Johannes 11:1-45 – Erediens: Jesus is die opstanding en die lewe

Die evangelie van Johannes is met die eerste oogopslag eenvoudig geskryf, maar verras jou met ’n ryk en geskakeerde teologiese betekenis soos jy dieper daarin delf.  Dit is tegelyk ’n evangelie wat ’n mens se intellek uitdaag en stimuleer, maar ook jou hart roer en meevoer.  Niemand kan onaangeraak bly met die lees van die goeie nuus van die vleeswording van die Woord van God nie.  Dit prikkel jou verbeelding, stimuleer jou gedagtes, en slaan tegelykertyd jou asem weg.

Die kerkvaders het graag die arend as simbool vir die evangelie van Johannes gebruik, nie net omdat die arend die hoogste van alle voëls kon vlieg nie, maar ook omdat mense gereken het dat die arend die langste in die son kan kyk.  Die evangelie van Johannes was dus vir die vroeë kerk nie net die hoogtepunt van die beskrywing van die goeie nuus oor Jesus nie, maar ook een van die diepste openbarings van die wese en bedoelinge van God self.

En hoofstuk 11 is ’n besondere kykie in dié openbaring van die wese van God.  En wat dit besonders maak, is dat dit nie vanuit die hoogtepunte van die lewe daarna kyk nie, maar vanuit die laagtepunte, vanuit die hartseer van ’n Marta en Maria oor hulle broer Lasarus se dood.

Want sien, dit is een ding om oor God te praat wanneer alles goed gaan, wanneer alles vlot verloop, wanneer dinge uitwerk.  Maar waar is God en hoe is God wanneer dinge skeef loop, en dinge nie uitwerk nie?  Dit is wat die verhaal van Lasarus vir ons wil vertel.

Continue ReadingJohannes 11:1-45 – Erediens: Jesus is die opstanding en die lewe

Johannes 9 – Erediens: Jesus help ons sien – 3 April 2011

Ons het hulp nodig om te kan sien

Vergelyk hierdie 3 prente, almal werk met optiese illusies (aangeheg aan hierdie artikel).  Normaalweg het ons hulp nodig om te kan onderskei wat aangaan.  As ek dit nie verduidelik nie, sal jy moeite hê om dit raak te sien.

Armes help ons sien

Dit is ook waar van die lewe.  Ons het hulp nodig om dit wat regtig aangaan, raak te sien. Weer ’n verhaal uit Indië, wat tans in die nuus is met die krieket finaal gister in Moembaai.  Shane Claiborne (The Irresistible Revolution 2006) spandeer sy lewe daaraan om die evangelie na armes te neem.  Hy het onder andere in die krotbuurte van Kalkutta gewerk, in die oorlogsgebiede van Irak, en ook intens gewerk aan die versorging van armes in die VSA.  Hy vertel hoe ons oë vir die lewe oopgemaak word deur die armes en die straatlopers:

  • Hy het ’n vrou sien veg om sop by ’n sopkombuis te kry, wat toegesak is deur ’n groot skare.  Toe hy haar vra of die sop regtig die geveg werd is, het sy gesê: “O ja, maar ek eet dit nie myself nie.  Ek neem dit na ’n ander ontredderde dame, ’n bejaarde hier om die hoek wat nie self kan veg vir ’n bietjie kos nie.”
  • Hy het ’n straatmusikant ontmoet wat wreed deur jong mans geterroriseer is.  Hulle het met haar gespot, haar gevloek, en selfs deodorant in haar oë gespuit as ’n grappie.  Toe ons haar daardie aand vashou en troos, sê iemand: “Daar is darem baie slegte mense in die wêreld, nè?”  Waarop sy sê: “Ja, maar daar is baie goeie mense ook.  En die slegtes laat die goeies sommer dadelik nog beter lyk.”
  • Hy het ’n klein meisietjie op straat raakgeloop, sonder ’n huis, ’n straatkind, en haar gevra wat sy wil doen as sy groot is.  “Ek wil ’n winkel met kruideniersware besit,” het sy gesê.  “Waarom?”  “Sodat ek kos vir al die honger mense kan uitdeel.”

Die hele Bybel gaan oor sien

Dit is ook waar van die Bybel en van die verhale wat ons daarin lees.  Dit help ons sien wat ons anders heeltemal sou mis.  Let op hoe hierdie hele gedeelte sinspeel op die vermoë om te sien, asook die afwesigheid van sien – om blind te wees.

