Ons het gekom om Hom te aanbid – Matteus 2:1-12

Daar is een woord wat my tref in die verhaal van die wyse manne in Matteus 2. Dit is die woord aanbid. Dit word twee keer gebruik.

Die wyse manne, sterrekykers of sterrekenners, vra:

“Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die ooste gesien en het gekom om Hom te aanbid.”

Dit is duidelik dat hulle die Messias wou aanbid. Hom hulde wou bring. Met Hom hulle lewensreis wou aanpak.

Wat my egter ontstel, is dat dieselfde van Herodes gesê word. Wanneer hy hoor dat die Skrif aandui dat hierdie koning in Betlehem gebore sal word, roep hy die wyse manne in die geheim en beveel hulle:

“Gaan doen noukeurig navraag oor die Kind; en wanneer julle Hom kry, vertel dit vir my sodat ek ook kan gaan en Hom aanbid.”

Ja. Jy het reg gelees. Aanbid.

Dit is egter duidelik dat hy eerder die Messias wou uitwis. Dat sy aanbidding antipatie was. Wat hy wys met die kindermoord net hierna.

Die mees ontstellende in die gedeelte, wat my aan die hart ruk, is egter dat ons die woord aanbid glad nie hoor in verband met die priesterhoofde en skrifkenners nie.

Hulle is tevrede om Herodes te help om die Bybel te lees, om die regte antwoord daarin te vind, en dan terug te sit en niks te doen daaraan nie.

Verstommend, die priesterhoofde en skrifkenners gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie! Net 8 km suid van Jerusalem. ‘n Paar uur se reis. So ver soos The Camponile van ons kerkgebou af. 12 minute se ry.

Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis, heeltemal. Weens hulle onverskilligheid, hulle apatie.

Hoe het die wyse manne dit reggekry? Hoekom het hulle geslaag waar Herodes, die priesterhoofde en skrifkenners gefaal het?

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

(more…)

Continue ReadingOns het gekom om Hom te aanbid – Matteus 2:1-12

Psalm 148 roep die hele heelal op tot lofprysing

Psalm 148 is ons teks vir hierdie Sondag. Dié Psalm vorm deel van vyf Halleluja Psalms waarmee die Psalmboek eindig. Die vyf Psalms teken vyf fasette van God:

  • God is kongruent in sy karakter – Ps 146
  • God is vreugdevol in sy versorging – Ps 147
  • God is betroubaar in sy bevestiging – Ps 148
  • God is goedgesind teenoor sy volgelinge – Ps 149
  • God is onpeilbaar groot in sy omvang – Ps 150

Dit is aspekte van God waarop jy kan staatmaak vir 2019. Eienskappe van God waarop jy jou lewe kan bou. Dit is na alles waaroor dit gaan in die geestelike lewe. Oor God en oor wat Hy doen. Alles hang van Hom af en vind hulle sin en betekenis in Hom.

En dit is die dinge waarvoor jy die Here kan loof. Dinge wat jy ook van God kan verwag in die jaar wat gaan kom. Dinge waaroor jy kan bid:

  • Dat God kongruent sal optree.
  • Dat God sal sorg.
  • Dat God jou sal bevestig.
  • Dat God goedgesind sal wees teenoor jou.
  • Dat God sy grootheid in jou lewe sal wys.

HIER IS DIE VOLLEDIGE EREDIENS (Download Psalm 148 in English) (more…)

Continue ReadingPsalm 148 roep die hele heelal op tot lofprysing

God se genade leer ons dat ons néé’s en já’s saak maak – Titus 2:11-15

Die genade van God het verskyn

Hierdie brief van Paulus aan Titus is deur die eeue ‘n gewilde keuse in gemeentes vir Kersdag. Die brief bevat nie enige verwysings na herders of wyse manne, ‘n jongvrou en ‘n baba in ‘n krip nie. Maar veral twee verse boei gelowiges se aandag op Kersdag

Paulus sê in hoofstuk 2 vers 11:

 “Want die genade van God wat redding bring aan alle mense het verskyn.”

Hierdie “verskyning” verwys nie net na Jesus se geboorte nie, maar na sy eerste koms in sy geheel, en die impak wat dit in hierdie wêreld maak. Paulus sê dit is die genade (charis) van God wat verskyn het, en wat redding bring aan alle mense.

