Genesis 24 – Vertrou die Here en loop die pad met Hom

Vandag se teks is ‘n heerlike vrou-soek verhaal, want Abraham besluit ná Sara se dood dat die tyd gekom het om vir Isak ‘n maat, ‘n metgesel, te soek. Die skrywer herinner ons aan die seën wat hy ervaar het in sy verhouding met die Here. Hy wou nou van dié seën vir sy seun aangee.

Maar dit is ook duidelik ‘n verhaal van God wat in dit alles die leiding neem en ‘n vrou vir Isak gee wat by hom kan pas sodat hy die rol kan speel wat God in die heilsgeskiedenis vir hom beplan het. Soos Abraham die gasvrye een gewees het in die vorige geslag sou Rebekka dit nou wees in die volgende geslag.  Haar gasvryheid sou verseker ook haar skoonpa se goedkeuring weggedra het!  Haar naam rym ook met die Hebreeuse woord vir seën, bē·rǎḵ, wat in die eerste vers van Abraham gebruik word.

Die verhaal wil egter nie net die lewe van die karakters en hulle optrede illustreer vir ons nie. Die verhaal wil ook iets doen. Dit wil iets doen aan en met ons.

Die skrywer wil hê dat ons onsself in die wel en wee van die verskillende karakters ontdek; onsself daarin terugvind, dat ons tot selfinsig kom.  Soos die verhaal ontvou, kan ons onsself ontdek. Ons kan opnuut weer leer wat dit beteken om God te vertrou, God se wil te soek, en saam met familie en lewensmaats te leef.

RUS

Toetrede

Vonkk 70 Abba, Vader, Skepper van die heelal – sit

Votum en Seëngroet

Matteus 11:28-30

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Lofsang

Lied 475 Allerhoogste Hemelvader, lofgesange prys u Naam – staan

Lied 258 Vreugdevolle tyding, bron van hartverblyding – evangeliewoord! – staan

Wet

Romeine 7:15-23

15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

Skuldbelydenis

Lied 332:1,3 God se liefde, so oneindig, sien die nood van sondaars raak – sit

Genadeverkondiging

Romeine 7:24-25a

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

Geloofsbelydenis

Lied 453 Aan die Vader dank en ere, laat ons saam sy lof besing – sit

HOOR

Gebed

Skriflesing

Genesis 24

Rebekka word Isak se vrou

SKYFIE 1

1Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën. Hy het die belofte van ‘n groot nageslag gehad, en het geweet dat Isak nou die regte vrou moes kry om dié proses voort te sit.

SKYFIE 2

Abraham was baie lief vir sy seun Isak, maar hy wou seker maak sy seun kry ‘n vrou wat die Here dien en wat vir hom ‘n goeie vrou sou kon wees.

SKYFIE 3

Abraham het gedink aan al die vroue in Kanaän en het net geweet hulle sou nie deug nie, want hulle het die Here nie gedien nie.

SKYFIE 4

2Abraham het vir sy slaaf gesê, vir die vernaamste in sy huis, die een wat in beheer was van sy besittings: “Sit jou hand onder my heup 3dat jy vir my met ‘n eed in die Naam van die Here die God van die hemel en die aarde kan beloof dat jy nie my seun sal laat trou met ‘n dogter van die Kanaäniete by wie ek nou woon nie; 4jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar ‘n vrou gaan haal vir my seun Isak.”

5Die slaaf het vir Abraham gevra: “En as die vrou nie saam met my hierheen wil kom nie? Moet ek dan u seun laat teruggaan na die land toe waar u vandaan kom?”

6Toe sê Abraham vir hom: “Sorg dat jy nie my seun daarnatoe laat teruggaan nie. 7Die Here die God van die hemel het my weggevat uit my familie, uit die wêreld waar ek gebore is, en my met ‘n eed beloof: ‘Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag.’ Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun ‘n vrou van my land af sal kan bring. 8As die vrou nie saam met jou hierheen wil kom nie, is jy vrygestel van hierdie verpligting. Maar jy mag nie my seun laat teruggaan nie.”

