Handelinge 11:19-30 – God werk deur gewone mense – Son 2 Mei 2010



GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Tema: God werk deur gewone mense

Toetrede

  • Lied 420:1 Daar klink ‘n lied, daar juig ‘n stem, dit klink oor heel Jerusalem – sit

Votum en seëngroet

Lofprysing

  • Lied 411 Kom, almal, laat julle stem verrys! Kom laat ons die Verlosser prys. – staan
  • Lied 414 Juig, verlostes, juig en sing. Halleluja! Halleluja! – staan
  • Lied 524 God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk – sit

Verootmoediging en geloofsbelydenis

  • Lied 260 Ek glo vas in God, die Vader, wat almagtig, wys en goed – sit

Gebed

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing

  • Handelinge 11:19-30

Woordverkondiging: God werk deur gewone mense

Twee uiteenlopende gebeure – dieselfde uitwerking

Dit is interessant hoe twee uiteenlopende gebeure dieselfde uitwerking kan hê.

Die eerste is die gebeure van Handelinge 10.  God beweeg hemel en aarde om Petrus by Kornelius uit te kry, waar hy die evangelie die eerste keer vir nie-Jode verkondig.  En dit het vêrreikende gevolge.  Die gemeente in Jerusalem omarm hierdie nuwe interpretasie dat die evangelie vir heidene ook bedoel is.  En dit is asof die Christelike evangelie skielik soos ‘n veldbrand begin versprei.  Dit is soos ‘n damwal wat gebreek het.  Aan die boodskap van Christus is daar nou geen keer nie.

Die tweede is die gebeure van Handelinge 8, ‘n tydjie te vore.  Met Stefanus se getuienis voor die Joodse Raad, waarvoor hulle hom stenig breek daar ‘n hewige en gewelddadige vervolging teenoor Joodse Christene uit.  Al die gelowiges is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria.

Die interessante is dat dié gelowiges nie skuiling gesoek en weggekruip het nie.  ‘n Mens sou dit immers verwag dat jy eers weer bestek sou wou opneem, en jou voete eers weer probeer vind in ‘n nuwe gebied. Maar dit was nie die geval nie.  Die vlugteling gelowiges verkondig die evangelie so ver as wat hulle gaan.  Die storie van Filippus en die Etiopiër val in hierdie tydvak, wat lei tot ‘n gelowige gemeenskap in Ethiopië, reeds voor die eerste gemeente in Europa gestig wou word.

En dan steek hierdie vlugteling gelowiges ‘n grens oor.  Hierdie gewone gelowiges begin die evangelie aan Griekssprekendes verkondig. Dit lei tot die stigting van die gemeente van Antiochië vanwaar Klein-Asië en Europa bereik sou word met drie sendingreise van Paulus.

Twee uiteenlopende gebeure – met dieselfde eindresultaat.  Die evangelie gaan oor grense na ander mense.

1.      In die een geval is dit die leiers van die kerk wat die werk van God doen.

2.      In die ander geval is dit gewone gelowiges, mense soos ons, wat die werk van God doen en deur Hom gebruik word.

Petrus se ervaring is belangrik, want dit legitimeer die uitbreiding van die evangelie onder heidense gelowiges.

Maar die uitbreiding gebeur deur gewone gelowiges!

En dit is hoe dit steeds is.

  • Geestelike leiers is belangrik. Baie keer moet hulle ook beweeg word om die visie te snap, soos hier met Petrus. Soms kos dit ook die Here om hemel en aarde te beweeg om leiers aan die gang te kry. En sonder leiers is daar baie keer nie genoeg motivering vir mense om aan die gang te kom nie.
  • Maar as nuwe uitbreidings van die evangelie regtig in getalle ‘n groot effek moet hê, kom dit van die gewone gelowiges wat aan Christus toegewy is en deur die Heilige Gees gebruik word.

Delf bietjie dieper

Kom ons kyk ‘n bietjie dieper na wat gebeur het.

Vlugteling gelowiges verkondig die evangelie net waar hulle gaan, en bereik mense in Fenisië, Siprus en Antiochië, hoewel aanvanklik net onder Jode.  Fenisië was net noord van Seserea, waar Petrus net kort tevore die evangelie aan Kornelius gebring het.

Onder hulle was daar egter gewone gelowiges uit Siprus (Griekse Jode sowel as Grieke wat die Joodse geloof aangeneem het) en Sirene (Libiese Jode uit Afrika, natuurlike Jode sowel as Libiërs wat die Joodse geloof aangeneem het) wat die evangelie aan Griekssprekendes begin verkondig het.

Barnabas kom natuurlik van die eiland Siprus (Hd 4:36), en op die eerste sendingreis is dit ook die eerste plek waar hy en Saulus aandoen (hfst. 13).

Maar die verwysing na Sirene is nogal besonders.

1.      Ons lees in Markus 15:21 van Simon van Sirene, die pa van Aleksander en Rufus, wat Jesus se kruis gedra het, heel moontlik ‘n Libiese Jood.

2.      In Handelinge 2:7 lees ons dat met die uitstorting van die Heilige Gees daar ook mense van die “dele van Libië om Sirene” teenwoordig was, “Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het” aanwesig was wat tot bekering gekom het.

3.      Volgens Handelinge 6:9 was daar ‘n Joodse gemeenskap van vrygemaakte slawe afkomstig uit Sirene en Aleksandrië, en hulle nakomelinge, die sogenaamde Sinagoge van vrygelate slawe.

