Verwelkoming
Ons fokus dié kwartaal veral op twee sake:
1. Die boodskap van die boek Jesaja wat vir ons perspektiewe op die Lewende God gaan gee.
2. Om ’n gemeente van kleingroepe te word en nie net ’n kerk met kleingroepe te wees nie.
Alle inligting is op die middelste blaadjie van die aankondigings
GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS
Votum
Seëngroet
Lofsang
- Liedboek 344 – O die goeie tyding, o die blye tyding –helder klink dit met Kersfeestyd: Diep was ons verlore, Christus is gebore. Juig dan, almal, jubel oor die saligheid. – sit
- Liedboek 345 – Kom, alle getroues, vrolik en vol vreugde, o kom in die gees nou na Betlehem! Loof daardie Kindjie tot ons heil gebore – kom buig daar in aanbidding, voor Jesus, die Heer. – staan
- Liedboek 350 – In die stad van koning Dawid, in die nederige stal, in ’n krip lê daar ’n Kindjie, Koning van die groot heelal. Jesus Christus, God en Heer, aan U, Koningskind, ons eer. – staan
Verootmoediging
Riglyn vir ons lewe is die saligsprekinge in Matteus 5. Kom ons verbind ons daaraan met die sing van ’n lied wat Attie van der Colf vir ons geskryf het.
- Liedboek 251 – Salig dié wat arm voor God is – sit
Doop
- Liedboek 294 – Jesus roep die kindertjies
Jacques en Sanet Victor se dogtertjie Cayla. Sanet het hier grootgeword, Alet Swanepoel se kind, belydenis afgelê, en trek sowaar nou terug, nogal in die huis wat haar broer Johan in Rubinsingel gebou het.
Gebed
GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER
Skriflesing
Korinte was ’n belangrike handelstad ten tye van die Nuwe Testament. Dit was die hoofstad van die Romeinse provinsie Agaje (min of meer die moderne Griekeland). Agaje word deur die natuurlike geografie in twee dele verdeel. Die suidelike skiereiland (die Peloponnesos) word deur ’n smal landstrook met die noordelike vasteland verbind. Korinte is op die suidwestelike punt van hierdie landstrook geleë. Om tussen noord en suid te reis, moes jy deur Korinte gaan. Die stad het see aan beide die oostekant en westekant van die landstrook, sodat dit oor twee hawens beskik het.
Korinte was op ’n natuurlike kruispunt van belangrike handelsroetes geleë. Handelaars uit Egipte, Italië, Israel, Sirië en die Ooste het aan die stad ’n egte kosmopolitaanse karakter gegee.
Dié kosmopolitaanse karakter is in die godsdienstige lewe weerspieël. Daar was ’n tempel vir die Griekse god Apollo, terwyl die god vir genesing, Asklepius, ook aanbid is. Afrodite, die godin van vrugbaarheid, Demeter en Persefone, godin van landbou en vrugbaarheid, het ook aanbiddingsplekke gehad.
Korinte was berug vir die morele verval in die stad. Die Griekse woord “korinthiazesthai”, “om soos ’n Korintiër te leef”, het verwys na ’n lewe van dronk orgies. ’n Griekse skrywer vertel dat wanneer ’n Korintiër op die verhoog uitgebeeld is, hy altyd dronk was.
1 Korintiërs 1:1-9
1 Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ’n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes. (Sostenus is waarskynlik die voormalige hoof van die sinagoge in Korinte [Hand 18:17], maar nou ’n gelowige en medebedienaar van die Woord. Hy skryf nie net saam met Paulus hierdie brief nie, maar dit kan wees dat Paulus dit aan hom as sekretaris gedikteer het [1 Kor 16:21].)
2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
Danksegging
4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ’n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.
Tema
God laat ons enduit vasstaan
Woordverkondiging
Stel jou voor jy gaan lê besoek af by ’n plaaslike gemeente.[1] Jy stap by die deur in en iemand wag daar om jou welkom te heet. “Ek is deel van die Paulus-groep. Hý is die ou om na te luister.” Terwyl hy nog met jou praat, druk iemand anders in en sê: “Nee, Apollos se omgeegroepie is beter. Vergeet van Paulus.” Skielik is daar nog ander wat die voriges wegstamp en sê: “Nee, Sefas!”
Teen hierdie tyd oorweeg jy dit al om pad te gee, net om uit te vind dat ’n prominente lid van die gemeente in ’n seksskandaal met sy stiefma betrokke is. Die hele gemeente weet daarvan en is trots daarop. “Ons is die beste gemeente,” hoor jy iemand sê. “Ons weet dié ou leef in sonde, maar ons het hom nogtans lief. Hier by ons is die geestelike belangriker as die beestelike.”
