Stilte kan slegte gevolge hê
Daar kom ‘n tyd wat ‘n mens moet praat. Wanneer jy dit nie langer kan vermy nie. Wanneer stilte slegte gevolge kan hê.
Ek onthou ‘n paar tye in my lewe waar ek op ‘n verkeerde pad was. ‘n Keer ook ‘n domastrante pad. En daar was mense wat genoeg omgegee het om my te waarsku. “Caring enough to confront,” was my behoud. My ma. My tuis predikant. ‘n Vriend. My vrou.
Soms is dit eenvoudige woorde wat nodig is. Want dit is eenvoudige situasies. Soms nie. Soms is dit komplekse situasies waar woorde geweeg en getoets moet word.
Om te praat, is egter nooit maklik nie. Nie vir die een wat moet luister nie. Nie vir die een wat moet praat nie. Maar, ‘n mens kan dit nie vermy nie. Daar kom ‘n tyd wat ‘n mens moet praat.
Natuurlik moet ‘n mens die styl kies van die Skrif. “‘n Sagte antwoord laat woede bedaar.” (Spr 15:1). Maar daar is ‘n tyd wanneer stilbly nie meer ‘n opsie is nie.
Stilte kan katastrofies wees
Hoekom? Want, stilte kan nie net slegte gevolge hê nie. Stilte kan ook katastrofiese gevolge hê.
So ‘n tyd het in 1994 aangebreek. In Rwanda. Met die Hutu ekstremiste wat die Tutsis cockroaches genoem het en ‘n volksmoord beplan het.
Die regering in Rwanda en die internasionale gemeenskap het egter stil gebly … en 70 % van die Tutsis is uitgemoor. 100 dae. 10 000 mense ‘n dag. 1 miljoen mense. Met machetes, knuppels, hamers, klippe. 30 % van die pigmies is ook uitgemoor. ‘n Wrede tydperk in die geskiedenis.
Om te swyg in Rwanda, was om stilswyend goed te keur. Om stil te bly oor Rwanda, was om jou plig te versaak. Om stil te bly oor Rwanda, was om jou menswees te verraai.
‘n Katastrofe het die Jode getref
Só ‘n tyd van katastrofiese aard het die Joodse volk getref in die tyd van Ester. Haman wou Mordegai en op die koop toe al die Jode uitroei regdeur die bekende wêreld van daardie tyd.
Die datum vir dié uitwissing is met die Pur – dit is met die lot – beslis, nogal op die dertiende van die laaste maand Adar. Geen wonder die dertiende is nie ’n gewilde datum in die wêreld nie!
Haman was só kwaad en met soveel wraakgedagtes gevul teenoor Mordegai, die Benjaminiet wat nie voor hom wou buig nie, dat hy die koning omgekoop het met 342 ton silwer, sodat Ahasveros opdrag sou gee dat nie net Mordegai nie, maar al die Jode voor die voet uitgeroei word. Haman het letterlik ’n etniese suiwering beplan wat alle Jode sou insluit: “klein en groot, kind en vrou,“ asook hulle besittings.
Dit is waarom Mordegai só ernstig met Ester praat, nie net oor sy eie lewe nie, maar die lewe van die hele volk. Die tyd het gekom dat die dreigende gevaar van ‘n volksmoord die hoof gebied moes word. Die koning moes ingelig word oor die kwaad wat hy onwetend goed gekeur het. Die bose invloed van Haman moes teengestaan word. Die tyd het gekom om te praat.
Ons lees in hoofstuk 4:
12Die boodskap van Ester is aan Mordegai oorgedra, 13en hy het haar geantwoord: “Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. 14As jy nóú swyg en daar kom van ’n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” (Ester 4:12-14)
Die vete tussen die Amalekiete en die Jode kom van ver
‘n Mens moet verstaan, die vete tussen die Amalekiete en die Jode het van ver af gekom. Haman was ’n afstammeling van koning Agag uit die Amalekiete.
Nie net was die Amalekiete die eerste vyand wat Israel op hulle tog na die Beloofde Land teengestaan het nie. Nee, Saul uit die stam van Benjamin – die stam aan wie Mordegai en Ester behoort het – het hierdie koning, Agag, Haman se oergrootjie, om die lewe laat bring. Die profeet Samuel het Agag in stukke gekap (1 Sam. 15:33).
