Wat doen jy as jy magteloos is? – Klaagliedere 05

Klaagliedere van Jeremia
Tema: Wat doen jy as jy magteloos is? – Klaagliedere 5

Verwelkoming

Welkom van waar in die wêreld jy ook al af inskakel.

Psalm 4

Die mense wat die Eenjaar Bybelleesprogram van die begin van die jaar af volg, het hierdie week weer met die Psalms van vooraf begin. Vanoggend het ons Psalm 4 gelees. Dit is ‘n Psalm om die konflikte in jou lewe voor die Here te bring en vir sy “glimlag” te vra, soos ’n mens vers 6 kan verklaar:

“verhef oor ons die lig van u aangesig, o Here!”

Mag God se “glimlag” oor jou lewe skyn!

Verjaarsdae

Luzaan Potgieter verjaar vandag. Baie geluk. Baie geluk ook aan Amke Robinson (2).

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van ds Thania Boha van PE Hoogland. Sy noem dit die Geloofsalfabet en deel dit met graagte met ons. Dit is ‘n weeklikse 10 minute aanbieding waarby al ons kinders baat kan vind. Ouers kan dit saam met hulle kinders kyk vir gesprek en aktiwiteite daarna. Dit begin met A vir aanbidding. Geniet!

Kyk dit hier.

Behoeftes

Al die klere wat ons versamel het, is uitgesorteer en uitgedeel. Hier is ‘n video van ons lidmate hard aan die werk om dit uit te sorteer. Onthou die swart sakke wat ons in Lydenstyd met klere volgemaak het, kan steeds hierdie week afgelewer word by Jaco en Annemarie by Bognorstraat 6 enige tyd deur die dag. Klere is ‘n groot behoefte en ons probeer steeds daarin voorsien.

Kos natuurlik steeds ook. Julle kan steeds bydrae vir Theo se lysie en Elsje se ACVV lysie.

Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom. Merk dit net “Noodfonds” as jy EFT. Ons het verskeie mense al gehelp. Dit is ‘n riem onder die hart dat lidmate sulke vrygewige harte het.

Jy is welkom om, as jy weet van nood waartoe ons kan bydra, vir my te kontak. Ons sal dit diskreet hanteer.

Pulse

Ons informele erediens vanaand, Pulse, gaan oor die tema van Seks: Wat sê die Bybel? Net vir bo-13’s. Ouers kan met die lied ná die kindertyd hulle kinders onder-13 net verskoon. Ds Pieter Nel van Hoogland gaan die volgende twee Sondae met ons oor die tema praat. Vanaand uit 1 Korintiërs 6:12-20. 18:00 op dieselfde kanaal. Dit is ook in ‘n aparte playlist gesit om makliker daarby uit te kom. Skakels op die web, Whatsapp en Mailchimp.

Klaagliedere

Ons lees hierdie week hoofstuk vyf van die Klaagliedere van Jeremia. Jy kan steeds my boek vir stiltetyd en kleingroepe op die webtuiste aflaai.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video. Jy kan die skakel via Whatsapp weekliks ontvang. Stuur net jou nommer na Liésl (ngksomer@global.co.za) dan sal ons telkens die skakel stuur. Dit sal ook altyd in die nuusbrief, op die web en op Facebook beskikbaar wees.

Dieselfde geld die klankbaan wat nog kleiner is. Dit sal ook weekliks per Whatsapp beskikbaar gestel word. Dui net vir Liésl aan of jy die kleiner video of net die klankbaan wil ontvang. Ek sal dit ook in die nuusbrief, web en Facebook beskikbaar stel.

Votum en Seëngroet

“Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Die troue liefde van die HERE vergaan nie, want sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid.” (Klg 3:21-23)

Daarom groet ek jou in die Naam die Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Kindertyd

Aanbidding

Lied 8 – O Here God, U naam is groot almagtig

Gebed

Skriflesing en prediking

Riviere, stroomversnellings en watervalle

Dit is fassinerend om ‘n groot waterval dop te hou. Tonne water wat elke sekonde oor die wal stroom.

