oordeel oor mense en ook oor onsself.

Net vanoggend moes ek dit ervaar dat iemand ’n tipe Toronto blessing ervaar in ’n erediens waar ek moes optree en uiteindelik was die boodskap wat sy vir die gemeente gehad het, ’n spieëlbeeld van een van die punte van die boodskap wat die Here op my hart gelê het, dat ons dit ernstig moet bedoel met God, want Hy bedoel dit ernstig met ons.

Wat onmiddellik vir ons moet sê: God kies baie keer randfigure uit om sy werk te doen.  Hy deins nie terug vir die karakterfoute van sy mense nie, maar doen sy werk ten spyte daarvan.

Ek dink ons dink te maklik dat God net uitnemende persone gebruik:

  • Moses wat met God gepraat het soos met ‘n vriend.
  • Josef wat behalwe vir so ‘n bietjie arrogansie in die begin, een van die wysste mense ooit was en die rede was dat die volk Israel in Egipte bewaar gebly het.
  • Dawid, wat wel sy gebreke gehad het, maar van die mees roerende gedigte en liedere geskep het, wat ons vandag nog sing en in ons gebede gebruik, en ‘n ongelooflike dapper held was, die voorvader van Christus.
  • Paulus, wat met onverskrokkenheid die pad deur die Midde-Ooste en Europa plat gestap het en ‘n hele bekende beskawing van sy tyd aan die evangelie blootgestel het.
  • Andrew Murray, Hudson Taylor, Billy Graham, Rick Warren, Bill Hybels – ag en so kan ons aangaan.

Daar is ‘n ander lyn in die Skrif, mense wat baie gebreke gehad het, mense wat jy eintlik amper wil sê, ek wil jou nie ken nie, wat ook deur God gebruik is.  Soos Simson.

Want sien, God se Gees werk nie net met die gesondes nie.  Nee, Hy werk baie keer met mense wat allerhande gebreke het of wat onaansienlik is of aan die onderpunt van die sosiale leer is. 

En dit beteken, dat daar vir ons ook plek is – dat as ons maar net eenmaal sal luister, en die Gees vaardig raak oor ons, ons deur God gebruik kan word.

God bedoel dit ernstig met jou.  Hy vra van jou dat jy dit ernstig met Hom sal bedoel.

Preek by Klema – 24 Maart 2013

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.