Paulus herhaal die gedagte in hoofstuk 3 en verwoord dit so in vers 4:

“Maar toe het die goedheid en die liefde vir mense van God, ons Verlosser, verskyn.”

Dit is wat hierdie verskyning inhou, die goedheid (chrēstotēs) en die liefde vir mense (philanthrōpia) van God, ons Verlosser. Sy goedhartigheid, sy vriendelikheid, en sy filantropie, want dit is die Griekse woord wat gebruik word vir sy “liefde vir die mense” wat verskyn het.

Dit is wat die geboorte in Betlehem ingehou het. Dit is wat die hele lewe en bediening van die Here Jesus ingehou het. Dat ons bewus geraak het, soos van ‘n helder lig, dat God goed is, dat Hy genadig is, dat Hy vriendelik is, dat Hy goedhartig is, dat Hy lief is vir mense, dat Hy die eerste filantroop is.

Maar wat ons maklik mis, is dat Paulus baie spesifiek uitspel dat hierdie genade en liefde van God redding bring, dat God in Jesus ons Verlosser geraak het. Die verskyning van God se genade, die verskyning van God se liefde, het met redding te make, met verlossing.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS: (Download the English translation: Titus 2:11-15) (more…)

Continue ReadingGod se genade leer ons dat ons néé’s en já’s saak maak – Titus 2:11-15

Spring van vreugde – ons Verlosser is hier! – Sagaria

Daar was ‘n man. Sy naam was Sagaria. Hy was ‘n priester. Getroud met ‘n vrou uit ‘n priesterlike familie. Elisabet. Dit was in die dae van koning Herodes, die Grote.

Sagaria het ‘n pad geloop met die Here. Hy en sy vrou, Elisabet. Soos Lukas sê, hulle was albei regverdig voor God. Hulle het onberispelik geleef volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here.

Maar, hulle het ‘n groot seer gehad. ‘n Onvervulde gebed. Jare lank het hulle die Here gesmeek vir ‘n kind. Sonder ‘n antwoord. Elisabet was onvrugbaar. Albei was al op gevorderde leeftyd. Die kanse dat dié gebed vervul sou word, het al hoe skraler geword.

Hulle het egter volhard. Soos ‘n Isak van ouds wat twintig jaar gebid het vir Jakob en Esau (Gen 25), só het Sagaria dit ook gedoen.

Toe, op ‘n dag, toe dit weer Sagaria se beurt is om as priester diens te doen, en hy soos soveel maal te vore die pad Jerusalem toe gevat van die heuwellande van Judea, gebeur daar iets besonders.

Sagaria se werk in die  tempel van die Here was om wierook te brand. Die simboliek van die wierook was dat soos die hele menigte van die volk buite die heiligdom besig was om te bid, die wierook opgestyg het as teken dat hulle gebede voor God gebring word.

‘n Mens wonder wat deur Sagaria se hart gegaan het dié dag. Hoeveel keer het hy nie al dié diensbeurt waargeneem nie? Hoeveel keer het hy nie self gebid dat die Here hulle eie gebed verhoor nie? Hy en sy vrou wou só graag ‘n seun hê.

Sou dit die week ook maar soos elke ander keer wees dat hy bid, dat hy onverrigtersake huis toe sou moes gaan? Sou die wierook opstyg en in die lug verdwyn, sonder dat daar ‘n antwoord vir hulle sou kom?

Tog volhard hy. Bid hy. Vir homself. Vir die volk. In die hoop dat die Here sal antwoord.

HIER VOLG DIE HELE PREEK: DOWNLOAD ENGLISH: Jump for Joy – the Saviour is here – Zechariah (more…)

Continue ReadingSpring van vreugde – ons Verlosser is hier! – Sagaria

Spring van Vreugde – die Verlosser is hier – Maria

Lukas begin sy evangelie met die belofte van twee groot Godsmanne, Johannes die Doper, en Jesus die Verlosser. ‘n Belofte wat binne ‘n jaar vervul is vir twee Godsvroue, Elisabet en Maria.

