Orrelvoorspel
Lied 476 “’n Vaste burg is onse God”
Verwelkoming
- Hervormingsondag – Piet Naudé 10 stellings
- Tiende maand – R305 000 mikpunt
- Woensdag 3 Nov bid- en dankgeleentheid vir reën 17:15 die middag
- Bloemendal basaar Donderdag en Vrydag by Bloemendal, 4-5 Nov – skenkings nodig!
- Bloemendal ontbyt Vrydag 5 Nov – belangrike geleentheid – R100 by Rethie
- Kensington hou basaar in Walmer se kerksaal, Vrydag 5 Nov van 16:00 af
- Kermis Waltonpark Saterdag 6 Nov 10:00 in hulle sentrum
- Scrap book ook Saterdagoggend 6 Nov in Ark 09:00-12:00
- “Haai”-tee 13 November by rolbalklub
- Kategete
- Vergaderings: ouderlingeraad, kerkraad, Klub 65
- Ander aktiwiteite: Vistarus, CMR, klere nodig, Sihaha Skills Institute, EE III Leierskliniek
- DINGE GEBEUR HIER!
Aanvangswoord
Voorganger: God is vir ons ’n toevlug en beskerming.
Gemeente: Hy was nog altyd bereid om ons te help in nood.
Voorganger: Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad,
Gemeente: al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
Voorganger: al druis en skuim die waters van die see,
Gemeente: al skud die berge deur sy onstuimigheid.
Voorganger: Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
Gemeente: Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob
is vir ons ’n beskutting (uit Ps 46:2-4, 11-12). Amen.
Toetrede
Lied 158 “Bring my na u woning, Here” (sit)
Koor vers 1 en 2, gemeente vers 3
Seëngroet
Votum en Seëngroet
Lofsang
Lied 478:1-2 “Op vaste fondamente” (staan)
Lied 476:1,2,4 “’n Vaste burg is onse God” (sit)
Gemeente vers 1 en 4, koor vers 2
Verootmoediging
Voorganger: Wat is ons enigste troos in lewe en in sterwe?
Gemeente: Dat ek met liggaam en siel
in lewe en in sterwe
nie aan myself nie,
maar aan my getroue Verlosser,
Jesus Christus, behoort.
Voorganger: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Gemeente: Drie dinge:
hoe groot my sonde en ellende is;
hoe ek van al my sonde en ellende verlos is;
hoe ek God vir hierdie verlossing dankbaar moet wees.
Voorganger: Waaruit ken jy jou ellende?
Gemeente: Uit die wet van God.
Voorganger: Wat vra die wet van God van ons?
Gemeente: Jy moet die Here jou God liefhê
met jou hele hart
en met jou hele siel
en met jou hele verstand.
En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Voorganger: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Gemeente: Nee, want ek is van nature geneig
om God en my naaste kwaad aan te doen.
Voorganger: Kom ons bely ons skuld voor die Here.
Skuldbelydenis
Lied 235:1 “Voor u wet, Heer, staan ons skuldig” (sit)
Vryspraak
Romeine 6:3-4
Toewyding
Flam 108 “Jesus maak my soos ‘n sonstraal om elke dag te skyn” (sit)
Kindertyd
(Kyk ook onderaan vir die Poppekas dokument wat ek vir die
kleintjies uitgewerk het, waar die boodskap van God wat
anders kyk na mense, verder in die verhaal van Dawid se
verkiesing as koning uitgewerk word)
In Jesus se tyd was daar ’n man. Sy naam was Saggeus. Hy het in Jerigo gebly.
Hy was baie ryk. Maar hy was nie baie eerlik nie. Hy het ander mense se geld gevat.
Toe hoor Saggeus Jesus was op deur sy stad. En hy wou só graag vir Jesus sien.
Maar, hy kon hom nie sien nie, want hy was te kort. Daar was aan mekaar mense voor hom.
Toe besluit hy, ek gaan in ’n boom klim. En hy hardloop vooruit en klim in ’n wildevyeboom.
Toe Jesus daar verby kom, wat dink julle gebeur?
Ja, Jesus kyk op en sien vir Saggeus raak.
“Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”, sê Jesus vir Saggeus.
O, en die mense was kwaad. Hy het hulle geld gesteel. Dit is dié dat hy so ryk is. Jesus kan mos nie by ’n sondige man tuis gaan nie?!