9Toe het die slaaf sy hand onder die heup van Abraham, sy eienaar, gesit en vir hom met ‘n eed beloof om dit alles te doen.

SKYFIE 5

10Die slaaf het tien van sy eienaar se kamele gevat en ook allerlei mooi geskenke en vertrek na Mesopotamië toe, na die stad toe waar Nahor gewoon het.

SKYFIE 6

11Daar het hy die kamele by ‘n fontein buite die stad laat kniel. Dit was laat middag, teen die tyd dat die vrouens uitkom om water te skep.

SKYFIE 7

12Hy het gebid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham. 13Hier staan ek by die fontein waar die jongmeisies van die stad sal kom water skep. 14As ek vir ‘n meisie vra: ‘Hou tog jou waterkruik dat ek kan drink,’ en sy antwoord: ‘Drink gerus, en ek sal jou kamele ook water gee,’ dan is dit sy wat deur U gekies is vir u dienaar, vir Isak, en dan sal ek weet dat U trou betoon aan my eienaar.”

SKYFIE 8

15Voor hy nog klaar gebid het, kom Rebekka met die waterkruik op haar skouer daar aan. Sy was die dogter van Betuel, seun van Milka die vrou van Nahor, Abraham se broer. 16Die meisie was baie mooi, ‘n jongmeisie met wie ‘n man nog nie gemeenskap gehad het nie. Sy het afgegaan tot by die fontein en haar kruik vol gemaak en teruggeklim. 17Toe hardloop die slaaf haar tegemoet en sê vir haar: “Laat my tog ‘n bietjie water uit jou kruik drink.”

18En sy sê: “Drink gerus, Meneer!”

Sy laat toe gou haar kruik rus op haar hand, en laat hom water drink. 19Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal vir die kamele ook gaan water skep dat hulle genoeg kan drink.”

20Sy het gou haar kruik in die krip leeg gemaak en toe fontein toe gehardloop om nog water te skep. Sy het vir al die kamele geskep.

21Die man het haar in stilte aangekyk om vas te stel of die Here hom in sy onderneming laat slaag het of nie.

SKYFIE 9

22Toe die kamele klaar gedrink het, sit hy ‘n goue ring van ses gram aan haar neus en twee goue armbande van honderd en vyftien gram aan haar arms, 23en hy vra: “Wie se dogter is jy? Sê my tog, is daar in jou pa se huis plek vir ons om te oornag?”

24Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun wat deur Milka vir Nahor in die wêreld gebring is.”

25Verder het sy gesê: “Ons het baie strooi en kameelvoer, en daar is plek om te oornag.”

26Toe het die man gekniel en tot die Here gebid: 27“Aan die Here die God van Abraham wie se slaaf ek is, kom die lof toe! Die Here het nie sy troue liefde van my eienaar weerhou nie en vir my het die Here reguit gelei na die huis van my eienaar se broer toe.”

28Die meisie het na haar ma se huis toe gehardloop en alles gaan vertel.

29–30Rebekka het ‘n broer gehad met die naam Laban. Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms en haar hoor vertel wat die man alles vir haar gesê het, het hy na die man toe gehardloop by die fontein buite die stad. Toe hy by hom kom, het die man nog by die kamele gestaan, langs die fontein. 31Laban het vir hom gesê: “Kom saam! Jy is ‘n man wat deur die Here geseën is. Waarom bly jy hier buite staan? Ek het vir jou plek reggemaak in my huis, en daar is ook plek vir die kamele.”

32Die man is toe saam huis toe, en Laban het die kamele laat afsaal en vir hulle voer gegee en strooi om op te lê. Vir die man het hy water gegee om sy voete te was en ook vir die mense by hom.