  • Diegene wat kan sien, sien nie, want hulle kan Jesus nie herken as die Messias nie.  Daar is verskeie faktore wat hulle totaal blind maak.
  • Die arm man, wat nie kan sien nie, word genees en kan sien.  Wanneer hy kan sien, leer hy algaande om ook geestelik te kan sien.  Op hierdie manier leer hy Jesus herken as die Seun van die Mens, die Een wat waarlik van God kom.

Geen wonder nie, want Jesus noem Homself die Lig vir die wêreld (9:5).  In Johannes 8:12 net hiervoor sê Jesus: “Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Continue ReadingJohannes 9 – Erediens: Jesus help ons sien – 3 April 2011

Jesaja 56:1-8 – Erediens: God trek ander mense by ons in – 20 Maart 2011

Die Christelike lewe kan op verskillende maniere beskryf word.  ‘n Mens kan sê dat dit oor God gaan wat hierdie wêreld met sy liefde en genade wil oorrompel – die sogenaamde Missio Dei.  ‘n Mens kan sê dat dit gaan oor die koninkryk van God gaan waaraan ons as gemeente meewerk.

Maar, in die praktyk van elke dag gaan dit doodgewoon oor ‘n Christelike lewenstyl.  Dit is wat mense van ons raaksien.  Dit is die cutting edge van die Christelike lewe, nie wat ons sê oor God of oor die kerk of oor die koninkryk nie, maar wat ons leef.

Paulus sê op ‘n kol: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees” (Fil 1:27).

Een van die maniere waarop die kerk deur die eeue hierdie Christelike lewenstyl aangeleer en gekoester het, was deur praktiese geestelike gewoontes.

En dit is met dié bril wat ek na hierdie perikoop in Jesaja wil kyk, om agter te kom, wat se lewenstyl verwag God van ons?  Hoe wil Hy hê moet ons lewe?  Of anders gestel, wat wil God hê moet ander in my lewe raaksien?

En daar is drie dinge wat vir my hier uitstaan van die tipe lewenstyl wat God van ons vra, drie geestelike gewoontes wat ons moet beoefen – dit het met die onderhouding van die sabbat te make, met die insluiting van anderse mense, en met gebed.

 

Continue ReadingJesaja 56:1-8 – Erediens: God trek ander mense by ons in – 20 Maart 2011

Jesaja 40:1-11 – Erediens: God versorg sy volk soos ‘n herder – 6 Maart 2011

Die uitkoms is hier

Die tweede hoofdeel van Jesaja begin met die uitroep: “Die uitkoms is hier!”  Twee maal word dit herhaal, “Die uitkoms is hier!  Die uitkoms is hier!  Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê” (vers 1).

Dit is ’n ongelooflike goeie tyding om in ballingskap te hoor.  Om te hoor dat jou swaarkry verby is, dat jy geboet het vir jou sonde, dat die pyn en lyding verby is, en jy weer vry kan asemhaal.

En onthou, die vorige 39 hoofstukke van Jesaja het ’n donker prentjie geteken van hierdie volk – dat hulle God nie ken nie; dat hulle hul roeping om ’n lig vir die nasies te wees, versaak het; dat hulle leiers hopeloos was, en hulle van die wal in die sloot gehelp het.

’n Mens kan amper die sug van verligting hoor by die volk.  Na al die jare is daar weer verligting, ’n uitkoms.

Nie almal was opgewonde daaroor nie

 

Continue ReadingJesaja 40:1-11 – Erediens: God versorg sy volk soos ‘n herder – 6 Maart 2011

Jesaja 25 – Erediens: God bring vreugde deur oordeel – 13 Februarie 2011

Ek sou nie graag deel wou wees van die nageslag van Moab nie.