Maar, Saggeus sê vir Jesus: “Ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee. En as ek iemand se goed gesteel het, sal ek dit vir hom vierdubbeld terug gee.” So Saggeus maak reg wat hy verkeerd gedoen het.
En Jesus was so bly dat Saggeus weer eerlik geword het. Hulle het te lekker saamgeëet voor Jesus weer op pad was.
Saggeus was die laaste dissipel wat Jesus geroep het. En baie mense dink dat hy later een van die twaalf dissipels geword het, toe Judas nie meer een was nie.
Wat leer die storie ons? Jesus sien ons raak, wie ons ook al is. Of ons nou te kort is, of iets verkeerd gedoen het. Jesus sien ons raak. En as ons dít agterkom, dat verander ons lewe ook. Want Jesus help ons om weer eerlik te wees, en Hy help ons om maats te wees met die ander.
En ons kan dit mos ook doen. Ons kan ander help deur maats met hulle te wees. Ons is mos sonstrale, ons is maats met ander kinders.
Doopherinnering
Watter wonderlike dag, Hervormingsondag, om mekaar daaraan te herinner dat ons verlossing vasgemaak is by God deur Jesus Christus alleen. Ons het verlede week Nagmaal gevier, volgende week gaan ons ons Tiende Maand dankoffer vier en ons dankoffer hier voor in die blou kis kom gooi.
Vandag wil ek hê dat ons ons Doop vier. En ek gaan dit met die kinders doen, maar u kan dit vir uself ook toe-eien. Aan die einde van die diens sal ek by die doopvont wees as iemand wil kom dat ek as viering van jou doop met my nat hand op jou voorkop druk.
Gebed
Skriflesing
In Lukas 19 is Jesus teen die einde van sy reis van Galilea na Jerusalem, waar Hy sou sterf. Saggeus, die kort, skatryk mannetjie, tollenaar en hoofskurk van Jerigo, word die laaste dissipel wat Jesus op sy reis na Jerusalem werf.
Ietsie oor die tollenaars. Die Romeine het tollenaars gebruik om belasting in te samel. Anders as vandag moes die belasting vir ’n spesifieke gebied en vir ’n spesifieke tydperk vooraf aan die Romeinse owerheid oorbetaal word. In ruil vir hierdie belegging in Rome se staatskoffers kon die tollenaars dan gelde of goedere uit die gebied invorder. In hierdie proses het hulle dan hul finansiële uitleg gedek en ook wins gemaak.
Tollenaars was ook die loan sharks van die tyd. Sodra jy finansieel in die moeilikheid beland het, kon jy by die tollenaar gaan geld leen, teen geweldige hoë rente.
Deur die toedoen van Saggeus se beroep het mense verarm, was daar nie kos op die tafel nie, en was ’n behoorlike, menswaardige, ekonomies volhoubare lewe vir baie mense nie moontlik nie. Terselfdertyd het Saggeus die soustrein gery, en waarskynlik nie die einde van sy skatte geken nie.
Kom ons lees sy verhaal in Lukas 19:1-10
Woordverkondiging
Israel Galindo (The Hidden Lives of Congregations – Understanding Church Dynamics) sê daar is net twee goed wat belangrik is in ’n gemeente. Dit bepaal al die ander dinge:
- Om ’n gedeelde taal te hê – om te kan saampraat, om te kan verstaan, om ’n bydrae te kan maak wat ander sal verstaan – Shared Language
- Om saam te wees – om te behoort, om deel te wees van, om in te pas – Being Together.
Gedeelde taal
Die Bybel is ’n gedeelde taal. Die Nagmaal is ’n gedeelde taal. Die Doop is ’n gedeelde taal. Die liefde is ’n gedeelde taal. Ons geloofsbelydenisse is ’n gedeelde taal. Die hele Hervorming en die nalatenskap van Luther en Calvyn is ’n gedeelde taal. Ons liedere is ’n gedeelde taal.
En die oomblik as ons daaroor verskil, is daar die moontlikheid van konflik, beïnvloed dit die dinamika van ons gemeenskap met mekaar. Die verskil kan gesond wees wat ons uiteindelik by ’n beter manier van praat kan uitbring, of ongesond as die taal verskeurdheid bring of selfs net doodgewoon verkeerd is. Hoe ook al, dit beïnvloed ons gemeentelike lewe.