Ek weet nie of jy al met ‘n trekkerband in ‘n rivier afgedryf het en deur ‘n stroomversnelling meegesleur is nie? Dit is heerlik en opwindend. Ek onthou hoe lekker dit was een keer op die Groot Visrivier daar naby Spreeukloof by Cookhouse. Saam met Hannes en Christa Marais en al ons kinders.

Maar hoe groter die rivier, en hoe groter die versnelling, hoe moeiliker raak dit om jou spoed en veral jou rigting te beheer. En in ‘n groot rivier soos die Niagra op die grens tussen New York en Kanada, as jy by die Niagra Valle kom, sal jy geen kans hê om te keer dat die onvermydelike gebeur nie. Dit is 51 meter hoog en daar stroom 2,4 kubieke ton water per sekonde na benede.

As jy daar in stroom beland, sal jy eenvoudig meedoënloos meegesleur word.

Ek onthou ‘n keer toe ons met die kettingleer op is na Mont-Aux-Sources in die Drakensberge. En na die Tugela waterval gestap het. Dit is klein stroompies water wat van bo uit die berg afloop, en dan al hoe groter word tot dit oor die rand van die Amfiteater val, amper ‘n 1 000 meter ver in vyf verskillende watervalle.

Ek onthou hoe ek daar op die rand van die afgrond hierna gekyk het, en hoe onveilig ‘n mens voel. Een verkeerde voetstap en jy val daar af. Om nie te praat van wat met jou sou gebeur as jy in die stroom aan die bokant sou beland en met die waterval sou afval nie.

Wat my getref het van die Tugela is hoe onskuldig en klein die rivier daarbo in die berg gelyk het, en hoe groot dit mettertyd geword het soos dit oor die waterval stort, en later met ander sytakke wat bykom ‘n groot rivier word, en in vloed ‘n groot gevaar vir diere en mense word.

Dit is hoe sonde werk

Ek wil hierdie beeld van ‘n rivier wat as ‘n klein stroompie begin as ‘n metafoor gebruik om die ballingskap van Israel te verduidelik.

Met die aanvanklike Intog in die land het die Here hulle verstom met die val van Jerigo. Hulle het die mure laat val sonder om eintlik ‘n vinger te verroer. Hulle het net om die stad gestap en die Here het die mure laat omval toe hulle op die sjofars geblaas het.

Maar, net daarna het Israel hulle rieme styf geloop teen die stad Ai. Hoekom? Want Akan het van die buit in Jerigo vir homself gehou, teen die bevel van die Here in. En die Here het hulle nie in die oorlog gehelp nie, en hulle het ‘n liederlike nederlaag gely.

Een klein oortreding, van een man, in een gesin, in een stam van Israel. En die Here moes hulle ‘n les leer. Die hele volk het gely onder die sonde van een man. Hulle almal is meegesleur in die nederlaag, sonder dat hulle dit kon keer.

En so het dit telkens gegaan. Die volk gehoorsaam die Here, en dit gaan goed met hulle. En dan begin hulle laks raak in hulle toewyding en hulle oortredings neem toe. En voor jy jou oë uitvee, is die volk só afvallig dat die Here iets moet doen om hulle tot hulle sinne te ruk. En hulle word meegesleur in nederlae en verdrukking.

Dit is hoe die sonde werk. Dit begin altyd klein. ‘n Oorsig. ‘n Leuen. ‘n Verkeerde keuse. ‘n Doelbewuste sonde. En soos met ‘n rivier kom al die verskillende stroompies by mekaar en raak hulle saam  ‘n groter stroom en later ‘n magtige rivier van water wat jou onkeerbaar meesleur. En as daar ‘n stroomversnelling kom, of ‘n waterval, word jy as’t ware magteloos meegesleur.

