Galasiërs 3:23-29 – In Christus is julle almal één – Son 20 Junie 2010

2) Om die konteks van hierdie teks egter nog beter te verstaan, moet ons nog verder teruggaan in die Ou Testament. In Genesis 11, die verhaal van die “Toring van Babel”, probeer die mens “vir homself ‘n naam maak” (v 4) en so verklaar hy sy onafhanklikheid  van God. Die straf vir dié hoogmoed is die verdeling van die volke.

Maar onmiddellik (Gen 12) maak God weer ‘n plan met die volke as Hy vir Abraham roep en sê (v 3): “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” Die belofte is om deur Abraham en dan uiteindelik in Christus, die straf van die toring van Babel (die verdeling van die volke) op te hef.

Daarom is Galasiërs 28:3 so ‘n belangrike vers: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een”,  en is dit ‘n vervulling van die verbond wat reeds met Abraham aangegaan is. Vers 29 voeg pertinent by: “En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.” Dis soos ‘n legkaart wat in mekaar pas.

Daarom was die eerste gemeentes ook multikultureel van aard. Jode en Grieke het saam aanbid, saam deel gevorm van die een geloofsgemeenskap.

Dit was natuurlik ‘n geweldige kulturele aanpassing vir die Joodse Christene wat voorheen slegs saam met Jode aanbid het. Soos Scot McKnight sê: “een van die grootste uitdagings vir die eerste gemeentes was vir die Joodse Christene om nie net heidense Christene te aanvaar nie, maar ook deel te laat voel van die kerk. Om die eenheid van die liggaam van Christus te behou ten spyte van diversiteit.”

En dit bly steeds ‘n uitdaging, waar een kulturele groep in ‘n kerk of gemeente die meerderheid is.

Teks

Slawe en seuns

21Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God?

Beslis nie! As ‘n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou ‘n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. 22Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Woordverkondiging

As jy mooi kyk, sal jy op Skotse skaapplase een of meer lammetjies sien rondhardloop met ‘n ekstra velletjie om hulle lyfies gewikkel.  Dit beteken die lammetjie se ma het gesterf.  Nou, die velletjie is nie daar om hulle warmer te maak nie.  Nee, dit is daar om ‘n heel ander rede.

‘n Lammetjie sonder die versorging van ‘n skaapooi het geen kans op oorlewing nie.  Sonder kos en sonder die aanvaarding binne die trop, sal geen lammetjie dit maak nie.  Maar, as jy nou net so ‘n wesie na ‘n ander ooi sou neem, sal sy dit bloot wegstoot.  Sy sal nie die lammetjie se reuk herken nie, en daarom weet dit is nie haar eie nie.

Gewoonlik het so ‘n skaapkudde egter ook ‘n ooi wie se lammetjie gesterf het.  Die skaapwagters neem die dooie lam se vel en wikkel dit om die wees-lammetjie.  Die lam word dan na die ooi geneem wie se kleinding dood is.  Wanneer sy die wees-lammetjie ruik, ruik sy haar eie lam.  In plaas van om die lam te verdryf, eien sy dit as haar eie toe.

Op dieselfde manier, in Christus, word ons deel van God se kudde.  Deur die geloof in Christus is ons almal nou kinders van God, ons is deur die doop deel van Christus (Gal 3:26-28).  Jesus is soos die velletjie wat vir die trop en vir die ma sê: hierdie een behoort by julle. (Oorvertel deur Peter Grant,  in ‘n preek getiteld “In What Way Is Jesus Christ Different?”)

Ons is in Christus.  Almal wat glo is nou in Christus kinders van God – “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal één”.

Konfrontasie in Antiogië

Ek het verlede week vertel van die konfrontasie tussen Paulus en Petrus.  Paulus moes hom in Antiogië openlik teen Petrus verset.

In Antiogië het Joodse gelowiges aanvanklik die evangelie gedeel met persone van Grieks-Romeinse afkoms, en dié wat tot geloof gekom het, as deel van die Christelie gemeenskap aanvaar. Saam het hierdie Joodse gelowiges en die Griekse bekeerling, soos ‘n mosaïek, een gemeente gevorm.  Hulle was een in die Here.