Want, die ander belangrike ding in ’n gemeente, is om saam te wees.
Saamwees
Dit is waarom ons Sondagmôre aantrek en regmaak, kinders bymekaar maak, en hiernatoe kom. Ons wil saamwees met mekaar rondom ons gedeelde taal, die Bybel, die liedere, die geloofsbelydenis, die prediking, die gebede.
En ons doen dit hier en in ons kleingroepe, waar ons saam diens doen by die bosslapers, die kinderhuise, die sopkombuise, die pannekoek bak by die kermis – ons vier ons saamwees, ons bou aan ons saamwees, ons groei in ons saamwees.
En die oomblik as ons begin om mekaar te mis en nie meer opdaag nie, dan kom ons gemeentelike lewe in spanning, ontstaan daar ongelukkigheid, en interessant genoeg, begin dit ons gedeelde taal bedreig. Want ons hoor nie meer wat ander hoor nie, ons eie verstaan word nie meer aangevul met ander se luister nie, en dan beïnvloed dit die dinamika van ons gemeenskap met mekaar.
Die taal wat ons praat, en die saamwees met mekaar, bepaal alles in ons gemeente: Alles.
Dit is wat ons laat voel ons behoort in en aan hierdie gemeente, dit is ons plek dié, dit is ons mense, EN, soos Peter Block sê (Community – the structure of belonging), dit laat ons voel dat die gemeente aan ons behoort, dit is ons s’n, ons is verantwoordelik, ons is rentmeesters, ons moet dit laat werk.
God is inklusief
Die gevaar is egter dat só ’n taal eksklusief kan raak – dat ons ander, wat anders as ons praat, uitsluit, mense wat anders doen as ons, kan wegstoot en ’n kliek kan vorm.
En dit gaan teen die natuur van God in en die gemeenskap wat Hy stig. Want ons God is ’n inklusiewe God. Hy het niks nodig gehad nie. Hy was volmaak … maar Hy het ’n wêreld geskep, uit die niks uit in aanskyn geroep, en mense daarop geplaas wat in sy kring ingesluit kan word. Hy het hulle ’n taal geleer, selfs toegelaat dat hulle saam help skep aan ‘n gedeelde taal – Adam wat die diere name gee – en Hy het saamwees met mense op prys gestel: Adam en Eva, Henog, Abraham, Moses, Dawid en so kan ’n mens aangaan.
Dit is die krisis van die sonde, nie net dat dit God se wet oortree nie, maar dat dit ons saamwees beïnvloed, en uiteindelik ons ’n ander taal as God laat praat.
Saggeus
Dit is wat met Saggeus gebeur het. Hy het sy eie belang vooropgestel. Hy het met dollar-oë gekyk (of was dit nou shekel-oë, die geld-eenheid van daardie tyd) en mense uitgebuit. En daarmee nie net van God afvallig geraak nie, maar is met reg uit die gemeenskap van Jerigo uitgestoot. Hy was net klein in lengte, hy was groot in gierigheid. Maar dit het hom gekos – die gemeenskap met God en die gemeenskap met Jerigo se mense kon hy nie meer geniet nie.
Wat doen God? Sê hy, dit is jou verdiende loon, jy wil nie my taal praat nie, jy wil nie saam met My wees nie? Krepeer in jou ellende?
Nee, Jesus stap verby die vyeboom en sien vir Saggeus raak in die boom en praat met hom, begin weer die gesprek, en gaan nog verder, dring daarop aan dat Hy by hom wil gaan eet. God reik dus uit en dring Saggeus se ruimte binne om die gemeenskap tussen hulle te herstel.
Hoekom? Want God is ’n inklusiewe God: die Een wat die skaap wat verdwaal het, gaan haal; die Een wat die muntstuk wat weggeraak het, soek tot Hy hom vind; die Een wat met verlange wag vir die verlore seun en selfs uitgaan na die oudste broer en hom innooi na die feesmaal toe, as die oudste broer die jongste broer nie terug wil verwelkom in die vaderhuis nie.
