Genesis 12-36 – God bou ‘n nasie – 27 Januarie 2013

God gee ’n ruimte en ’n roeping

Ons het verlede week gefokus op God se plan met hierdie wêreld.  Hy het ’n ruimte vir alles geskep, ’n woonplek, sodat alles hulle plek kon vind, plant, mens en dier.  Hy het alles met ’n doel geskep, wat in die mens se geval die roeping was om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.

God wou op ’n spesiale manier ’n pad stap met mense.  Hy wou by hulle Sy eie woonplek vind.  Twee gevare het egter dié bedoeling van God bedreig:

  1. Adam en Eva was ongehoorsaam aan God en
  2. Kain het vir Abel doodgemaak, sodat dié droom van God nie verwesenlik kon word nie.

God het egter nie sy bedoelings laat vaar nie.  Eers het hy vir Noag gekies uit al die mense om met hom ’n nuwe begin te maak.  En toe dit nie uitwerk soos God dit wou hê nie, weens die uiteindelik bou van die toring van Babel, het God besluit om ’n nog beter plan te maak.

God bou ’n nasie

Hy kies om ’n nasie te bou waaruit uiteindelik die Verlosser van die wêreld gebore sou word.

Continue ReadingGenesis 12-36 – God bou ‘n nasie – 27 Januarie 2013

Genesis 1-11 – Die Skepping: Die begin van lewe soos ons dit ken – 20 Jan 2013

God se passie vir ‘n verhouding met mense is groter as sy afgryse van hulle ongehoorsaamheid, soos Genesis vir ons reg van die begin af vertel in die verhaal van Adam en Eva en God se reaksie op die geweld wat Kain teenoor Abel pleeg.  God wil by ons kom woon.  Die storie van die Bybel is daarom die verhaal van God se onvermoeide pogings om die verhouding met mense te herstel, om ons terug te wen in ‘n verhouding met Hom, sodat Hy ons kan liefhê en ons vir Hom.

Dit bly vir my een van die mees treffende leringe van Jesus, waar Hy in Johannes 14:23 vir die “goeie” Judas-dissipel sê:

“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”

Dit is wat God ook met jou hierdie jaar wil doen.  In jou lees van Die Storie wil God sy teenwoordigheid só ‘n werklikheid vir jou laat word, dat jy inderdaad die ervaring sal hê dat God by jou sal kom woon.

Dit is my gebed vir jou, en vir my.

Watter voorreg en watter avontuur om saam hierdie jaar te onderneem.

Continue ReadingGenesis 1-11 – Die Skepping: Die begin van lewe soos ons dit ken – 20 Jan 2013

Jesaja 43:1-13 – In die smeltkroes van die lewe – 13 Jan 2013

Om God op sy woord te neem

Baie gelowiges is in vasgevalde situasies.  Dit word dan baie moeilik om God op sy beloftes te neem en gehoorsaam die treë te gee wat God van ons verwag.

Jesaja 43 is 'n belofte vir sulke mense.  God se goedheid verdwerg ons onbesonne optrede.  God se goedheid maak van ons dwaasheid en doodsheid 'n smeltkroes waaruit herstelde, geneesde, gehoorsame mense na vore kom.

Ons word geroep om God op sy woord te neem.  God begelei ons op die pad van gehoorsaamheid.  God versorg en bemagtig ons.  Ons kan dit met God waag.

Dan word ons situasie ‘n smeltkroes, nie ‘n vullishoop nie.  Dan word die krisisse uitdagings, die rampe geleenthede vir groei, die frustrasies uitnodigings vir fokus op God en sy plan vir jou lewe.

Want, as die volk se sonde was dat hulle nie na God geluister het nie, en nie in sy weë wou wandel nie, dan is die volk se herstel geleë in ‘n nuwe luister na God en ‘n nougesette wandel met Hom.

En dit is presies dieselfde vir ons, vir almal wat onder druk is. 

  • Erken dat Hy God is, en dat jy drooggemaak het;
  • Vertrou Hom om jou deur die smeltkroes te suiwer, soos goud gesuiwer word, en
  • soek Hom dag vir dag om na Hom te luister en met Hom jou pad te loop. 