Dit is hoe God werk. Hy gee ‘n belofte. Hy vertel vir ons vooraf hoe dinge gaan werk; wat Hy gaan doen. En dan vervul Hy die belofte; gee Hy wat Hy belowe. Soms vat dit eeue vir die vervulling. Soms net nege maande.

God stuur Gabriël na die maagd Maria. Onmiddellik is ons gedagtes geprikkel, want 8 eeue gelede het Jesaja alreeds oor ‘n maagd gepraat wat swanger gaan word.

Hierdie belofte het deur die eeue die verwagting na ‘n Messias verhoog en gedra. Dit het die vroeëre belofte aan Dawid, in die tiende eeu vC, dat die Here vir hom ‘n huis sou bou, ‘n koninkryk, versterk. Dit het die verwagting dat ‘n Koning op Dawid se troon sal sit, wat volkome vrede en voorspoed sal bring, lewend gehou.

Hierdie Koning sou beide die seun van Dawid wees en die Seun van God. En Hy sou uit ‘n maagd gebore word.

Wat verder ons gedagtes prikkel, is dat sy Maria genoem word, ‘n naam wat in Hebreeus “bitter” beteken.

Ons herinner ons aan Naomi wat swaar gehad het in die tyd van hongersnood in Israel. Nie net moes sy haar land verlaat nie, maar het haar man en twee seuns in Moab verloor. Met haar terugkoms het sy verklaar dat sy nie meer Naomi genoem wil word nie, maar “Mara”, bitter.

Maar ons herinner ons ook aan hulle naamgenoot, Miriam, wie se naam ook “bitter” beteken, maar wat die verlossing uit Egipte meegemaak het, en ‘n loflied vir die Here aangehef het by die Rietsee.

Wat sou die engel se boodskap aan hierdie maagd wees, Maria, die maagd uit die huis van Dawid, die een wie se naam “bitter” beteken?

HIER VOLG DIE HELE PREEK – Download English: Jump for Joy – the Savior is here – Mary (more…)

Continue ReadingSpring van Vreugde – die Verlosser is hier – Maria

Spring van Vreugde – die Verlosser is hier – Elisabet

Maleagi sluit die OT af met ‘n opdrag – onthou die wet van my dienaar Moses, die voorskrifte en die bepalings – en ‘n belofte – dat Hy die profeet Elia sal stuur voordat die Verlosser, die son van geregtigheid, sal kom (Mal 4:4-6).

Wanneer Lukas sy verhaal begin in die eerste hoofstuk, is dit alreeds amper 430 jaar ná die profesie van Maleagi.

En dit is interessant dat Lukas sy verhaal begin by ‘n priesterlike vrou en haar man, Elisabet en Sagaria.

‘n Mens se verwagting is dus geprikkel dat hier iets besonders gaan gebeur. Want, let op wat van Elisabet en Sagaria gesê word. Elisabet en Sagaria, sê Lukas, “was albei regverdig voor God, en het onberispelik geleef volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here.” (Luk 1:6).

Kan jy nou meer!

  • Maleagi sê: “Onthou die wet, die voorskrifte en bepalings”. Dit is die reëls en die regulasies van die wet, soos dit ook vertaal kan word.
  • Lukas sê: hier is twee mense wat onberispelik geleef het volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here. Dit is die reëls en die regulasies van die wet, soos dit ook vertaal kan word.

‘n Mens se opgewondenheid groei dus, want hier is iemand wat leef soos Maleagi beveel en voorsien het.

Kan dit wees dat die belofte van die Here ná 430 jaar in vervulling kan gaan? Kan dit wees dat die Here vir Elia sal stuur, sodat die harte van die gelowiges weer met mekaar en God versoen kan word?

Luister verder na die verhaal van Elisabet … en spring van vreugde saam met haar ongebore kind, Johannes die Doper: Die Verlosser is hier! (more…)

Continue ReadingSpring van Vreugde – die Verlosser is hier – Elisabet

Spring van Vreugde – die Verlosser is hier – Kerssangdiens 2018

Die herders het die Here Jesus gesien. Die Kindjie in die krip. Die Koning van die wêreld. Die groot Vredemaker. Die een wat hulle met God sou versoen. Wat hulle sonde sou vergewe, hulle van hulle sonde sou verlos, en hulle heilig en onberispelik voor Hom sou stel. Sodat God in hulle lewe geëer kan word.

