Johannes 16:12-15 – Ons sal die waarheid ken – Son 30 Mei 2010



Kindertyd

Ons kom by die hoogtepunt van die kerklike jaar:

  • Kersfees
  • Kruisiging
  • Hemelvaart
  • Pinkster

Vandag dink ons aan God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.  En ons loof Hom omdat Hy vir ons so lief is.

Kom ons dink gou eers oor ‘n GPS.  Ken julle dit?

‘n GPS is ‘n baie handige instrument.  Dit help jou om nie te verdwaal nie. Om die waarheid te sê, as jy wel verdwaal, help die GPS jou om die pad terug te vind.

Wat sou gebeur as die GPS niks sê as jy van koers af gaan nie?  ‘n Mens sou heeltemal verdwaal en nie weet waar jy is nie!  Die GPS moet altyd vir jou terugbring op die regte pad, sodat dit jou kan help om jou rigting te kry.

Die Here het vir ons ‘n betroubare GPS gegee, ‘n geestelike GPS.  Ons geestelike GPS is die Heilige Gees.  Waarheen bring die Heilige Gees ons altyd weer terug?  Hy wys altyd weer terug na die Bybel.  Dit is waar ons geestelike kos kry en waar ons weet wat God wil hê dat ons moet doen.  Die Heilige Gees is soos die GPS, so ‘n stemmetjie hierbinne ons, ‘n wete, wat ons help om te weet wat God wil hê, hoe Jesus wil hê dat ons moet lewe.

Sommige mense wil vertrou op hulle gevoelens.  Maar dit help nie.  Ons gevoelens kan verander.  En as ons goed voel oor iets, beteken dit mos nog nie dat iets goed is nie, of hoe?

Sommige mense kyk weer wat ander mense doen.  Dit help ook nie.  Net omdat almal iets doen, beteken dit nog nie dit is reg nie, of hoe?  Môre doen hulle weer iets anders.

Die Heilige Gees lei ons deur die Bybel om God se wil te verstaan.  Meer nog.  Hy help ons om God se wil te doen.  Hoe doen Hy dit?  Hy is binne ons en oortuig ons van wat reg is.  En Hy gee vir ons die krag om God se pad te kies.  Om in die Bybelse pad te loop.

Elke keer as jy nie weet hoe verder nie, kan jy die Bybel oopmaak en die Heilige Gees vertrou dat Hy vir jou die regte woorde sal gee, sodat jy kan weet in watter rigting jy moet gaan.  Nes ‘n GPS.

Kom ons dank die Here dat Hy sy Gees vir ons gegee het, sodat ons sy wil in die Bybel kan verstaan en dit kan doen.

Gebed

Skriflesing

  • Johannes 16:12-15

12”Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Woordverkondiging

Die fokus van Drie-eenheidsondag is nie op die misterie van die dogma nie, maar op die misterie van God self.

Jesus is op pad na Getsemane en dit is die laaste keer dat Hy en sy dissipels voor sy kruisiging saam is. Hy lig die sluier oor die Gees se werk ná sy kruisiging. En daarmee troos Hy sy dissipels, gee Hy vir hulle iets om aan vas te hou, terwyl die donker van die kruis al hoe nader kom.

En die wonder is dat Hy nie praat oor hulle wat moet probeer doen om by God uit te kom nie.  Nee, God kom na ons toe. Dit is die evangelie in hierdie teks.  Ons sal die waarheid ken, sê Jesus, want Hy is die Gees van waarheid.  En dit is Hy wat na ons toe kom.

Hy fokus dus die dissipels se aandag weg van sy naderende afwesigheid.  Sy afwesigheid, sy weggaan met die Hemelvaart, gaan sy Teenwoordigheid in die Gees bring, wat Hom meer teenwoordig sal maak as wat Hy met sy lewe op aarde was.  Meer nog.  Die Gees verteenwoordig nie net vir Hom nie, maar ook vir God die Vader, so aldrie is tegelyk by ons.

Soos iemand gesê het: “Absence becomes an experience of incredible fullness of presence.”

Maar is dit nie te misterieus nie?  Kan dit so wees?  Het ons die waarheid hieroor beet?

“In ‘n dorpie in La Mancha het daar nie lank gelede nie ‘n ware heer gewoon, wat ‘n lans, ‘n antieke skild, ‘n uitgeteerde perd, en ‘n vinnige jaghond aangehou het.”

Só begin Miguel Cervantes sy fiktiewe verhaal van ene Alonso Quixano, wat op die La Mancha-vlakte in sentrale Spanje woon.  En hy is duidelik iemand wat kontak met die werklikheid verloor het.

