GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS
Toetrede
Môregesang – Cantatore
Votum en Seëngroet
Lofliedere
- Lied 499 – Die Heer is God, en niemand meer; sy almag ken gee perke – staan
- Vonkk 85 – Here, ons Here, hoe groot is U! – staan
Kindertyd
Lank gelede was die aarde woes en leeg.
God het by Homself gedink dat dit nie goed lyk nie.
En Hy besluit toe om iets daaraan te doen.
- Hy het in 5 dae die aarde gemaak
- die dag en die nag,
- die son en die sterre,
- die see en die kontinente,
- die plante en die diere.
- En dit was goed gewees.
Hy neem toe sy engele op ’n toer van die aarde.
- Hy wys vir hulle die berge. En hulle trek hulle asems in, so mooi en groot was dit,
- selfs Tafelberg, een van die 7 wonders van die aarde.
- En hulle sê, Hulle wys hoe groot is U!
- Hy wys vir hulle die bome.
- En hulle sê, dit is soos vingers wat na U toe wys.
Aan die einde van die toer, was die engele verstom. Gabriël roep uit: “Here, dit is absoluut volmaak!” En almal bars los en sing en loof die Here.
Toe die laaste klanke so wegsterf, gaan die hand van so ’n klein engeltjie op – nie baie groter as julle nie. En almal se oë draai na haar toe.
“Jammer, u Majesteit, ek dink iets skort met u aarde.”
’n Doodse en geskokte stilte daal op die engele neer, en Gabriël kom nader na die klein engeltjie en sê: “Sê onmiddellik jy is jammer! Jy kan mos nie sê daar skort iets met die aarde nie!”
“Nee, Gabriël,” sê die Here, “laat die engeltjie praat. Vertel vir ons wat skort.”
Stadig begin die bewende engeltjie praat: “Stemme … kort … hhier … wat nes ons … in die hemel … U kan loof.”
Sy het natuurlik van mense gepraat wat die Here kan loof.
God het alles gemaak en dit is wonderlik. Ons kan hoor hoe Hy met ons praat deur alles wat so wonderlik is rondom ons.
Hy het ook vir ons die Bybel gegee, wat ongelooflik is vir ons. Dit leer ons hoe regtig goed te lewe, dit help ons om dinge te verstaan, en help ons om te weet wat reg en verkeerd is.
Maar, God het ons gemaak om ook met Hom te praat. Van al die diere op die aarde, is ons uitgekies om vir Hom te loof, deur te sing, en deur te bid.
Kom ons doen dit sommer nou – ons bid en praat met God.
Gebed
Heil’ge God – Cantatore
GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER
Skriflesing
Ek gaan my eie vertaling van hierdie gedeelte vir u lees, omdat daar op een plek ’n hele frase uitgelaat is (vers 6) en op ander plekke die vertaling vir my gevoel te onpresies is, en my vertaling hopelik meer getrou aan die teks is.
Ek wil vooraf net een plek vir u verduidelik hoekom ek verskil van die NAV, want ek gaan dit in my prediking gebruik.
Dit is vers 14:
“Weerhou my van opsetlike sondes,
Laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
En vry van hierdie groot sonde.”
Ek vertaal eerder as volg:
“Weerhou my van arrogante mense,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van groot sonde.”
Die woord sondes kom nie in vers 14 voor nie, wel die woord opsetlik, uitdagend, of arrogant. Ek neem dit, soos die Psalm kommentaar van Craigie dit doen, as ‘n beskrywing van mense, nie van sondes nie. Dit gaan dus oor die versoeking waarvoor arrogante (opsetlike, uitdagende) mense ons as gelowiges stel, om onsself teenoor God op te stel, nie soseer deur ‘n sonde of sondes wat ons doen nie, maar deurdat ons Sy invloed in ons lewens minag of verontagsaam.
Groot sonde – pêshag –neem ek om dan te verwys na die sondeval van Genesis 3, dws die sonde om van God afvallig te word, om teen Hom in opstand te kom en Hom uit te daag, en arrogant jou eie kop te volg. Dít is die enigste groot sonde, eintlik die enigste sonde.
Let op die beskrywing van die Skepping met die Son as die hoof akteur wat God se heerlikheid verkondig. En daarna die beskrywing van die Stem van God in Sy Woorde wat ons lewens op 6 maniere begelei.
Lees Psalm 19
1 Vir die koorleier.
’n Psalm van Dawid.
2 Die hemel getuig van die heerlikheid van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
3 Die een dag gee die berig deur aan die ander
en die een nag deel die kennis aan die volgende mee.
4 Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5 Tog gaan daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld
en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel ’n tent opgeslaan.
6 As hy stralend begin om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom,
soos ‘n krygsman wat sy ere-rondte hardloop.
7 Aan die een kant van die hemel kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8 Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.
9 Die bevele van die Here dui die regte koers aan:
dit maak die hart bly.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10 Die ontsag vir die Here is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11 Hulle is kosbaarder as goud, selfs as fyngoud,
soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.