Dit is die boodskap van Kersfees. Daarvoor leef ons. Daaruit leef ons. Spring ons van vreugde … tot God se eer. Ons Verlosser is hier.

Hier volg die hele erediens. Daar is ‘n aantal foto’s aan die einde geplaas.  (more…)

Continue ReadingSpring van Vreugde – die Verlosser is hier – Kerssangdiens 2018

Die verhaal van twee seuns – Matteus 21:28-32

Dit is die laaste week van Jesus se bediening. Hy het die Sondag as die “profeet van Nasaret” Jerusalem binnegery op ‘n donkie (Joh 12:1). Met die Hosannas van die skare in sy ore en die takkies wat wuif (Matt 21:1-11).

Sy missie? Om die tempel te reinig. Dit het ‘n rowersnes geraak wat net om die ekonomiese voorspoed van die leiers en handelaars gedraai het. Van egte godsdiens en gebed was daar nie meer sprake nie.

Soos Jesus vir die Joodse leiers sê: “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?” (aangehaal uit Ps 8:3). Waarmee hy eksplisiet die Joodse leiers aanspreek dat hulle die Bybel nie reg lees nie. En dat hulle nie bid nie. Kinders, sê Jesus, doen dit wel – lees en bid – maar die Joodse leiers nie. Waarskynlik ‘n verwysing na Jesus se dissipels en die mense wat Hom volg wat gelees en gebid het (Matt 21:12-17).

Jesus het reguit vir die leiers gesê dat hulle soos ‘n vyeboom is wat nie vrugte dra nie. Daarmee hulle nie maar net ‘n mens verontagsaam nie, maar God self. Jesus het immers met die gesag van God self gepraat. Soos Hy gewys het met die vyeboom wat verdroog het toe Hy dit die Maandag vervloek het.

En Jesus gee terselfdertyd ‘n omvattende belofte aan elkeen wat met geloof bid. Waar dit in lyn is met die wil van sy Vader, waar hulle nie net hoor wat God sê nie, maar doen wat Hy vra, sal hulle ontvang wat hulle in gebed vra (Matt 21:18-22).

Om dié boodskap in te skerp vertel hy dan ‘n gelykenis. Die verhaal van twee seuns. (more…)

Continue ReadingDie verhaal van twee seuns – Matteus 21:28-32

Om God te soek in elke situasie – die verhaal van Josia

Wat doen jy wanneer jy worstel met ‘n saak?

Waarmee worstel jy op die oomblik? ‘n Groot besluit oor jou toekoms? ‘n Konflik binne jou familie? ‘n Deur wat vir jou toegegaan het? ‘n Deur wat vir jou oopgegaan het? Want, laat ons eerlik wees, beide oop en toe deure is uitdagings! (Download English translation)

Hoe hanteer jy jou worsteling? Wat doen jy om by ‘n oplossing uit te kom?

Kronieke sê dat jy die gewoonte moet aanleer om God te soek in elke saak

Die boek Kronieke sê dat die oplossing vir die worsteling in enige situasie is om “God te soek”. Om die gewoonte aan te leer om vir God te soek in elke situasie, maak nie saak wat die situasie is nie.

Ons almal ken daardie wonderlike belofte in 2 Kronieke 7:14 waar die Here vir Salomo en die volk by die inwyding van die tempel uitnooi om telkens as dinge swaar gaan – droogte, teenspoed, pes:

“hulle te verootmoedig en te bid en sy aangesig te soek en hulle te bekeer van hul verkeerde weë, want dan sal God uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”

God hoor waar mense sy aangesig soek, sy leiding vra in gebed – terwyl hulle hulle verootmoedig en bekeer van hulle verkeerde weë – en vergewe en genees. Hy verander en gee helderheid oor die pad vorentoe, waar mense sy aangesig soek.

Dit is waar: “vir elkeen wat sy hart daarop gerig het om God die Here, die God van sy vaders, te soek,” sê Hiskia, een van die goeie konings van Juda (2 Kron 30:19).

