2 Konings 11-12: Erediens – Om God te aanbid in ‘n wêreld waar geestelike strukture bouvallig raak – Son 5 September 2010

Ons assosieer die woord aanbidding, worship, gewoonlik met godsdiens en ‘n erediens.  Maar aanbidding kan natuurlik ook gevind word in die lewe van agnostici, selfs ateïste.  Adele Calhoun skrywe: “The simple truth is that everybody looks to something or someone to give their lives meaning” (Spiritual Disciplines Handbook 2005: 45).  Die dinge waarvoor ons lief is, die dinge wat ons waardeer, die dinge waarop ons fokus het ‘n groot impak op ons.  Dit gee aan ons lewens betekenis.  En dit bepaal wie ons ten diepste is.

Sommige mense het ‘n groot klem op onafhanklikheid – en sal alles in hulle vermoë doen om dit te verseker: die tipe werk wat hulle doen, die plek waar hulle bly, die instrumente waarin hulle belê, die verhoudinge wat hulle sal najaag of toelaat in hulle lewe.

Sommige sal hulle lewe gee vir ander se goedkeuring, of om sukses te behaal in die loopbaan wat hulle gekies het, of sal fokus op dinge wat hulle gelukkig maak, of beheer gee in die lewe.  En sommige sal fokus op mag, hoe om dit te kry, en hoe om dit te behou.

Atalia

Atalia was só ‘n persoon.  Sy was die dogter van Agab van Samaria, die koning van Israel in Elia se tyd, wat getroud was met Isebel.  Wat ons van Atalia agterkom, is dat daar twee dinge was wat haar gedryf het.  Haar godsdiens, en haar sug na mag.

Continue Reading2 Konings 11-12: Erediens – Om God te aanbid in ‘n wêreld waar geestelike strukture bouvallig raak – Son 5 September 2010

2 Konings 5: Erediens – Om met verwagting te lewe in ‘n wêreld waar God nog wonders doen – Son 22 Augustus 2010

1.  Die heldin in hierdie verhaal is ‘n klein dogtertjie.

Ons weet van haar net ‘n paar goed.  Ons weet sy kom van Israel af en is in een van die oorloë tussen Israel en die Arameërs weggevoer deur die soldate. Sy was nog ‘n baie jong dogtertjie en het ‘n slaaf geword vir Naäman, die bevelvoerder van die Aramese leër.  So sy was Joods, jonk en ‘n slaaf.

Maar daar is iets anders wat ons van haar agterkom.  Sy word nie die heldin in dié verhaal omdat sy Joods is of jonk of ‘n slaaf nie.  Sy word die held in die verhaal omdat sy weet wat niemand anders weet nie.  Sy weet wie haar baas kan help toe hy siek raak van melaatsheid.

Nou, ons lees nie in die Bybel dat sy vir Elisa geken het nie.  Ons weet nie verseker of sy geweet het van die wonder van die broodvermeerdering waarvan ons in hoofstuk 4 gelees het nie.  Ons weet nie of sy verseker geweet het van die weduwee se kruik wat nooit leeggeraak het nie.

Maar iets soortgelyks moes sy geweet het, want dit is haar kennis van wat Elisa, die profeet van die Here, gedoen het, wat lei tot die genesing van Naäman.

Maar wat vir my veral interessant is, is dat sy hoegenaamd iets sê!  Sy kon stilgebly het.  Sy het nie nodig gehad om enigiets te sê.  Die Armameërs het haar leed aangedoen.  Sy is weggeneem by haar mense, en onthou sy was nog baie jonk.  Sy het nie meer vryheid gehad nie.  Sy moes vir haar nuwe base help in die huis.

En tog – toe sy hoor van haar baas se melaatsheid, en sy weet sy het inligting wat vir hom iets kan beteken, toe sê sy dit vir hom.  Sy help haar vyande – en word so vir ons almal ‘n voorbeeld van wat dit beteken om God te ken en die goeie nuus te vertel wat ander mense se lewens kan verander.

Ons sien dus hier dat kinders – maak nie saak hoe klein hulle is nie, maar nie saak hoe min hulle eintlik in tel is in die groter wêreld waar ander baie keer bo-oor hulle en hulle belange loop nie – hulle het ‘n rol te speel.  En daarmee is sy ‘n voorbeeld vir almal van ons.

Continue Reading2 Konings 5: Erediens – Om met verwagting te lewe in ‘n wêreld waar God nog wonders doen – Son 22 Augustus 2010

2 Kronieke 16: Erediens – Om te vertrou in ‘n wêreld waar broedertwis is – Son 1 Augustus 2010

Fokus

Die Here is daar vir dié wat Hom vertrou, selfs al is die versoeking daar om jou eie planne te maak om konflik met ander te hanteer.

