Wat is respek?
Wat is respek? Die woordeboeke beskryf dit as om iemand te bewonder of om iemand hoog te ag.
As jy iemand bewonder, het jy respek omdat jy hulle as waardevol beskou weens hulle vermoëns, hulle kwaliteite, of hulle prestasies. Ons bewonder sportmanne wat die hoogste sport bereik. Ons het respek vir Wayde van Niekerk en Usain Bolt. Ons het respek vir wetenskaplikes soos Albert Einstein en Stephen Hawking. Ons bewonder hulle vermoëns en prestasies.
As jy iemand hoog ag, kan dit steeds wees weens hulle bewonderenswaardige kenmerke, maar dit kan ook wees weens ‘n waarde wat jyself aan hulle toeken, ongeag of hulle dit verdien of nie. Ons het respek vir oumense nie omdat hulle baie vermoëns het nie, maar omdat hulle oud is en ons aan hulle ‘n waarde toeken, ongeag of hulle dit verdien of nie, trouens soms juis ten spyte van wie of wat hulle is. Ons het respek vir gestremdes en randfigure, nie omdat ons hulle vermoëns of prestasies bewonder nie, maar juis ten spyte van hulle gebreke en tekortkominge. Ons ag hulle hoog, ons respekteer hulle, omdat ons kies om dit te doen.
In die een geval dwing mense respek by ons af. Hulle verdien ons respek. Hulle ontlok by ons respek. Ons bewonder hulle.
In die ander geval gee ons respek. Hulle verdien nie ons respek nie, maar ons gee dit in elk geval, omdat ons wil, omdat ons kies om hulle hoog te ag. Ons bewonder hulle nie juis nie, maar dit maak nie saak nie. Ons respekteer hulle omdat ons besluit om hulle te respekteer.
Om God lief te hê en ons naaste
Ons sien iets daarvan geïllustreer in die dubbele liefdesgebod wat die Here Jesus vir ons gegee het.
Die eerste gebod is:
“’Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.” (Matt. 22:37-38 – aangehaal uit Deut. 6:5).
God kan aanspraak maak op ons liefde, want Hy het ons gemaak, Hy is goed, Hy is almagtig, Hy onderhou steeds sy hele skepping, ons kan Hom raaksien in elke deel van ons lewe. Hy verdien ons respek. Ons bewonder Hom. Hy dwing respek af.
Die tweede gebod is:
“En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’” (Matt. 22:39 – aangehaal uit Lev. 19:18).
God vra van ons ‘n liefde vir ons naaste ongeag wie of wat hulle is. Hy vra van ons dat ons liefde en respek sal gee, omdat Hy dit wil, omdat Hy dit van ons verwag. En dit sluit almal in. Levitikus 19 praat op dieselfde wyse oor “ou mense” (Lev. 19:32) en die “vreemdeling” (Lev. 34) wat ons moet respekteer en liefhê.
Kortom, God verwag van ons liefde en respek omdat HY dit verdien. En God verwag van ons dat ons ons naaste – en dit sluit almal in – sal liefhê en respekteer, omdat HY dit wil, omdat Hy dit van ons vra.
Jesus som daarmee eintlik die hele boodskap van die eerste vyf boeke van die OT op:
“In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.” (Matt. 22:40).
Dit is die somtotaal wat die wet van ons vra: om God lief te hê te respekteer; om ons naaste lief te hê en te respekteer.
“Soos jouself”
Julle sal agterkom dat ek op een frase uit Jesus se woorde nog nie kommentaar gelewer het nie, dat die liefde vir die naaste moet wees: “soos jouself”. Dit is doelbewus. Want daarmee bring ek die tema van ons preek in die kollig, om jouself te respekteer.
- Hoekom het Levitikus dié kwalifikasie aan jou liefde en respek vir die naaste gekoppel?
- Hoekom moet jy mense liefhê soos jouself?