Hy noem homself Don Quixote de la Mancha en herdoop sy uitgeteerde ou perd met ‘n aristokratiese naam: Rocinante.  ‘n Naburige plaasmeisie Aldonza Lorenzo word sy edele beminde, al weet sy self niks daarvan nie.  Haar gesofistikeerde nuwe naam is Dulcine adel Toboso,

Vroegmôre vertrek onse Don, geklee in sy verweerde borswering, en eindig by ‘n herberg, wat hy vir ‘n kasteel aansien.  Die bestuurder, vir Don Quixote die edelman in bevel van die kasteel, word versoek om Don tot ridder te slaan.

En Don vertrek op ‘n soektog na roem en heldedade.  ‘n Buurman, Sancho Panza, word sy assistent, met die belofte dat hy goewerneur van ‘n eiland sal word.  En sy eerste avontuur is wanneer hy ‘n paar windmeulens  aanval wat hy aansien vir groot reuse.

Ja, windmeulens word aangesien as reuse.  Die edelvrou Dulcinea is eintlik ‘n plaasmeisie.  Die hings Rocinante is eintlik ‘n brandmaer gedierte.  Sancho Panza, die goewerneur, is eintlik spreekwoordelik een van die stomper messe in die laai…

Wat kan ons glo?

Is dit moontlik dat die dissipels van Jesus dalk uit hulle verbeelding geleef het, en dinge gesien het wat nie bestaan nie?  Was Jesus nie dalk soos Don Quixote besig met ‘n dwase avontuur nie?  Berus ons geloof dalk op lugkastele?  Het ons nie miskien net te min kontak met die werklikheid nie?  Kan ons inderdaad die waarheid ken?

Wat bedoel Jesus as Hy sê: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (16:13)?

Die eerste ding wat ons weer onsself aan moet herinner, is: Waarheid word geopenbaar

Volgens moderne opvattings is waarheid iets wat mens sintuiglik en met jou verstand bepaal.  Jy ondersoek iets, jy neem dit waar, jy meet en toets dit, jy formuleer teorieë en bepaal die waarheid daarvan.  In die soeke na waarheid moet mens skepties wees.  Jy kom by waarheid net uit wanneer jy dinge nie vir soetkoek opeet nie, en deurdring na die diepste kern van daarvan.

Geen wonder ons dink naderhand iets wat ons nie kan waarneem of meet nie, bestaan in werklikheid nie.  Op hierdie manier word geloof eintlik onmoontlik.  Niemand kan God in die fokus van ‘n mikroskoop kry nie.  Ons kan God nie optel, vermenigvuldig, deel of aftrek nie.  Bestaan God dan nog?  Vandaar dat sommige mense kies vir ateïsme (“God bestaan nie”) of agnostisisme (“Ons kan nie met sekerheid sê of God is of nie”).

Maar, as ons enigste waarheid die kennis is wat ons self verwerf, is ons spoedig diep in die moeilikheid. Die lewe het dan geen groter doel meer nie.  En ons kan nie meer die volgende vrae antwoord nie: Waar kom die wêreld vandaan?  Waar gaan die wêreld heen?  Wat is die doel en betekenis van ons bestaan?

Die wêreld het immers begin lank voor ons lewe begin het.  En waarskynlik gaan die wêreld na ons dood nog voortbestaan.  Ons is iewers in die middel van die wêreld se geskiedenis gebore en in onsself het ons geen idee wat die plot van ons werklikheid is nie.  Waarom bestaan ons?  Waarvoor leef ons?

Daar is baie mense wat hierdie vrae ontwyk.

  • Sommige mense sê ons bestaan om handel te dryf, ons vir onsself ‘n lewe te skep.  Die diepste werklikheid is die finansiële waarde en potensiaal van die dinge rondom ons.
  • Nog ‘n idee is dat ons volksverband die hoogste werklikheid is – ons lewe vir ons genetiese of etniese groep.
  • Ander sê weer ons lewe om die beste daarvan te maak sodat ons in ‘n volgende lewe in ‘n beter gestalte kan terugkeer. Uiteindelik, na ‘n proses van selfverbetering in verskillende lewens, sal ons geluk smaak.
  • Of ons lewe omdat ons DNA ten alle koste wil voortplant en voortleef.  Ons staan in diens van ons genetiese kode.
  • Nog ‘n moontlikheid, wat ons baie keer in die koerante lees: ons lewe omdat ons uit oerchaos ontstaan het, en dinge bloot toevallig so uitgewerk het.  Ontwikkeling en toeval is die skepper.

