Die wet as spieël, stang en sweep – Eksodus 20
Ons het verlede week Hervormingsondag gevier. Dié dag waarop ons nadink oor ons Protestantse erfenis. Ons kon die baanbrekerswerk van die Waldense, Johannes Hus van Boheme, Maarten Luther van Duitsland, John Wycliff van Engeland, Johannes Calvyn van Genève, en talle ander hervormers in herinnering roep.
Waarmee hulle ons gehelp het, is om terug te beweeg na die Skrifte, om teenoor die kerktradisie die primêre plek van die Skrifte te beklemtoon (sola Scriptura). Om teenoor die aflaatstelsel die primêre plek van Christus wat sy genade deur geloof in ons lewens aan die werk sit te beklemtoon (solus Christus, sola gratia en sola fide). En oorhoofs vir ons te leer om tot God se eer te lewe (soli Deo Gloria).
Die Tien Woorde
Ek wil egter vandag ‘n bietjie verder terug gaan in die geskiedenis, na die basis van die belydenis van Sola Scriptura. Na die eerste gawe van God se Woord aan ons. Na die tien woorde wat God op Sinai in sy eie handskrif aan ons gegee het. Die Tien Gebooie.
Want, dit is wat die tien gebooie in die Hebreeus genoem word: tien woorde, vanwaar die naam vir die Tien Gebooie as die Dekaloog kom (deka = tien; logos = woord: Eks 34:28; Deut 4:13; 10:4):
Soos Moses dit vertel:
”4Die Here het in dieselfde skrif as tevore die tien gebooie (tien woorde – ʿǎśěʹ·rěṯ hǎd·deḇā·rîmʹ) geskryf wat Hy op die berg, die dag toe die volk bymekaargekom het, uit die vuur uit vir julle gegee het. Daarna het Hy die twee plat klippe vir my gegee. 5Toe het ek van die berg af gekom en soos die Here my beveel het, het ek die plat klippe in die ark gesit wat ek gemaak het.”
En die kommentaar van die redakteurs van die Pentateug: “Hulle is nog daar.” (Deut 10:4) (more…)