- En hoekom lig Jesus hierdie voorskrif van die wet uit as een van die twee sleutel sake wat Hy ook aan ons voorskryf?
Ek dink daar is ten minste twee redes.
Respek transformeer ons selfsug
Die eerste rede is dat ons van nature geneig is om net aan ander te doen wat ons ervaar hulle aan ons doen. Ons is selfsugtig. Ons kyk na ons naaste en wat hulle aan ons doen, en baseer ons liefde en respek op wat hulle in die eerste plek aan ons doen. As hulle ons respekteer, dan respekteer ons hulle terug. As hulle vir ons liefhet, dan het ons hulle terug lief. As hulle ons uitnooi vir ete, dan nooi ons hulle terug uit vir ete.
En omgekeerd. Ons het hulle nie lief as hulle nie vir ons lief is nie. Ons nooi hulle nie as hulle nie vir ons nooi nie.
Ons gun ander wat ons onsself gun. Dit kan min wees. Of dit kan baie wees. Dit hang af van hoe ons oor onsself voel. As ons onsself respekteer, sal ons ander respekteer. As ons min van onsself dink, sal ons min van ander dink. As ons onsself wantrou, sal ons geneig wees om ander te wantrou. Ons gebruik onsself ‘n maatstaf vir ander.
En omgekeerd. Ons gun ander wat hulle vir ons gun. Ons respekteer hulle as hulle ons respekteer. Ons gebruik hulle respek vir ons as ‘n maatstaf vir ons respek vir hulle.
Daarom dat Jesus vir ons hier leer: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”. Jesus wil ons help om ons binnekant te transformeer. Hy wil ons help om uit onsself te kom, want dit sal groot dividende vir ons kan oplewer, meer as wanneer ons op onsself konsentreer, op ons eie belang.
Wat jy wil hê ander aan jou moet doen, doen dit aan hulle
Miskien kan ons dit beter verstaan deur te kyk na wat Jesus op ‘n ander plek sê oor ons liefde vir die naaste en waar Hy ‘n positiewe beginsel vir ons formuleer:
“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” (Matt. 7:12).
Jesus sê dus, ja, dit is baie keer hoe julle funksioneer, selfsugtig. Maar dink net, as jy nou begin om goed te wees vir ander mense, miskien, tot jou verbasing, sal hulle ook goed wees vir jou. Probeer dit! Nooi iemand. Miskien word jy self uitgenooi. Raak ‘n vriend vir iemand. Miskien raak daardie persoon ook ‘n vriend vir jou. Deurdat jy vir ander lief is, raak hulle ook lief vir jou, en baat die liefde vir ander ook vir jou. Naasteliefde is dan ‘n vorm van selfliefde. En dit kan uitstekend werk!
Die resultaat sal wees dat jou selfsug getransformeer word na ‘n liefde vir ander. Deur doelbewus te begin om uit te reik, deur respek te gee vóór jy dit ontvang, skep jy ‘n nuwe situasie waarin jyself ook gerespekteer kan word. Dus: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” Anders gestel: “Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.” (Luk. 6:31) soos Jesus op ‘n ander plek sê.
Die probleem met hierdie interpretasie is egter dat dit ook net sover gaan. Op ‘n manier bly hierdie naasteliefde net ‘n vorm van selfliefde. Dit is verseker beter as selfsug, maar dit gaan nie ver genoeg nie.
Daar is ‘n dieper rede hoekom Levitikus praat van liefde vir die naaste “soos jouself”, die woorde waarop Jesus die liefdesgebod vir die naaste baseer.
Respek bevestig jou identiteit
Die diepste rede waarom ons ons naaste moet liefhê “soos onsself” is omdat ons daarmee God self respekteer en die hoë waarde wat Hyself aan mense heg. God is nie lief vir mense net omdat hulle ‘n hoë waarde het, bewonderenswaardige eienskappe het, of een of ander wonderlike vermoë het of prestasie behaal het nie.
