Salomo luister
Wel die eerste ding wat ons sien uitstaan, is dat Salomo dit reggekry het om te luister.
In ‘n sekere sin was dit natuurlik ook die enigste ding wat hy kon doen. Hy kon net luister, aandagtig luister, dit oordink, en met die insig wat die Here hom gee, ‘n uitspraak maak.
- Dit kan wees dat hy die hart van ‘n vrou geken het, en geweet het dat die werklike ma se hart inmekaar sou krimp as sy moes toesien dat haar kind in twee stukke gekap sou word – soos inderdaad gebeur het toe hy die kind wou middeldeur sny.
- Dit kan wees dat hy die storie van Rispa sou onthou, die vrou wat onverpoosd, dag en nag, van die oestyd af tot die reëntyd oor haar seuns se lyke gewaak het, toe hulle deur die Gibeoniete doodgemaak is, soveel so dat koning Dawid se hart versag het, en hy beveel het dat hulle ordentlik begrawe kon word (2 Sam 21).
Die punt is, hy het met insig geluister, en kon vanweë daardie insig ‘n wyse uitspraak gee. Die ma wie se kind dit was, kon doodgewoon nie toesien dat hy doodgemaak word om tussen haar en haar opponent verdeel te word nie. En sy offer haar belang in hom op, en kies dat die kind lewe, al beteken dit dat sy hom sal verloor. Solank die kind net lewe … en onmiddellik weet Salomo, maar sy is die ma … en gee die kind vir haar.
En die skrywers vertel ons, die hele Israel het ‘n hoë agting vir Salomo gekry en gesien en erken dat God vir hom die wysheid gegee het.
Wysheid is ‘n geskenk
Maar dieper as dit illustreer die storie die geskenk wat God vir Salomo gegee het. Want wysheid kom nie net deur te luister, maar dit is ook ‘n gawe van God.
Dit sien ons in die kostelike verhaal aan die begin van hierdie hoofstuk.
‘n Bietjie agtergrond. Salomo se pad na die kroon was besaai met dorings. Sy ouer broer Adonia het Salomo teengestaan, homself eers as koning laat uitroep, met die hulp van die vorige aanvoerder van die leër, Jaob en die invloedryke priester Abjatar, die nasaat van Eli.
Gelukkig het Salomo ook gedugte mense gehad wat hom ondersteun het. Benaja, die een wat in die put afgeklim en ‘n leeu daar doodgemaak het (2 Sam 23:20) , en wat later die aanvoerdersrol oorneem. Sadok, wat uiteindelik hoëpriester word, en wie se nageslag die nageslag van Eli as uitverkorenes vir die priesterlike dinastie vervang, sowel as die profeet Natan, ‘n gedugte man van God, en ook sy ma Batseba. En só raak hy die opvolger van Dawid, die eerste dinastieke koning, die eerste koning in Israel wat die koningskap erf van sy pa.
Terug by ons verhaal: dan gaan Salomo om te offer, interessant genoeg by die hoogte in Gibeon, die vernaamste een in Israel, want dit was ook die plek waar die tent van ontmoeting (2 Kronieke 1:2-13) was.
God verskyn die nag aan hom in ‘n droom en gee Salomo carte blanche: ”Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?”
Interessant genoeg, gee Salomo eers erkenning aan sy pa, en spesifiek aan wat die Here vir sy pa gedoen het, maar vra dan nie iets vir homself nie, iets wat hy natuurlik later ook raaksien by die vrou wie se kind nog lewe, maar iets vir sy koninkryk, vir die taak wat die Here hom opgelê het. Hy vra vir gehoorsaamheid aan God dat hy reg sal regeer en in alles insig sal hê, ten spyte van die feit dat hy nog jonk en onervare is.
Maar die manier waarop hy dit stel, is verstommend. Gehoorsaamheid in die oorspronklike word met twee woorde geskryf. Salomo vra die Here vir ‘n “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal “discerning heart”.
En die Here is só beïndruk met dié versoek van Salomo, dat Hy nie net aan sy versoek voldoen nie, maar sommer ook vir hom rykdom, aansien en ‘n lang lewe gee, amper soos Salomo dat later vir die vrou doen. Maar die belangrikste is dat God vir Salomo wysheid en insig gee, ‘n luisterende hart.
En die wysheid was inderdaad indrukwekkend.
- Ons sien dit in die verhaal van die 2 vroue wat stry oor die oorlewende kind, hoe hy met insig luister.
