Josua 1:1-9 – God praat deur sy Woord

Preek vir 16 Januarie 2011 18:30 by Klema in Somerstrand

Terwyl ek Maandag stil geraak het en dink oor wat die Here vir ons almal wil sê vanaand, het die verhaal van Josua by my opgekom.  Ek vermoed dit het iets te doene gehad met my gesprek met Jaco net daarvoor, toe hy vertel het hoe hy en Karlien gesels het oor die verhaal van Barnabas, waaroor ek verlede week gepreek het. In ons gesprek het ek toe die verhaal van Josua aangeroer, omdat daar nogal baie ooreenkomste is in die mentor verhoudinge van Barnabas met Johannes Markus en Moses met Josua ... en dit het my bygebly toe ek in die kantoor langsaan voor die Here stil geraak het.

Dit het natuurlik óók te make met die ongelooflike waarheid wat ek in die lewe van Josua raakgesien het toe ek besig was in die Bybelskool met die Pentateug, die eerste 5 boeke van die Bybel.  En dit is dat daar ‘n baie besondere verskuiwing in die manier waarop God met mense werk in die lewe van Josua gekom het.

Kom ons lees Josua 1:1-9


Continue ReadingJosua 1:1-9 – God praat deur sy Woord

1 Korintiërs 1:1-9 – Erediens: God laat ons enduit vasstaan – 16 Januarie 2011

’n Aangrypende inleiding

Mens sou kon verstaan as Paulus die brief met ’n heftige uittrapsessie begin het.  Dalk sou ons dit so gedoen het.  Die gemeente moes kortgevat word, wil mens sê.  Hulle het opgesnork en moes reggesien word.

Maar Paulus doen dit nie, ten minste nie aanvanklik nie.

Hy begin deur hulle ter herinner aan hulle roeping.  Die gemeente van Korinte is geroep om aan Jesus Christus te behoort (1:2).  Te midde van al die gevegte, partyskappe, botsings, etiese kwessies ensomeer moet hulle hul roeping onthou en daarna strewe om te wees wat God hulle alreeds in Jesus Christus gemaak het.

Tweedens is die gemeente geroepe geheiligdes – klétois hagiois – 1:2.  Hulle is die gemeente van God (1:2) wat aan God behoort as sy eie, spesiale mense, toegewy aan Hom.  Omdat hulle geroep en heilig gemaak is, kan hulle nou vir God lewe en heilig wees.

Derdens beklemtoon Paulus die ryke gawes wat die gemeente van God ontvang het.  Hulle is ryklik geseën, dit ontbreek hulle nie aan ’n enkele gawe nie, en – wat my besonder getref het – Christus sal hulle help om vas te bly staan tot die einde toe (1:4-9).

Christus staan dus sentraal.  In ses verse verwys Paulus nie minder nie as vyf keer na Jesus Christus.  Christus is die Korintiërs se lewe.  Dit is Hom wat hulle verwag om aan die einde van die tyd weer te kom.  En dit is HY wat hulle enduit sal laat vasstaan.

 

Continue Reading1 Korintiërs 1:1-9 – Erediens: God laat ons enduit vasstaan – 16 Januarie 2011

Jesaja 42:1-9 – Erediens – God bring genesing – 9 Jan 2011

Verwelkoming

Epifanie beteken “verskyning”. Dit word veral verbind aan die koms van Jesus na die aarde, waarin God sy verskyning maak in die gestalte van Jesus onder mense.

Dit is ook my gebed vir elkeen van ons – dat ons hierdie jaar ’n “Epifanie” sal hê, verskeie “Epifanieë”, Godsverskynings – en dat ons self ook ‘n “Epifanie” vir ander sal wees, dat mense God in ons sal raaksien, en hulle in Hom sal verheug.

Kom ons groet mekaar met dit in gedagte.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Die tema van ons diens is God bring genesing – Jesaja 42:3: “’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.”

God nooi ons vanoggend uit om by Hom tot rus te kom.

  • Raak ’n paar oomblikke stil en bring jou kommer en jou onrus na Hom toe.
  • Gee dit vir Hom en vra vir ’n aanraking van Sy Gees, ‘n Epifanie van Homself.

Kom ons bely dat Hy in staat is om ons selfs van die dood te red:

  • Liedboek 222 – sing dit 3 keer sittend, Afr-Eng-Afr.

Continue ReadingJesaja 42:1-9 – Erediens – God bring genesing – 9 Jan 2011

Lukas 10:38-42 – Erediens: Leef luisterend – 14 November 2010

Woordverkondiging

Jesus is vasbeslote op reis na Jerusalem.  Hy weet dat sy lyding die kruis sal insluit.  Hy het dus ‘n behoefte aan gasvryheid.