Hy is lief vir mense omdat Hy ‘n intense vreugde in hulle het, omdat Hy hulle met sorg en aandag gemaak het.
Ons lees in Psalm 8 die volgende loflied op die mens:
4As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers,
die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese (as God) gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, 9die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!”
Die ding wat ons in dié Psalm moet raaksien, is dat die mens “net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese (as God)” gemaak is. In die oorspronklike word die woord vir God, ʾělōhîm, gebruik en ek verkies daarom die vertaling wat van God soos al hoe meer vertalings dit doen, omdat dit is wat die woord in die eerste plek beteken.
Om dié hoë plek wat God aan die mens gegee het, te onderstreep, spel die Psalmis uit waaraan ‘n mens dit kan uitken: “U het hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.”
Dit is hoe ‘n hoë waarde God aan die mens geheg het. Dit is die respek wat die Here aan die mens toegeken het. Dit is die respek wat die Here ook aan jou toegeken het, en ook aan jou naaste. Nie omdat die mens iets vir God kan beteken nie. Nie omdat die mense een of ander bewonderenswaardige eienskap of vermoë het of prestasie behaal het nie, maar net omdat God só oor hulle dink.
Só, as jy iemand respekteer, gaan dit dus nie net oor ‘n vorm van selfliefde nie. Dit ook. Maar dit gaan ten diepste oor ‘n respek wat jy vir God het, vir sy skepping, vir die hoë waarde wat Hy aan alle mense toeken. Dit gaan oor jou liefde vir God.
Elke keer as jy dit regkry om iemand te respekteer omdat hy of sy ‘n hoë waarde vir God het, is jy nie net besig met selfliefde nie, maar bevestig jy jou identiteit as skepsel van God, bevestig jy jou naaste se identiteit as skepsel van God.
Dit is hoekom die liefde vir jou naaste “soos jouself“ so belangrik is in die oë van Jesus. Dit transformeer jou selfsug in liefde vir jou naaste. En jy vind baat daarby. Ten diepste bevestig dit jou identiteit as kind van God, bevestig dit jou liefde vir God. En ander sal baat vind daarby.
Maar, daar is nog meer.
Respek transformeer jou om soos Jesus lief te hê
Jesus self is vir ons die grootste voorbeeld van naasteliefde. Maar daarom praat Hy van naasteliefde nie net as die liefde vir jou naaste “soos jouself” nie, maar op ‘n ander plek ook van die liefde “soos Hyself”, die liefde wat in Homself as die Christus gesetel is. In Jesus se laaste gesprekke met sy dissipels oor die liefdesgebod sê Hy:
“Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” (Joh. 13:34).
Jesus is dus uiteindelik die diepste maatstaf vir ons liefde en respek vir ander. Soos Hy bereid was om sy lewe neer te lê vir sy dissipels, roep Hy ons op om ander lief te hê en ons eie belang vir hulle neer te lê. Waar ons nog die liefde vir die naaste “soos onsself” kan misverstaan deur onsself as ‘n maatstaf te gebruik vir daardie liefde, kan ons die liefde “soos Ek julle liefhet” moeilik anders verstaan as dat ons onsself prys moet gee in ons liefde vir ander, soos Jesus.
Dit is nie net ons selfsug wat moet transformeer na ‘n liefde ter wille van wederkerige liefde vir ons naaste nie, maar ons hart wat ander se belange hoër as ons eie sal stel. Dat ons bereid sal wees om pyn te vat ter wille van ons respek vir ander. Dat ons bereid sal wees om die minste te wees ter wille van ons respek vir ander. Dat ons bereid sal wees om die kruis te dra in die plek van ander.
Dit is waar die respek vir God jou bring, omdat jy eerder aan Hom gehoorsaam wil wees as aan jouself en jou eie belange.
Die Here roep ons dus vandag op om soos Hy lief te hê, om respek te betoon wat dieper gaan as net die liefde soos jouself, maar lief te hê soos Hy liefhet.