Dit is hoekom die ballingskap nodig was

Dit is dan ook die diepste rede waarom die ballingskap nodig was. Die Here moes die stroom van afgodsdiens en onsedelikheid tot stilstand bring.

  • God moes ‘n einde maak aan die ongehoorsaamheid van die konings. Want hulle het die volk in ooreenkomste ingedwing wat soms nog politiese of ekonomiese sin gemaak het, maar die volk geestelik afvallig van die Here gemaak het. In plaas van op die Here te vertrou, het die konings die volk geleer om op hulle eie politiese en ekonomiese mag te vertrou.
  • God moes ‘n einde maak aan die afgodery van die profete en die onsedelikheid van die priesters, want hulle het die volk verlei om te leef asof God nie bestaan nie, en asof sy wet nie meer hulle maatstaf vir leer en lewe was nie.

Daar was wel goeie konings in Juda – soos koning Hiskia en koning Josia in die sewende eeu vC – maar die oorwig van slegte konings – wat begin het by koning Manasse, die seun van Hiskia in die sewende eeu, en voortgesit is deur Joahas, Jojakim, Jojagin en uiteindelik Sedekia in die vroeg sesde eeu – het die stroom van oortredings net te groot gemaak.

Daar was goeie profete soos Jesaja en Jeremia, maar ook goddeloses soos Gananja (Jer 28) en Agab (Jer 29 – die profeet, nie die koning nie), en die konings en die volk het eerder na die vals profete geluister as na dié wat die Here se woord vir hulle in sy volheid gebring het.

Oor die priesters praat ons nie eers nie, want daar was bitter min van hulle wat vir die Here en gehoorsaamheid aan Hom opgestaan het. Hulle het eenvoudig die leiding van die konings nagevolg.

Die gevolg was dat die volk magteloos meegesleur is oor die afgrond, soos oor die Niagra of Tugela watervalle.

Magteloosheid in jou lewe

Ek weet nie wat jou magteloos maak nie.

  • Miskien is jy in ‘n situasie waar jy uitgebuit word, waar iemand jou sleg behandel en jy net voel daar is nie uitkoms nie. Dit is nie soseer jou sonde wat jou seermaak nie. Jy ly onder ander wat jou in hulle mag het. En jy weet ook nie hoe jy daarvan kan ontsnap nie.
  • Miskien is daar sonde in jou lewe wat jou jy herhaaldelik by vashaak. Wat jou meesleur. Iets wat jou só in sy mag het dat dit soos ‘n stroom jou eenvoudig meesleur. En jy weet nie meer wat jy kan doen om daarvan te ontsnap nie.

Wel, jy is nie uniek nie. Mense in Jeremia se tyd het dieselfde ervarings van magteloosheid gehad het. In Klaagliedere 5 fokus Jeremia op die algehele magteloosheid van die volk. In die eerste 18 verse lees ons:

  • Hulle het hulle huise en besighede verloor – vreemdelinge besit dit nou. Miskien kan jy daarmee identifiseer.
  • Hulle families is gebroke. Baie is weeskinders, sonder pa of ma. Maar, sommige se pa’s is só teen die grond dat hulle vrouens eintlik soos weduwees is. Miskien kan jy daarmee identifiseer.
  • Alles is duur – selfs die water en hout wat hulle voorheen self kon gaan skep en versamel, is nou in die hande van vreemdes wat dit aan hulle verkoop. Miskien roer dit iets by jou.
  • Hulle word gedwing om met hulle vyande te onderhandel, en word uitgebuit. Hoe verskriklik moet dit nie wees as dit jou ervaring is nie.
  • Die gemeenskapslewe is vernietig – gewelddadige verkragting is aan die orde van die dag. Soos ons oral in ons land sien waar geweld oorheers. Ons praat vanaand in Pulse spesifiek oor “gender-based violence” en wat ons daaraan kan doen.