Jesus verduidelik dat ons nodig het om waarheidskennis van buite onsself te ontvang. Ons kry die Gees van waarheid as geskenk, en die Gees lei ons in die volle waarheid.  Daar is dinge wat mens nooit sal weet, tensy jy die inligting as openbaringsgeskenk kry nie.  Voorbeelde van hierdie soort inligting is:

  • Kennis van wie God is, en wat God se bedoelinge is – Hy is liefde en wil alles vul met sy liefde.
  • Kennis van waar die wêreld vandaan kom en waarheen dit op pad is – God het dit gemaak en roep ons na Hom toe.
  • Kennis waarom die wêreld in ‘n gebroke toestand is en hoe God dit hanteer – Hy is in die herstel en versoeningsbesigheid.  Hy maak alles  nuut met sy teenwoordigheid.
  • Kennis van wie ek is en wat die doel is van my lewe – Ek is ‘n verteenwoordiger van God en ek moet Hom verheerlik.

Deur die eeue het God mense betroubaar hieroor onderrig. Die onderrig het ‘n hoogtepunt in die voorbeeld lewenswandel, dade en lering van Jesus Christus van Nasaret, die Seun van God, bereik.  Jesus is die waarheid.  Die waarheid is nie ‘n beginsel, ‘n feit, ‘n genoom of ‘n formule nie, maar ‘n Persoon.  In Hom was God persoonlik aanwesig op aangesig van hierdie wêreld.  Die Heilige Gees word aan ons gegee om Jesus se lering en voorbeeld by ons in te skerp.  Trouens, deur die werk van die Gees is Jesus, en die Vader wat Hom gestuur het, steeds by ons teenwoordig.

Die Gees herinner ons aan wat Jesus geleer het.  Vandaar die belydenis dat die Gees die kandelaar is by die Boek wat getuig oor Jesus.  Die Gees staan ons by om die Skrifte vanuit die lewe en werke van die lewende Here te lees, te verstaan en toe te pas.  Hy is, soos ek vir die kinders gesê het, die GPS, wat ons onfeilbaar weer terug bring na die Boek van die Lewe, die Bybel.

Die tweede herinnering:  God, as Vader, Seun en Heilige Gees is die diepste waarheid en die hoogste realiteit

Die belydenis dat ons ‘n God aanbid wat een in die verhouding van Vader, Seun en Heilige Gees is, beskryf die diepste waarheid en hoogste, finale realiteit.  Daarom kan Eugene Peterson sê:

“Early on the Christian community realized that everything about us – our worshipping and learning, conversing and listening, teaching and preaching, obeying and deciding, working and playing, eating and sleeping – takes place in the ‘country’ of the Trinity, that is, in the presence and among the operations of God the Father, God the Son, and God the Holy Spirit.  If God’s presence and work are not understood to define who we are and what we are doing, nothing we come up with will be understood and lived properly.” (Christ plays in ten thousand places).

Vir ons is die konsep van die Drie-eenheid dikwels ‘n dogma wat ons probeer verduidelik, nie regtig verstaan nie, en waaroor ons wonder wat die werklike waarde daarvan kan wees.  Die laaste ding wat mens met die Drie-eenheid moet probeer doen, sê Calvyn, is om dit te probeer verduidelik.  Mens kan nie, en enige poging doen afbreek aan die diepe geheimenis van wie God is.

Die punt is:  die lewende, liefdevolle verhouding tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees, is die goddelike geselskap van waaruit die wêreld in aanskyn geroep is.  En hierdie Goddelike Geselskap reik uit na ons, tree met ons in ‘n verhouding, leer ons en staan ons by.  Op ‘n menslik-verstaanbare vlak word die diepste geheime van die Goddelike Gemeenskap se gedagtes oor ons, werk met ons, en uiteindelike bedoelinge met ons aan ons gekommunikeer.

Ons leef in die landskap van die Drie-eenheid. Die eerste en laaste feit waarmee ons rekening moet hou, is die werklikheid van God.  Die eerste en laaste feit wat ons lewe en ons reaksies op dinge moet verreken, is die bestaan van God.  ‘n God wat vir ons lewe gee, met ons praat, en in wie se gemeenskap ons ons altyd bevind.

Daaroor kan ons die Here loof en prys.  In hierdie lof kan ons elke dag lewe.  En oor hierdie lewe van lof kan ons ons laat leer deur die Heilige Gees.

Die derde herinnering is:  Waarheid het met verhoudinge te doen

Op grond van die Bybel bely die Christelike kerk dus dat die hoogste waarheid persoonlik is.  Waarheid setel in die persoon van God, waarvan die Heilige Gees ons deur die Woord leer.