Die vete tussen die twee groepe kom dus van baie ver af. Om die waarheid te sê, die wortels van dié stryd lê eintlik nóg verder terug. Amalek was ’n seun van Esau en daarom een van die Edomitiese stamme. Dit is waarom Haman met geen genade sou optree nie. Die wraak uit die verlede het hom in sy greep gehad.
Trouens, met Juda se ballingskap, toe Mordegai se grootjies saam met koning Jojagin in ballingskap geneem is, het die vete nog steeds ‘n rol gespeel. Gaan lees maar hoe die Here praat deur die profeet Obadja oor die verwaandheid en afsydigheid (indifference) van Edom teenoor Israel met die ballingskap (Obadja):
“12Jy moes jou nie daarin verlekker het dat jou broer se dag gekom het nie, die dag toe die ongeluk hom getref het; jy moes nie so bly gewees het oor wat gebeur het met die mense van Juda die dag toe hulle omgekom het nie; jy moes nie so uit die hoogte gepraat het die dag toe die ellende hulle getref het nie; 13jy moes nie die poorte van my volk binnegegaan het die dag toe die ramp hom getref het nie; jy moes jou nie ook verlekker het in sy ongeluk die dag toe die ramp hom getref het nie; jy moes nie sy besittings geroof het die dag toe die ramp hom getref het nie; 14jy moes nie by die kruispaaie gaan staan het om sy vlugtelinge dood te maak nie; jy moes nie sy oorlewendes uitgelewer het die dag toe die ellende hom getref het nie. 15Die dag van die Here is naby, naby vir al die nasies. Wat jy gedoen het, Edom, sal aan jou gedoen word, jou dade sal op jou eie kop afkom.” (Obadja 12-15).
As jy nóú swyg …
Dit was egter ook waarom Mordegai so duidelik en beslis optree. Die gevaar was nie denkbeeldig nie. Dit was werklik. Hy het die geskiedenis daarvan geken. Sy mense het dit aan hulle eie bas ervaar met die ballingskap. En daarom vra Mordegai vir Ester dat sy Ahasveros om genade moet smeek en só vir haar volk moet intree.
Sy was wel aanvanklik huiwerig om dit te doen. Mordegai het haar per slot van rekening tot dusver aangeraai om haar Joodse afkoms geheim te hou. Maar, sy het ook geweet dat sy haar lewe in gevaar sal stel deur onaangekondig by die koning aan te kom. Hy moes haar laat roep. Sy mag nie sommer net by hom aangekom het nie.
Maar, Mordegai se woorde aan haar weerklink tot vandag toe nog by elkeen wat voor só ’n groot keuse gestel word:
“Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. As jy nóú swyg en daar kom van ‘n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!”
Ester tree met groot oorleg op
Dit motiveer Ester om op te tree en die impak van haar invloed te toets ten bate van haar volk. Ons lees verder in hoofstuk 4:
15Ester het toe vir Mordegai laat weet: 16“Gaan maak al die Jode wat in Susan is, bymekaar en vas ter wille van my. Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.” (Ester 4:15-16).
‘n Mens leer dus by haar nie net dat daar ‘n tyd kom dat ‘n mens moet praat nie, maar dat dit ook met ‘n oorleg gedoen moet. En dit is wat ek graag wil hê dat jy raaksien. As riglyn vir die dinge wat die Here op jou hart lê om nie langer oor stil te bly nie.
Ons leer dus by Ester hoe ‘n mens jou gehoorsaamheid om te praat, kan beplan. Nie as ‘n bloudruk nie. Haar situasie is anders as ons s’n. Maar, wel as ‘n voorbeeld waaruit ons kan leer.
1. Ester soek ’n inkoop en intrede by al die Jode wat in die stad Susan is
Ester soek eerstens ’n inkoop en intrede by al die Jode wat in die stad Susan is. Hulle moes ’n streng drie dae lange vas hou waarin hulle niks mag geëet of gedrink het nie. Sy het besef dat dit nie sal help om hierdie groot saak alleen aan te pak nie. Sy het God se hulp nodig gehad. En sy vra sy hulp deur al die gelowiges te betrek in ‘n tyd van vas.
Natuurlik luister God na die gebed van ‘n enkele regverdige. Elia se storie is vir ons daarin ‘n kragtige voorbeeld (1 Kon 17-18). Maar, waar ‘n groot uitdaging kom wat talle mense se lewens sal raak, kan ‘n groot inkoop en meelewing nodig wees om die uitdaging die hoof te bied.
