Verwelkoming
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Toetrede
Luisterlied “Ek wil U hoor, ek wil in stilte by U rus” (sit)
Votum en Seëngroet
Lofsang
Lied 159 “God is hier teenwoordig; Laat ons biddend nader.” (staan)
Lied 258 “Vreugdevolle tyding, bron van hartverblyding, evangeliewoord!” (staan)
Toewyding
Flam 108 “Jesus maak my soos ‘n sonstraal om elke dag te skyn” (sit)
God praat met ons en ons luister
Kindertyd
- Geluide
- Storie vertel – ons moet God se stem so goed leer ken, dat ons onmiddellik weet as Hy praat.
Gebed
Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer” (sit)
Skriflesing
Lukas 10:38-42
Woordverkondiging
Jesus is vasbeslote op reis na Jerusalem. Hy weet dat sy lyding die kruis sal insluit. Hy het dus ‘n behoefte aan gasvryheid.
Die eerste plek op sy reis waarvan Lukas ons vertel is as Hy deur ‘n dorp van die Samaritane gaan, en hulle weier om Hom te ontvang en Hom verblyf te gee (Luk 9:51-56). Sy dissipels is woedend daaroor en wil sommer ‘n oordeel oor hulle uitspreek. Jesus keer hulle egter en in ‘n gesprek met hulle verwoord Hy sy pyn, maar sonder verwyt: “Die Seun van die mens het nie eers ‘n rusplek vir sy kop nie,” sê Jesus (9:58).
Die tweede gebeure waarvan Lukas ons vertel, is as Hy 72 van sy dissipels stuur na ander dorpe om die evangelie te verkondig. Hy spel spesifiek uit dat hulle hul op die gasvryheid van die mense moet verlaat (10:1-15). In die mense se gasvryheid en luister, al dan nie, word hulle gehoorsaamheid aan God sigbaar: “Wie na julle luister, luister na My; Wie julle verwerp, verwerp My” (10:16).
En dit het ‘n groot effek – sommige mense ontvang hulle met gasvryheid en hoor só die evangelie. Die dissipels verbly hulle daaroor en in hulle terugrapport kom ‘n mens agter dat dit Jesus intense plesier gee.
Dan is daar in die derde plek kort hierna ‘n wetsgeleerde wat met Jesus aan die gesels raak oor die koninkryk van God en vra: “wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus antwoord hom met ‘n samevatting van die wet, dat jy God en jou naaste moet liefhê (10:25-28). En vertel dan die verhaal van die Gasvrye Samaritaan, om die wetsgeleerde te leer dat gasvryheid vir die vreemdeling naasteliefde is. Hy betoon immers gasvryheid aan die man wat onder rowers deurgeloop het deur hom in die herberg te laat versorg, in sy barmhartigheid (10:29-37).
En dan kan ‘n mens nie anders om die volgende verhaal, die verhaal van Marta en Maria met ‘n gans ander bril te lees nie.
Kom ons kyk eers na Marta:
- Marta ontvang Jesus as gas. Sy doen dus dít wat die Samaritane nie vir Hom wou gee nie. Sy is die Gasvrye en Barmhartige Samaritaan! Sy maak alles klaar om Hom te bedien. En daarin is sy reg. Dit is gasvry.
- Maar dan wil Marta hê dat Maria ook soos sy moet optree. Dit laat haar ongasvry optree deur Jesus te berispe asook haar suster. Jesus wys haar tereg daaroor tereg! Lukas vertel van haar dat sy baie bedrywig geraak het (perispaomai – hardloop heen en weer), eintlik té bedrywig en dit eindig by stres en veroordeling van dié wat nie soos sy rondhardloop en bedien nie. Veral toe sy haar suster “sien” sit en niks doen nie! Let op hoe sy eintlik die Here Jesus self aanvat: Here, hinder dit nie vir U nie …!? En let op dat sy Hom beveel: sê vir haar sy moet my kom help! Haar gasvryheid raak dus vir haar ‘n las … en vir Jesus … en vir Maria!
- Wat was Marta se probleem? Sy kon nie meer onderskei tussen wat belangrik is en wat nie.