(Dié preek word geplaas om in te pas by die reeks, hoewel ons 'n gasprediker, ds. Andrew Fransman van die VGK Bloemendal, vir hierdie Sondag gehad het).

Lees 2 Kronieke 16

Kernvers: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” 2 Kron 16:9

Heerlike belofte

Ons luister baie keer na die vers in Kronieke en maak dit op onsself van toepassing.  Dit is ‘n heerlike belofte: Dit is een van daardie verse in die Bybel wat ’n mens onderstreep en vir jouself toeëien.  Dit bevestig aan ons dat die Here sy oë op sy kinders hou en vir hulle sorg.

Maar ons vergeet maklik van die konteks waarbinne dié woorde die eerste keer gebruik is.  Die woorde is gebruik om koning Asa te bestraf, omdat hy juis nie die Here vertrou het nie.

En dit het die koning so ontstel dat hy die siener Ganani in die tronk laat stop het, omdat hy dit durf waag het om só met hom te praat.

Continue Reading2 Kronieke 16: Erediens – Om te vertrou in ‘n wêreld waar broedertwis is – Son 1 Augustus 2010

1 Konings 3: Erediens – Om te luister in ‘n wêreld waar wysheid nodig is – Son 18 Julie 2010

Ek bewonder wysheid

As daar een ding is wat ek bewonder, is dit wysheid.

As daar een ding is wat ek begeer, is dit wysheid.

As ek terugdink oor my lewe is dít die dinge wat vir my uitstaan, die kere wat ek dit reggekry het om met wysheid op te tree.  Soms, ongelukkig, staan ook die kere uit, waar ek dit nie reggekry het nie.

Dit het te make met dinge in my persoonlike lewe, my familielewe, my lewe in hierdie land, sowel as my professionele lewe.  Ek voel goed oor dié dinge wat vir my as wyse keuses uitstaan, en ek voel sleg oor die dinge wat ek weet onwys was, en waarmee ek natuurlik moet saamleef.

Maar wat is wysheid?

Is dit gekoppel aan ‘n mens se vermoëns, of jou vaardighede, of jou opvoeding, of jou gemeenskap, of jou godsdiens, of aan mentors, of jou ouers?

Salomo se wysheid

Ons dink natuurlik verskillend daaroor, en ons sal verskillende definisies daarvoor hê, en daar is in elk geval nie net een regte antwoord nie, maar die meeste van ons sal saamstem dat die storie van Salomo wat ons gelees het, wat hierdie twee ma’s help, wat stry oor wie se kind nou eintlik oorlewe het, wysheid illustreer.

Want, onthou, hy kon nie sy toevlug tot DNA toetse neem nie.  Hy kon nie ‘n forensiese ondersoek loods en bo alle redelike twyfel die biologiese verbintenis aan die regte ma bewys nie.  Dit was ‘n eersteklas dillemma vir ‘n nuwe jong koning.

Hoe het hy dit reggekry om met soveel wysheid op te tree?

Continue Reading1 Konings 3: Erediens – Om te luister in ‘n wêreld waar wysheid nodig is – Son 18 Julie 2010

Galasiërs 6:1-17 – Saai op die akker van die Gees – Son 4 Julie 2010

'n Mens deur ander mense

Waar die Westerse wêreld dit al vergeet het, sê die mense van Afrika: 'n Mens is (net) 'n mens deur (ander) mense. Indiwidualisme, waarin ons (ek) my identiteit soek, is soos God se eerste poging om vir die mens 'n hulp te probeer kry tussen die diere.  Dit kan nooit slaag nie.

Nee, ons het mense soos onsself nodig om regtig mens te wees en te word.

Baie boeiende, roerende stories is al geskryf oor hierdie tema. Dink aan die verhaal van Robinson Crusoe, wat alleen op 'n eiland uitspoel. En dadelik begin soek na iemand, 'n medemens. En dit vind in Man Friday.

Continue ReadingGalasiërs 6:1-17 – Saai op die akker van die Gees – Son 4 Julie 2010

Galasiërs 5:1,13-25 – Laat die Gees jou gedrag bepaal – Son 27 Junie 2010

Ek wil vandag ‘n bekende standbeeld as ‘n metafoor gebruik, die Statue of Liberty aan die Amerikaanse Ooskus, in New York.

Die "Statue of Liberty" is in 1886 deur Frankryk aan die VSA geskenk.  Vir die mense van die VSA simboliseer sy vryheid, ‘n waarde wat vir hul land baie belangrik is.

Baie van die burgers van die VSA se voorouers was immigrante.  Soos wat hulle die land per boot genader het, was die standbeeld die eerste ding wat hulle gesien het.  Dit was asof sy hulle verwelkom het met haar arm in die lug:  "Hier is jy welkom.  Hier sal jy vry wees."

