Skriflesing
Die verhaal van die broodvermeerdering vind plaas net voor ‘n Paasfees aan die oorkant van die See van Galilea (by Tiberias – die dorpie is in 22 nC gebou en het mettertyd die naam geword waarmee die meer benoem is: See van Tiberias).
Die verhaallyn in hoofstuk 6 is as volg –1) Jesus vermeerder brood, 2) loop op die see, 3) verduidelik dat Hy die brood is wat lewe gee, en dan is daar verskillende reaksies onder 4) die Jode en 5) ook sy dissipels:
- 6:1-15: Jesus doen die broodwonder wat Sy gestuurdheid en goddelikheid bevestig.
o Interessant die verskillende reaksies van die dissipels:
o Filippus gooi hande in die lug, maar Andreas bring wat daar is, 5 garsbroodjies en 2 vissies, hoewel hyself nie regtig weet hoe dit so baie mense kos gaan gee nie. Maar dit is presies waarmee Jesus dan werk.
o Daar bly 12 mandjies oor wat die oorvloed waarmee God mense seën simboliseer.
o Die skare se aandrang om Hom direk daar en dan met geweld koning te maak, laat Hom verder op met die berg klim, om hulle wondergeloof te laat afkoel, en moontlik die gebeure te deurdink – alleen.
- 6:16-21: Jesus loop op die see wat ’n opening skep om verder met die skare oor die betekenis van die broodwonder te kan gesels.
- 6:22-40: Jesus verduidelik dan dat Hy die brood van die lewe is en dat mense op Hom moet fokus. Hulle loop die gevaar om HOM te mis deurdat hulle fokus op die brood wat hulle honger gestil het, dws die wonderteken as sodanig en nie dit waarna die wonderteken verwys nie. Jesus is die brood wat lewe gee.
- 6:41-59: Die Jode verstaan egter nie Jesus se woord nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê. Jesus haal dan uit Jesaja 54:13 aan dat hulle dit net sal kan begryp as hulle dit deur God geleer word. Dit is dié mense wat die betekenis daarvan begryp en omhels, wat inderdaad in God is en ervaar dat God in hulle bly (dinge waaroor Jesus verder sal uitbrei in sy onderrig aan sy dissipels in hoofstukke 14-17).
- 6:60-71: Die Jode is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie. ’n Hele paar van sy dissipels het hieroor gemor. Interessant dat Jesus reageer deur van nog dieper dinge te gesels, sy Hemelvaart en per implikasie van die uitstorting van die Heilige Gees. Die punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as Godself dit nie vir jou duidelik maak nie. Die gevolg is dat ’n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat – behalwe die twaalf , waarvan Jesus geweet het dat een Hom nog sou verraai, Judas Iskariot. Geloof is inderdaad ’n geskenk wat God gee!
Dit is wat ons dan nou gaan lees:
60Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”
61Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af? 62Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was? 63Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. 64Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai.
65Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”
66Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie. 67Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?”
68Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. 69En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”
70Jesus het daarop vir hulle gesê: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is ’n duiwel!” 71Hy het Judas die seun van Simon Iskariot bedoel, want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.
Woordverkondiging
Johannes vertel ons van sewe wondertekens wat Jesus voor sy kruis en opstanding doen.
- Vier wondertekens het met genesings te make, waarvan een die opwekking van Lasarus uit die dood is.
- Een wonderteken het met Sy mag oor die natuur te make, waar Jesus op die water loop.
- En twee wondertekens het met alledaagse goed te make: water en brood.
o In die eerste geval verander Jesus water in wyn toe sy familie en dissipels die begroting van die bruidegom onder druk plaas, en sy wyn opraak toe daar te veel mense saam met Jesus daar opdaag, en red die huweliksonthaal.
o In die tweede geval vermeerder Jesus die 5 broodjies en 2 vissies (wat amper soos anchovies op toast gebruik is) om die groot skare van 5 000 plus te voed wat na Hom kom luister het (terloops die enigste wonder wat in al vier evangelies voorkom wat die belangrikheid daarvan onderstreep).
Jesus gee om vir ons worsteling met die gewone krisisse van elke dag
Daarmee illustreer Jesus dat Hy omgee vir ons worsteling met die gewone krisisse van elke dag.
- Hy staan in vir sy groot gevolg wat dreig om die bruidegom te beskaam dat hy nie genoeg voorsiening gemaak het nie.
