Ek het ses van die Bybelboeke wat ek by Bybelskool.com behandel het in Eboeke omgeskakel. Hier is ‘n beskrywing van elkeen. Jy kan op enigeen klik en dit vir jou aanskaf by my Bybelskoolwinkel by Lulu.com.
-
Hooglied - Lees, luister, leef >>> Hooglied se liefdesgedigte belig verskeie kante van die liefde, die passievolle plesier in mekaar se geselskap, die wedersydse geborgenheid by mekaar, en die genot van seksuele eenwording binne die veilige ruimte van die familie en die huwelik.
-
Spreuke - Lees, luister, leef >>> Spreuke leer ons dat daar ’n regte pad is om op te loop en ’n verkeerde een. Deur tien lewenslesse en meer as vyfhonderd en sestig spreuke leer die boek ’n mens om hierdie wyse pad in die praktyk van die lewe te onderskei en daarvolgens te begin lewe.
-
Prediker - Lees, luister, leef >>> Die Prediker dink na oor die sin van die lewe. Hy sluit aan by die diep soeke in ons na meer, na beter, na die buitengewone. Die Prediker wil ons herinner aan die werklikheid van God, die enigste Een wat regtig sin kan bring aan ons lewens "onder die son". Sy slotsom is dat wanneer die lewe as 'n gawe uit Sy hand geniet word, die lewe begin sin maak.
-
Johannes - Lees, luister, leef >>> Die evangelie van Johannes fokus op Jesus as die gestuurde Woord van God wat volledig mens geword het. In Jesus ervaar ons God se genade en waarheid. Met dié boodskap word die dissipels deur God gestuur om op dieselfde wyse as Jesus sy genade en waarheid aan die wêreld te bring, sodat die wêreld kan glo.
-
Jesaja - Lees, luister, leef >>> Jesaja verkondig dat God vir die volk in 'n moeilike tyd sal sorg ... as hulle Hom vertrou en nie hulle toevlug neem tot die ander volke nie. Hy waarsku: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.” Dit bly vandag nog die kern van die boodskap van God aan elkeen wat in Hom glo. Dit troos alle gelowiges wat bedreigings van watter aard ook al ervaar. Dit konfronteer egter ook diegene wat nie bereid is om te vertrou op die uitkoms wat God vir sy mense belowe nie.
-
Hebreërs - Lees, Luister, Leef >>> Die brief-boodskap aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ’n stad in Italië, waarskynlik Rome. Dit is ’n “Boodskap van aansporing” aan ’n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer. Hy bemoedig hulle met die evangelie van Jesus. Jesus is God, Hy tree vir hulle in, en Hy het die toekoms van die mensdom in Sy hand. Hulle word opgeroep om te waak daarteen dat geeneen van hulle van die lewende God afvallig word nie. Hulle word opgeroep tot geestelike volwassenheid, om nie langer net te fokus op die eerste beginsels van die geloof in Christus nie, maar die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding te hardloop, hul oog gevestig op Jesus die Leidsman en Voleinder van hulle geloof.