SKYFIE 10

33Toe hulle vir die man kos bring om te eet, sê hy: “Ek sal nie eet voor ek my opdrag uitgevoer het nie.”

Laban het gesê: “Praat gerus!”

34Toe sê die man: “Ek is ‘n slaaf van Abraham. 35Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. 36Sara, die vrou van my eienaar, het op gevorderde leeftyd vir hom ‘n seun in die wêreld gebring, en hy is die erfgenaam. 37My eienaar het my ‘n eed laat aflê toe hy vir my gesê het: ‘Jy mag nie my seun laat trou met ‘n dogter van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie. 38Nee, jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe, en vir my seun ‘n vrou gaan haal.

39Ek het vir my eienaar gesê: ‘Dalk sal die vrou nie saam met my wil kom nie,’40en toe sê hy vir my: ‘Ek leef naby die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en jou in die onderneming laat slaag sodat jy ‘n vrou vir my seun sal kan gaan haal by my familie, by my pa se huis. 41Jy sal slegs van jou eed vrygestel wees as jy na my familie toe gaan en hulle nie instem nie. Dan is jy vry.’

42“Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming. 43Hier staan ek by die fontein waar ‘n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my ‘n bietjie water uit haar kruik te laat drink, 44en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar.

45“Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met ‘n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog ‘n bietjie water!’46Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee. 47Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. 48Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun.

49“As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.”

50Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie. 51Rebekka is hier by jou. Vat haar saam en gaan terug. Sy moet die vrou word van die seun van jou eienaar. Dit is wat die Here gesê het.”

52Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy diep voor die Here gebuig. 53Daarna het die slaaf silwer- en goue goed en klere vir Rebekka gegee, en ook duur geskenke vir haar broer en haar ma. 54Toe het die slaaf en die mense wat by hom was, geëet en daar oornag. Die volgende môre het hulle opgestaan en toe sê hy: “Laat my vertrek na my eienaar toe.”

55Rebekka se broer en haar ma het egter gesê: “Laat die dogter nog ‘n dag of tien by ons bly en dan kan sy gaan.”

56Maar die slaaf het hulle geantwoord: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my in my doel laat slaag. Laat my gaan sodat ek na my eienaar toe kan gaan.”

57Hulle het geantwoord: “Kom ons roep die dogter en vra haar wat sy verkies.”

58Hulle het vir Rebekka geroep en vir haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?”

Sy het geantwoord: “Ja!”

SKYFIE 11

59Hulle het hulle suster Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, saam met die slaaf van Abraham en sy mense laat gaan. 60Hulle het vir Rebekka met seënwense gegroet en vir haar gesê:

“Ons suster, mag jou nageslag

tienduisende word,

mag hulle die stede

van hulle vyande verower!”

61Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en agter die man aan gegaan. Hy het haar saamgevat en hy is terug huis toe.

62Isak het van Lagai-Roï-fontein af gekom. Hy het destyds in die Suidland gewoon. 63Hy het teen die aand se kant in die veld gaan stap en toe sien hy meteens kamele aankom. 64Rebekka het vir Isak gesien en van die kameel afgespring 65en vir Abraham se slaaf gevra: “Wie is die man wat daar oorkant in die veld na ons toe aankom?”

Die slaaf het geantwoord: “Dis my eienaar.” Toe vat sy haar sluier en trek dit oor haar gesig.

66Die slaaf het vir Isak alles vertel wat gebeur het, en

SKYFIE 12

67Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad. So is Isak vertroos ná sy ma se dood.

Preek

Ons word ingetrek

Vandag se teks is ‘n heerlike vrou-soek verhaal, want Abraham besluit ná Sara se dood dat die tyd gekom het om vir Isak ‘n maat, ‘n metgesel, te soek. Die skrywer herinner ons aan die seën wat hy ervaar het in sy verhouding met die Here. Hy wou nou van dié seën vir sy seun aangee.