Petrus het op sy besoek daar gewoonweg saam met die nie-Joodse gelowiges geëet.  Die oomblik toe daar egter ander Joodse gelowiges van Jerusalem daar aankom, het Petrus daarmee opgehou, ter wille van die Joodse gelowiges se idee dat ‘n mens steeds ook die wet moet nakom.

Paulus noem dit egter onomwonde huigelary.  Die hart van die evangelie is daarmee aangetas.

Daarom herhaal Paulus regdeur hierdie brief: net deur Christus kry jy toegang tot die geloofsgemeenskap.  Dit maak nie saak of jy Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie (hier noem Paulus van die groot sosiale skeidslyne van die destydse wêreld): in Christus Jesus is julle almal één!

Waarom is dit belangrik?

Protestantse Christene het ‘n slegte geskiedenis as dit kom by die skeuring van die kerk.  Ons het ongelukkig nie ‘n vreeslik hoë agting vir die eenheid van gelowiges in Christus, ingebind in die een liggaam van die Here nie.

Maar dit was nie altyd so nie!

Die godsdiens-sosioloog Rodney Stark vertel die geskiedenis van die antieke Antiogië, toneel van die konflik tussen Petrus en Paulus, in sy boek The Rise of Christianity. Wanneer mens dit lees, besef jy waarom die konkrete en praktiese eenheid van ‘n verskeidenheid gelowiges in Christus die hart van die evangelie en die krag van die evangelie is.

Antiogië

Antiogië was die vierde grootste stad in die Romeinse Ryk in die tyd van die Nuwe Testament.  Soos die ander stede, was dit ‘n verskriklike plek.

  • Die bevolking was 150,000 mense, met ‘n bevolkingsdigtheid van 48000 mense per km2. Vergelyk dit met Chicago (5 000 persone per km2) of Calcutta (30000 mense per km2).
  • Antiogië was ongelooflik oorbevolk, mense was ingedruk, met feitlik geen privaatheid nie.  Die strate was ongelooflik nou, en mens moes dit deel met diere soos perde en osse.  Selfs die heel breedste straat in Antiogië, bewonder deur die hele Romeinse Ryk, was 9 meter wyd.  Dit is ongeveer so breed soos ‘n normale pad in Somerstrand.
  • Romeinse stede het geen rioolsisteme gehad nie.  Kamerpotte en rioolputte was die res van die bevolking se voorland.  Potte is dikwels sommer uit die boonste verdieping op straat leeggemaak.  Aangesien seep nog nie uitgevind is nie, en water aangedra moes word huise toe, was die bevolking nie juis gewoond aan bad nie.
  • Waar daar vullis ophoop, insekte versamel, en ‘n hoë konsentrasie van mense is, is daar ‘n oorvloed siektes. Daar was nie seep, antibiotika of kennis van bakterieë nie. Daarom was die gemiddelde lewensduur van mense, veral stedelinge, destyds baie laag. Tog was daar ‘n verstedelikingsproses aan die gang, mense wat ‘n beter heenkome kom soek het of uitgeboer het of doodgewoon by die leër aangesluit het as soldate.
  • Enige stad se bevolking word onstabiel wanneer daar ‘n voortdurende invloei van nuwelinge is.  Dit verhoog die potensiaal vir misdaad.  Daar is nie ‘n verenigde tradisie of gemeenskaplike moraliteit nie.  Oproer was ‘n gevreesde verskynsel in Romeinse stede, iets waarvoor die stede baie vatbaar was.
  • Aangesien die Romeine baie volke oorwin het, was Romeinse stede ook die versamelpunte van mense wat etnies uiteenlopend was.  Hierdie mense het letterlik en figuurlik hulle mes vir mekaar in gehad.  Die Romeine het die stad daarom in sektore verdeel wat dikwels met mure afgeskort was.  Daar is aanduidings dat Antiogië 18 ghettos of etniese woonbuurte gehad het.  Na donker was dit lewensgevaarlik om jou huis te verlaat.

Alles in ag genome was stede lewensbedreigende plekke.  Redding en verlossing was nodig.  Spesifiek publieke redding en verlossing.