Oor die jare het hulle egter ook geleer dat vryheid met verantwoordelikheid saamgaan.  Dikwels, wanneer vryheid bedreig word, het mense die standbeeld gebruik om hul mede-burgers te herinner dat vryheid en verantwoordelikheid bymekaar hoort.

En dit is in ‘n neutedop wat die Galasiërbrief in hoofstuk 5 ook vir ons wil sê.  Dit begin met die belangrike fokus op die vryheid wat Christus vir ons bewerk het.  En dit eindig met die verantwoordelikheid wat ons het om ons lewe deur die Gees te laat bepaal.  Vry, maar verantwoordelik.

Continue ReadingGalasiërs 5:1,13-25 – Laat die Gees jou gedrag bepaal – Son 27 Junie 2010

Galasiërs 3:23-29 – In Christus is julle almal één – Son 20 Junie 2010

Skriflesing

Inleiding

Wanneer ons hierdie teks in Galasiërs lees, is daar twee goed wat ons moet verstaan:

1) Die Joodse Christene het meesal gedink dat as heidene (veral Grieke) Christene word, hulle die Joodse wet en tradisionele bepalings moet gehoorsaam. Hulle was oortuig dat die geloof in Jesus Christus "aangevul" moet word deur die onderhouding van die wet van Moses. Dit is wat ons reeds in Antiochië agterkom (Hand 15:1): "Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: ‘As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie'".

Soos ons sal sien, en die sinode in Jerusalem al gesê het, argumenteer Paulus egter dat die wet net 'n soort "noodhulp" vir gelowiges was totdat dit in en deur Christus vervul sou word. Die verlossing in Christus was vir hom volledig. Daartoe hoef niks bygevoeg word nie.

Continue ReadingGalasiërs 3:23-29 – In Christus is julle almal één – Son 20 Junie 2010

Galasiërs 2:15-21 – Jy is welkom net soos jy is – Son 13 Junie 2010

Inleiding

Die brief is deel van ‘n gesprek tussen Paulus en die Galasiërs, heel waarskynlik in die vroeë vyftiger jare van die eerste eeu.  Ons kan natuurlik net hoor wat Paulus sê, en daarby het ons nie die gesprek van die begin af gehoor nie.

Daaruit lei ons af dat Paulus aanvanklik goeie verhoudings met hulle gehad het - ‘Julle het my nooit sleg behandel nie', sê hy in 4:12.  Maar, dat hulle hom nou teleurgestel het deur ‘afvallig te word en 'n ander evangelie' aan te neem (1:6).

Wat ons agterkom uit die Galasiërbrief is dat hulle onder druk was om ‘die wet van Moses te onderhou' (Gal 3:2). En dit was spesifiek verbind aan die vraag: Hoe word ek deel van God se volk?  Hoe is ek ‘n ware kind van Abraham?

Vir Jode van dié tyd was die antwoord voor die hand liggend: jy word deel van God se volk deur die wet van Moses te onderhou. Vir baie van die Joodse Christene was die wet egter ook steeds belangrik, jy moet in Jesus glo EN jy moet die wet onderhou.  Jy word deel van die Christen gemeenskap deur in Jesus te glo, en jy bly deel van die Christelike gemeenskap deur die wet te onderhou.

En hulle het dié gedagte in die kele van die Galasiërs afgedruk. So as hulle elke Sondag in die huis van (sê nou maar) Rufus bymekaar gekom het, was die vraag, hoe verseker ek dat ek deel van hierdie groep kan bly.  Die Joodse Christene se antwoord: deur in Jesus te glo EN die wet te onderhou.  En ‘n hele aantal van hulle het onder dié druk geswig en die Joodse denkwyse aanvaar.

Paulus se boodskap aan die Galasiërs van nie-Joodse afkoms was duidelik: noudat Jesus, die Messias, gekom het, het sake fundamenteel verander. Nou was toegang tot God en tot God se volk nie meer deur twee deure nie, Jesus en die wet nie, maar net deur een: Jesus Christus. Wie dit wou ontken, het nie die blye boodskap by plaaslike omstandighede effens aangepas nie, maar ‘n ander evangelie' (Gal 1:6) verkondig - terwyl daar ‘geen ander evangelie' is nie (v. 7).

En dit is wat ons in gedagte moet hou as ons dié gedeelte saamlees.  Paulus sê dit is Jesus Christus alleen wat jou deel maak van die volk van God.  Die wet is nie 'n deur na God toe nie.  "Ek is die weg ..." sê Jesus.

Continue ReadingGalasiërs 2:15-21 – Jy is welkom net soos jy is – Son 13 Junie 2010