- Let op dat Jesus haar sag aanspreek: Marta, Marta … sagte vriendelike simpatieke woorde. Jy is bekommerd oor te veel dinge. Net een ding is nodig en dít het Maria gekies. Hy wil eintlik haar net terugkry by haar aanvanklike gedagte om gasvry te wees, en dit met oorgawe te doen.
- Wat leer ons by Marta? Ons het ’n balans nodig tussen beleef (luister) en bedien – anders raak jy nie net ‘n pyn nie, maar kan jy nie meer onderskei nie.
- Dit is uiteindelik ook die balans tussen liefde vir God en liefde vir jou naaste. Waarmee Jesus eintlik verdere kommentaar lewer op die vraag oor die groot gebod van die wetsgeleerde: wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?
Kom ons kyk ‘n bietjie van naderby na Maria:
- Maria ontvang Jesus op ‘n ander manier as gas. Sy doen wat Jesus verwag het die ander dorpe moet doen, om te luister na die dissipels. Hier luister sy egter net na Hom, dié Een waarvan hulle vir die dorpe van vertel het. Sy ontvang só die koninkryksboodskap, en in die proses God self!
- Daarom dat Jesus vir Maria prys, want sy het die beste deel gekies, iets wat nie van haar weggeneem kan word nie – die koninkryk van God.
- Ons leer hier eerstens dat gasvryheid nie net is om vreemdelinge te ontvang en te dien of te “help” nie. Ons kan ook iets by hulle leer. Ons móét trouens ook by hulle leer, want dit is baie keer die manier hoe God self onder ons teenwoordig is, soos ons ook by die Emmausgangers leer!
- Maar dit laat ons in die tweede plek ook besef dat die lewe om God draai, en ons kontak met Hom. Daar is geen plaasvervanger vir ‘n intieme verhouding met Hom nie. Dit is wanneer ons sy stem tussen ander stemme kan begin onderskei, dat ons lewe in plek val. Dit is wanneer ons met ‘n verwagting begin lewe, dat God met ons gaan praat, dat Hy ons nie oningelig gaan hou oor wat Hy wil doen nie, dat ons lewe betekenisvol raak.
- En let ook op dat net hierna Jesus sy dissipels ook gaan onderrig oor die groot gebed: Die ons Vader. Want dit is seker die belangrikste manier waarop hierdie verhouding met God in stand gehou kan word – deur te bid, deur te luister, deur gemeenskap met God te beoefen.
Ek besef dat ons almal verskillend is, en dat vir sommige van ons sal ‘n Marta manier van leef meer natuurlik kom. En dit is reg so, dit is presies wat nodig is in hierdie lewe, dat daar mense is wat regstaan vir ander en hulle met gasvryheid ontvang en bedien. Niemand minder as Abraham, die vader van die gelowiges, is die voorbeeld wat ‘n mens daar kan navolg. En ek noem doelbewus sy naam, want hy was niemand se vloerlap nie, maar doodgewoon volledig ingestel op die behoeftes van die drie mans wat by sy tent opgedaag het. En daardeur het hy God self ontmoet.
Maar daar is ander van ons vir wie ‘n Maria manier van leef meer natuurlik kom, een waar die kontak met ander, die gesprek, die luister na, die belangstel in, die geskenk is wat hulle gee. En let op, dit kan net soveel van jou vat om regtig te luister na iemand as wat dit sal vat van jou om iemand te bedien op ‘n gasvry manier.
Maar belangrik, vir almal van ons, die Martas en die Marias, is een of ander manier om tot stilstand te kom en te luister na God van lewensbelang. ‘n Mens kan nie daarsonder op ‘n geestelike verantwoordelike manier leef nie.
Die boodskap vir vandag is dus om Luisterend te lewe. Teenoor mekaar is die tegniek van Eggo ‘n wonderlike hulpmiddel. Teenoor God is die tegniek van die daaglikse ondersoek ‘n wonderlike hulpmiddel.
Gebed
God stuur ons om te leef
Dankoffers
Slotlied
Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk.” (staan)
Seën
Amen
Lied 314