Belofte – Romeine 8:28-32

Carisa Smuts skryf vir my dat sy baie nadink oor die tema van droogte, met die windpomp as simbool. Al is dit droogte of voorspoed, die windpomp draai wanneer die wind ook al waai. In droogte is dit die boer se (soms enigste) teken van hoop op reën. Maar die windpomp werk hard om lafenis van diep onder die aarde te kry en vir mens en dier verligting te bring.

Dit pas mooi in by vanaand se tema waarin ek sterk gaan fokus op God se beloftes en hoe seker dié beloftes vir ons in Christus Jesus die ja-woord van God geword het. Wat nodig is dat die Heilige Gees die windpomp van ons geestelike lewe sal laat begin draai, sodat die water van die vervulling van God se beloftes die damme kan begin volmaak, en die oorvloed die omgewing in ‘n lushof kan verander.

Ek bid saam met haar dat die windpomp in ons gemeente sal begin draai, maak nie saak waar in ons lewe ‘n droogte ondervind word nie. En dat die woorde wat die Here gee, elkeen van die beloftes wat ons in die Skrif gaan lees, soos wind sal wees vir daardie windpomp van herlewing. (more…)

Continue ReadingBelofte – Romeine 8:28-32

Droogte – 2 Kronieke 7:11-16

Dit is heerlik om hierdie belofte van God te hoor: “As … my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Dit is een van die wonderlike beloftes van die Here in die Woord. Hy sal hoor, Hy sal vergewe, Hy sal genees. En waar die probleem droogte is, sal Hy reën gee. Waar dit verwoesting is deur sprinkane, sal Hy vrugbaarheid verseker. Waar dit allerhande pestilensies is wat ons tref, sal Hy genesend optree.

God belowe dat Hy sal voorsien.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis bely oor God se voorsienigheid: “dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.”(artikel 13 – vgl Joh 5:17).

Dit is God se belofte aan ons. Dit is wat ons van God kan glo. Dit was ons van God moet glo. Dat Hy voorsien. Dat Hy sy beloftes hou. Dat Hy hoor, vergewe en genees.

Dit beteken, sê die NGB, dat: “niks per toeval oor ons kan kom nie, maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt. 10:29-30).”

Dit is ‘n onuitspreeklike troos vir ons. ‘n Belofte waarop ons onsself kan verlaat, soos die NGB sê: “omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie.

As dít is hoe God in die Bybel geteken word, en ons geloofsbelydenisse dit vir ons onderstreep, hoekom het ons dan droogte? In die woorde van ons Pinkstertema: “Wanneer kom die reën?

En dit gaan nie net oor die droogte nie. Dit gaan ook oor daardie tender. Dit gaan ook oor daardie hofbevel. Dit gaan ook oor jou swaarkry weens ander se nalatigheid. Dit gaan ook oor dié dinge wat nie uitwerk soos jy dit graag wil hê nie. Al stort jy jou hart in jou gebede voor die Here uit. Waarom gryp die Here nie in nie?

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS (more…)

Continue ReadingDroogte – 2 Kronieke 7:11-16

Bly wag op die Vader se belofte – Hemelvaart 2018

A typical rural Karoo scene in South Africa – a water pumping windmill with a leaking dam. Monochrome

In drie jaar se bediening het Jesus nooit een keer die woord “wag” gebruik nie. Nie een keer nie. Elkeen wat na Hom toe gekom het, is onmiddellik gehelp. Die melaatses. Die blindes. Die verlamdes. Die gebreklikes. Die besetenes. Jesus was die God wat naby gekom het. Hy was Immanuel. God met ons[1].