Jy stap die diens in en dis chaos. Verskeie gemeentelede profeteer tegelyk, terwyl ander in tale spreek. Omdat jy nie veel uit die diens kry nie, besluit jy om hulle leerstellige blaadjie by die besoekersbank te lees. Hier lees jy dat die leerstuk oor die opstanding heeltemal deurmekaar is en dat sommige gemeentelede nie eers daaraan glo nie.
Terug in die kerkgebou, sien jy dat hulle ’n soort nagmaal hou, amper iets soos ’n gemeente-ete. Party word dronk, ander ooreet hulle en dié wat regtig honger is, kry nie kos nie. Teen die tyd dat alles klaar is en jy by jou kar uitkom, hoor jy van gemeentelede wat mekaar in die wêreldse howe gedagvaar het. Ander besoek bordele en sê dis soos om kos te eet; jy bevredig net ’n liggaamlike behoefte. Uit reaksie hierteen, bepleit sommige geheelonthouding. Seks is lelik en sleg. Getroudes wil hieroor skei en ongetroudes wonder of hulle moet trou.
Jy ry daar weg terwyl jy naar voel. Die hele ervaring is vir jou onwerklik. Dis jou eerste en laaste besoek aan dié kerk.
Jy het pas kennis gemaak met die gemeente van Korinte…
Die gemeente het die evangelie geglo. Maar Korinte was vasgevang in die worsteling om die evangelie van Jesus prakties uit te leef. Die verskillende faksies, beskouinge oor seksualiteit, die verhouding tussen die evangelie en die afgodediens, was van die probleme waarop die lig van die evangelie moes skyn, soos ons al in die Bybelskool verlede jaar kennis geneem het.
Korinte
’n Bietjie agtergrond.
Die gemeente in Korinte
Die gemeente van Korinte is deur Paulus gestig in 51-52 n C op sy tweede sendingreis. Strategies was Korinte natuurlik geweldig belangrik, omdat die evangelie hiervandaan deur al die besige handelsroetes oor die bekende wêreld heen versprei het. En die latere leraar Phoebe het ’n groot rol gespeel, soos ons uit die brief aan die Romeine aflei.
’n Brief aan die gemeente in Korinte
Op sy derde sendingreis bly Paulus in Efese vir meer as 2 jaar. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand 19:1-20), ontvang hy op ’n keer ontstellende berigte van die huisgesin van Chloë (1:11) af oor die omstandighede in die gemeente van, moontlik oorgedra met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (16:17). Dit is berigte wat veral te make het met die wyse waarop hulle as Christene lewe. En hulle het probleme soos: verdeelheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11) en prostitusie (6:12-20). Hulle wonder ook oor die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (11:2-16) en hulle vra vrae oor die nagmaalviering (11:17-34).
En dan reageer Paulus met ’n aantal briewe (1 Korintiërs was sy tweede brief aan hulle – vgl 1 Kor 5:9 wat na die eerste brief verwys). Dit is ook moontlik dat hy Korinte hierna weer besoek het (Hand 19:21-20:6) om verder persoonlik op hulle vrae te reageer, voordat hy in Masedonië 2 Korintiërs geskrywe het.
In hierdie tweede brief van hom – waarskynlik geskryf in 54 n C – verduidelik hy wat die betekenis van Jesus se sterwe en opstanding vir die lewe van ’n gemeente is. Hy beklemtoon dit dat Jesus vir ons gesterf het en vir ons uit die dood opgestaan het. Hierdie heilsfeite moet die deurslag gee in alles wat ons is en doen.
’n Aangrypende inleiding
Mens sou kon verstaan as Paulus die brief met ’n heftige uittrapsessie begin het. Dalk sou ons dit so gedoen het. Die gemeente moes kortgevat word, wil mens sê. Hulle het opgesnork en moes reggesien word.
Maar Paulus doen dit nie, ten minste nie aanvanklik nie.
Hy begin deur hulle ter herinner aan hulle roeping. Die gemeente van Korinte is geroep om aan Jesus Christus te behoort (1:2). Te midde van al die gevegte, partyskappe, botsings, etiese kwessies ensomeer moet hulle hul roeping onthou en daarna strewe om te wees wat God hulle alreeds in Jesus Christus gemaak het.
Tweedens is die gemeente geroepe geheiligdes – klétois hagiois – 1:2. Hulle is die gemeente van God (1:2) wat aan God behoort as sy eie, spesiale mense, toegewy aan Hom. Omdat hulle geroep en heilig gemaak is, kan hulle nou vir God lewe en heilig wees.
Derdens beklemtoon Paulus die ryke gawes wat die gemeente van God ontvang het. Hulle is ryklik geseën, dit ontbreek hulle nie aan ’n enkele gawe nie, en – wat my besonder getref het – Christus sal hulle help om vas te bly staan tot die einde toe (1:4-9).