Maar dit is ook duidelik ‘n verhaal van God wat in dit alles die leiding neem en ‘n vrou vir Isak gee wat by hom kan pas sodat hy die rol kan speel wat God in die heilsgeskiedenis vir hom beplan het. Soos Abraham die gasvrye een gewees het in die vorige geslag sou Rebekka dit nou wees in die volgende geslag.  Haar gasvryheid sou verseker ook haar skoonpa se goedkeuring weggedra het!  Haar naam rym ook met die Hebreeuse woord vir seën, bē·rǎḵ, wat in die eerste vers van Abraham gebruik word.

Die verhaal wil egter nie net die lewe van die karakters en hulle optrede illustreer vir ons nie. Die verhaal wil ook iets doen. Dit wil iets doen aan en met ons.

Die skrywer wil hê dat ons onsself in die wel en wee van die verskillende karakters ontdek; onsself daarin terugvind, dat ons tot selfinsig kom.  Soos die verhaal ontvou, kan ons onsself ontdek. Ons kan opnuut weer leer wat dit beteken om God te vertrou, God se wil te soek, en saam met familie en lewensmaats te leef.

Abraham gee ‘n opdrag

Abraham is al baie oud, waarskynlik 139. Isak was reeds ouer as ses en dertig jaar (sy ouderdom toe sy ma dood is), en het nog getreur oor sy ma se dood, soos ons aan die einde van die hoofstuk lees. Dit moes dus min of meer in sy nege en dertigste jaar gebeur het, want op veertig was hy met Rebekka getroud (Gen. 25:20).

Die slaaf se naam word nie genoem nie, anders as wat die geval was met Eliëser, die slaaf wie se naam in hoofstuk 15 genoem word. Hierdie slaaf het ‘n belangrike posisie in Abram se huishouding beklee en was in beheer van al sy besittings.  Hy was meer soos ‘n bestuurder.

Die slaaf word aangesê om sy hand onder Abraham se heup te sit. Dit is ‘n eufemisme is vir die opdrag dat die slaaf ‘n eed moet neem by die vrugbaarheid van Abraham. God se belofte van ‘n nageslag word ernstig geneem. Die Here se seën sal verder gaan as net die een seun Isak in die koms van die volgende geslag.

Ons sien hier die eerste getuienis van ‘n “gereelde huwelik“, waar die pa vir sy seun ‘n vrou soek, soos wat Hagar natuurlik ook gedoen het vir Ismael. Binne die sterk patriargale, en in Hagar se geval matriargale konteks, waarin ouers ‘n outoritêre rol in hulle kinders se lewens gespeel het, was dit een van die verantwoordelikhede van ouers. Soms het kinders natuurlik ook self inisiatief geneem, soos ons in die verhaal van Jakob sien.

‘n Geloofsgenoot

Abraham is ook baie duidelik daaroor dat hierdie vrou van sy eie mense af moet kom, en nie van die mense van Kanaän nie. Die enigste vrou wat sou deug vir die seun van die belofte is iemand wat nie gekontamineer is met die kultuur en gebruike van Kanaän nie, om die versoekings te vermy wat die blootstelling daarin in die huishouding sou bring.

Die wet sou later uitvoerig uitbrei oor die verkeerde seksuele praktyke wat sou voorkom as: “Julle … julle seuns met hulle (Kanaänitiese) dogters laat trou, en wanneer hulle dogters onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode, sal hulle julle seuns tot dieselfde soort onsedelikheid verlei.” (Eks. 34:16). Daarom is dit ten sterkste verbied (Deut. 7:3).

Let op dat hierdie gereelde huwelik steeds die vrou se instemming benodig. Indien Rebekka sou weier om saam terug te kom sou die huwelik van die baan wees. Sy het die finale sê gehad.