Vir Antiogië het die dag van redding aangebreek toe Joodse gelowiges, anders as op ander plekke, ook die evangelie aan die nie-Joodse inwoners verkondig het (Handelinge 11).  Antiogiërs het vir Jesus Christus as Here aanvaar, wat beteken het ‘n nuwe geloofsgemeenskap het ontstaan waarbinne almal welkom was, Griek, Romein, Jood, barbaar, slaaf en vryman, man en vrou.

Hoe red die evangelie Antiogië?

Wat gebeur wanneer ‘n nuwe gemeenskap van mense wat vir mekaar omgee, mekaar lief het en mekaar versorg, ongeag jou etniese agtergrond, tot stand kom in ‘n geweldgeteisterde, siek stad? Wat gebeur wanneer tradisionele vyandigheid afgebreek word binne ‘n nuwe gemeenskap wat geleer word om lief te hê eerder as te vergeld, om vir ander om te gee eerder as om jou eie belange te dien?

Wat gebeur wanneer die Heilige Gees die liefde van God in mense se harte uitstort (Rom 5:5) en hulle leer om in vrede met ander te lewe?  Wat gebeur wanneer siekes versorg word, ongeag hulle agtergrond, en waar ‘n nuwe, verenigde gemeenskap tot stand kom?

Die antwoord is eenvoudig: die boodskap van Jesus en die één, nuwe gemeenskap wat Hy deur die getuienis van sy volgelinge geskep het, het stede veiliger plekke gemaak. Die misdaad het gedaal.  Liefde en versorging het gestyg.  Mense is geleer om vir mekaar om te gee.  Die publieke ruimtes het veiliger geword.

Daarom, sê Rodney Stark, het die Christelike geloof soos ‘n veldbrand deur die Romeinse stede versprei.  Jesus het werklik konkrete, praktiese hoop vir mense gebring.  Die geloof in Jesus het mense saamgebind, aan hulle identiteit verskaf, en hulle gemeenskappe getransformeer,

…providing new norms and new kinds of social relationships able to cope with many urgent urban problems.  To cities filled with the homeless and impoverished, Christianity offered charity as well as hope.  Top cities filled with newcomers and strangers, Christianity offered an immediate basis for attachments.  To cities filled with orphans and widows, Christianity offered a new and expanded sense of family.  To cities torn by violent ethnic strife, Christianity offered a new basis for social solidarity.

Die volle omvang van ons redding in Christus

Dink aan die publieke en sosiale impak van die evangelie wanneer mense in Jesus se naam geleer word om die gevangenes te besoek, die naaktes te klee, water en belangstelling, liefde en genade te gee aan mense wat dit ontbeer (Matt 25).  Dit ontketen ‘n sosiale hervorming wat nie grense ken nie.

Die evangelie red ons nie net van die hel wat na hierdie lewe aanbreek nie.  Dit red ons ook van die hel duskant die graf, van geweld en misdaad, sosiale disintegrasie en publieke chaos. Ons redding het nie net te doen met waar ons die ewigheid deurbring nie.  Die evangelie red ons nou reeds, en skep ‘n nuwe, alternatiewe gemeenskap wat die bestaande sosiale orde omkeer en vernuwe, omdat die mense verander en tot ‘n nuwe gemeenskap saambind, die liggaam van Christus.

Die evangelie doen dit omdat Christus mense, ten spyte van hul herkoms, saambind tot ‘n nuwe mensheid.  Daarom dat Paulus hier vir die mense van Galasië sê dat dit hoort tot die kern van die ware evangelie, soos hy reeds met die mense van Antiochië gedoen het.  Wie die evangelie ontkrag deur mensgemaakte, etniese voorkeure te wil gebruik om toegang tot die nuwe mensheid in Christus te beperk, skep ‘n valse evangelie.

Soos Paulus in ons teks sê: “Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.”

Ons het in ons land ook gelowiges nodig wat die transformerende krag van die evangelie onverskrokke uitleef.  Almal in hierdie land wat deur Christus toegang tot die Vader gekry het, is saamgebind tot een, nuwe mensheid.  Ons is aan mekaar gegee.  In die mate wat ons dit uitleef, na mekaar uitreik, mekaar vind, mekaar liefhet en dien, sal ons die veranderende krag van die evangelie in ons samelewings beleef.