Christus staan dus sentraal. In ses verse verwys Paulus nie minder nie as vyf keer na Jesus Christus. Christus is die Korintiërs se lewe. Dit is Hom wat hulle verwag om aan die einde van die tyd weer te kom. En dit is HY wat hulle enduit sal laat vasstaan.
Implikasies
Dit het belangrike implikasies vir ons lewe as Christene
Een: Dit is God se werk
Paulus help ons verstaan dat die Christelike lewe nie by beskaming, blamering en menslike pogings tot selfverbetering begin of eindig nie. Beskaming is die dood in die pot vir ’n Christelike geloofsgemeenskap. Dit beteken dat ons mekaar teregwys op grond van wat ons dink goed en sleg is, en dan boonop van mekaar verwag om met ons eie krag ander se idees van wat reg of verkeerd is uit te voer.
Paulus help hulle en ons om eerder God raak te sien. God wat deur Jesus Christus genade aan ons betoon, en nie beskaam nie. God wat ons roep en red en nie blameer nie. God wat ons die gawes gee waarmee ons Hom en mekaar moet dien en nie verwag dat ons dit met ons eie bronne moet doen nie. God wat ons help en ons bemagtig om as heiliges te lewe en ons van binne af verander om dit reg te kry.
Twee: Daar is hoop
God help ons. Daarom is daar hoop. Wanneer ons op afgryslike maniere faal – soos die Korintiërs – is alles nie daarmee heen nie. God is aan die werk, ook binne-in ons en deur ons. Hy help ons. Hy voorsien die leiers (apostels) om ons aan God en God se werk te herinner, Hy fokus ons aandag op dit wat saak maak. Hy help ons om te word wat ons reeds op grond van sy genade is. Hy sal ons ook enduit laat vasstaan.
Drie: Ons is geroep en geheilig
Maar, dit beteken nie dat Hy nie insette maak om ons lewenswandel in lyn te kry met sy roeping vir ons nie. Verre daarvandaan. Daar is goed en daar is sleg. Elkeen van die sake waaroor daar konflik en misverstand bestaan het, word deur Paulus aangeroer en God se pad vir hulle uitgespel. En hy antwoord later in die brief spesifieke vrae en draai geen doekies om oor wat in God se oë reg en wat verkeerd is nie. Maar dit het minder met absolute reëls as met ’n persoon te make; dit het minder met presiese wette te make as met ’n verhouding, ’n verhouding met God in Jesus Christus.
Maar, daar is ook meer. Ons kultuur leer ons dat die self made man die een is wat bo uitkom. Jy moet vir jouself sorg, en onafhanklik wees, jy moet jou eie belange bevorder, want niemand anders sal nie. Ons sou goeie Korintiërs uitgemaak het!
Daarteenoor beklemtoon Paulus die feit dat ons deur God verenig is in die gemeente van God (1:2). Ons is in Christus geskep om saam met ander en vir ander te lewe. Daarom word daar in die inleiding deurlopend van “julle”, die gemeente, gepraat. Paulus se dank is in die eerste plek ook nie vir wat Paulus self gekry het of nie, maar dank vir wat ander ontvang het. Trouens, geroepenheid tot diens aan die “ander”, kan eintlik beter verstaan word as diens met die “ander”.
Vier: God sal ons enduit laat vasstaan
Maar die belangrikste van alles: God sal ons enduit laat vasstaan!
Dit het persoonlike implikasie vir jou. Ek het die sorg van die Here op ongelooflike wyses die afgelope paar maande ervaar. Die Here is getrou. En my gebed is dat jy dit ook so in hierdie jaar sal ervaar.
Maar, dit het ook implikasies vir ons gemeente. Elke keer as ons in ’n krisis was – met die verband, met leiers wat weggaan, met besluite oor die bediening, soos rondom die kinderkerk, 1 of 2 eredienste in die oggend, Klema – het die Here ons daardeur geneem en visie en helderheid gebring, en op wonderlike maniere voorsien.
Ek is oortuig God sal ons ook enduit laat vasstaan.
Maar, dit beteken ook dat ons onsself aan Hom moet verbind. Daar is geen plaasvervanger vir ’n lewende verhouding met God nie, wat jy in jou stiltetyd, in jou verbintenis aan geestelike gewoontes en in jou verbintenis aan een of ander vorm van diens met die gawes wat die Here jou gegee het, moet volhou.
En dit beteken ook dat jy jouself opnuut aan die gemeente moet verbind. Dit sluit die eredienste in, ons kleingroepe, en die beskikbaarstelling van jou gawes en insette.
Gebed
GOD STUUR ONS OM TE LEEF
Dankoffer
Slotsang
- Liedboek 492 – In U is vreugde, vrede en vreugde, Jesus Christus, U is Heer. – staan
Seën
- Liedboek 228 – Halleluja
[1] Die Bybellennium (CUM, 1999)