4.      En in Handelinge 13:1 lees ons dat “Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was … Simeon wat ook Niger genoem is (Niger was ‘n Latynse naam wat swart beteken – dit is waarskynlik dat hy ‘n swart Jood was of ten minste swart van gelaatskleur, want dit word spesifiek deur Lukas uitgelig – dit is selfs moontlik dat hy dieselfde man is as die Simon wat Jesus se kruis gedra het), Lucius van Sirene (vgl ook Rom. 16:21)” en dan natuurlik Barnabas, Manaen, wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus.

Die getuienis van die gewone gelowiges lei dus tot die stigting van die gemeente van Antiochië vanwaar Klein-Asië en Europa bereik sou word met drie sendingreise van Paulus.

Antiochië was die derde grootste stad in die Romeinse ryk, en was daarom ‘n betekenisvolle uitbreiding van die evangelie.  Die grootste was natuurlik Rome.  Geen wonder dat Paulus se bediening onafwendbaar na ‘n tydperk ook in Rome gelei het.  Die tweede grootste stad was Alexandrië in Egipte, wat eweneens ‘n baie belangrike Christelike bastion in die vroeë dae van die kerk geword het.  Barnabas en Markus word byvoorbeeld met die stad verbind.

Terloops: dat Jesus as die Here verkondig word en nie as Christus nie aan hierdie Griekssprekende heidene is betekenisvol.  Christus was ‘n konsep wat meer tot Jode gespreek het as tot heidene, weens die lang Messias verwagting in Israel.  Die konsep Here was weer meer bekend aan die Grieke, want so is  hulle eie gode genoem.

En dit is ook interessant hoe ‘n goeie band hulle met die gemeente in Jerusalem behou.  Daar is oor en weer besoeke en met die groot hongersnood samel hulle geld in vir ‘n hulpfonds om die medegelowiges in Judea te help.  Geen magsbasisse en geen gevestigde belange nie.  Daarom kon hulle hulp verleen uit die oorvloed waarmee die Here hulle geseën het.

En dit is gewone gelowiges wat hierdie dinge gedoen het, sonder ‘n lang en deeglike teologiese opleiding.  En ek wil nie die opleiding misken nie, Paulus was ‘n baie geleerde man en was ‘n evangelis sonder weerga.  Maar die insig om oor Jesus as Here te praat, omdat dit ‘n beter ingang sou kry by die Grieke is deur die Gees aan gewone gelowiges gegee.

Wat ons verder moet raaksien, is dat dit Joodse gelowiges is uit ander wêrelddele wat die brug word vir die evangelie na die wêreld toe.

  • Jesus van Nasaret was ‘n Jood. Die twaalf volgelinge van Jesus was Jode. Paulus, Barnabas, Silas en Apollos was almal Jode. Die eerste Christene was Jode. Die eerste gemeentes ontstaan binne die verband van die Joodse sinagoge.
  • Onder die eerste volgelinge van Jesus is daar egter reeds Jode met Griekse name: Andreas en Filippus.
  • Paulus kom uit die Griekse stad Tarsus in Klein-Asië (Hd 21:39; 22:3).
  • Barnabas kom van die eiland Siprus (Hd 4:36).
  • Die gemeente in Antiogië word deur Joodse Christene uit die Diaspora (Siprus, Sirene) gestig en deur ander Christene uit die Joodse Diaspora soos Paulus en Barnabas (Hd 11:19-26) opgebou.

Daar is dus ‘n kruis-kulturele aspek aan die verspreiding van die evangelie wat ons nie moet ligskat nie.  Ons moet mense met ‘n ander kultuur toelaat om die Here te dien, en ook vir ons te bedien, want dit bring gewoonlik ‘n verdieping en uitbreiding van die evangelie wat ons nie self kan bewerk nie.

Dit moet ons anders laat dink oor onsself.

Leiers is belangrik, en deur die gehoorsaamheid van hierdie gewone gelowiges sou die beste leier wat ooit in die kerk gewerk het, op drie wêreldveranderende reise gestuur word.

Maar sonder die gewone gelowiges se eie evangeliese ywer, en die ouderlinge se onbaatsugtige werk, sou die evangelie baie maklik tot ‘n Joodse sektegroep beperk kon gewees het.

Om die feit te staaf, is dit Interessant dat die apostels nie genoem word in vers 30 nie, as Antiochië geld stuur vir Jerusalem vir die hongersnood nie, net die ouderlinge.  Dit is asof die apostels op die agtergrond begin tree, en behalwe in Handelinge 15 word hulle nie verder genoem nie.  Wel die ouderlinge!

Die boodskap is duidelik: die evangelie se uitbreiding hang van jou af, van die ouderlinge in hierdie gemeente, en van my af: maar dan duidelik in daardie volgorde.

En dit is vir my wonderlik om te hoor van Danie Mouton wat baie rondgaan by gemeentes in die Oos-Kaap.  Hy sê oral kom hy Somerstrand lidmate teë wat in die gemeenskap werk.  Dit laat my anders dink oor ons bedieninge.  Ons het baie bedieninge, maar elke lidmaat van ons is eintlik ‘n bediening op sy eie!

Ons gaan in hierdie volgende paar weke ‘n paar besoeke aflê aan plekke waar ons lidmate betrokke is in die stad en omgewing.  Daar is pamflette wat vir u inligting gee oor die plekke wat ons gaan besoek, die tye wat ons vertrek en wat ons daar gaan doen daarin kry.

Kom kyk en stap in die voetspore van Jesus in ons stad in en gaan kyk waar oral Hy besig is.

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotlied

  • Lied 527 Die werk behoort aan U, ons Heer – die werk waarin ons staan – staan

Seën

Amen

  • Lied 313 Amen – staan

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.