  1. Gebore uit bloedskande.  Na die ramp van Sodom en Gomorra, met Lot se vrou wat in ‘n soutpilaar verander, het Lot en sy twee dogters in ‘n grot in die berg gaan woon.  Omdat die twee dogters se verloofdes ook gesterf het in Sodom en Gomorra – hulle wou nie vlug nie; gedink dit alles was net ‘n grap – besluit Lot se dogters om hulle pa dronk te maak en kinders by hom te verwek.  Die oudste dogter het die voorbeeld gestel, en die jongste dogter het haar voorbeeld gevolg.  En  die Moabiete is die nageslag van Lot en sy oudste doger – soos Gen 19 ons vertel (die Ammoniete was die nageslag van Lot en sy jongste dogter).
  2. ‘n Volk van ongasvry vervloekers – ‘n Volk met leiers wat geen gevoel het vir mense in nood nie.  Toe Israel – en onthou hulle was bloed-familie, Lot se nageslag, die broerskind van Abraham – toe Israel op pad was deur die woestyn na Kanaän toe om die Beloofde Land in te neem, wou hulle nie eers vir die Israeliete brood en water gee nie.  Let op hulle was nie ‘n bedreiging nie, net maar honger en dors, maar Oosterse gasvryheid gee die leiers van Moab nie vir hierdie swerwers deur die woestyn nie.  Om die waarheid te sê, hulle voel so min vir Israel, dat hulle ‘n profeet huur, Bileam, om die volk in die naam van die Here te vervloek.  Praat van arrogansie, ‘n God wat hulle nie dien nie, word ingeroep om hulle vuilwerk vir hulle te doen – soos Numeri 22-24 ons vertel.
  3. En op die koop toe was hulle ‘n volk van verleiers, soos hulle oermoeder.  Numeri 25 vertel die gru verhaal van Moabitiese vrouens wat die Israeliete verlei het met seks om vir Baäl-Peor te dien, wat ‘n ramp oor die Israeliete gebring het.

Geen wonder die Here het die reël gemaak, geen Moabiet se kind, of sy kleinkind, of dié se kind en dié se kleinkind, of dié se kind, en dié se kleinkind, 10 geslagte ver, mag in Sy teenwoordigheid verskyn nie.  Dit beteken eenvoudig – NOOIT!  Bloedskandelik, Ongasvry, Verleiers – nie welkom in die geloofsgemeenskap van Israel nie (Deut 23).

Soos ek sê, ek sou nie deel van die nageslag van Moab wil wees nie.

Continue ReadingJesaja 25 – Erediens: God bring vreugde deur oordeel – 13 Februarie 2011

Jesaja 6 – Erediens: God heilig jou vir jou roeping – 30 Januarie 2011

Dit is die jaar 740 v C.  Jesaja is nog jonk in die bediening.

Dan sterf sy oom Ussia, ’n baie suksesvolle koning wat ’n baie lang regeringstyd gehad het.

Maar Ussia het ook voete van klei gehad.  Hy neem op ’n keer op arrogante wyse – soos Saul lank tevore (1 Sam 13) – priesterlike verpligtinge op homself (2 Kon 15; 2 Kron 26) en word met melaatsheid gestraf.  Sy jong seun Jotam volg hom op, maar kom nie die mas op nie, en sterf baie jonk.

In die sterfjaar van Ussia, val die mantel op sy kleinseun Agas, terwyl daar groot internasionale bedreiginge is.  Peka van die buurvolk Israel, en Resin van die Arameërs probeer Juda oorreed om teen Assirië, die wêreldmoondheid, ’n alliansie te sluit.  Alles is in flux en ’n bietjie in chaos.

En dan gebeur daar iets dramaties met Jesaja.

Continue ReadingJesaja 6 – Erediens: God heilig jou vir jou roeping – 30 Januarie 2011

Jesaja 2:1-5 – Erediens: God gee lig vir die lewe deur sy mense – 23 Januarie 2011

Voorbereiding vir ‘n besoek

My suster bel middel Desember en sê, hulle bring my ma en pa met die trein vir ‘n kort kuier.  Ons sê ja, maar moet toe ons vakansieplanne met 2 dae uitstel, omdat ons eintlik op pad is Kaap toe.  ‘n Dag voor die tyd bel my broer en sê hulle reën uit op Nature’s Valley, het ons plek vir hulle?

En skielik is ons 17 mense wat geslaap en geëet moet kom.  In ons familie dink ons eerste aan hoe ons saam gaan eet – so 3 kg fillet en ‘n paar lekker bottels wyn en 60 eiers en hope spek en 4 brode vind hulle plek in ons kombuis.  Dit is net vir een dag en nag!

Volgende aan die beurt is slaapplek, en dis matrasse en rondskuif en regmaak.  En toe skoonmaak, badkamers, kombuis, kamers, sorg vir beddegoed, en handdoeke en parkering om te sorg dat alles reg is, sodat ons darem almal kan saamkuier, en ons mekaar se teenwoordigheid kan geniet.

Ken julle dit?

Dit is wat ‘n mens doen as jy uitsien na die koms van mense na aan jou.  En dit was ‘n fees.  Natuurlik hopeloos te veel eiers gewees, maar die fillet het heerlik gesmaak en dit was ‘n onthou-fees, een wat ons lank sal onthou, al was dit so ’n kort kuier.

En dit is uit dié hoek wat ek ons teks wil ontsluit.