Daar is wel ‘n gelykenis wat Jesus oor die wederkoms vertel waarin Hy ons waarsku om op die regte manier te “wag” daarvoor (Luk 12). Maar, Jesus sê nooit vir enigiemand tydens sy aardse bediening dat hulle moet wag voor Hy hulle versoeke beantwoord nie. Selfs in sy gesprek met die Siro-Fenisiese vrou oortuig sy Hom met ‘n paar woorde om haar dogter van die bose gees te verlos (Mark 7).[2]

Dit dra die boodskap aan ons almal dat Jesus die tyd van God se genade ingelei het. Dat Hy God se beloftes kom vervul het. Dat in Hom al God se beloftes ja en amen is, soos Paulus ‘n tyd hierna aan die Korintiërs sou skryf (2 Kor 1:20). Dat jy op Hom kan staatmaak om met oorgawe sy beloftes waar te maak.

Daar is egter twee keer, waarvan ek weet, wat Jesus getalm het om iets te doen. Die een keer wat Hy getalm het, was met sy besoek aan die Loofhuttefees (Joh 7) en die tweede keer met Lasarus se siekte (Joh 11). En daar was baie goeie redes daarvoor. (more…)

Continue ReadingBly wag op die Vader se belofte – Hemelvaart 2018

Innerlik suiwer en uiterlik onberispelik – Filippense 1:3-11

Daar is iets aan ‘n selfoon wat jou laat dink dat jy belangrik is. Met ‘n paar “missed calls”, ‘n klomp onoopgemaakte e-posse en talle “notifications” op Facebook, Instagram en Twitter, kry ons die idee: “Iemand soek my. Iemand wil my aandag hê. Iemand het my nodig.

Dit is asof die geluid van ‘n nuwe boodskap ons komplimenteer. Iets is aan die gebeur, en jy moet daarvan weet. Selfs al sit jy in ‘n restaurant saam met ‘n klomp ander mense, dan is die selfoon aan. Jy kan dit nie mis nie. Jy mag daardie boodskap nie mis nie.

Dit is asof ons dink dat ons al hoe meer saak maak, hoe meer boodskappe ons kry. En die ongelooflik gesofistikeerde tegnologie versterk daardie idee. Jy is belangrik. Jy is net een klik weg van “My documents”, “My calendar”, “My Favorites”, “My music”, en “My pictures”.

Ons lewe in “Meworld”, sê die antropoloë. Die tegnologie gee ons “flattered selves” (Thomas de Zengotita). Ons word gepamperlang. Ons word gevlei. Ons word verheerlik. Ons word heuning om die mond gesmeer. Ons lewe in ons eie geskepte wêreld waarin ons nommer een is. Die media wat ons verslind – boodskappe, nuus, advertensies, series, musiek – laat ons dink dat alles om ons draai. Dat “streaming” net vir ons geskep is. Dat ons die sentrum van ons wêreld is.

Daarom dat ons só baie “selfies” neem. Want ons verewig daardie belangrike momente waarin “ons” die sentrum is. Die een wat die “selfie” neem, is onwillekeurig die sentrum van die foto. Jy kan dit nie anders neem nie!

Die probleem van hierdie “flattered self” is dat ons geleidelik ons “self” verloor in dié tegnologiese “Matrix”-wêreld, dat ons vergeet dat hierdie nie regtig “ons wêreld” is nie. Dat ons nie regtig die sentrum van alle bestaan is nie. Dat die wêreld nie om ons draai nie.

Ons lewe mos nie onafhanklik van ander nie. Trouens, ons lewe in Iemand andersse wêreld. God se wêreld.

En daar is eintlik ‘n groot stuk troos in dié wete. Dat dit God se wêreld is. Dat Hy die begin is van die proses om tuis te kom in hierdie wêreld. Om by God self tuis te kom en in sy teenwoordigheid ons self te vind.

Maar dit beteken ook dat ons rekening moet hou daarmee dat dit God se wêreld. Dat Hy van ons verantwoording kan vra. Dat ons nie kan leef in God se wêreld asof Hy nie bestaan nie. Asof die wêreld net om ons draai nie.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

(more…)

Continue ReadingInnerlik suiwer en uiterlik onberispelik – Filippense 1:3-11

God roep alle mense oral op om hulle te bekeer – Handelinge 17:16-34

Paulus is in Athene waar hy wag vir Silas en Timoteus om van Berea af te kom, na die opstand rondom Paulus en sy boodskap.