Dit is wie God is. En jy kan maar regdeur die ander verhale van Jesus gaan – dit is wie Hy by uitstek uitgebeeld word: selfs in die Emmaus verhaal met Kleopas en Maria is dit Jésus wat naderkom om saam met hulle te loop, dit is Hý wat die gesprek oor die Bybel aan die gang sit, én uiteindelik in hulle huis Hom aan hulle openbaar.
So, as ons tema vir vandag inklusiwiteit is – Leef inklusief – dan is dit in die eerste plek ’n beskrywing van wie God is. Dit is die teologie wat ons geloofspraktyk dra.
En uiteraard vra Hy van ons om op dieselfde manier te leef.
Spiritualiteit
Ons dink baie keer oor ons geestelike volwassenheid uit die hoek van ons stiltetyd en ons kerkbywoning en hoe ons met die Bybel en God omgaan. Ons beskryf dit baie keer as ons spiritualiteit – en in die lig van Galindo se onderskeiding, as ons gedeelde taal.
Maar gasvryheid – soos ons nou al vele kere gehoor het in dié reeks die kwartaal – is net so ’n belangrike eienskap van geestelike volwassenheid, van ons spiritualiteit. Soos Jimmy Dorrell (Pass the Potatoes, Please) skryf:
“Who sits at our dinner tables is an important indicator of our spiritual condition”
Die Bybel is vol daarvan dat ons geloof gemeet kan word aan doodgewone goed soos om die hongeriges kos te gee, die siekes en die gevangenes te besoek, en vreemdelinge gasvry te ontvang. Dink maar net aan die skeiding tussen die skape en die bokke aan die einde van die tyd, wat op grond van sulke goed gedoen word (Matt 25:34-36).
Ons naaste is nie die een wat langs ons bly nie. Ons IS ’n naaste as ons stilstaan by die mens in nood en iets aan sy lot doen. Dit is die geméngde ras Samaritaanse man wat vir ons ’n model word van hoe in die koninkryk van God opgetree word. Ons ken hom as die Barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37) wat vir ons wys hoe ’n naaste is, en wat ’n naaste doen, en hoe gasvryheid werk.
Jimmy skryf spitsvondig oor Jesus se “working lunch” met Saggeus en dat Jesus wys wat inklusiwiteit is, net soseer – moet ek byvoeg – as wat Saggeus wys wat gasvryheid is deur Jesus in te nooi: “met blydskap” (Luk 19:6).
Saggeus se hele lewe verander
En so kom daar verlossing vir hierdie huis. Saggeus gee die helfte van sy “gesteelde” goed vir die armes, en van iemand wat hy iets afgepers het, gee hy dit vierdubbel terug. En ten spyte van die beswaar van die gemeenskap (“almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak”!) maak Jesus hom weer deel van die gemeenskap, sluit Hy hom in in die nageslag van Abraham, en in die gemeenskap van Jesus in.
Hierdie ontmoeting verander sy hele lewe. Saggeus word wat sy naam in die eerste plek beteken het: “skoon” of “onskuldig” (afgelei van die Hebreeuse woord “Zakka” (Neh 7:14; Esra 2:9).
Klemens van Aleksandrië, ’n vroeë kerkvader, skryf in sy boek Stromata dat Saggeus deur die dissipels Mattias genoem is, dieselfde Mattias wat die plek van Judas Iskariot in die apostelkring na Jesus se hemelvaart oorgeneem het (Hand 1:26). Latere geskrifte sê dat Saggeus die Tollenaar die eerste biskop (kerklike leier) van Sesarea geword het, die plek war ook Kornelius die Here ontmoet het deur die bediening van Petrus.
Jerigo verander ook
Maar belangrik. Dit is nie net Saggeus wat verander nie. Daar kom ook verlossing vir die gemeenskap van Jerigo. Dink aan die talle mense in Jerigo wat verarm is deur Saggeus se opportunistiese finansiële tegnieke. Wanneer die hoofskurk Jesus vind, en sy lewe verander, kan mense weer ekonomies asem haal en is hulle lewe veilig. Saggeus se bekering sit kos terug op kinders se borde. Dit beteken dat arbeiders, handelaars, boere, alle ekonomies aktiewe persone in die bevolking ’n sug van verligting kan slaak. Daar het ekonomiese uitkoms gekom.