Trouens, dit was dié onderskeidingsteken van die goeie konings van Israel teenoor die slegte konings. Konings soos Dawid, Salomo en Hiskia het die Here gesoek, en Hom gevind. Konings soos Jerobeam, Agab en Agas het Hom nie gesoek nie, en ondergegaan in die proses.

Martin Selman sê in sy kommentaar op Kronieke.

 “’Seeking’ in Chronicles describes the habit of looking to God in every situation, and also the attitude which God looks for in those who pray (2 Chr. 7:14; 30:19)” (more…)

Continue ReadingOm God te soek in elke situasie – die verhaal van Josia

Die wet as bladmusiek van die koninkryk – Matteus 22:34-40

Die musiek van Beethoven

Wie ken die musiek wat met hierdie vier note begin: ta, ta, ta, DA? Ja, Beethoven se Vyfde Simfonie (1804-1808). Wêreldbekend. Interessant, Beethoven was al doof toe hy dit gekombineer het. Hy kon die note net in sy kop hoor. So lyk die musiek van die eerste blad:

Hierdie Vyfde Simfonie word uitgevoer deur groot simfonie orkeste. Dit word deur bands uitgevoer. Dit is verwerk vir klavier. Selfs vir ghitaar – gaan luister na Kelly Valleau se uitvoering daarvan. Tegnies uitdagend. Pragtig.

En sommige uitvoerings van die musiek is meesleurend mooi. Ander weergawes is nie so musikaal nie. Veral nie die elektroniese midi weergawes nie wat half dowwerig en blikkerig klink. En ‘n groot simfonie orkes het net ‘n groter klank as ‘n enkel ghitaar, selfs al is die ghitaar ook hoe goed.

Maar, die musiek is altyd herkenbaar. Hoekom? Want daar is bladmusiek. Die note is heilig. Onaantasbaar. Dit kan nie verander word nie. Ta, ta, ta, DA.

Jy kan wel die musiek op baie maniere interpreteer, mooi of minder mooi. Maar as jy van die bladmusiek afwyk, speel jy nie meer Beethoven se musiek nie. Is dit nie meer die Vyfde Simfonie nie. Jy kan nie ‘n noot weglaat óf ‘n noot bysit van Beethoven se vyfde nie. Nooit nie. Jy sal altyd uitgevang word.

Die teks van die Bybel

Dit is nie anders met die Bybel nie, al is daar baie wat dit probeer doen. Jy mag en kan jou eie interpretasie gee van hoe ‘n gedeelte jou raak, wat dit vir jou beteken, hoe dit ander raak, en wat dit vir ander kan beteken. Jy moet dit in die konteks wat dit geskryf is, uitlê, wat natuurlik tot beter of slegter interpretasie kan lei. Die konteks kan jou ‘n gedeelte beter laat verstaan, of ‘n gebrek daaraan weer slegter. Jy kan dit meesleurend vertel of aframmel.

Maar, die oomblik as jy die teks verander, is jy nie meer met die Bybel besig nie. Is jy met jou eie Bybel besig.

Wat ons versigtig moet maak vir mense wat vir jou sê, maar ‘n sekere verstaan van die teks is net jou eie interpretasie. Wat sê, ek maak my eie interpretasie van die Bybel. En as dit verskil van jou interpretasie, moet jy maar verlief neem daarmee.

Trouens, baie keer word jou interpretasie van die teks, veral waar jy by die teks wil hou, in die proses verdag gemaak, en talle keer nog jyself ook. Die boodskapper word saam met die boodskap aangeval.

Daarop sal ‘n mens moet antwoord, ja, dit is reg so, jy mag jou eie interpretasie van die teks voorstel … maar, die oomblik as dit duidelik word dat jy aan die teks verander, of dele van die teks weglaat, of dele daarby voeg, dan is jy nie meer met interpretasie besig nie, maar met ‘n ander teks.

Beethoven se Vyfde Simfonie begin met vier note, nie vyf of drie nie. Só ook die Bybel, by wyse van spreke. Daar is 66 boeke. Die kanon is afgesluit. Ons kan nie meer daartoe byvoeg nie. Ons kan ook nie dele van die Bybel weglaat nie. En dit geld die hele Bybel. (more…)

Continue ReadingDie wet as bladmusiek van die koninkryk – Matteus 22:34-40