Abraham se instruksies is egter ook spesifiek dat Isak die seun van die beloofde land moet bly en onder geen omstandighede toegelaat moet word om Kanaän te verlaat nie. Die slaaf van Abraham het dus meer magte gehad as wat ‘n mens sou verwag van ‘n slaaf. Hy was baie meer van ‘n bestuurder in Abraham se huishouding.  Hy kon selfs vir Isak verbied om die land te verlaat in uitvoering van die opdrag van Abraham.

God se voorsiening

Let op dat Abraham nie maar net bid dat God se engel met die slaaf sal gaan nie, maar inderdaad verklaar dat dit sal gebeur, iets waarop die slaaf dan staatmaak in sy eie gebed dat die Here hom sal lei deur die gebeure by die waterput waar hy Rebekka aantref. Abraham het ‘n baie noue verhouding met God regdeur sy lewe geniet, soos die slaaf later aan die familie getuig: hy “leef naby die Here“.

Let op dat die slaaf staat maak op God se voorsienigheid in terme van sy betrokkenheid by die normale verloop van sake. Hy vra dat die Here in die normale verloop van die waterdrink proses by die put die vrou wat God uitkies, sal aanwys. Dit is hoe bo-natuurlike ingrype baie keer werk, in die normale gang van die lewe! Iets waarop ons ook daagliks kan staatmaak.

Gasvryheid

Dit is verder insiggewend dat die slaaf ‘n baie spesifieke versoek rig dat die Here hom na ‘n vrou sal lei wat nie bang is om gasvry te wees teenoor vreemdelinge nie. Hy het dus ‘n idee van watter tipe vrou geskik sal wees vir Isak. Dit is inderdaad dan hierdie tipe vrou, ‘n uitgaande gasvry persoon, wat die Here uitwys as die gepaste gesellin vir Isak, wat ‘n mens in die verloop van sy eie verhaal in die volgende paar hoofstukke sal agterkom ‘n diep introvert en maklik beïnvloedbare mens was. Rebekka was nommerpas vir hom.

Die skrywer is helder daaroor dat Rebekka ‘n maagd was, sodat daar geen suspisie oor haar morele karakter sou wees wat die nageslag wat uit haar gebore sou word in enige diskrediet sou kon bring nie. Dit is dus duidelik hoe hoog die skrywer die heiligheid van die huwelik waardeer, selfs voordat die wet in meer eksplisiete detail riglyne daarvoor neergelê het.

Die weë van die Here is voorwaar wonderbaar, soos die slaaf in sy gebed verklaar. Die slaaf oorlaai Rebekka met geskenke en dank die Here op roerende wyse dat Hy die regte een gekies het vir Abraham se seun Isak, toe Rebekka presies optree soos die slaaf gebid het.

Laban deur gierigheid gedryf

Laban verskyn op die toneel.  Hy sal nog ‘n paar keer in die verdere verloop van die verhaal van Isak en Jakob ‘n rol speel en word die brugbouer na die uiteindelike ooreenkoms wat tussen die twee families gesluit word.

Dit is egter duidelik dat hy deur gierigheid gedryf word, anders as sy suster se gasvryheid. “Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms … het hy na die man gehardloop …” Die verwysing na wat die man alles vir haar gesê het, word tweede genoem in die beskrywing wat dié indruk by ‘n mens laat. En soos ‘n mens in die verhaal van Jakob later sal sien, is dit presies hoe Laban uiteindelik geteken word.

Goddelike huweliksaanbod

Let ook op hoe die slaaf die voorsienigheid van God in sy versoek in gebed en die uitkoms in die gebeure by die waterput gebruik om die familie van die Goddelike oorsprong van die huweliksaanbod te oortuig. Hy brei ook duidelik uit oor sy eienaar se oorvloed, wat veral vir Laban van waarde sou wees. Hulle aanvaar egter die slaaf se woorde as die woord van die Here en ook Rebekka laat haar die aanbod van ‘n huwelik met Isak geval.