Ons moet die krag van ‘n enkele persoon wat bid nie onderskat nie. Ons moet tegelykertyd nie die krag van ‘n geloofsgemeenskap wat saamstaan en God se hulp vra, onderskat nie. Soos Elia ons motiveer om te volhard, al staan ons alleen, só motiveer Ester ons om ‘n groot inkoop te kry, sodat ons eendragtig kan saamstaan voor die Here.
Jesus het immers gesê, waar twee of drie in my naam vergader, daar is Ek in hulle midde (Matt 18:20). En die krag van gebed lê in God self.
2. Ester doen self wat sy van die ander Jode vra
Ester doen natuurlik ook self wat sy van die ander Jode vra. Sy sluit selfs haar kamer personeel in by die vas. Voorbidding en verootmoediging is nie iets wat ‘n mens net van ander kan vra nie. Dit is iets waaraan jyself moet meedoen. Ook nie net om ‘n voorbeeld te stel nie. Maar, om jou oortuiging uit te leef.
Dit laat my dink aan die gelykenisse wat Jesus vertel het wat ons aanmoedig om te volhard in gebed en nie op te hou nie. Die gelykenis van die weduwee en die onregverdige regter is goeie voorbeeld (Luk 18:1-8). Jesus het dit vertel om ons aan te moedig om aan te hou bid sonder om moedeloos te word.
Maar daar is meer. Ons lees die volgende in hoofstuk 5:
5 Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die ontvangsaal van die koning. Die koning was op die troon in die ontvangsaal regoor die ingang. 2Toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy hom so bekoor dat hy die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek het. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak. 3Die koning sê toe vir haar: “Wat kan ek vir jou doen, koningin Ester? Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.”
4Toe sê Ester: “As u dit goedvind, kom dan vandag saam met Haman na ’n maaltyd toe wat ek vir u voorberei het.”
5Die koning beveel toe: “Bring gou vir Haman dat ons kan doen wat Ester vra.” (Ester 5:1-5a).
3. Ester skep die regte atmosfeer
Ester val dus nie met die deur in die huis as sy met Ahasveros gaan praat nie, maar skep eers ’n atmosfeer waarin Ahasveros gemoedelik sal wees en Haman se manipulasie die minste effek sou kon hê. Dit doen sy deur hulle vir ‘n ete te nooi.
Haar beplanning sluit dus nie net die inkoop van die geloofsgemeenskap in nie. Dit sluit ook nie net op die koop toe haar eie toewyding in deur self te vas nie. Nee, sy sorg dat die woorde op die regte tyd die grootste moontlike effek kan hê. Sy stel hulle dus op hulle gemak met ‘n goeie ete.
Maar, dit is ook nog nie al nie. Ons lees verder in hoofstuk 5:
Die koning en Haman is toe na die maaltyd toe wat Ester voorberei het. 6Terwyl hulle wyn drink, vra die koning vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.”
7Ester het geantwoord: “My wens en my versoek is soos volg: 8as die koning my goedgesind is, en as die koning dit goedvind om aan my wens te voldoen en my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal berei. Dán sal ek my wens aan die koning bekend maak.” (Ester 5:5b-8)
Selfs by hierdie ete stel sy dus die mededeling van haar versoek uit, deur hulle eers vir nog ’n ete die volgende dag uit te nooi. Sy gebruik die atmosfeer van twee etes vóór sy praat!
Dit was waarskynlik om doodseker te maak dat sy regtig die aandag van beide Ahasveros en Haman sal hê, sodat die bom wat sy sou laat bars oor die impak wat hulle gesamentlike besluit op haar en haar volk sal hê, die maksimum effek op hulle kan hê.
Haar woorde was dus beplan vir die maksimum effek. Sy het immers net die een kans. En dit moet die volksmoord stop.
4. Ester beplan haarfyn wat sy gaan sê
Maar, die heel belangrikste is waarskynlik dat sy haar woorde self goed beplan het. Sy wou nie net kla by die koning oor Haman nie. Sy wou nie net vir Haman bykom nie. Sy het ‘n spesifieke uitkoms gesoek. Sy wou haar volk red.