God is daar, Hy dra ons en ons laste dag vir dag (Ps 68:20), en Hy beloon dié wat na Hom soek (Hebr 11:6).  Of soos Die Boodskap dié vers vertaal: Hy sal jou “met oop arms ontvang.”  “He cares enough to respond” (The Message).

Só ervaar jy nie net God se seën nie, maar gebruik Hy jou ook tot seën vir ander mense.

Continue ReadingJesaja 43:1-13 – In die smeltkroes van die lewe – 13 Jan 2013

Matteus 2:1-12 – Jesus is Koning van almal en oor die hele lewe – 6 Jan 2013

Ek wil vandag die teks gebruik as ’n sleutel om die Christus-kind self beter te verstaan, om jou begrip van wat hier gebeur, te verruim, om jou uit te daag om meer raak te sien in die Christus-Kind, om Hom raak te sien as Kind ja, maar meer nog, as Christus-Koning en uiteindelik as Christus-God.  Die implikasies daarvan vir jou lewe is ingrypend.

Want sien, die eintlike verskyning waaroor dit hier gaan, die hart van Epifanie, is die verskyning van Jesus.

So. Wie is hierdie Kind? Wie is hierdie Jesus? Waarom is sy geboorte of verskyning so belangrik? Dit is die vrae wat Matteus, na sy fokus in die vorige perikoop op Josef en Maria, met die verhaal van die sterrekykers en Herodes wil beantwoord.

Continue ReadingMatteus 2:1-12 – Jesus is Koning van almal en oor die hele lewe – 6 Jan 2013

God praat publiek en privaat

God praat met my

Ek onthou nog glashelder die huisgodsdiens in 1969 toe my ma uit Romeine 8:15-16 gelees het: “julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep ‘Abba!’  Dit beteken Vader.  Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”

Sonder dat ek voorbereid was daarop, as jong standerd vyf kind, het die trane by my wange begin afloop.  Sonder dat ek eers regtig verstaan het wat met my gebeur en selfs wat die teks nou eintlik beteken, het ek ’n ervaring van God se teenwoordigheid gehad wat my nooit weer sou los nie.

Die Woord, net die blote aanhoor van die Woord, het ’n kragtige uitwerking.  Hoekom?  Want God praat daardeur.

Ek onthou die aand op ’n CSV kamp in 1974 in my standerd nege jaar toe Gawie Eksteen ons klomp kringleiers toegespreek het en ons herinner het daaraan, dat ons nie vir iemand anders iets kan gaan vertel wat ons self nie ervaar nie.  En hoe ek onder die indruk gekom het daarvan dat dit die Here self is wat met my praat in die saal waar baie ander gelowiges bymekaar was en ek eenkant in ’n tent in ’n eenvoudige gebed my lewe vir die Here gegee het.

En ek onthou nog glashelder die oggend in die erediens in 1986 toe prof. Bernard Combrinck uit Psalm 37 gepreek het en hoe die teks in vers 4-5 my aangespreek het en ek net geweet het die Here gaan my stuur.  En by die huis die oggend het ds. Dave Marais my gebel om my van die beroep na dié gemeente, Somerstrand, te vertel.

En ek onthou dié afgelope week, hoe die Here twee besondere dinge vir my gesê het, een wat te make het met die breër prosesse waarby ek in die kerk betrokke is, die Seisoen van Luister, en die ander ’n baie persoonlike woord waarmee die Here my bemoedig het in my eie lewe.

Óf jy nou alleen is in jou stiltetyd, of by die huis is saam met jou mense in huisgodsdiens, óf jy nou in ’n groter groep gelowiges in ’n kleingroep of in ’n kamp-situasie is en of jy nou hier in die erediens sit – God praat.  Daarvan kan jy seker wees.

Continue ReadingGod praat publiek en privaat

2 Tim 1:1-7 – Familievernuwing

Paulus se liefde vir Timoteus

Paulus was baie lief vir Timoteus. Hy het hom leer ken net na hy ‘n groot teleurstelling met Johannes Markus gehad het. En van die begin af het hy ge-”click” met Timoteus. Hulle het baie saamgewerk ...

Nou skryf Paulus ‘n laaste brief, soos ‘n laaste testament. En Paulus is baie dankbaar, maar ook besorg, want Timoteus moet nou Paulus se plek oorneem.