Die eerste plek op sy reis waarvan Lukas ons vertel is as Hy deur ‘n dorp van die Samaritane gaan, en hulle weier om Hom te ontvang en Hom verblyf te gee (Luk 9:51-56).  Sy dissipels is woedend daaroor en wil sommer ‘n oordeel oor hulle uitspreek.  Jesus keer hulle egter en in ‘n gesprek met hulle verwoord Hy sy pyn, maar sonder verwyt: “Die Seun van die mens het nie eers ‘n rusplek vir sy kop nie,” sê Jesus (9:58).

Die tweede gebeure waarvan Lukas ons vertel, is as Hy 72 van sy dissipels stuur na ander dorpe om die evangelie te verkondig.  Hy spel spesifiek uit dat hulle hul op die gasvryheid van die mense moet verlaat (10:1-15).  In die mense se gasvryheid en luister, al dan nie, word hulle gehoorsaamheid aan God sigbaar: “Wie na julle luister, luister na My; Wie julle verwerp, verwerp My” (10:16).

En dit het ‘n groot effek – sommige mense ontvang hulle met gasvryheid en hoor só die evangelie.  Die dissipels verbly hulle daaroor en in hulle terugrapport kom ‘n mens agter dat dit Jesus intense plesier gee.

Dan is daar in die derde plek kort hierna ‘n wetsgeleerde wat met Jesus aan die gesels raak oor die koninkryk van God en vra: “wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”   Jesus antwoord hom met ‘n samevatting van die wet, dat jy God en jou naaste moet liefhê (10:25-28).  En vertel dan die verhaal van die Gasvrye Samaritaan, om die wetsgeleerde te leer dat gasvryheid vir die vreemdeling naasteliefde is.  Hy betoon immers gasvryheid aan die man wat onder rowers deurgeloop het deur hom in die herberg te laat versorg, in sy barmhartigheid (10:29-37).

En dan kan ‘n mens nie anders om die volgende verhaal, die verhaal van Marta en Maria met ‘n gans ander bril te lees nie (hele erediens volg).

Continue ReadingLukas 10:38-42 – Erediens: Leef luisterend – 14 November 2010

Lukas 19:1-10: Erediens – Leef inklusief – Son 31 Oktober 2010

In Lukas 19 is Jesus teen die einde van sy reis van Galilea na Jerusalem, waar Hy sou sterf.  Saggeus, die kort, skatryk mannetjie, tollenaar en hoofskurk van Jerigo, word die laaste dissipel wat Jesus op sy reis na Jerusalem werf.

Tollenaars het nie net hulleself verryk met belastings nie, hulle was ook die loan sharks van die tyd.  Deur die toedoen van Saggeus het mense verarm,  en het hy waarskynlik nie die einde van sy skatte geken nie.

Wat doen God met Saggeus? Jesus sien vir Saggeus raak in die boom en begin ’n gesprek, en dring daarop aan dat Hy by hom wil gaan eet.  God reik dus uit en dring Saggeus se ruimte in om die gemeenskap tussen hulle te herstel.

Hoekom?  Want God is ’n inklusiewe God.  En uiteraard vra Hy van ons om op dieselfde manier te leef.

Volledige erediens:

 

Continue ReadingLukas 19:1-10: Erediens – Leef inklusief – Son 31 Oktober 2010

Lukas 24:13-35: Erediens – Leef met kantlyne – Son 17 Oktober 2010

Hierdie kwartaal fokus ons op gasvryheid.  Dit is hoe gestuurde gemeentes leef!  En ons wil spesifiek gasvry wees oor ouderdoms- en generasie-grense.

Vanoggend se tema is: Leef met kantlyne.

Ons gebruik die verhaal van Abraham en sy 3 besoekers in Gen 18 vir die familietyd, en Jesus en die Emmaus-gangers in Lukas 24 vir die Woordverkondiging.  Die punt wat die preek maak, is dat God ons roep om ruimte te maak in ons lewens vir ander, deur onsself te beperk en ander te bederf.

Continue ReadingLukas 24:13-35: Erediens – Leef met kantlyne – Son 17 Oktober 2010

2 Konings 11-12: Erediens – Om God te aanbid in ‘n wêreld waar geestelike strukture bouvallig raak – Son 5 September 2010

Ons assosieer die woord aanbidding, worship, gewoonlik met godsdiens en ‘n erediens.  Maar aanbidding kan natuurlik ook gevind word in die lewe van agnostici, selfs ateïste.  Adele Calhoun skrywe: “The simple truth is that everybody looks to something or someone to give their lives meaning” (Spiritual Disciplines Handbook 2005: 45).  Die dinge waarvoor ons lief is, die dinge wat ons waardeer, die dinge waarop ons fokus het ‘n groot impak op ons.  Dit gee aan ons lewens betekenis.  En dit bepaal wie ons ten diepste is.

Sommige mense het ‘n groot klem op onafhanklikheid – en sal alles in hulle vermoë doen om dit te verseker: die tipe werk wat hulle doen, die plek waar hulle bly, die instrumente waarin hulle belê, die verhoudinge wat hulle sal najaag of toelaat in hulle lewe.