Hierdie persoonlike Waarheid is boonop verhoudingsmatig, want die drie-enige God bestaan in die verhoudinge van Vader, Seun en Heilige Gees.

Die leer van die Drie-eenheid is daarom nie ‘n poging om God te verklaar nie, maar ‘n getuienis dat God God-self as persoonlik en in verhoudinge openbaar.  God leef in gemeenskap met mans, vroue en kinders wat geroep word om met God in gemeenskap van liefde te leef.  Hierdie lewe met God is persoonlik – ons beleef onsself as persoonlik geliefd, mense wat vergewe is, met ‘n persoonlike hoop en ‘n persoonlike behoefte om God te dien en te prys.  Ons ken God nie omdat ons God kan definieer nie, maar omdat God ons persoonlik liefhet en ons leer om God lief te hê.

Weer Eugene Peterson:

The consequences of this are personally revelatory: another does not know me, nor do I know another, by defining or explaining, by categorizing or psychologizing, but only relationally, by accepting and loving, by giving and receiving.  The personal and interpersonal provide the primary images (Father, Son and Holy Spirit) for both knowing God and being known by God.  This is living, not thinking about living, living with, not performing for.

Die vierde herinnering en ook die toepassing: wat beteken dit vir my?

Wat beteken dit vir my dat die diepste waarheid met God Drie-enig te doene het, en persoonlik en verhoudingsmatig is?  Wat beteken dit vir my dat die Heilige Gees spesifiek gegee word om ons in hierdie Waarheid te lei?

•        Enige poging om ons wêreld los van God te bedink of te verstaan, kan nooit betroubare waarheid aan ons verskaf nie.  Ons het God en God se openbaring nodig.

  • Die diepste waarheid is die persoon van God, en die verhoudingmatige karakter van God. Waarheid kan daarop nie in ‘n slagspreuk vasgevang word nie. Geen mens beskik oor die volkome waarheid nie. Ook nie die kerk kan in die naam van Waarheid optree asof dit mag gee, of die reg om ander te veroordeel nie. Mens kan waarheid nie op ‘n kanonloop verf nie. Jy kan dit nie in ‘n politieke beleid vasvang, waarmee jy dan ander platskiet nie. Jy kan God nie opeis vir jou party nie. Jy kan die waarheid nie beheer en diensbaar maak aan jou eie motiewe nie. Die waarheid is persoonlik en relasioneel. Die waarheid kom in die Persoon van God na ons toe.
  • Wanneer Christene die waarheid probeer gebruik om verdeeldheid te saai, ander te veroordeel en te verdoem, het ons die waarheid verloor. Die Waarheid eer altyd verhoudinge, wil die kwaad oorwin deur die goeie, wil verskeurdheid vervang met genesing, wil die leeu en die lam saam laat wei. Die Waarheid is liefdevol en geduldig, en ly dikwels onder die leuen. Die reg om te oordeel en wraak te neem kom aan God alleen toe. Ons kennis en insig is te beperk om onsself as finale regters oor ander aan te stel. Ons is die lammers wat die vrede van herstelde verhoudinge met ander deel.
  • Aangesien die Gees ons lei in die volle waarheid, kan ons die boodskap van die waarheid versprei. Ons kan dit doen op ‘n manier wat ander intrek in verhouding met die hoogste Waarheid. Ons kan die geur van die evangelie versprei, en die evangelie toelaat om mense te vernuwe. Hierdie waarheid wys die onreg uit, vernuwe lewens, skep wedergeboorte en bekering, oorwin die kwaad, vernietig die leuen. Die waarheid doen dit, omdat dit die waarheid van God is. Die Gees gebruik die waarheid vir hierdie doel : om te oortuig van sonde, om mense na God te laat gryp, om mense tuis te laat kom in die lewensvernuwende waarheid van ‘n verhouding met God
  • Die waarheid van God is publieke waarheid. Dit beteken dat waarheid nie net geestelik is nie, dit is waarheid vir die volle lewe van die hele wêreld. Die waarheid is nooit net indiwiduele opinie nie, of net waar vir diegene wat dit erken nie. Die waarheid is publiek, geldend vir die hele wêreld. Daarom word ons geroep om te getuig oor die waarheid waarin die Gees ons lei. Die wêreld moet hoor van die werklikheid van God.

Ons kan met oortuiging sê ons jaag nie windmeulens nie.  Ons leef uit die betroubare waarheid van God.  Ons sal die waarheid ken.

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.