- Ons sien dit in die uitstekende plan wat Salomo beraam met die houtkappery vir die tempel bouplanne. Hy werk met die gedagte van skofte vir sy werkers: 1 maand weg met die kappery in Libanon en 2 maande terug by die huis (1 Kon 5). En laat ons ook onthou dat met die bou van die tempel hy daarin geslaag het om die godsdiensbeoefening van Israel te verenig, iets wat daarvoor nog nie moontlik was nie.
- Hy is verantwoordelik vir ‘n hele aantal spreuke en psalms waarvan ‘n hele paar in die Bybel opgeneem is (Spreuke, Hooglied, Prediker, Psalm 72 en 127).
- In plaas van veldslae, gaan hy verdrae aan met die ander volke en raak bekend vir sy oorleg en wysheid. Hy is nie net bekend vir ons deur die Bybel en die Spreuke van Salomo nie. Daar is talle verhale van hom in die Arabiese en Ethiopiese geskiedenis. In talle ander volksliteratuur uit dié tyd eer hulle hom as ‘n wyse, en verheerlik sy intellek en ander vermoëns. In die Arabiese en Ethiopiese tradisies word ook vertel dat hy ‘n kind by die koningin van Skeba gehad het, Menelik I, die stigter van die Ethiopiese dinastie.
Die feit dat Salomo uiteindelik in sy middel-vyftigs die pad byster geraak het, lief geword het vir perde (simbool van mag) en die afgode van sy baie vroue, ten minste liewer vir hulle geword het as vir die Here, neem nie weg dat hy ‘n ongelooflike gawe gehad het nie, die gawe van wysheid.
En dit is dié kant van Salomo, sy wysheid, wat ons inspireer.
Hoe kry ons wysheid?
Op dieselfde twee maniere:
- Een: Ons leer om te luister.
- En twee: ons luister totdat ons insig kry, en die Here dit vir ons gee.
Jy leer wysheid deur na te dink oor wat gebeur, deur te luister na wat God daaroor sê, in die Bybel, in gebed, in die kleingroep waaraan jy behoort, en met die insig wat jy kry op te tree, en verder te luister.
Want, onthou, Salomo het nie net ‘n besluit geneem, dit is jóú kind nie. Nee, hy het ‘n onverwagse opdrag gegee, na hy goed geluister het, sny die kind in twee stukke en gee vir elke vrou een. Hy lok dus reaksie uit deur hierdie vreemde opdrag. Sielkundiges sal ‘n “reframing” tegniek hierin herken. Sy opdrag plaas die 2 vroue skielik in ‘n ander situasie as dié waarin hulle gestry het. Hulle het gestry oor wie se kind dit is. Salomo laat hulle nie verder toe om dít te doen nie, maar laat hulle nadink oor die lewe van die kind. En dit verander alles!
En let op hoe Salomo toe weer luister – wat gaan hulle sê, wat gaan hulle doen? En het hulle nie gepraat nie: “Sny hom deur” donder die een … en “Asseblief, moet hom tog net nie doodmaak nie,” smeek die ander vrou.
En eers toe Salomo dít hoor, en weer geluister het na hulle, daal die insig neer en weet hy, die kind behoort aan die ma wat bereid is om haarself op te offer ter wille van haar kind. Sy is bereid om afstand te doen van haar kind, sodat hy nie doodgemaak word nie. Eers toe Salomo dít hoor, het hy ‘n besluit geneem en die kind vir die regte ma gegee.
Die geestelike dissipline wat jy en ek dus moet aanleer, is om te luister. Luister lei na insig. Luister lei na helderheid. Luister lei na wysheid.
En dit is so eenvoudig soos,
- Om in ‘n groep aan te leer om te eggo. Dit is een van die maklikste dinge om te sê, en soms een van die moeilikste dinge om te doen. Eggo beteken jy sê vir iemand wat jy gehoor het by hom of haar, totdat hy of sy vir jou sê, jy het reg gehoor. Jy hoef nie saam te stem met wat hy hoor nie. Om die waarheid te sê, jy sal meesal nie noodwendig saamstem daarmee nie. Jy mag ook nie iemand reg help nie. Want dan oordonder jy die persoon. Jy mag ook nie iemand doodpraat nie. Dan domineer jy eenvoudig die gesprek. Jy het eers geluister, as die ander persoon ervaar dat hy of sy gehoor is.
- Om in jou stiltetyd na te dink oor wat met jou gebeur het, die vorige dag, die vorige week, die vorige jaar – en te luister na die insigte wat na vore kom. Dit is die eeue-oue gebruik van die Daaglikse Ondersoek (daily examen).