  • En let op wat is die eerste ding waaraan Paulus dink.  Hy dink aan God, en hy dank Hom dat Hy daar is vir hulle.  Daarmee herinner hy Timoteus daaraan dat God die diepste bron van krag is.  Dit is altyd waar ‘n mens begin.  Niks is belangriker as God in ‘n mens se lewe nie.
  • Maar die tweede ding waaraan Paulus dink, is Timoteus se familie.  Van al die mense wat ‘n invloed in Timoteus se lewe gehad het, is dit sy ma en sy ouma wat uitstaan.  Timoteus het nie sommer uit die lug uit begin glo nie.  Hy het dit by sy ma en sy ouma geleer, selfs al lees ‘n mens niks van sy pa of oupa se geloof nie.  Sy ma en ouma het gesorg dat hy vir God leer ken en vir Hom leer dien.

En dit is vandag nog so.

Continue Reading2 Tim 1:1-7 – Familievernuwing

Deuteronomium 6:1-9 – Gesin Vernuwing

God is vir ons

Een van die belangrikste dinge wat ons moet besef, is dat God vir ons is.

Ek het twee weke  terug ’n bietjie deur Genesis gewerk vir my preek verlede Sondag by Klema, en net weer onder die besef gekom dat God ons op ’n baie spesiale manier gemaak het.  Ons is Sy verteenwoordigers.  Hy het ons gekies uit alles wat bestaan, as sy beeltenis, as dié skepsels wat Sy merk dra, wat lyk soos Hy, wat is soos Hy.

Dié God is net so angstig oor ons as wat ons oor ons eie kinders is.  Hy is net so begerig soos ons is oor ons eie kinders, dat Sy karaktereienskappe in elkeen van ons tot hulle reg sal kom.  Hy wil Homself sien in wie ons is en hoe ons leef en optree.

Sy droom vir ons is steeds presies wat dit in die tuin van Eeden was – ons moet die aarde bewoon, bewerk en bewaar.  Hy wil hê dat ons veilig en voorspoedig woon op hierdie aarde.  Hy wil hê dat ons lewensvervulling in ons werk en verhoudings sal ervaar.  En Hy wil deur ons die wêreld ’n leefbare plek sal maak, beide in terme van die evangelie van Jesus Christus as in terme van die bewaring van die aarde.

En God gee vir ons alles wat ons nodig het om te floreer en met oorgawe die lewe te kan geniet.  Die lewe in oorvloed, Sy lewe deur die Gees wat in ons werk, Sy teenwoordigheid waarop ons kan vertrou.

As ek terugdink aan my jongdae was my aardse pa altyd daar vir my, op vele maniere.  My ma was daar vir my, op vele maniere.  Hulle het saam ’n ruimte geskep waarin ek kon ontwikkel en groei en myself kon wees.

Dit is wie God ook is vir ons.  Maar nog baie meer en baie dieper as dit.  Hy is die ruggraat van ons lewens.  Hý is die Een wat voorsien, wat vrymaak, wat nuwe lewe gee.  Ons kan Hom daarvoor vertrou.

En dit is ook Hý wat jou sal help om ’n pad met jou kinders te loop. En om ’n pad met jou ouers te loop …!

 

Continue ReadingDeuteronomium 6:1-9 – Gesin Vernuwing

Spreuke 4:20-27 – Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree

“Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree “

Ons het verlede week baie tyd spandeer om oor ons binnekant te gesels.  Dit is waar alles begin.  Dit is waar jy met God begin.

Vandag kyk ons na vers 26-27 wat sê, dit is nie net vertroue op God, ‘n luisterende gesindheid en die fokus op jou manier van dink, jou binnekant, wat jou pad bepaal nie.  Jy moet ook die pad stap wat God wys.  Soos Spreuke sê: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree” – 4:26. 

Die OAV vertaal: “Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees,” en vers 27: “wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid.”

Deur vir jou bakens op te rig op jou pad, en daarvolgens koers te hou, sal jou nie net op die regte pad hou nie, maar dit ’n vreugde maak, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.

 

Continue ReadingSpreuke 4:20-27 – Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree