Numeri 1-2 – Ingeskryf vir die reis na die beloofde land
Die oggendlig breek stadig oor die berge. Die paadjie is koel onder my voete. Ek stap al vinniger af na die hek. Die koerant is gelukkig al daar. Ek het die hele nag gewag vir dié oomblik. Gretig slaan ek dit sommer daar in die oprit oop. In die middel, want dit is waar die lyste van name is. Ek soek my skool se naam. Die A’s, B’s, C, en dan die D’s. My vinger gly deur die name op die lys van Hoërskool Durbanville. En dan die verligting. Van Wyk, ACV. Ek is deur. ‘n Klein tekentjie vir universiteitstoelating.
Dit bly lekker om jou naam op ‘n lys te soek en te kry, nie waar nie? Matriekuitslae. Sportspanne. Universiteitsvakke. Die vreugde as jy jou naam kry. Die skop in die maag as jy egter jou naam nie vind nie. As jy dit nie gemaak het nie. Dis asof jou binnekant in mekaar krimp. Asof die wêreld gaan stilstaan. Asof jy dit net nie kan glo nie. Dit kan mos nie waar wees nie? Maak ek nie ‘n fout nie? Het hulle nie ‘n fout gemaak nie?









