Jesaja 56:1-8 – Erediens: God trek ander mense by ons in – 20 Maart 2011
Die Christelike lewe kan op verskillende maniere beskryf word. ‘n Mens kan sê dat dit oor God gaan wat hierdie wêreld met sy liefde en genade wil oorrompel – die sogenaamde Missio Dei. ‘n Mens kan sê dat dit gaan oor die koninkryk van God gaan waaraan ons as gemeente meewerk.
Maar, in die praktyk van elke dag gaan dit doodgewoon oor ‘n Christelike lewenstyl. Dit is wat mense van ons raaksien. Dit is die cutting edge van die Christelike lewe, nie wat ons sê oor God of oor die kerk of oor die koninkryk nie, maar wat ons leef.
Paulus sê op ‘n kol: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees” (Fil 1:27).
Een van die maniere waarop die kerk deur die eeue hierdie Christelike lewenstyl aangeleer en gekoester het, was deur praktiese geestelike gewoontes.
En dit is met dié bril wat ek na hierdie perikoop in Jesaja wil kyk, om agter te kom, wat se lewenstyl verwag God van ons? Hoe wil Hy hê moet ons lewe? Of anders gestel, wat wil God hê moet ander in my lewe raaksien?
En daar is drie dinge wat vir my hier uitstaan van die tipe lewenstyl wat God van ons vra, drie geestelike gewoontes wat ons moet beoefen – dit het met die onderhouding van die sabbat te make, met die insluiting van anderse mense, en met gebed.