- Om die Bybel nie net te lees om te analiseer nie, maar om te luister na wat God vir jou sê. En dit beteken dat jy jou gedagtestrooom stiller moet kry, deur af te skakel, tyd te neem, te reflekteer, totdat daar vir jou insig oopgaan. En dit is baie keer ‘n woord of ‘n frase in ‘n Bybelgedeelte. Een van die maniere om dit te doen is deur die eeue-oue gebruik van Lectio Divina.
- Om soms te gaan sit en net te begin skrywe – dit is ongelooflik watter kreatiewe nadenke dit by jou losmaak.
- Of ‘n Joernaal te hou en getrou te skryf oor wat gebeur en daaroor te reflekteer.
- Om soms vir ‘n retreat te gaan, en tyd te spandeer met die Here, alleen of saam met mense wat naby aan jou is, en te luister watter insigte die Here vir jou gee.
- Om te leer om “koerant te luister”, nie net te lees nie, en te leer om nie net kwaad te word as iemand iets skryf wat van jou idee van die werklikheid verskil nie, maar om só te probeer luister dat jy vir hom die kernpunt van sy argument sou kon weergee as jy met hom in gesprek sou gaan, of daaroor met ander mense gesels.
Ek vermoed dat dit die enkele grootste ding is wat ons moet leer as ons as gemeente en as kerk nog ‘n funksie in ons gemeenskap, land en wêreld wil hê, om te luister.
Want dit sal die wyse insig bring oor die pad vorentoe, verryk met tallose perspektiewe, veral ook van mense wat anders as ons is, en anders as ons dink.
Ons het wysheid nodig
En ons het dit so nodig!
Dink aan die taaldebat in ons land. Lees weer die week prof Russel Botman se artikel in Die Burger en die saak wat hy uitmaak vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal in ‘n meertalige omgewing. En ek kan my al indink aan die argumente wat Leopoldt Scholtz op die tafel sal sit wat met navorsing probeer aantoon dat dit nie kan werk nie. Daar is baie wysheid nodig om mense mekaar te laat vind in die proses.
Dink aan die regstellende aksie debat in ons land.
Dink aan die afloop van die Wêreldbeker in ons land. Daar is wysheid nodig om die energie en die eensgesindheid en die hulpbronne in terme van mense en geriewe en vaardighede te kanaliseer en tot voordeel van almal aan te wend. Daarom is hierdie Keep on flying projek so belangrik.
Soms is dit so dat dit juis deur skande en skade is wat ‘n mens wys word. Jy stamp jou kop en leer daaruit. Maar dit is natuurlik die kritiese voorwaarde, dat jy daaruit leer.
En om te leer uit jou foute, moet jy leer om te luister.
Bybelse wysheid draai dus eintlik om een kern vermoë, die vermoë om te luister, na God in die eerste plek en na die mense met wie ons in aanraking kom.
God wil vir ons wysheid gee
Die wonder is, wysheid is presies wat God vir ons wil gee!
Jakobus 1:5-6
As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,
Net soos hier vir Salomo – die Here wil vir ons ‘n “luisterende hart” gee. Soos die Kronieke skrywer op ‘n ander plek sê: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron 16:9).
Daarom nooi ek jou uit dié week en die kwartaal om op reis met ons te gaan. Ons het 10 stories wat ons inspireer, sommige is uitdagend soos dié storie van Salomo, ander is ontstellend, soos die storie van Jerobeam, waarmee ons volgende week gaan werk, ander is gerustellend, soos die verhaal van Elia op die berg. Maar, in almal, gaan ons die Here se stem hoor wat ons inspirereer om geestelik te groei.
Gebruik die blaadjie met die kleingroep materiaal. Gebruik die Joernaal vir die erediens. Woon die Didage by. Daar is 4 heerlike opsies om uit te kies. En as jy nie daarby kan uitkom nie, lees dan die dagstukkies by bybelskool.com en skryf jou kommentaar en ook jou vrae daar. Registreer net daar, en jy sal die bydraes outomaties elke weekdsdag in jou e-pos Inbox ontvang. En ons sal reageer.
- Die Here wil jou geestelik laat groei. Dit is Hy wat die insig gee. Dit is Hy wat ons lewens rig.
- Ons as leiers se verantwoordelikheid is om materiaal voor te berei wat jou kan help om geestelik te laat groei.
- Maar, jy is verantwoordelik om aan te meld, betrokke te raak, deel te neem.
Mag díe kwartaal se reeks jou daartoe help, met die Stories wat inspireer.
