1 Petrus 1:1-9 – Jubel oor God in allerhande beproewings
8 Oktober 2017 Aanddiens Somerstrand
Versoekings en beproewings
Ek lees die week ’n interessante hoofstuk in die boek van Lance Hahn, The Master’s Mind. Die hoofstuk handel oor God wat versoekings en beproewings – temptations and trials – toelaat in ons lewe, omdat dit vir ons goed is.
Regtig? Regtig.
Dieselfde Griekse en Hebreeuse woorde – peirasmos en massâ – word in die Skrif gebruik vir versoekings en beproewings, soos Jakobus 1 onder andere uitspel. Die onderskeid hang af van die bedoeling en motivering.
- Is die bedoeling van die moeilike situasie waarin jy jouself bevind, om jou af te breek? Dan is dit ’n versoeking.
- Is die bedoeling van die moeilike situasie waarin jy jouself bevind, om jou op te bou? Dan is dit ’n beproewing.
Versoekings wil jou in sonde laat val. Dit is nooit iets wat God sal doen nie. Maar, Hy toets jou wel – met deernis – om jou te dissiplineer.
Jakobus sê oor versoekings: “12 Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.”
Hy is baie duidelik daaroor dat sonde anti-God is. God sal dus nooit iemand lei om te sondig nie. “13Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. 14Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. 15Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.” (Jak. 1:12-15).
Maar, God sit gelowiges deur moeilike situasies wat twee goed aan hulle kan doen. Dit kan eerstens vir jou soos ’n spieël wees, jou huidige situasie aan die lig bring, jou help om dinge raak te sien wat jy moet verander, dinge wat jy moet los, dinge wat jy moet begin doen. Dit kan tweedens vir jou wees soos ’n stel trappe, om jou sterker maak, jou fikser te maak, en te dinge te leer wat nodig is in jou geloofslewe.
Soos dieselfde Jakobus sê, en hy gebruik dieselfde Griekse woord om oor beproewings te praat: “2My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.” (Jak. 1:2-3)
En Jakobus moedig ons aan om te volhard, omdat dit tot geestelike rypheid lei. En as ons wysheid kortkom, moet ons dit van God bid wat aan almal sonder voorbehoud gee sonder verwyt (Jak. 1:4-8).
Natuurlik is beproewings steeds ’n uitdaging. En ons gaan nie altyd weet of iets ’n versoeking of ’n beproewing is nie. Dit weet net God.
Uit hierdie lees van Lance Hahn se boek het ek na die Bybel gaan kyk vir verdere leiding, en die Here het met my gepraat uit die eerste brief van Petrus. Ek sal dit graag met julle lees en vyf gedagtes met julle deel om julle te laat volhard in beproewings en versoekings. Die eerste twee kom uit die gedeelte. Die laaste drie uit die res van die hoofstuk wat jy ná die tyd kan gaan lees. (more…)