Athene was destyds ’n soort wêreld op sy eie. Amper soos Londen of New York. ’n Soort kultuursentrum van tempels, teaters, markpleine – waar mense van oor die hele wêreld saamgetrek is.  Amper ‘n soort geestelike middelpunt vir die denkendes van daardie tyd.  Dit was die soort plek waar die lewe nie stilstaan nie, maar waar nuwe dinge daagliks gebeur.

Soos Lukas dit hier stel: “Al die Atheners en ook die vreemdelinge wat daar woon, het vir niks anders tyd as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie.

Paulus raak verontwaardig (sy gees roer in hom) weens die baie afgodsbeelde in die stad. En hy begin in die sinagoge met die Jode en ander godvresendes te praat en later ook met die verbygangers op die stadsplein, by die pottebakkersmark, die kerameikos, wat weens die baie afgodsbeelde ook die godemark genoem is, te praat. Nog later ook by die Stoa Poikile, ’n pilaargang op die Areopagus wat met bont kleure geverf was, waar die wysgere en redenaars, die manne wat kan praat, bymekaargekom het.

En die hart van sy boodskap is dit. God: “roep alle mense oral op om hulle te bekeer.” Trouens, in die Engels lui die vertaling só. God: “commands all people everywhere to repent.” (ESV).

Dit is in ‘n neutedop die boodskap wat die Here ook vandag vir ons het.

(more…)

Continue ReadingGod roep alle mense oral op om hulle te bekeer – Handelinge 17:16-34

Niemand weet nie – 2 Samuel 13

Aanddiens 15 April 2018

Seksualiteit is ‘n onderwerp waaroor min gepraat word. Veral in die kerk.

Seksualiteit is deel van God se goeie skepping

Die Bybel vermy die onderwerp van seksualiteit egter glad nie.  Want seksualiteit is deel van God se goeie skepping.

Die Here sê reg aan die begin: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal ‘n hulp maak wat by hom pas.”(Gen 2:18). Hy maak hulle “helpers en helftes” vir mekaar. Dit is wat daardie frase beteken. Hulle pas soos “helftes” van die geheel by mekaar wat mekaar bystaan en ondersteun,. Hulle is “helpers” vir mekaar.

Geen wonder dat die Genesis skrywer uit hulle verbintenis die gevolgtrekking maak dat die man sy ma en pa sal verlaat: “en sy vrou aankleef.” (Gen 2:24). “Helftes” en “helpers” wat mekaar nie sal kan weerstaan nie. En die skrywer voeg daarby: “Hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.” (Gen 2:25).

Die Bybel is dus nie skaam om oor seksualiteit te skryf nie. Van die begin af word daaroor in gloeiende positiewe terme geskryf. Tot in die fynste detail van die fisieke aard van ons seksualiteit. (more…)

Continue ReadingNiemand weet nie – 2 Samuel 13

Hy het gesien en geglo – Johannes 20:1–31

Dit is fassinerend om Johannes se verhaal van die opstanding met nougesette aandag te lees. As jy dit lees en herlees en nogmaals herlees begin fyn detail uitstaan wat jou begrip van wat hier gebeur nie net verdiep nie, maar jou eintlik intrek in wat hier gebeur.

‘n Goeie verhaal is mos so. Dit is asof jy in die lees ingetrek word. Dit is asof jy dit saam begin beleef. Asof jy daar is. Dit is wat Johannes ook met ‘n mens regkry in hierdie verhaal van die opstanding.

(more…)

Continue ReadingHy het gesien en geglo – Johannes 20:1–31

Ek is dors – Johannes 19:28-42

In my voorbereiding het hierdie teks van Jesus se dood en begrafnis in Johannes 19 my aanvanklik swaarmoedig gestem. Ek het dit gelees, en weer gelees en nog ‘n keer gelees. Ek het gesukkel om ‘n boodskap daarin raak te sien wat ek vir julle kan bring.