Liturgie
Toetrede
- Luisterlied
Lofsang
- Lied 449 – Halleluja! Ons loof U, Heer; aanbid U, Vader, gee U eer – staan
- Lied 199 – Loof die Here uit die hemel, loof Hom deur wie ons bestaan – staan
- Lied 221 – Loof die Heer omdat Hy goed is; daar’s geen einde aan sy liefde – sit
Kindertyd
Hoe was die vakansie? Het julle sokker gekyk?
Ek wil hoor hoe slim julle is?
Koning Salomo het eenmaal ‘n baie belangrike besluit neem.
In Jerusalem was daar 2 vroue. Hulle het in dieselfde huis gebly en in dieselfde week elkeen ‘n baba gekry, 2 seuntjies. Die seuntjies is net 3 dae na mekaar gebore. Een nag het die een ma haar seuntjie doodgelê. Sy was baie hartseer. Maar toe staan sy stilletjies op en gaan ruil haar dooie seuntjie om met die ander vrou se lewendige seuntjie. Die volgende oggend toe raak die ander mamma met die dooie seuntjie wakker. En toe is sy baie hartseer. Maar toe sy mooi kyk, toe sien sy, maar dit is nie my seun nie. Dit is die ander vrou s’n. En toe sy nog mooier kyk, sien sy, maar die ander vrou hou haar seun vas. “Gee my kind” sê sy vir die ander vrou. Maar die ander vrou wil niks weet nie. Sy sê, dit is my kind.
En so kom die 2 vroue by koning Salomo aan en vertel vir hom hulle storie, en hulle stry met mekaar oor wie se kind is die lewendige seuntjie.
En hy dink by homself. Die een vrou sê die ander se kind is dood, en myne lewe. En die ander vrou sê haar kind is lewendig en jou seun is dood.
Wat sou julle gedoen het? Hoe sou julle besluit het?
Wel, koning Salomo het gesê: “Bring vir my ‘n swaard!” En toe sê hy vir sy mense: “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle ‘n helfte!”
Maar die ma, wie se kind dit eintlik was, skrik toe só groot, die Bybel sê: “haar hart het inmekaar gekrimp oor die lot van haar baba,” dat sy vir die koning begin smeek en vra dat hy asseblief nie die seuntjie wat nog lewe moet doodmaak nie, maar liewer vir die ander vrou sal gee. Sy wil net nie hê die seuntjie moet ook doodgemaak word nie.
En wat dink julle sê die ander vrou? Sy sê: “As ek hom nie kan kry nie, kry hy hom ook nie. Sny hom deur!”
En wat dink julle sê koning Salomo? Hy weet onmiddellik hierdie laaste vrou is nie die ma van die kind nie. Sy wil die enigste kind wat lewe ook nog doodmaak. Dit moet die eerste vrou wees wat vra dat hy die kind se lewe moet spaar.
En hy gee die seuntjie vir die eerste vrou.
Darem slim nê?
Die Here het Salomo wysheid gegee. En hier sien ons hoe wonderlik die Here hom gehelp het om ‘n moeilike saak op te los.
Gebed
Lied 254 – Spreek Heer, spreek Heer, want u dienaar luister. (x2) – sit
Gebed
Dankoffers
Slotsang
- Lied 524 – God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk – staan
Seën
Amen
Lied 313
‘n Paar Wyshede om aan te herkou
Rick Warren
- God did not bring you this far just to leave you where you are. “He who began a good work in you will complete it” Ph.1:6
- “Socialism always eventually runs out of other people’s money to spend” – James Robison
- Talking about your own suffering in an attempt to identify with someone in pain NEVER helps. Just be there & listen in love.
- “Never abandon yourselves to despair! We are the Easter people and hallelujah is our song.!” – John Paul II Pope John Paul II
- Integrity is like virginity. Once you give it up it’s gone for good.”The dishonest are ruined by their own duplicity”Pr11:3
- Jesus began his Church as a FAMILY. It changed to an institution in Rome, a political view in Europe,& a business in America.
- Many activities aren’t necessarily wrong, just not necessary! Do what’s indispensible. “Let the dead bury the dead” Lk.9:60
- Imperfections make your face uniquely YOU -proof God didn’t want a clone of anyone else. Every mark is a beauty mark to God.
- God watches how accurately u represent the words of those u disagree with..It’s dishonest to use their words out of context
Alexander Solzhetnitsyn
- Violence can only be concealed by a lie, and the lie can only be maintained by violence.
Harper Lee
- You never really understand a person until you consider things from his point of view. (from the character Atticus Finch)
Onbekend
- “The spaces between your fingers were created so that another’s could fill them in.”