12 U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.
13 Wie sien sy eie dwalinge raak?
Reinig my van dié wat ek onwetend gedoen het.
14 Weerhou my van arrogante mense,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees en vry van groot sonde.
15 Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.
Woordverkondiging
Twee fokuspunte
Die Psalm het twee fokuspunte:
- Die heerlikheid van God in die skepping – met die son as simbool;
- Die heerlikheid van God se stem aan ons – met die Woord as instrument.
Daarmee bring die Psalm twee aspekte van God onder ons aandag, twee aspekte van God waarvan dit ons wil oortuig:
- GOD BESTAAN
- GOD PRAAT
God bestaan
Om ons te oortuig dat God bestaan, roep Psalm 19 die verloop van die skeppingsverhaal van Genesis 1-3 in herinnering – die skepping van hemel en aarde, die verdeling van dag en nag, die son as die lewegewende lig vir die aarde – God se verteenwoordiger in die Skepping – wat ons van Sy mag en heerlikheid wil oortuig.
Daarmee het die Psalmis gehoop dat dié heerlikheid van die skepping mense in vervoering sou laat oor God, sodat hulle later as hulle van die tempel af huis toe gaan, met ‘n groter bewussyn van die heerlikheid van God sou lewe, sodat elke keer wat hulle weer kyk na die hemel en na die son en die normale gang van die dag en die nag ervaar, hulle van God bewus sou bly.
God bestaan. God is teenwoordig. Jy ervaar dit in die ritme van die dag en nag. Jy voel dit brand op jou vel in die dag. Daarsonder sou geen lewe moontlik wees nie.
God praat
Om ons te oortuig dat God praat, beweeg die Psalm van ‘n loflied oor die skepping na ‘n loflied oor die Woord van God, wat vir die mens doen wat die son doen vir die skepping. Dit bring lig en krag en die teenwoordigheid van God selfs tot in die dieptes van die menslike hart (NT Wright). Die Woord gee lewe, is betroubaar, gee wysheid, dui die regte koers aan, bring blydskap, gee insig, staan altyd vas.
En die Psalmis het gehoop dat dié skets van die Woord, soos die ontvangs van ‘n geskenk van kosbare goud, of soos die proe aan druppels heuning uit ‘n heuningkoek, hulle sou inspireer, sou laat begeer om in die Woord te lewe, dit hulle huis te maak, sodat God nie net ‘n veraf en van-bo-af God sou bly nie, maar die persoonlike God, dié een wat in die lewe deur sy Woord betrokke is, en hulle Hom sou ontmoet in die Woord en met sy Woord aan hulle sy en in hulle hart met Hom ‘n pad sou stap.
God praat. Jy kan dit ervaar in die effek wat die Woord op jou kan hê. Dit is soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek. Dit bring lig en krag en die teenwoordigheid van God selfs tot in die dieptes van jou hart. Daarsonder sou ’n mens nie met God in verhouding kon tree nie.
Ons reaksie
Dit is waarom Dawid in vers 13-15 bid dat God hom van binne-af af sal verander, hom sal bewaar van arrogante mense wat hom sou kon verlei om in opstand te kom teen God, en ‘n vastigheid sal gee wat die toets van die tyd sal kan deurstaan, sodat wat hy sê en dink aanneemlik vir die Here sal wees.
Want die feit dat God bestaan en dat Hy praat, roep by ons ‘n reaksie op, om met God in gemeenskap te lewe, om met Hom te praat.
Om te glo dat God bestaan
Nou, dit is nie vir u nuus nie, die ontdekking van die geheime van die heelal – die grootse skepping waarvan ons deel is, die onmeetlike en skrikwekkende ruimtes, die onbegryplike tydloosheid, die ontsaglike leegheid daarvan – is ontsagwekkend en vir baie mense dikwels angswekkend. Soos ‘n sterrekundige gesê het: “Ons staan op ’n mikroskopiese splintertjie van ’n sandkorreltjie. Ons heelal is skrikwekkend. Sy onbegryplike en ontsaglike vergesigte van ewigheid laat die menslike geskiedenis tot ’n oogknip verdwerg. Dit is verskriklik, want ons tuiste in die heelal is volslae verlate en ons materiële bestaan is volkome nietig”.
Dit verlei sommige mense om aan die bestaan van die Skeppergod te twyfel. Dit behoort natuurlik eintlik presies die teendeel te doen, maar helaas vir baie mense laat die heelal twyfel. Willie Jonker skryf hieroor: “God is nie êrens op ’n bepaalde plek binne die Skepping nie, want die Skepping is veel eerder in Hom en word deur sy ewige krag gedra.”