Wees eerlik oor jou situasie

Maar, dit is ook presies waar die herstel begin, deur eenvoudig die dinge te begin lys wat jou ontstel. In die doodgewone erkenning van wat aangaan. Om nie jou magteloosheid weg te steek nie. Om dit te erken.

Dit sluit in om eerlik te wees oor die redes vir jou sonde of jou situasie. Of dit nou uit jou eie sondigheid kom. Of dit aan jou gedoen word.

Ek het in die vorige bydraes oor Klaagliedere meer gefokus op dinge wat aan jou gedoen word. Ek wil vandag meer fokus op die effek wat sonde in ‘n mens se lewe het.

Jeremia is eerlik in sy klaaglied oor die rede vir die verlies. Die ballingskap is weens die volk se eeuelange afvalligheid van die Here, “die sondes van die vaders.”

Maar, nie net dit nie. Die ballingskap is ook weens die geslag van hulle tyd se sonde. Trouens, hulle eie sonde. Dit is nie net weens Manasse se gruweldade van die vorige eeu wat die ballingskap aangebreek het nie. Dit is ook weens Sedekia die laaste en mees lafhartige koning van Juda se sonde. Die ballingskap is ook weens elke lid van die volk wat stilgebly of saam gesondig het met die konings, priesters en profete.

Jy moet dus op ‘n punt kom waar jy erken dat jy op ‘n plek is waaruit jy jouself nie kan red nie. Dat die stroom jou beet het en dat jy met jou eie kragte nie daaruit kan kom nie.

Dit is in wese wat Jeremia hier doen, om te erken dat die volk vir jare lank hulle oë toegemaak het vir die sondes van die leiers – die konings, priesters en profete – en hulle sondes as ‘n verskoning gebruik het om self niks te doen aan hulle eie sondes nie en eenvoudig saam met almal aan die sondes deel te neem.

1. Moet niks wegsteek nie

Sien, elke sonde en oortreding is verkeerd en bring verwydering tussen jou en God. Maar hoe meer sondes en oortredings daar is, in jou eie lewe, en uiteindelik in ‘n samelewing, hoe moeiliker word dit om die gaping tussen ons en God toe te maak. Hoe moeiliker raak dit om die gety te stop, om die stroom te beheer, totdat jy uiteindelik magteloos meegesleur word, selfs al probeer jy iets aan die saak doen.

En die gemors is, selfs die gehoorsames word uiteindelik meegesleur. Kinders wat nie deelgeneem het aan die afgodsdiens en immoraliteit van hulle ouers nie, word self oor die afgrond van die ballingskap getrek.

Sien, ten diepste is die ballingskap ’n geestelike realiteit. Die tragiese feit dat die volk oorheers word, dat hulle magteloos voel, is weens hulle sonde.

So, moet niks wegsteek nie. Hoe dieper jy kan oopmaak, hoe dieper kan jy skoonmaak.

Hoe gaan dinge verander?

Hoe gaan dinge verander?

Deur te sê: Ja, Here, U was reg. U is reg. U is ook regverdig. Ons het U nie gedien soos ons moet nie. Daarom sit ons nou in hierdie ellende. Daarom is ons in ballingskap.

Maar, dit is net die begin. Want skuldbelydenis moet oorgaan in ‘n geloofsbelydenis.

2. Gryp in geloof vas aan God as Koning

Let op hoe Jeremia dit doen in vers 19:

19 U, HERE, U heers vir ewig. U troon is van geslag  tot geslag.

Jeremia bely dat God die enigste God is. Dat sy troon van geslag tot geslag bestaan. Dat Hy vir ewig heers. Dat daar niemand anders is as Hy nie. Dat sy heerskappy nooit sal ophou nie.

