1 Petrus 1:16-21 – Die getuienis oor Jesus Christus is betroubaar
Die tweede brief van Petrus is ‘n afskeidsboodskap van die apostel Petrus aan die geloofsgemeenskap in gebiede van wat vandag die moderne Turkye is: destyds Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. Die brief is waarskynlik uit Rome geskryf in die tyd van keiser Nero.
Petrus is bekommerd oor die dwaalleraars in die gemeente wat hulle kan laat twyfel dat die boodskap van Jesus Christus betroubaar is. Hy waarsku hulle daarom dat die vals leraars vernietigende ketterye sal insmokkel in hulle geloofsgemeenskap wat nie net tot losbandigheid kan lei nie, maar hulle selfs kan verlei om van die Here Jesus self afvallig te raak onder andere deur die wederkoms te ontken. Hierdie dwaalleraars het net oor die hiermaals gepraat, nie die hiernamaals nie, en gesê dat ‘n mens eintlik maar kan leef soos jy wil (2 Pet. 3:4).
Petrus wil hulle aanmoedig om vas te hou aan die ware evangelie: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Pet. 3:18). Hulle geloof is net te kosbaar (2 Pet. 1:1) dat hulle deur roekelose en arrogante mense (2 Pet. 2:10) op ‘n dwaalspoor gelei mag word.
Petrus is ook baie bewus van sy naderende dood (2 Pet. 1:14) en wil vir oulaas met hierdie skrywe hulle help om aan die verdorwenheid, die verderf van die wêreld, te ontvlug (2 Pet. 1:4). Hy wil hulle help om te bly fokus op God se goddelike krag wat hulle alles gegee het wat hulle nodig het vir ‘n toegewyde lewe (2 Pet. 1:3). Dan weet hy sal hulle nie struikel voor die uitdaging van die dwaalleraars nie (2 Pet. 1:10).
Omdat hierdie God op só ‘n kragtige manier in hulle werk, hét hulle die vermoë om nee te sê vir die uitdaging van die dwaalleraars, kán hulle ‘n heilige lewe lei wat aan God toegewy is, en sál hulle nie hulle standvastigheid verloor nie. “Die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus,” sal daarvoor sorg (2 Pet. 1:16).
Download the English translation here:
- Word: 1 Peter 1_16-21 – The testimony of Jesus Christ is trustworthy.docx;
- Pdf: 1 Peter 1_16-21 – The testimony of Jesus Christ is trustworthy.pdf
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS (more…)