Ek is só bewus van die feit dat ons hoop nodig het in ons lewe en ons land. Daar is soveel negatiewe dinge wat ons beleef. Soveel dinge wat ons wanhopig maak. En ek het só ‘n behoefte om ‘n boodskap van hoop te bring.

Maar die groeiende donkerte van Jesus se ervaring aan die kruis het my gemoed bekruip soos die skaduwees in die klowe tussen die berge. Jy dink nog daar is ‘n bietjie sonskyn oor dan verdwyn die son agter die berge.

Wat sê ‘n mens as só ‘n donkerte jou bekruip en oorval? En dit uit die Bybel, uit die teks wat ons vir Goeie Vrydag eintlik móét lees?

Ek het soos ek altyd maak die verwysings in die Skrif nagegaan, die talle verwysings wat Johannes gebruik as agtergrond vir die beskrywing van Jesus se dood en begrafnis.

Die eerste was die eerste twee OT verwysings na die sug wat deur Jesus se dorre lippe ontsnap het: “Ek is dors”.

1. “Ek is dors

Maar die twee verwysings na die OT in hierdie uitspraak van Jesus het my nog verder in die donkerte ingeneem, en gelaat met ‘n gevoel van verydeling. Soveel leed. Soveel pyn. So lank reeds voorspel:

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

(more…)

Continue ReadingEk is dors – Johannes 19:28-42

Dit is volbring!

Tennebrae diens Donderdag 29 Maart 18:00 Somerstrand

PowerPoint 1: Dit is Volbring!

Dulce Jesus Mio speel.

Doof musiek uit en PowerPoint af

Chris lees inleiding:

Beleef die laaste ses uur van Jesus se kruisiging met woord en beeld. Uur vir uur. Soos die Skrif dit vir ons vertel. Sewe kruiswoorde troef die leed en die laster. Genade vir jou. En vir my. Dit is Volbring!

(more…)

Continue ReadingDit is volbring!

Van Gabbata na Golgota – Johannes 19:17-27

Daar is drie reise of bewegings opgesluit in die boodskap van Johannes 19:17-27.

Die reis van Gabbata na Golgota

Die eerste beweging is die letterlike reis van Gabbata na Golgota, van die huis van Pilatus na die kruis van Jesus, van die regsverydeling van die mensdom na die reddingsdaad van God self.

Die reis van Gabbata na Golgota begin, van Pilatus se plek, die “Klipplaveisel”, na Jesus se kruisiging, die “Kopbeenplek”.

  • Gabbata was ‘n plek wat ‘n mooi plaveisel van klip as vloer gehad het, ‘n teken van beskawing, van reg en orde. ‘n Plek soos hier in die kerk. Netjiese teëls. Imposant.
  • Golgota was ‘n plek waar mense doodgemaak is, waar kopbene rondgelê het, baie keer nie eers met respek in ‘n graf neergelê nie. ‘n Plek soos ons ashope, die plek waar afval weggegooi is, die plek waar niemand wou kom nie.

Die doel van hierdie beskrywing is om jou te oortuig dat dit werklik was; dat Jesus regtig die lydingspad geloop het; dat Hy regtig aan ‘n kruis gehang het; vir jou.

Maar die beweging is nie net ‘n fisiese reis van beskawing na begraafplaas nie. Dit is ook ‘n geestelike reis.

  • Dit is ‘n reis ván die plek waar Pilatus kies om sy lewe te behou, maar dit juis uiteindelik verloor, omdat hy die Een wat die lewe in sy hand hou, verraai en verwerp.
  • Dit is ‘n reis die plek waar Jesus kies om sy lewe te gee in die dood, sodat dié wat in Hom glo, die lewe sal kan behou.

Dit is daarom egter nie net ‘n reis van verydeling nie. Dit is ook ’n beweging vanaf Pilatus se regsverydeling, ter wille van sy eie lewe, na Jesus se reddingsdaad, ter wille van ander se lewe. Wat beteken, al is dit swaar, al was dit ‘n pad van pyn, was dit ook ‘n reis van redding.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS (more…)

Continue ReadingVan Gabbata na Golgota – Johannes 19:17-27