Die enigste weg uit ons magteloosheid – uit ons gevoel dat ons meegesleur word deur magte en kragte wat ons oor is – is om dit te erken, en dan aan die ewige krag van God vas te gryp:

20 Waarom vergeet U ons vir altyd, waarom verlaat U ons vir goed?

21 Bring ons terug na U toe, HERE, sodat ons kan terugkeer;  maak ons dae nuut soos voorheen,

22 Tensy U ons heeltemal verwerp het, tensy u woede teen ons uitermate groot is.

Dit is die enigste vaste punt vir die volk sowel as hulle enigste hoop. In hulle magteloosheid sluit dié enkele geloofsbelydenis hulle toekoms oop. En raak hulle geloofsbelydenis ook die eerste stap van hulle gehoorsaamheid.

3. Laat God jou verander

Want, vir Juda sal dit nie genoeg wees as hulle fisiese omstandighede verander nie. Dit sal nie genoeg wees as hulle familielewe herstel is nie. As hulle weer vryheid van hulle vyande ervaar nie.

Nee, hulle sal net uit hulle magteloosheid verlos word as hulle verhouding met die Here herstel word. Vandaar die sug:

Bring ons terug na U toe, HERE, sodat ons kan terugkeer.

‘n Mens kan ook vertaal:

“Bekeer ons na U toe, Here, sodat ons tot bekering kan kom.”

Dit is net God wat jou kan verander. Jou kan gee wat jy graag wil hê.

En dit is daardie krag waarvan ek jou vandag wil vertel. Die krag van God wat in ons aan die werk is en wat ons uit ons bangwees, uit ons moedeloosheid, uit ons hartseer, uit ons uitlewering, uit ons magteloosheid wil ruk na ‘n ervaring van sy teenwoordigheid wat soos ‘n opstanding uit die dood uit sal voel.

Oor hierdie krag van God bars Paulus in die NT in ‘n lofprysing uit en sê:

“Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, … julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet … hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. (Ef 1:16b-23).

Ons vier vandag Sondag, die opstandingsdag van die Here Jesus Christus. Hy is nie net uit die dood uit opgewek nie. Hy sit ook aan die regterhand van God in die hemel. Hy is bó elke mag en gesag. Hy is bó elke krag en heerskappy. Hy is bó elke mag in hierdie bedeling en die bedeling wat kom.

En daardie Jesus, die Een aan wie God alles onderwerp het, die Een wat God bo alles verhef het, Hy is die hoof van die kerk. Ons is sy liggaam. En met die volheid van God wat in Hom woon, is Hy besig om alles in almal in die kerk te vervul.

Sela.

Gebed

Toekoms

Ek gaan die volgende twee weke fokus op twee temas wat my na aan die hart lê, in opvolg van hierdie reeks oor Klaagliedere:

  • Ek sal julle rus geeMatteus 11:25-30
  • God laat alles ten goede meewerkRomeine 8:26-30

Daarna dink ek om op die lewe van Paulus te fokus tot en met Advent. Uit die boek Handelinge en gefokus op sy dertien briewe. Die storie van die kerkperspektiewe uit die briewe van Paulus.

Weer met ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Bid dat die Here my sal lei en in staat sal stel om dit te kan uitvoer!

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde weer wys.

Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.

NGK Somerstrand

Absa Tjekrekening 01008731388

Takkode 632005

Ons wil jou aanmoedig om bv ‘n maandelikse EFT of Snapscan te maak wat jy kan merk “kollekte”. Of natuurlik jou dankoffer te verhoog met daardie bedrag. Uit die staat vir Mei lyk dit asof mense dit reeds begin doen het. Ons het vir die eerste keer hierdie inperking begroting gemaak vir die maand. Dankie!

Ons luister nou na ‘n bydrae van Evelyn Lotz en dan sing ons daarna daardie pragtige lied: Ons vind ons krag in die Here (Vonkk 58).

Evelyn Lotz

Slotlied

Vonkk 58 – Ons vind ons krag in die Here

Seën

Goed is die HERE vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek.

Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die HERE. (Klg 3:25-26)

En die gemeente sê: “Amen!”

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.