1 Konings 3: Erediens – Om te luister in ‘n wêreld waar wysheid nodig is – Son 18 Julie 2010
Ek bewonder wysheid
As daar een ding is wat ek bewonder, is dit wysheid.
As daar een ding is wat ek begeer, is dit wysheid.
As ek terugdink oor my lewe is dít die dinge wat vir my uitstaan, die kere wat ek dit reggekry het om met wysheid op te tree. Soms, ongelukkig, staan ook die kere uit, waar ek dit nie reggekry het nie.
Dit het te make met dinge in my persoonlike lewe, my familielewe, my lewe in hierdie land, sowel as my professionele lewe. Ek voel goed oor dié dinge wat vir my as wyse keuses uitstaan, en ek voel sleg oor die dinge wat ek weet onwys was, en waarmee ek natuurlik moet saamleef.
Maar wat is wysheid?
Is dit gekoppel aan ‘n mens se vermoëns, of jou vaardighede, of jou opvoeding, of jou gemeenskap, of jou godsdiens, of aan mentors, of jou ouers?
Salomo se wysheid
Ons dink natuurlik verskillend daaroor, en ons sal verskillende definisies daarvoor hê, en daar is in elk geval nie net een regte antwoord nie, maar die meeste van ons sal saamstem dat die storie van Salomo wat ons gelees het, wat hierdie twee ma’s help, wat stry oor wie se kind nou eintlik oorlewe het, wysheid illustreer.
Want, onthou, hy kon nie sy toevlug tot DNA toetse neem nie. Hy kon nie ‘n forensiese ondersoek loods en bo alle redelike twyfel die biologiese verbintenis aan die regte ma bewys nie. Dit was ‘n eersteklas dillemma vir ‘n nuwe jong koning.
Hoe het hy dit reggekry om met soveel wysheid op te tree?