En dan maak hy die punt: “Waar ’n mens se rede deur ongeloof verduister word, is die Skepping vir jou ’n magtige sisteem vol raaisels en sinloosheid. Maar waar geloof aanwesig is, word ’n mens se hart met verwondering vervul oor die grootsheid van God waarvan die Skepping getuig. Dan dien ook die prestasies van die wetenskap om die besef van die heerlikheid van God te versterk en ’n mens aan te spoor om in verwondering uit te roep: ‘Hoe groot is God!’”
Dit is dus waarom Dawid bid, dat hy nie die arrogante weg van ongeloof en gevolglik onbegrip sal volg nie, maar die geloof sal behou om die wonder van God in die Skepping te bly raaksien.
Om in verhouding met God te lewe
Maar, die Skepping kan ons ook net sover neem. Ons ken God eintlik duideliker en meer volkome uit sy Woord. Die prediking van die skepping kan nie aan ons gee wat God se Woord kan doen nie. Daarom, naas die lofsang van die natuur op die werke van God, beklemtoon Dawid God se Woord as die duideliker en mees volkome manier om God te leer ken en met Hom in gemeenskap te lewe, soos ons ook in ons belydenisskrifte hoor (Lees weer ’n slag die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 2 tot 7 – op Internet beskikbaar).
Dit is waarom dit so belangrik is om God se Woord ernstig te neem. Elke keer dat ons erns maak met die Bybel hoor ons iets – altans gelowiges behoort iets te hoor – iets waarvoor ander mense doof is: die stem van God.
- As jy voel dat jy in ’n doodloopstraat is met iets, luister dan na die God van die Bybel, totdat jy sy stem hoor en Hy vir jou die lewe gee. Dit is die belofte van Psalm 19.
- As jy voel dat jy nie kan kies uit al die raad wat mense vir jou gee nie, luister dan na die God van die Bybel, totdat jy sy stem hoor, want Sy stem is betroubaar. Dit is die getuienis van Psalm 19.
- As jy uit jou diepte voel omdat jy iets moet doen waarin jy onervare is, luister dan na die God van die Bybel, totdat jy sy stem hoor, want Hy gee wysheid vir dié wat nog onervare is. Dit is die belofte van Psalm 19.
- As jy voel dat jy nie weet watter kant toe met een of ander ontwikkeling of onderneming nie, luister dan na die God van die Bybel, totdat jy sy stem hoor en Hy vir jou die regte koers aandui. Dit is die belofte van Psalm 19. Dit bring blydskap.
- As jou gedagtes maal en maal en jy jou net verder en verder vasdink rondom iets, luister dan na die God van die Bybel, totdat jy sy stem hoor, en Hy sal vir jou insig gee. Dit is die belofte van Psalm 19.
En so kan ek aangaan. Daar is nie iets wat jy kan ervaar in hierdie lewe waarvoor God nie opgewasse is nie. Maar, jy gaan dit nie hoor by jou vriende, of by jou terapeut, of by jou baas nie. Jy gaan dit hoor by die God van die Bybel, die een wat nie net vir ons ’n 66 boeke nagelaat het as ’n bron van goud, wat soeter as heuning is nie, maar wat dinamies deur Sy Gees hierdie Woord in ons lewe gebruik, sodat ons daardeur die lewe kan ervaar.
En as ons dit reg gekry het dat ons ore ingestel is op God, dan volg dit amper outomaties dat ons die regte goed doen. Dat waar word wat Dawid hier bid, dat wat ons sê en dink vir God aanneemlik is.
Dit is die mees ongelooflike reis, die reis saam met die God van die Bybel.
Appèl
Ek sluit af met twee dinge wat ek jou toewens.
Ek hoop, soos Dawid, dat jy vandag van die kerk af sal weggaan en ‘n slag weer sal toelaat dat die heerlikheid van die skepping jou in vervoering sak laat oor God, sodat jy met ‘n groter bewussyn van die heerlikheid van God kan lewe, en elke keer wat jy weer kyk na die hemel en na die son en die normale gang van die dag en die nag ervaar, jy van God bewus sou bly. Dit is waarvoor die skepping daar is! Dit is wat die geloofsoog raaksien.
En ek hoop, soos Dawid, dat dié Woord vir jou soos ‘n geskenk van kosbare goud sal wees, of soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek. Ek hoop dat die Woord jou sal inspireer, jou sal laat begeer om die Woord jou eie te maak, ‘n kosbare geskenk om te waardeer, ‘n heuningkoek om te geniet, sodat God vir jou nie net ‘n veraf en van-bo-af God sal bly nie, maar die persoonlike God, dié een wat in jou lewe deur sy Woord betrokke is. O, ek hoop dat jy Hom sal ontmoet in die Woord en met sy Woord aan jou sy en in jou hart die pad met Hom sal stap.
Gebed
GOD STUUR ONS OM TE LEEF
Dankoffers
Heilige Nacht – Cantatore
Wiegelied vir die Jesuskind – Kerslied uit Rusland – Cantatore
Slotlied
Lied 464 – O Heer my God, as ek in eerbied wonder – en al u werke elke dag aanskou – staan
Seën
Amen
Lied 312 – Amen