Die slaaf is slim om die aanbod om langer te vertoef van die hand te wys en vat die pad met ‘n paar vroue om haar by te staan, haar grootmaak-“ma“, Debora (Gen. 35:8), en ‘n paar slavinne. Dit sou haar ‘n stukkie bekendheid gee in ‘n vreemde omgewing.

‘n Seënwens vergesel haar wat iets van die toekomstige hoop vir ‘n nageslag en ‘n tuiste in die land Kanaän uitspreek: “Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word, mag hulle die stede van hulle vyande verower!” Onthou dat dié familie saam met hulle pa Tera op pad was Kanaän toe, maar vasgehaak het in Haran in Mesopotamië. Hulle het dus steeds iets van die oorspronklike droom verstaan, hoewel hulle nie dit enduit gevolg het nie.

Isak ontmoet Rebekka

Dit is duidelik dat Isak al selfstandig gewoon het, interessant genoeg by Lagai-Roï, die plek waar Hagar aanvanklik die ontmoeting gehad het met God in die woestyn toe Sarai haar die eerste keer met haar ongebore kind weggejaag het.

Dat daar kontak was tussen Isak en Ismael is duidelik, nie net uit dié mededeling nie, maar ook uit hulle gesamentlike afskeidneem van hulle pa, Abraham, soos ‘n mens in die volgende hoofstuk lees.

Die ontmoeting met Rebekka word met ‘n stukkie ingetoënheid vertel dat Isak in sy verlies van sy ma Sara getroos word deur die vreugde van Rebekka, soos blyk daaruit dat hy haar laat woon in die tent wat aan sy ma behoort het. Daarmee het sy Sara se posisie in die uitgebreide familie ingeneem.

Die skrywer sluit af deur te sê: “Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad.” Die eerste huwelik waarvan ons in die Bybel lees waarin dit pertinent genoem word.

Vertrou die Here en loop die pad met Hom

Al hierdie verhale in Genesis is regtig besonders.  Dit help ons om die dinamika van menswees in verhouding nie net met mekaar nie, maar ook met God te verstaan. Ons kan onsself herken in die verhale.  Dit nooi jou uit om te identifiseer met die wyse waarop die verhaal vertel word en die boodskap van die dele daarin wat jou aanspreek, vir jouself toe te eien.  Ons hoor hier ook nuwe lewensmoontlikhede wat ons uitnooi om ons eie oorspronklike geloofservarings te beleef.

Die verhale illustreer hoe dinamies die verhouding tussen God en sy mense ontwikkel.  Abraham soek ‘n vrou vir Isak.  God wil ‘n nageslag vir Abraham en Isak gee.  Jy word daardeur uitgenooi om met die besondere uitdagings wat jy in jou eie lewe ervaar na die Here toe te gaan.  En jy kan dit doen op die manier wat vir jou werk.  Die Here sal jou menswees en manier van werk eer en intrek in die wyse waarop Hy jou begelei.

Uiteraard speel die verskillende geaardhede van die aartsvaders ook ‘n rol in die wyse waarop die Here by hulle wel en wee aansluit.  Abraham is baie meer innoverend in sy soeke na oplossings vir die uitdagings wat hy ervaar terwyl Isak later eerder die Here in gebed vertrou vir ‘n uitkoms, bv. toe hy self met kinderloosheid sukkel.

Die Here gebruik ons persoonlikhede in die uitkomste wat hy vir ons gee, soos hy dit ook doen in die lewe van Abraham en Isak. Die ekstrovert hantering van uitdagings – by wyse van spreke – is nie beter as dié van ‘n introvert se hantering nie, kan ‘n mens daaruit aflei.

Die belangrike is om die Here te vertrou en die pad met Hom te loop.

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 505 Jesus, U gaan voor – ons volg in u spoor – staan

Seën

Respons

Lied 505:1 se eerste en laaste twee reëls: Jesus, U gaan voor – ons volg in u spoor … U is in beheer, ons Verlosser, Heer – staan

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.