Jesus word gedoop – Matteus 3:13-17
Johannes die Doper begin sy bediening met ‘n eenvoudige maar duidelike boodskap van bekering. ‘n Wegdraai van ‘n sondige leefwyse na volle gehoorsaamheid aan die Here.
Hoekom? Want, bekering maak gelowiges gereed vir die ontvangs van die koninkryk van die hemele. Bekering maak dit moontlik dat jy die gawe van die Gees kan ontvang. Dat jy die vrug van die Gees kan dra. Dat jy in die teenwoordigheid van die Here kan lewe.
Sonder bekering is dit onmoontlik om deel te word van die koninkryk van die hemele. So verkondig Jesus dit regdeur sy bediening.
Jesus sê Hy het gekom om sondaars tot bekering te roep (Matt 4:17; 9:13; Mark 2:17; Luk 3:8). Jesus sê dit is nie dié wat lippediens doen en Jesus Here noem wat in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. Nee, net dié wat die wil van sy Vader doen (Matt 7:21; vgl die talle gelykenisse oor die koninkryk in Matt 13).
Die Skrif is dus duidelik daaroor dat daar geen verandering in ‘n mens se lewe kan plaasvind, sonder bekering nie. Die boodskap van die koninkryk van die hemele kan net deur ‘n voorbereide hart, ‘n bekeerde hart, ontvang word.
Dit is waarom die bediening van Johannes die Doper om bekering gedraai het. Dit is waarom die bediening van die kerk steeds om bekering draai. Want dit is wat steeds nodig is in die lewe van elke gelowige. Soos Paulus daaroor skrywe in sy brief aan Titus:
“Want die genade van God wat redding bring aan alle mense het verskyn, en dit leer ons om nee te sê vir die goddeloosheid en wêreldse begeertes en om verstandig, reg en toegewyd in die huidige wêreld te leef,” (Tit 2:11-12 – ASV).
Maar, nie almal het dié woord van bekering aanvaar nie. Want bekering vra opoffering, prysgawe, ‘n neerlê van jou eie wil en jou eie begeertes.
Download English translation: Jesus is baptized – Matthew 3_13-17
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS: (more…)