Sommige sal hulle lewe gee vir ander se goedkeuring, of om sukses te behaal in die loopbaan wat hulle gekies het, of sal fokus op dinge wat hulle gelukkig maak, of beheer gee in die lewe.  En sommige sal fokus op mag, hoe om dit te kry, en hoe om dit te behou.

Atalia

Atalia was só ‘n persoon.  Sy was die dogter van Agab van Samaria, die koning van Israel in Elia se tyd, wat getroud was met Isebel.  Wat ons van Atalia agterkom, is dat daar twee dinge was wat haar gedryf het.  Haar godsdiens, en haar sug na mag.

Continue Reading2 Konings 11-12: Erediens – Om God te aanbid in ‘n wêreld waar geestelike strukture bouvallig raak – Son 5 September 2010

2 Konings 5: Erediens – Om met verwagting te lewe in ‘n wêreld waar God nog wonders doen – Son 22 Augustus 2010

1.  Die heldin in hierdie verhaal is ‘n klein dogtertjie.

Ons weet van haar net ‘n paar goed.  Ons weet sy kom van Israel af en is in een van die oorloë tussen Israel en die Arameërs weggevoer deur die soldate. Sy was nog ‘n baie jong dogtertjie en het ‘n slaaf geword vir Naäman, die bevelvoerder van die Aramese leër.  So sy was Joods, jonk en ‘n slaaf.

Maar daar is iets anders wat ons van haar agterkom.  Sy word nie die heldin in dié verhaal omdat sy Joods is of jonk of ‘n slaaf nie.  Sy word die held in die verhaal omdat sy weet wat niemand anders weet nie.  Sy weet wie haar baas kan help toe hy siek raak van melaatsheid.

Nou, ons lees nie in die Bybel dat sy vir Elisa geken het nie.  Ons weet nie verseker of sy geweet het van die wonder van die broodvermeerdering waarvan ons in hoofstuk 4 gelees het nie.  Ons weet nie of sy verseker geweet het van die weduwee se kruik wat nooit leeggeraak het nie.

Maar iets soortgelyks moes sy geweet het, want dit is haar kennis van wat Elisa, die profeet van die Here, gedoen het, wat lei tot die genesing van Naäman.

Maar wat vir my veral interessant is, is dat sy hoegenaamd iets sê!  Sy kon stilgebly het.  Sy het nie nodig gehad om enigiets te sê.  Die Armameërs het haar leed aangedoen.  Sy is weggeneem by haar mense, en onthou sy was nog baie jonk.  Sy het nie meer vryheid gehad nie.  Sy moes vir haar nuwe base help in die huis.

En tog – toe sy hoor van haar baas se melaatsheid, en sy weet sy het inligting wat vir hom iets kan beteken, toe sê sy dit vir hom.  Sy help haar vyande – en word so vir ons almal ‘n voorbeeld van wat dit beteken om God te ken en die goeie nuus te vertel wat ander mense se lewens kan verander.

Ons sien dus hier dat kinders – maak nie saak hoe klein hulle is nie, maar nie saak hoe min hulle eintlik in tel is in die groter wêreld waar ander baie keer bo-oor hulle en hulle belange loop nie – hulle het ‘n rol te speel.  En daarmee is sy ‘n voorbeeld vir almal van ons.

Continue Reading2 Konings 5: Erediens – Om met verwagting te lewe in ‘n wêreld waar God nog wonders doen – Son 22 Augustus 2010

2 Kronieke 16: Erediens – Om te vertrou in ‘n wêreld waar broedertwis is – Son 1 Augustus 2010

Fokus

Die Here is daar vir dié wat Hom vertrou, selfs al is die versoeking daar om jou eie planne te maak om konflik met ander te hanteer.

(Dié preek word geplaas om in te pas by die reeks, hoewel ons 'n gasprediker, ds. Andrew Fransman van die VGK Bloemendal, vir hierdie Sondag gehad het).

Lees 2 Kronieke 16

Kernvers: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” 2 Kron 16:9

Heerlike belofte

Ons luister baie keer na die vers in Kronieke en maak dit op onsself van toepassing.  Dit is ‘n heerlike belofte: Dit is een van daardie verse in die Bybel wat ’n mens onderstreep en vir jouself toeëien.  Dit bevestig aan ons dat die Here sy oë op sy kinders hou en vir hulle sorg.

Maar ons vergeet maklik van die konteks waarbinne dié woorde die eerste keer gebruik is.  Die woorde is gebruik om koning Asa te bestraf, omdat hy juis nie die Here vertrou het nie.

En dit het die koning so ontstel dat hy die siener Ganani in die tronk laat stop het, omdat hy dit durf waag het om só met hom te praat.

Continue Reading2 Kronieke 16: Erediens – Om te vertrou in ‘n wêreld waar broedertwis is – Son 1 Augustus 2010