Kolossense 3:1-17 – Erediens: Paassondag – 24 April 2011
Dit is ongelooflik hoe een enkel gebeurtenis die wêreld kan verander.
1994 was ’n jaar van 2 sulke gebeurtenisse:
- Dit was die jaar van die eerste volle demokratiese verkiesing wat in Suid-Afrika gehou is, wat die wyse waarop mense in hierdie land met mekaar saamleef, vir altyd verander het. Baie sal sê dit was goed, sommige sal sê dit was sleg, maar niemand sal kan sê, dit het nie dinge verander nie.
- En dit is die jaar wat selfone ons land getref het, en vir altyd die wyse waarop mense met mekaar kommunikeer verander het. Die eerste voorspellings was natuurlik dat daar na 10 jaar net 250 000 gebruikers sou wees. In die eerste maand, Julie, het Vodacom reeds 50 000 gebruikers gehad, en teen die einde van daardie jaar, 140 000. En dan tel ’n mens nie eers MTN se gebruikers nie. Vandag is daar omtrent ’n selfoon vir elke inwoner van Suid-Afrika, meer as 45 miljoen!
’n Enkel gebeurtenis kan ’n land en ’n wêreld verander!
Christus is opgewek uit die dood
So ’n gebeurtenis is ook die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Op Paassondag amper 2000 jaar gelede is Jesus Christus opgewek uit die dood (ongeveer 27 vC van ons jaartelling). En dit het ons lewe totaal verander. Nie net die lewe van 45 miljoen mense nie, maar inderdaad biljoene, selfs nie net dié wat vandag lewe nie, maar dié wat voor Hom gelewe het, en dié wat nog kom. Voorwaar ’n verandering wat die wêreld verander het.