- En Hy staan in vir die mense wat nie padkos geneem het om na Hom te kom luister nie.
- En Hy doen dit in oorvloed:
o 800 bottels wyn vir ’n troue,
o en ’n magtige hoop brood en vis vir ’n skare van meer as 5 000, soveel so dat daar 12 mandjies garsbrood oorbly, een vir elke dissipel!
En as Jesus dit vir ’n skare gedoen het wat na Hom kom luister het een maak lank gelede, hoeveel te meer sal Hy dit nie ook vir ons doen, wat sy kinders is, en wat vandag in afhanklikheid van Hom lewe nie?
Jesus is die groot Profeet
Hy illustreer ook dat Hy die groot Profeet is, dié een waarvan Moses gepraat het. Geen wonder dat Johannes ’n direkte verband na die wonder van die manna in die woestyn trek nie. Want Jesus voorsien hier aan die menigte kos, soos wat God dit in die woestyn gedoen het met die manna (Eks 16:4) en die kwartels (Eks 16:13).
En dit bewys nog ’n keer sy goddelikheid, sodat selfs die skare die verband kan trek, en kan erken dat Hy die Profeet is, die Een wat na die wêreld toe moes kom (:14).
Jesus is nie maar net ’n gewone mens, ’n groot leraar, ’n groot man nie. Hy is God, wat dit is net God wat sulke dinge kan doen.
Jesus is die Brood wat lewe gee
Hy illustreer ook hiermee dat Hy self die wyn en brood gaan word wat ons geestelik voed. En dit doen Hy op twee maniere.
Aan die een kant verwys Jesus hier na wat aan die kruis gaan gebeur, veral in die gesprek met die Joodse leiers. Hy praat hier daarvan dat Hy letterlik sy liggaam en sy bloed sal gee om in ons plek aan die kruis te sterf. En elke keer wat ons bv. die nagmaal gebruik, en ons die wyn en brood drink en eet, versterk dit ons geloof dat Hy ons geestelik verlos het.
Maar Jesus verwys ook na die geestelike voeding wat Hy ons gee. Sy woorde is die wyse waarop Hy ons geestelik voed. Soos wat ons dit inneem en dit oordink en dit deel van ons binnewêreld en ons leefwêreld word, so voed Hy ons en verander Hy ons om al hoe meer soos Hy te word. Jesus is inderdaad die brood wat lewe gee.
Dit is waar van al die “Ek-is”-uitsprake van Jesus oor Homself. Hy het 8 uitsprake oor Homself waarin Hy sy Goddelikheid bevestig en wys wat Hy vir ons beteken. Hy gee ons insig in die lewe – Hy is die lig vir die wêreld (Joh 8:12). Hy beskerm ons – Hy is die Goeie Here (Joh 10). Hy begelei ons – Hy is die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14). En ons lewe kom van Hom af – Ek is die brood wat lewe gee (Joh 6).
Jesus nooi ons uit om in Hom te glo
Die wonderwerke is vir Johannes tekens van God se werk wat in Jesus sigbaar raak. En dit vra van ons ’n keuse – om te glo, nie net in die wondertekens as sodanig, soos wat ons sien in die wondergeloof van die skares nie, maar in die wonderdoener, Jesus .
- Dit is duidelik uit die gedeelte dat die meeste van die Jode, veral die skrifgeleerdes en Fariseërs Jesus se woorde nie verstaan het nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê. Hulle volhard in hulle ongeloof – 6:41-59.
- Selfs onder Jesus se dissipels is daar mense wat nie glo nie – 6:60-71.
- Jesus se broers vind dit ook moeilik om in Hom te glo 7:1-9.
Maar vir dié wat die in geloof reageer – soos die geval was by die meeste van die dissipels, die regeringsamptenaar (Joh 4), die blinde man (Joh 9), Maria en Marta en Lasarus (Joh 11) en later darem ook van sy familie spesifiek sy broer Jakobus – vir diegene raak God ’n werklikheid, kom hulle in Sy teenwoordigheid, kry hulle die ewige lewe. Want Jesus is die brood wat lewe gee.
God roep ons vandag dus op om die Gees se roering in ons te gehoorsaam. Hetsy om Hom te vertrou vir die gewone goed in jou lewe, of net om die keuse te maak om jou hele lewe om Hom te laat sentreer.