Die evangelie is nie net ‘n private, persoonlike ervaring wat net met my binnekamer en my belewenis van God te doen het nie.  Dit is ‘n skeefgetrekte, valse, Westerse evangelie.  Ons het Christene nodig wat die samelewing takel, wat ons broers en susters in die Here wat anders as ons is, ontdek, en tot vennote in diens van Christus maak.  Ons het ‘n evangeliese sosiale agenda nodig.

Dit is wonderlik bemoedigend om te sien hoeveel gelowiges reeds hierdie werk doen.  Talle gryp bv die Wêreldsokkerbeker aan as geleentheid om gemeenskappe oor grense met mekaar te konnekteer in diens van God en gemeenskap.

Stories

Ek sluit af met ‘n paar stories van hoop.  In ons gemeente is daar gelukkig reeds ‘n hele paar sulke verhale, Theo met sy 30 000 borde kos jaarliks, Hannes met die werkskeppingsprojek, die komberse projek, ons betrokkenheid by MTR Smit en nog vele ander barmhartigheid en uitreik projekte hier en reg deur die wêreld.

Maar, ek haal die stories uit ons Oos-Kaap sinode, om net ‘n prentjie te gee van wat op ander plekke gebeur, wat van ons kerk en van die samelewing algaande ‘n ander plek maak.

PE-Noord

‘n Aangrypende seremonie het onlangs op 13 Junie 2010 in Port Elizabeth-Noord gemeente afgespeel.  Dit het alles begin met ds Johan Marais wat byna ‘n jaar gelede aangekondig het hy begin ‘n groep met die oog op volwasse kategese.  Twaalf volwassenes meld toe aan, waarvan sewe end-uit deel van die groep gebly het.

Eers word vier volwassenes gedoop as deel van belydenisaflegging.  Daarna kom hierdie persone se huweliksmaats na vore, en word hulle kinders ingebring om gedoop te word.

Vier volwassenes en daarna hul vyf kinders word op een dag gedoop.  Nege dope op een dag en almal gesinsdope!

Waarom meld ‘n groot groep volwassenes vir kategese in ‘n NG Gemeente aan?

Dit het te doen met publieke geloofwaardigheid.  PE-Noord se geloofwaardigheid hou verband met hul betrokkenheid by die omliggende gemeenskap in die sentrale, semi-geïndustrialeerde stadsgebied waar die gemeente geleë is.  Die gemeente bedryf ‘n vroue-bemagtigingsprojek, gee Saterdae ‘n maaltyd aan byna 400 gemarginaliseerde straatlopers, besoek die gevangenes in die nabygeleë gevangenis, reik uit na en gee om vir die hele gemeenskap se kinders. Hulle is ook betrokke by die plaaslike laerskool.

Die diens en betrokkenheid by die gemeenskap gee aan die gemeente publieke geloofwaardigheid.  Mense herken Christus in die lewe van die gemeente.

Daarom is meer as 50% van persone wat die aanddienste bywoon nie lidmate van die gemeente in die klassieke sin van die woord nie.  Daarom gee sakemanne en besighede gereeld finansiële steun aan die gemeente se gemeenskapsprojekte.

Persone wat inskakel by die volwasse kategese kom dus nie vir verhelderende teoretiese insigte en toeligting van die kerk se dogma nie – hoe lofwaardig dit ook al mag wees.  Hulle kom omdat hulle Jesus aantreklik vind, en self ook vir Jesus saam met mede-gelowiges wil volg.

NGK Cambridge

Die Garcia sub-ekonomiese munisipale woonstelle is nie die soort plek waar mens graag wil bly nie.  ‘n Hele katologus van sosiaal-maatskaplike probleme, soos gesinsgeweld, verslawing, dwelmhandel, kinderverwaarlosing – en meer – kom hier voor.

Die woonstelblok is geleë in die Cambridge woonbuurt, so ‘n kilometer of wat van die kerkgebou van die NG Kerk Cambridge af.

Ds Sas Swart vertel die verhaal hoe die gemeente by hierdie woonstelblok, en spesifiek die kinders betrokke geraak het.  Hulle doen wonderlike werk om te verseker dat die kinders by die skool kom, in die middae geleentheid het om huiswerk te doen (in die kerksaal) en ook die geleentheid kry om Jesus van Nasaret te leer ken en te volg.

