Spreuke 2:1-22 – Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.
Preekreeks oor Spreuke: Wyse Woorde vir die Lewe – 29 Julie 2012
Luister in die diereryk
Dit is verstommend hoe goed sommige diere kan hoor.
- Olifante het nie net baie groot ore nie. Hulle kan geluid hoor wat 20 keer dieper is as wat ons ore kan optel. En hulle gerommel kan 6 kilometer ver opgetel word deur ander olifante. Dit is een van die maniere waarop hulle aangepas is om te kan oorleef en met mekaar te kan kommunikeer oor lang afstande.
- Uile het van die skerpste ore wat bestaan. Interessant is dat hulle ore nie op dieselfde vlak sit nie – een is net bo die ooglyn, en die ander net daaronder – sodat hulle met absolute presisie die rigting van ’n geluid kan bepaal. Maar uile kan nie net goed hoor nie. Hulle reaksietyd is ook verstommend. Binne ’n 100ste van ’n sekonde kan hulle reageer op die geritsel van ’n muis in die bos. Dit is waarom uile in die donkerste donker – hulle het natuurlik goeie oë ook – hulle prooi kan vang en só kan oorleef.
- Vlermuise se gehoor is miskien nog beter ontwikkel, hoewel hulle ’n tipe sonar gebruik om te kan hoor. As jy ’n muskiet is, en só 15-20 voet van ’n vlermuis af, al is dit stikdonker, en jy piepklein, is jy geskiedenis. Interessant, vlermuise beskerm hulle ore deur dit toe te maak met elke vlerkklap, sodat hulle gehoor nie verminder met die geraas van hulle eie vlerke nie. Hulle is eintlik totaal afhanklik van hulle gehoor om te kan oorleef.
- Dolfyne, wat ook sonar gebruik, kan tot op 70 meter ’n voorwerp opspoor al is dit net so groot soos ’n vyfrand muntstuk. En soos walvisse kan hulle geluide oor groot afstande onder water optel.
Hoekom? Want al hierdie diere is afhanklik van hulle ore om te kan oorleef. Hetsy of dit is om te kan kommunikeer, of om hulle kos op te spoor of om gevaar te kan ontwyk – ore is lewensbelangrik.