Ons lees die volgende in hoofstuk 7:
7 Die koning en Haman het by koningin Ester gekom om saam met haar te eet. 2Terwyl hulle by hierdie tweede geleentheid besig was om wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van die koninkryk, dit sal toegestaan word.”
3Koningin Ester antwoord toe: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek. 4Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.”
5Toe vra koning Ahasveros vir koningin Ester: “Wie is dit wat so iets beplan, en waar is hy?” 6en Ester antwoord: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman.” (Ester 7:1-6)
Sy het ook geweet dat die bevel nie maklik gestop kan word nie. Dit was immers die wet van die Mediërs en die Perse. Dit was in sement gegiet. Dit kon nie ongedaan gemaak word nie.
Maar, sy het ook geweet dat sy kon vra dat die Jode hulle vir die uitdaging voorberei. Dat hulle weerbaar gemaak word. Regdeur die koninkryk. Dat hulle nie onverhoeds betrap word nie. Dat hulle paraat bevind sou word. Dat sy tog ook dink dat die koning se belange deur die volksmoord geskaad sal word.
Ons lees soos volg in hoofstuk 8:
3Ester het weer met die koning gepraat. Sy het voor hom gekniel, gehuil en hom om genade gesmeek. Sy het hom gevra om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, ongedaan te maak. 4Die koning het die goue septer na Ester toe uitgesteek, en sy het voor hom gaan staan 5en gesê: “As die koning dit goedvind, as u my goedgesind is, en as dit vir u reg lyk en u van my hou, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman seun van Hammedata die Agagiet te herroep. Hy het daarin geskrywe dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word. 6Hoe sou ek kon toekyk as my volk deur so ’n ramp getref word? Hoe sou ek kon toekyk as my familie uitgeroei word?
7Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het Haman se eiendom vir Ester gegee en hom laat ophang aan die galg omdat hy die Jode wou uitroei. 8Skryf julle dan nou maar wat julle goeddink aan die Jode.Skryf dit in my naam en verseël dit met my seëlring. ’n Proklamasie wat in die naam van die koning geskryf is en met sy seëlring verseël is, kan egter nie herroep word nie.” (Ester 8:3-8)
Haar woorde vind ingang by die koning
En haar woorde het die gewenste uitwerking gehad.
Ons ken die afloop van die verhaal. Haar woorde vind ingang by die koning. Ahasveros luister na haar en keur haar planne goed. En die Joodse volk is gereed vir die aanslag en kan as volk oorleef.
Toepassing
Ek weet nie met watter uitdaging jy sit nie. ‘n Kind wat verkeerde keuses maak. ‘n Situasie wat dreig om uit te rafel. ‘n Konflik wat nie langer geïgnoreer kan word nie. ‘n Skuif wat êrens gemaak moet word.
Luister dan na wat Ester jou leer. Nie as ‘n bloudruk nie, maar as ‘n riglyn.
- Trek mense in wat jy vertrou, en wat vas kan staan voor die Here.
- Volhard in jou eie gebed en toewyding.
- Skep die regte atmosfeer vir jou woorde.
- Beplan wat jy gaan sê met groot finesse.
En moet dan nie swyg nie!
Dit is so dat die Here vir ons woorde gee in ons slaap (Ps 127:2).
Dit is so dat die Here belowe dat ons in die uur van uitdaging woorde sal kry wat die Heilige Gees ons sal gee (Matt 10:17-20). Dit is veral vir dié kere wat jy onverhoeds betrap word, en daar geen voorbereiding moontlik is nie. Wanneer jy soos ‘n skaap tussen wolwe gestuur word, en die Here ons aanraai dat ons versigtig moet wees soos die slange en opreg soos die duiwe.
Maar wat Ester ons leer, waar dit ons gegun word, waar ons met ‘n situasie gekonfronteer word wat om oorleg vra, en waar ‘n ramp afgeweer kan word, dáár is die Ester-woorde die gepaste woorde.
Daar kom ‘n tyd wat ‘n mens moet praat. Wanneer jy dit nie langer kan vermy nie. Wanneer stilte slegte gevolge kan hê. Wanneer stilte nie meer ‘n opsie is nie.
As jy nóú swyg … sê Mordegai, sal God wel iemand anders oproep om sy wil uit te voer, maar jy sal nie daaraan deel hê nie. Jy sal verby gegaan word, en uitgeskuif word. Jy sal omkom.