Daar is bitter min romanties aan dié werk.  Maar Jesus dring die gemeente, en daar is vrug op die werk.

Deel van hierdie vrug is die ouers van hierdie kinders wat kerklik ingeskakel raak en op hulle beurt óf leer om die Here te volg, óf weer die geleentheid kry om betekenisvol by deel van ‘n geloofsgemeenskap te word.

Onlangs, in Mei 2010, het vier volwassenes uit hierdie woonstelblok belydenis van geloof in die Cambridge-gemeente afgelê.

Die briefies wat hulle geskryf het om hul aansoeke om lidmaatskap te motiveer, is van die wonderlikste getuigskrifte wat ‘n gemeente kan kry.

Grace Devereaux skryf oor ‘n “‘n Kerk wat omgee vir mense.”  Dit is ‘n kerk wat om die regte redes aantreklik is en iets van die Here se hart vertoon.

Loretta Pillay se seun is aan ‘n rolstoel gekluister.  Die kerk se uitreik het hom weer ‘n ruimte gegee waarbinne hy kon sosialiseer en waarin hy veilig kan wees.  Sy vertel dat wat die kerk vir haar seun gedoen het,haar beweeg het om in te skakel.  Sy het gasvryheid ervaar.

Elliot

Vier kinders sterf op slag toe die taxi voor ‘n vragmotor beland.  Dié tragedie speel af op ‘n herfsmiddag in Mei 2009, terwyl die taxi skoolkinders na Elliot, ‘n klein dorpie in die Noord-Oos-Kaap, vervoer.

Daar is vyftien kinders in die bussie, waarvan ‘n paar ook ernstig beseer word.  Die meeste benodig noodbehandeling.  ‘n Aantal boere uit die omgewing is eerste op die toneel.  Hulle spring aan die werk en vervoer die kinders na die hospitaal op Elliot.  Dadelik – dieselfde middag – word genoeg geld ingesamel en ambulanse gereël om die erg-beseerdes Oos-Londen toe te neem, honderde kilometer vêr.

Die volgende oggend stig die plaaslike NG gemeente ‘n rampfonds ten bate van die slagoffers.  Die opbrengs word gebruik om die begrafniskoste van die oorlede kinders te dra, hospitaal- en mediese uitgawes te dek, en nuwe skoolklere te koop vir die beseerdes, meeste van wie net oor ‘n enkele stel skoolklere beskik het.  Verskeie boere maak onder andere ruim bydraes tot die rampfonds.

Hierdie spontane Christelike liefdesdiens en ondersteuning is kleurblind.  In die onbeskryflike smart van ouers wat kinders verloor, of wie se kinders ernstig beseer word, is dit bloot medemens wat medemens bystaan.  Niemand sou die uitkoms kon voorsien nie….

Dis nou ‘n jaar later.  “Wat is die gevolg van dié hulpvaardigheid in die gemeenskap?” vra ons op ons onlangse sinodale padberade vir ds Conrad Thomas, plaaslike leraar van Elliot.

“Verstommende gevolge.  Daar is ‘n dramatiese toename in onderlinge vertroue in die gemeenskap,” antwoord hy.  “Die taxi-vereniging op Elliot se houding het radikaal verander teenoor spesifiek die boere-gemeenskap, maar ook die blanke bevolking in die algemeen.  Taxi-bestuurders help ons byvoorbeeld nou misdaad bekamp.  Wanneer hulle bewus word van persone wat onwettige goedere vervoer, word dit aangemeld.  Verskeie taxi-operateurs beskik oor landbougrond en boer ook self.  Boere het ingespring en hulle gehelp om die grond om te ploeg en die lande vir die saaityd voor te berei.  In die afgelope oestyd het boere ook hul stropers ingestuur om die mielies te help oes.”

Daar is ‘n besliste afname in misdaad op Elliot.  “Dit staan in skrille kontras met die spanning wat daar ‘n paar jaar gelde op Elliot geheers het”, vertel ds Thomas.  “Terwyl die Here nie ongelukke stuur nie, het die Here tog hierdie ongeluk gebruik om die situasie op ons dorp om te keer.”

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.