 

Continue ReadingJesaja 2:1-5 – Erediens: God gee lig vir die lewe deur sy mense – 23 Januarie 2011

Josua 1:1-9 – God praat deur sy Woord

Preek vir 16 Januarie 2011 18:30 by Klema in Somerstrand

Terwyl ek Maandag stil geraak het en dink oor wat die Here vir ons almal wil sê vanaand, het die verhaal van Josua by my opgekom.  Ek vermoed dit het iets te doene gehad met my gesprek met Jaco net daarvoor, toe hy vertel het hoe hy en Karlien gesels het oor die verhaal van Barnabas, waaroor ek verlede week gepreek het. In ons gesprek het ek toe die verhaal van Josua aangeroer, omdat daar nogal baie ooreenkomste is in die mentor verhoudinge van Barnabas met Johannes Markus en Moses met Josua ... en dit het my bygebly toe ek in die kantoor langsaan voor die Here stil geraak het.

Dit het natuurlik óók te make met die ongelooflike waarheid wat ek in die lewe van Josua raakgesien het toe ek besig was in die Bybelskool met die Pentateug, die eerste 5 boeke van die Bybel.  En dit is dat daar ‘n baie besondere verskuiwing in die manier waarop God met mense werk in die lewe van Josua gekom het.

Kom ons lees Josua 1:1-9


Continue ReadingJosua 1:1-9 – God praat deur sy Woord

1 Korintiërs 1:1-9 – Erediens: God laat ons enduit vasstaan – 16 Januarie 2011

’n Aangrypende inleiding

Mens sou kon verstaan as Paulus die brief met ’n heftige uittrapsessie begin het.  Dalk sou ons dit so gedoen het.  Die gemeente moes kortgevat word, wil mens sê.  Hulle het opgesnork en moes reggesien word.

Maar Paulus doen dit nie, ten minste nie aanvanklik nie.

Hy begin deur hulle ter herinner aan hulle roeping.  Die gemeente van Korinte is geroep om aan Jesus Christus te behoort (1:2).  Te midde van al die gevegte, partyskappe, botsings, etiese kwessies ensomeer moet hulle hul roeping onthou en daarna strewe om te wees wat God hulle alreeds in Jesus Christus gemaak het.

Tweedens is die gemeente geroepe geheiligdes – klétois hagiois – 1:2.  Hulle is die gemeente van God (1:2) wat aan God behoort as sy eie, spesiale mense, toegewy aan Hom.  Omdat hulle geroep en heilig gemaak is, kan hulle nou vir God lewe en heilig wees.

Derdens beklemtoon Paulus die ryke gawes wat die gemeente van God ontvang het.  Hulle is ryklik geseën, dit ontbreek hulle nie aan ’n enkele gawe nie, en – wat my besonder getref het – Christus sal hulle help om vas te bly staan tot die einde toe (1:4-9).

Christus staan dus sentraal.  In ses verse verwys Paulus nie minder nie as vyf keer na Jesus Christus.  Christus is die Korintiërs se lewe.  Dit is Hom wat hulle verwag om aan die einde van die tyd weer te kom.  En dit is HY wat hulle enduit sal laat vasstaan.

 

Continue Reading1 Korintiërs 1:1-9 – Erediens: God laat ons enduit vasstaan – 16 Januarie 2011

Jesaja 42:1-9 – Erediens – God bring genesing – 9 Jan 2011

Verwelkoming

Epifanie beteken “verskyning”. Dit word veral verbind aan die koms van Jesus na die aarde, waarin God sy verskyning maak in die gestalte van Jesus onder mense.

Dit is ook my gebed vir elkeen van ons – dat ons hierdie jaar ’n “Epifanie” sal hê, verskeie “Epifanieë”, Godsverskynings – en dat ons self ook ‘n “Epifanie” vir ander sal wees, dat mense God in ons sal raaksien, en hulle in Hom sal verheug.

Kom ons groet mekaar met dit in gedagte.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Die tema van ons diens is God bring genesing – Jesaja 42:3: “’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.”

God nooi ons vanoggend uit om by Hom tot rus te kom.

  • Raak ’n paar oomblikke stil en bring jou kommer en jou onrus na Hom toe.
  • Gee dit vir Hom en vra vir ’n aanraking van Sy Gees, ‘n Epifanie van Homself.

Kom ons bely dat Hy in staat is om ons selfs van die dood te red:

  • Liedboek 222 – sing dit 3 keer sittend, Afr-Eng-Afr.

Continue ReadingJesaja 42:1-9 – Erediens – God bring genesing – 9 Jan 2011