Jerigo is verlos van ’n parasiet wat dood gesaai het. Saggeus kry nie net ’n gemeenskap terug nie. Die gemeenskap kry ’n weldoener. Die armes kry ’n versorger. Die wat afgepers is, word gekompenseer en kry lewensmiddele.
Jesus leef inklusief
Ek sluit af. ’n Mens kan dié verhaal van verskillende kante af bekyk en wys hoe gasvryheid werk: Saggeus wat God se toenadering aanvaar. Die skare wat dit mis omdat hulle hom nie in hulle kring wil aanvaar nie.
Wat ek egter wil hê ons moet raaksien en met ons saam moet neem, is hoe Jesus hier optree, en hoe Hy vir ons wys hoe ’n mens Inklusief leef. Jesus is hier vir ons die model wat ons moet navolg, want HY leef inklusief.
En let op dat dit op ’n ongeskeduleerde, spontane manier gebeur – Jesus was immers op pad deur die stad (19:1) na Jerusalem toe (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31; 19:28). Hy moes die finale uitdaging van die kruis gaan trotseer. Tog onderbreek Hy sy reis, en sien ’n sondaar-parasiet raak in die boom en verander sy lewe deur by hom stil te staan.
Dit gaan dus nie net oor die eindbestemming van Jerusalem nie, hoe belangrik dit nou ook al is. Dit gaan nie eers oor die voorbereide etes met uitgesoekte gaste nie. Dié sou Jesus ook hê by sy vriende in Betanië waar hy die laaste week van sy lewe sou deurbring.
Maar, wat ons moet raaksien, dit gaan in die lewe ook oor die spontane ontmoetings van elke dag, waar uitgereik word, waar ingesluit word, waar bederf word.
En dit sal altyd beteken dat ons ’n grens van een of ander aard moet oorsteek: sosiaal, ekonomies, selfs moreel, as ons Jesus en die Samaritaanse vrou (Joh 4) en die vrou wat in owerspel gevang is (Joh 8) in gedagte hou.
En, laat ons eerlik wees, dit is ’n risiko, dit kan jou kos – soos ek ’n tyd terug gepreek het.
Maar, en dit is ’n belangrike maar, dit is ook die begin van ’n geestelike avontuur, van ’n ervaring van die Heilige Gees se werking, wat verlore mense deur ons aksies van gasvryheid weer insluit in die kring, die gemeenskap van gelowiges.
Elke ontmoeting van elke dag raak dan ’n potensiële punt waar God se werk sigbaar word.
Geestelike gewoonte – Leef inklusief
Dit is nie nodig om te begin met groot treë nie.
- Nooi ’n nuwe intrekker na jou sel of Bybelstudiegroep – en daar is ’n paar wat die week my daaroor gebel het.
- Besoek ons bosslapers se sopkombuis op Woensdae.
- Gaan Barcelona toe en kyk wat daar gebeur.
- Neem jou kinders saam na MTR Smit toe en begin uitreik na kinders wat nie dieselfde gemeenskapsvoorregte as jy en joune het nie.
- Kies een mens uit die talle wat voor jou deur verbykom en maak ’n verskil aan ’n enkeling se lewe – deur nie net kos te gee nie, maar uit te vra na ware behoeftes en betrokke te raak.
Natuurlik is dit ’n risiko. Natuurlik gaan jy soms jou vingers verbrand … gaan jy soms mislei word.
In die proses is jy egter besig om die Here se werk te begin raaksien, om met sy oë te begin kyk en die Saggeuse van die lewe raak te sien … en bring dit ’n nuwe energie in jou geestelike lewe wat kosbaar en kragtig is.
Leef inklusief … soos God inklusief leef.
Soos Jimmy Dorrell, (Pass the Potatoes, Please), sê:
In the mystery of God’s upside-down ways, God uses common acts of hospitality to strangers to overcome cultural barriers with others and bring us closer to Him.
Gebed
Dankoffers
Lied 531 (koor) “Ons Here, God van alvermoë”
Slotlied
Lied 414 “Juig, verlostes, juig en sing.” (staan)
Seën
Wegsending
Lied 311 “Dit wat ons hier ontvang het” (staan)
Koor is voorsangers
Doopviering
Kom na die doopvont waar ek as viering van jou doop my nat hand op jou voorkop sal druk.
Orrelnaspel
Psalm 146 “Prys die Here, loof en prys Hom”
